Dansende Digtersfees. Die volledige program

PROGRAM

Die Spier Dansende Digtersfees program, op Vrydag 9 Mei en Saterdag 10 Mei 2014, sluit twee PoësieVoorlesings en ‘n reeks gemodereerde Gesprekke in, met die praktyk van vertaling as deurlopende motief. Die Poësie Voorlesings vind saans plaas en kaartjies is teen R190 per persoon beskikbaar, wat ‘n ligte ete en ‘n glas wyn insluit.

Die Gesprekke vind deur die dag plaas en bywoning is gratis. Sitplekke is egter streng beperk en bespreking dus noodsaaklik.

VRYDAG 9 MEI 2014

2nm tot 3.30nm | Spier Ou Wynkelder

Gesprek I

Frakaans, Françiques, Arabique en Arabeske: Frans as afloerder in Arabies, Afrikaans en Wolof. Deelnemende digters sluit in Abdellatif Laâbi uit Morokko, Nimrod uit Tsjad en Jabir en Diamil van die Senegalase rap kollektief Vendredi Slam. Die gespreksleier is Georges Lory, voormalige direkteur van die Alliance Française Suider Afrika en uitgelese vertaler van onder andere Gordimer, Krog en Breytenbach.

Gratis bywoning.

4nm tot 5.30nm | Spier Ou Wynkelder

Gesprek II

“Sewe jaar na sy dood sien ek Celan in sy pantoffels alleen in sy slaapkamer dans, neuriënd met elke pas.” In watter taal het Ilya vir Paul Celan sien dans?

‘n Indiepte gesprek oor poësie, vlinders en dans tussen Homero Aridjis uit Mexiko, Ilya Kaminsky, oorspronklik uit Odessa en nou van die VSA, en Henning Pieterse uit Pretoria. Die gesprek sal gelei word deur Dominique Botha.

Gratis bywoning.

6nm | Ontmoet by die Spier Rivierdek vir ‘n optog na die Ou Wynkelder

7nm | Spier Ou Wynkelder

Poësie Voorlesing I

Voorlesings deur feesdigters Abdellatif Laâbi, Breyten Breytenbach, Duo Duo, Hans van de Waarsenburg,

Henning Pieterse, Homero Aridjis, Ilya Kaminsky, Ingrid de Kok, Mxolisi Nyezwa, Nimrod en Jabir &

Diamil van Vendredi Slam. Musiekregie: Neo Muyanga.

Koste: R190 per persoon, wat ‘n ligte ete en glas wyn insluit.

SATERDAG 10 MEI 2014

11vm tot 12.30nm | Protea Boekwinkel, Crozier/Andringa Straat, Stellenbosch

Gesprek III

Imagine Africa

Rondom die bekendstelling van die jaarboek opstelle, kortverhale en gedigte, Imagine Africa 2, sal Breyten Breytenbach uitbrei oor hoe poësie en prosa reeds ‘n vertaling is van die nie-verbale, hoe die verbeelding verlyf in woorde en dalk verblyfreg verwerf. Breytenbach sal in gesprek wees met bydraende skrywers Hans van de Waarsenburg (Holland), Abdellatif Laâbi, Georges Lory en Louis Esterhuizen.

Gratis bywoning.

2nm tot 3.30nm | Spier Ou Wynkelder

Gesprek IV

Asem as die bewegings van bewussyn, asem as inkapseling van geheue, asem as die vergestalting van verandering: Protes en Poësie.

Die Chinese digter Duo Duo wat kom uit ‘n asemgeskiedenis van duisende jare, sal in gesprek tree met komponis Neo Muyanga, en Suid Afrikaanse digters Ingrid de Kok en Mxolisi Nyezwa.

Gratis bywoning.

4nm tot 5.30nm | Spier Ou Wynkelder

Gesprek V

Kom ons wees nou ernstig.

‘n Gemeensame en interaktiewe wynproe en versnit werkswinkel, met wynmakers en digters. Ouderdomsbeperking: 18.

Gratis bywoning.

