Jaco Barnard-Naudé. Die monsters van Johan van Wyk

Redenasie

Ic ben schreeuwen
omdat daar monsters sijn.

Ons pilot in den wolke.
Pilot ben ons aasvoël,
moenie val nie.
Ic skrijf zoo
doelbewus, als ic miskien wil
een liedjie vind, een taal vind
die van mijn dromen sijn
nadat ic een hollandsboek
gelezen heb.
Ic denk ic denk
24 uuren al oor de siel
en de surrealisme en Gezelle
O! lieflike Gezelle in Portugees
ben je een kleine bokkie
op de landskap tussen de monsters
die ek sien uit den hemel.
Gezelle Gezelle opmerklike Gezelle
mijn mamma moet de spaghetti warm maak.
Armenio had vir my
geschrijven van Frelimo en de Dragons.

Monsters ben on de landskap.
Ic schreeuwen on de wolken,
de wolken bo Mosambiek
Cabora Bassa. Je weet, mijn siel,
daar ben kaffers in Kenia wie se
oogen ben branden als een hondje s’n
wanneer de flitslig in hen oogen val.
Ic denk aan Max Ernst,
Dadamax, en je weet daar ben ook nog
Salvador Dali en Magritte
Maar, so jammer, de siel ben
gestorven al in den dertigerjare
toe ons ben nog maar bij de belijdenis
poësie, tachtiger stijl. Word wakker Suid-Afrika,
jou taal ben een plaastaal
hij ben altijd agter nooit voor
nooit eg. Je taal ben nou se dae
beperk tot beyers boshoff
O daar ben monsters on de landskap

Ic ben een ridder die pilot
op de wolken.
Ic moet den monsters kom doodsteek
wie de profete stil maak
doem profete.
Ic ben gestuurd van een meester
van mijn siel die ek so baie vrees
De flitslig ben in mijn oogen geval.

Ic weet den politicussen
se oogen skijn als de oogen van de kaffers
van kenia wanneer God
se flitslig in hen oogen val.
O! maak mijn siel so baie stil.

 Johan van Wyk

In ‘n onderhoud oor sy werk en oor dekonstruksie in die algemeen sê Jacques Derrida die volgende: ‘One of the meanings of the monstrous is that it leaves us without power, that it is precisely too powerful or in any case too threatening for the powers-that-be.’ Dat Johan Van Wyk terdeë onder die indruk was van hierdie dimensie van monstrositeit by die skryf van sy gedig, ‘Redenasie’, blyk duidelik uit die eerste reëls van die gedig, ‘Ic ben schreeuwen / omdat daar monsters sijn.’ Die spreker ‘skreeu’ omdat daar monsters is en die gil of skreeu, soos duidelik voorgestel word in Edvard Munch se beroemde skildery, is die menslike uitdrukking van vrees en/of frustrasie wat maar net ander woorde is vir onbevoegdheid, vir ‘n konfrontasie met die beperkinge van ‘n bestaan, ‘n begrip of ‘n vermoë. Een van die sentrale beperkinge van die menslike bestaan is die onvermoë om die toekoms te beheer, te voorspel of te bereken. In hierdie sin is die toekoms monsteragtig: dit stel ons bloot aan die beperktheid van ons vermoë en ons bestaan. Derrida verwys na hierdie element van die toekoms as l’avenir (teenoor le futur): dit wat nog kom (en sal kom) as geheel en al onberekenbaar, onbeheerbaar en onvoorspelbaar, as Gebeurtenis.

Die idee van die monster of die monsteragtige is deurlopend aanwesig in Van Wyk se digkuns. Hierdie aspek is nie verrassend nie gegewe dat Van Wyk alom beskou word as ‘n surrealistiese digter. Oor hierdie digkuns skryf Kannemeyer as volg: ‘Dit is waarnemings gefiltreer deur ‘n ek wat, as gevolg van sy vrese, die indrukke van die buitewêreld surrealisties verwring […] Met hierdie procédé sluit Van Wyk aan by die tradisie van die dadaïsme met sy skokkende jukstaponerings, geestigheid en provokasie van tradisionele sienings.’ Vervolgens enkele voorbeelde.