7nm | Spier Ou Wynkelder

Poësie Voorlesing II

Voorlesings deur feesdigters Abdellatif Laâbi, Breyten Breytenbach, Duo Duo, Hans van de Waarsenburg, Henning Pieterse, Homero Aridjis, Ilya Kaminsky, Ingrid de Kok, Mxolisi Nyezwa, Nimrod en Jabir & Diamil van Vendredi Slam. Musiekregie: Neo Muyanga.

Koste: R190 per persoon, wat ‘n ligte ete en glas wyn insluit.

Die program is onderhewig aan verandering.

BESPREKINGS

www.quicket.co.za

www.spierpoetryfestival.co.za/programme

Telefoon 021 809 1100 gedurende kantoor-ure, Maandag tot Vrydag

Epos reservations@spier.co.za

Bookmark and Share

56 Kommentare op “Dansende Digtersfees. Die volledige program”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Ag, dit gaan ernstig lekker proe.

  2. Desmond Painter :

    Ek het dubbel seker gemaak ek is hierdie keer in Stellenbosch; iets om na uit te sien.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Oefen maar jou danspassies, Desmond. In die afwesigheid van Ko Un is daar niemand wat met by my en Bibi Slippers op die dansvloer kan kompeteer nie. Beskou dit as ‘n uitdaging!

  4. Buiteblaf Breytenbach :

    Sal mens jou nou laat beïndruk deur ‘n jong haan, al is hy ook ‘n goeie digter! Ek was daar (dink ek), en as dit nie vir Bibi was nie…

  5. Andries Bezuidenhout :

    Kêêê-kêle-kêê! Ek sal my wingtips vir die geleentheid moet aantrek.

  6. Louis Esterhuizen :

    Nee waaragtig, Andries. Jou en Bibi se dansvertoning was weergaloos. Breyten en Bibi was okei, maar sjoe. Bibi, Bibi, Bibi …

  7. Maria Snyman :

    Ek wonder maar net of julle die danspassies hierdie jaar op die ritme van “Nkandla style” gaan doen? “Shake it, shake it, shaik it …” Dit sit ‘n heerlike glimlag op mens se gesig. Dalk is dit al verban teen daardie tyd?!

  8. Maria Snyman :

    Ooops, dis alreeds van Youtube verwyder?!

    Maroela media berig: “ʼn Video genaamd, Nkandla Style, wat die spot dryf met pres. Jacob Zuma se luukse privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal, is van YouTube verwyder.”

    Skakel(waar daar darem steeds ‘n weergawe beskikbaar is): http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/suid-afrika/nkandla-style-video-verwyder-van-youtube/

  9. Desmond Painter :

    Andries, ek aanvaar die uitdaging. Deurdruk dag toe!

  10. Desmond Painter :

    Maria, gaan jy dan nie daar wees om ‘n dekonstruktiewe derridans te doen nie? Komaan!

  11. Buiteblaf Breytenbach :

    Jy bedoel die ‘ritteltit’, Desmond? (Wie is so trittellit om ritselende tietjies geaktiveer te sien in die boesem van d-aai woord? Ek gaan nou dadelik vir Derra vertel hoe lelik julle dink!)

  12. Desmond Painter :

    Buiteblaf, nee, soos ek dit verstaan plaas dekontstriksie die rymdrang op die riel eerder as op die ritteltit, maar mens weet nooit: dra maar slippertjies vir die soetjiestrap, net in geval iemand wil spoorsny. Hoe ook al, Andries gaan hierdie keer laaste kom.

  13. Buiteblaf Breytenbach :

    Probleem is dat Andries die binnebaan (by wyse van spreke) met slippers het.

  14. Desmond Painter :

    Gelukkig het ek die binnewaan; daarmee kan ek kaalvoet koring knaai, al is dit dan nou ook soos riet-alleen-in-die-roerkuil. Maar julle sal beslis moet moet uithaal en wys by Spoor se dansparty: die regering beloof dan nou ekstra kleur en geur by hulle sokkiejol.

  15. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond-julle,:
    Voor ons nou te ernstig raak en die musiek as ware uit die oog verloor – een van die eerste dinge wat ek hier raaklees sedert ek voorlopig kop uit die Suid-Afrikaanse oord getrek het om te kan afkoel tussen die ore, is die aankondiging van ‘n nuwe roman van Milan Kundera, na baie jare, met die titel: “Die fees van die onbenullige.”

    ‘n Aanhaling: “Die onbenulligheid, my vriend, is die essensiële van ons bestaan. Sy is oral met ons, altyd. Sy is selfs aanwesig daar waar niemand haar wil sien nie: in die verskrikking, in die bloedige stryd, in die ergste rampe. Maar dit gaan nie daaroor dat sy herken word. Jy moet die onbenullige liefhê. Jy moet leer om haar lief te kry.”

    Die roman is glo streng volgens die vloeiende struktuur van die fuga gekomponeer. Die meerstemmige dans…

  16. Desmond Painter :

    Breyten, dit is skitterende nuus; ek het juis onlangs, nadat die rolprentweergawe van Unbearable Lightness hier op TV vertoon is, weer Farewell Waltz gelees en sommige opstelle in Testaments Betrayed. Ek neem aan die jongste roman is weer in Frans geskryf, nie in Tseggies nie? Terloops, ek sien ook Kundera het 3 dae gelede 85 geword. Op 1 April, nogal; ‘n goeie datum vir ‘n komiese skrywer soos hy.

    (NS. Die verwysing na die kleurige, geurige sokkiejol hierbo: gister op Die Burger se voorblad is berig dat goewermentkondome eersdags veelkleurig en gegeurd sal wees, om die jongmense aan te moedig om te sokkie. Laughable Loves.)

  17. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond, maar is daar genoeg kleure in die reënboog om Nkandla se Spies van die Nasie na behore te tooi?

    Kundera se nuwe boek is in Frans. Blykbaar was sy Tsjeggiese boeke ‘onsigbaar’ – verbied. Die vroeëre werke in Tsjeggies is “fantoomboeke” wat slegs danksy die vertalings bestaan. Florence Noiville skryf (aangehaal in gister se Le Monde): “Vandaar die paradoksale situasie – dié van ‘n teks sonder enige bekende oorspronklike, en van ‘n outeur wat in ‘n taal skryf waarvan hy vooruit weet dat dit nie die een is waarin hy gelees gaan word nie.” François Ricard verwys weer na Kundera se werke as “trans-” of “politalig”. En daarby is hy baie gesteld op sy vertalings. Hy korrigeer aanmekaar. Daar is glo oor 30 jaar vyf verskillende weergawes van “Die Grap” geskryf.

    Nogal ‘n gebeurtenis, hierdie nuwe ‘musiekboek’ van hom, wat besonder hoog aangeskryf word. Veral ook omdat hy self ‘onsigbaar’ geword het. Hy weier alle onderhoude en is van oortuiging dat die skrywer spoorloos uit die geskiedenis gevee moet word sodat net die teks mag oorbly. Dis seker sy reg op 85…

    Ek sien ook dat hy in dieselfde jaar as ek ‘genaturaliseer’ is tot Franse burgerskap, 1982. Net soos Manuel Valls. Ongesokkiede aangenaaides…

  18. Desmond Painter :

    Breyten, ja, die weergawe van Farewell Waltz wat ek onlangs gelees het, is die tweede Engelse vertaling – Kundera was glo nie tevrede met die eerste vertaling nie, wat in die laat ’70s as The Farewell Party gepubliseer is. Voor in my kopie staan ‘There was no Czech edition of this book but there was a French translation entitled La Valse Aux Adieux.’ Dit is nie duidelik of die vertaler van die nuwe Engelse uitgawe die gepubliseerde Franse teks of die ongepubliseerde ‘oorspronklike’ Tseggiese teks vertaal het nie. Ek vermoed eersgenoemde.

    Ek is bly dat Kundera weer ‘n roman publiseer; na die beswaddering van sy naam so ‘n paar jaar gelede (die steeds ongeverifieerde storie dat hy as jong as informant vir die polisie iemand verraai het) is dit asof hy darem op ‘n manier die laaste woord inkry.

    Wat die musikale struktuur betref: sy romans is natuurlik vol ongelooflike besinnings oor musiek. In The Book of Laughter and Forgetting is daar briljante mini-essays oor Beethoven se laaste paar klaviersonates.