In die gedig ‘hieronymus bosch se koringwa’, byvoorbeeld, leitrek ‘’n skare ongediertes’ die mensdom in die hel in. In daardie gedig staan die hel in die teken van aardsheid en blyk die digter te kenne te gee dat die menslike bestaan ‘n hel is. In die gedig ‘V’ uit die bundel Een is die spreker bang dat ‘iemand soos lucifer’ hom in die rug sal steek met ‘n mes. En later in die gedig verbeel die spreker hom ‘dracula has arisen from his grave’. Ons vind in hierdie digkuns duidelik sterk Sartreaanse paranoia, desperate surrealistiese ondertone en ‘n obsessie met die bisarre. Daar is ‘n voortdurende struweling / worsteling met hierdie monsters, hierdie nie-menslikes, in hierdie digterskap. Die monsters is nie net dáár om te beskou of te bestudeer nie, hulle is daar as symbole van konflik, stryd en worsteling. Die gedig ‘VI’ is ‘n gedig waarvan gesê sou kon word dat dit in die geheel om monsters van variërende vorm gaan. Daar is ‘n seeraf, ‘n paddaman, ‘n seenimf en sprake van ‘n séance. Uiteindelik kan die gedig as ‘n beeldgedig van ‘n Dali-skildery gelees word. Ander voorbeelde is die engel met die gebreekte vlerkbeen in die ongetitelde gedig oor die meisie in die kerkhof, die nimf met ‘n ‘geskubde handskoen’ in die gelyknamige beeldgedig en die monster-word van die non in die gedig ‘Non’.

Die gedig ‘Redenasie’ is egter, wat hierdie monsterelement betref, uitsonderlik, omdat die gedig nie net inhoudelik oor monsters gaan nie, maar omdat dit self ook, wat die korpus en idioom van die gedig betref, monsteragtig is. Soos Derrida verder argumenteer: ‘A monster [is] obviously a composite figure of heterogenous organisms that are grafted onto each other.’ ‘Redenasie’ is ‘n monster-gedig in hierdie opsig omdat dit geskryf is in ’n idiosinkratiese vermenging van Afrikaans en Nederlands. Gegewe hierdie verstaan van die idioom van die gedig is dit duidelik dat die gedig as geheel bedoel om te skok, bedoel om ‘n bedreiging te wees vir ‘the powers-that-be’, soos Derrida dit stel. Die gedig wil ‘n onbeheerbare, onverstaanbare monster wees. Die monsteragtige vorm is funksioneel omdat hierdie gedig nie slegs die eksistensiële of ontologiese aspek van die surrealistiese weltanschauung betrek nie, maar ook die politieke aspek. Soos Kannemeyer opmerk: ‘in … “Redenasie” is ‘n sensitiewe ek aan die woord wat inskreeu, sélf skreeu word, teen die omringende monsters van politieke geweld en die verskrikkinge wat die kunstenaar in sy werk wil vasvang’.

Polities steun die inhoudelike argument op ‘n beklemtoning daarvan dat Afrikaans geen egte of suiwer taal is nie. Die monster wat hierdie gedig is wil die taalpuris uit haar dogmatiese sluimering wakkerruk en wys dat ‘jou taal ben een plaastaal /hij ben altijd agter nooit voor /nooit eg.’ Ek is dit nie eens met Kannemeyer dat die ‘geradbraakte Nederlands met Middeleeuse ondertone’ hier gebruik word om, gegewe die ‘plaastaal’ wat Afrikaans is, aan die woord ‘n ‘nuwe “waardigheid”’, soos Kannemeyer dit stel, te gee nie. Van Wyk se doel is deurlopend juis om hom nié op ‘n nuwe egtheid of ‘n nuwe waardigheid te beroep nie, om juis die monsteragtigheid van die menslike bestaan op sigself en die vervreemding van taal as simboliese orde, te vergestalt en te belig (selfs, te vier?). Die punt is juis dat ‘Redenasie’, soos baie van Van Wyk se gedigte, ‘gedrogtelik’ is en wil wees.