    Anders as Adorno het Kundera van jazz gehou; maar soos Adorno het hy egter geen aanvoeling vir ander popul^ere genres nie. Hy sal nie Dylan of Kramer waardeer nie; maar sy essays oor Janacek is so briljant, mens vergewe hom maklik.

  19. Maria Snyman :

    Jammer, Desmond, sou graag ’n derri-lirieuse dronk draai daar wou gooi (ek is mal oor dans, wel van die ruk en rol weergawe (bewonder wel ook die rieldansers so vanaf ’n distansie)) tussen die gedugte digters, maar ek sit vas hier in die Noordweste – speel tutor vir UNISA daardie naweek.

    Julle praat so musiek – het julle al “Nkandla Style” (gebaseer op Psy se Gangnam Style) gehoor en gesien? Daar is ’n paar baie pittige momente daarin. Lyk of dit gesensor is, maar daar is weer ’n weergawe beskikbaar. Daar is ’n ander weergawe wat ook baie snaaks is (gemaak van video materiaal van allerande vreemde momente – treindansers, taxi wat woes rol, marionette, ens ens).

  20. Buiteblaf Breytenbach :

    Die woeste een het ek gesien en aangestuurd – dankie vir daardie skakel, Maria. Dis juis nadat ons daarna gekyk het dat ons besluit het om die Spies van Nakandla te nooi na die dansende digtersfees. As ek Andries was sou ek met sulke kompetisie bewe in my broek.

  21. bibi :

    Wat ‘n eer! Ek sien ek is gekanoniseer! Nou wel as danser en nie as digter nie, maar dis darem ‘n begin. Andries, ek kan net die eerste aand daar wees, ons moet asseblief daardie aand genoeg dans vir twee leeftye. En ek vrees geen kompetisie buiten Ko Un nie.

  22. Desmond Painter :

    Bibi op die ou end is ons almal maar kanonvoer. Nkanondla Styl!

  23. Andries Bezuidenhout :

    Bibi, ons stig sommer ‘n nuwe letterkundige beweging daardie eerste aand en noem dit die Pirouette Kollektief.

  24. Desmond Painter :

    Andries, ons Kaapse koalisie van ongebundelde digters behoort reeds aan ‘n beweging genaamd die Pinotage Korrektief. Ons het selfs ‘n T-Hemp: “Afrikaans in sy kanon in.”

  25. Buiteblaf Breytenbach :

    Andries Pierewiet, mens hoop maar julle sal meer stigtelik wees as van die ander Pierewaaiers wat dreig om naglank te riel!

  26. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond, jy weet natuurlik ‘n “canon” is ‘n tipe of ‘n grootte wynglas?

  27. Andries Bezuidenhout :

    Stigtelik, watwô! Op ‘n ernstiger noot, Breyten, dankie vir jou artikel in die Mail & Guardian oor die utopiese verbeelding. Dit het my weer aan Rick Turner laat dink. Ek lees op die oomblik ‘n boek deur Shlomo Sand, waarin hy sy vriendskap met Mahmoud Darwish noem. Jou artikel en Sand se boek praat oor twee plekke, maar ook dieselfde een.

  28. Desmond Painter :

    Teen R35 ‘n kopie kan ek die M&G deesdae net een keer per maand bekostig. Ek het BB se artikel dus misgeloop. Darem nou op hulle weeblad opgespoor (dankie vir die spoor, Andries); hier’s hy vir ander cheap skates soos ek:

    http://mg.co.za/article/2014-03-27-sa-the-future-of-our-dreaming

  29. Desmond Painter :

    O wee, webblad. Bedoel ek.