‘Redenasie’ spreek ook sterk uit teen die Broederbond-politiek van Apartheid en die invloed daarvan op die Afrikaanse letterkunde. In hierdie opsig is die gedig ook monsteragtig aangesien dit ‘n bedreiging inhou vir die nasionalistiese Afrikaner-ideaal van ‘n ‘egte’ Afrikaner status quo. Sonder ‘n egte taal – ‘n begrip wat die digter ondermyn – kan daar immers geen ‘egte’ Volk wees nie. Maar op  sy beurt beskou die digter hierdie nasionalistiese ideaal as monsteragtig: hy word die Middeleeuse of Gotiese ridder wat die monsters moet doodsteek omdat hulle die profete stilmaak, die doemprofete. Verbandhoudend met sy ‘komplisering’ van die nasionalisme kla die digter oor die gebrek aan ‘n beoefening van surrealisme in die Afrikaanse digkuns. Duidelik is daar ‘n voorkeur hier vir die estetika en politiek van die  dadaïsme – ‘n kunsvorme wat by uitstek ‘n komplisering van die ideaal van suiwerheid verteenwoordig. Breton argumenteer dat surrealisme konstitutief ‘n revolusionêre politiek behels het wat gefundeer is in die oortuiging dat rasionalisme en bourgeois waardes ‘n skrikwekkende konflik die wêreld ingebring het. Die surrealisme is polities ultra-links en selfs anarchisties. Die digter se verwysing is na Frelimo – die politieke beweging in Mosambiek wat hulle beywer het vir die sosialistiese / kommunistiese ideaal en wat deur die fascistiese Renamo (met die hulp van die Apartheidsregering) onderduk is. Max Ernst – na wie die digter verwys – is beskou as een van die belangrikste eksponente van die Duitse surrealiste. Ernst is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in hegtenis geneem en het met die hulp van Guggenheim na New York gevlug waar hy die kunsvorm bekend as abstrakte ekspressionisme help vestig het.

Uiteindelik staan die gedig, wat beide vorm en inhoud betref, in die teken van die surrealisme en die monsteragtige. Maar die gedig staan ook – as monsteragtig – in die teken van die toekoms. Hieroor skryf Derrida aan die einde van die inleiding tot sy beroemde teks De la grammatologie: ‘The future can only be anticipated in the form of an absolute danger. It is that which breaks absolutely with constituted normality and can only be proclaimed, presented, as a sort of monstrosity.’ Die monster is dit wat met normaliteit of met die norm breek en indien ons enige transformatiewe / messiaanse of bevrydende toekoms wil bedink sal dit noodwendig bedink moet word met hierdie idee en figuur van die monster, die onsekere, in gedagte. Uiteindelik, soos Van Wyk opmerk in sy gedig XXVI uit Uit die oog van ‘n luiperd verteenwoordig sy digterskap die mens se soeke nie noodwendig na balans nie, maar na berusting, gelate aanvaarding van hierdie iets tussen ‘frankenstein en etienne leroux’.

Naskrif

Een van my gunsteling aanhalings kom uit Van Wyk se gedig “Werkloosheidsversekering”:

Nou sit ek hier tussen die boys
met Nietzsche se Beyond good and evil
en ek soek ‘n bewussyn op hulle gesigte

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Jaco Barnard-Naudé. Die monsters van Johan van Wyk”

  1. Maria Snyman :

    Interessante lesing van die gedig, Jaco. Rakende jou opmerking dat die digter kla “oor die gebrek aan ‘n beoefening van surrealisme in die Afrikaanse digkuns” – Jeanne Goosen het eenkeer laat val dat daar nie genoeg begrip daarvoor in hierdie land is nie.

    Die in gedagte hou van Surrealisme met die lees van Derrida help om sy werk skryfstyl begrypbaar te maak. Irwin (2010: 22) verwys na Brannigan (1999) wat argumenteer dat surrealisme se “obsession with the production of language that operates at a remove from being”, d.w.s. op ‘n tree weg van onto-teleo-teologiese wesing, of op ‘n tree weg van die reduksie van betekenis.

    Het jy Wolfreys, Brannigan en Robbins se The French Connections of Jacques Derrida onder oë gehad? Ek het nog nie. Sunypress beskryf dit soos volg:

    “The French Connections of Jacques Derrida offers stimulating and accessible essays that address, for the first time, the issue of Derrida’s relation to French poetics, writing, thought, and culture. In addition to offering considerations of Derrida through studies of such significant French authors as Mallarme, Baudelaire, Valery, Laporte, Ponge, Perec, Blanchot, and Barthes, the book also reassesses the development of Derrida’s work in the context of structuralism, biology, and linguistics in the 1960s, and looks at the possible relationships between Derrida’s writing and that of the Surrealist and Oulipa groups. Derrida is introduced as one whose work is as much poetic as it is philosophical, and who is strikingly French and yet not unproblematically so.”

    Oor Oulipa sê Wikipedia: “((…)Ouvroir de littérature potentielle; roughly translated: “workshop of potential literature”) is a loose gathering of (mainly) French-speaking writers and mathematicians which seeks to create works using constrained writing techniques.” Geometrie is ‘n ander velde wat mens in gedagte moet hou as jy Derrida lees – kom ek nou meer en meer agter. Hy speel met die tussen-in van die twee betekenisse van eidos (vorm, idee), d.w.s. met ‘n sekere infiniteit … of ‘n vreeslike vryheid …