  30. Desmond Painter :

    Hier kan julle ‘n gesprek met Adorno en Ernst Bloch oor die “teenstrydighede van utopiese verlange” lees:

    https://files.nyu.edu/scr266/public/Adorno_Bloch.pdf

  31. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie, Andries. Jy vang my nou so half tussen twee note. Ek het nie verwag enigiemand sou die artikel sien nie. (Wel, nie die mense wat ek ken nie..) (Wel, nie mense wat mens in hierdie verband sou ken nie.) Die artikel was ingekort, sy wingtips getrim, geformateer, en in die proses is die oorgange daarmee heen. Kon seker nie anders nie. Ene Desmond Andernaam het die opgeblase lyf wat ek by STIAS gaan pleeg het moes probeer pas in ‘n broek wat ‘n koerant sou kon herken. Hierdie Desmond, terloops (‘n gawe ou), het vroeër gereageer toe ‘n uitnodiging na ‘n Pirogue aangeleentheid gerig aan Desmond Danser per abuis in sy posbus beland het. Daar’s te veel demone in Skellumbos…

    Watter boek van Shlomo Sand is dit? Ken jy Miko Peled se “The General’s Son”? Peled was ook onlangs op daardie eiste kampus (Sbos) om sy boek bekend te stel. Sy pa was ‘n generaal in die Israeliese leër, wat bedank het omrede Israel se vernietigende, oneerbare en oneerlike beleid teenoor Palestina.

  32. Andries Bezuidenhout :

    Dis “The Invention of the Jewish People”, Breyten. Mooi stuk skryfwerk oor hoe nasionalisme werk – “mythistory”. Dankie vir die verwysing na Peled.

  33. Buiteblaf Breytenbach :

    Ons dwaal af. Of miskien ook nié. Soos Uys vanslewe sou gesêvra het: “Waar was ek nou weer gewees?”

    Dankie vir die skakels, Desmond. Punt is: ons probeer ‘n klompie baie uiteenlopende maar ‘n ieder op eie manier fassinerende digters van moeilike stasies met ingewikkelde agtergronde en geskiedenisse hier die kans gee om kennis te neem van plaaslike toestande deur kennis te maak met mense van hierdie (Suiderse) geweste. En andersom eweseer. Wat daaruit voortkom is vir ander om te vergewis. Ek hoop dus dat julle gebruik gaan maak van die geleentheid om so tussen die skoffel en die sokkiejol deur van die besoekers te leer ken. En indien daar spesifieke publikaties is wat julle dink onder hulle aandag gebring behoort te word, laat weet asseblief.

  34. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek is in die Bosveld. Sit en teken ‘n dooie mot met houtskool. Pragtige dier. Soms sukkel om die lyne reg te trek omdat ek oor die Pinotage Korrektief lag.

  35. Desmond Painter :

    Breyten: alle grappies in ‘n sokkie. Ek sien beslis uit na die Digtersfees, vir die redes wat jy noem. En vir die inspirasie, as julle my die oudmodiese versugting sal vergeef. Soos ‘solidariteit’ is ‘inspirasie’ iets wat mens nogal soms begeer in die slopende stellenbosse alledaagsheid.

  36. Maria Snyman :

    Desmond, dankie vir daardie skakel na die Adorno-Bloch artikel. Wilde se opmerking dat daar altyd ‘n utopia(/nie-ruimte/tydruimte/”slingerdans” (Joubert 1997:276, oor die geometrie van tydruimte)/ “disquieting difference”(Derrida 1989:153)/separasie/L.secernere/geheim/verbeeldingryke ruimte) op ‘n kaart moet wees, vat dinge goed saam vanuit die perspektief van ‘n (skippy dog?!)dol Derrideaanse poskantoortjie.

    Mnr BB, ek het inderdaad nogal vermoed dat een of ander droge joernalistiese jannie u teks moes beetgehad het, so dankie dat u dit bevestig.

    Gesien die onderhawige deliriese (deels slipperlose)danstema (sy gaan net een dag daar kan wees), Derrida (1982: 27), ‘n sekere Nietzschiaan in nerf en naat, herinner ons: “we must affirm this [loss of a unique name], in the sense in which Nietzsche puts affirmation into play, in a certain laughter and a certain step of the dance,” want, voeg hy in “Différance” (ietwat onheilspelleng) by: “From the vantage of this laughter and this dance, from the vantage of this affirmation foreign to all dialectics, the other side of nostalgia, what I will call Heideggerian hope, comes into question,” d.w.s. die hoop om te kan terugkeer na die aarde, na ‘n outentieke, heilsame bestaan sonder enige verskriklike verskille, sonder utopieë.

    Mnr BB, u skryf, “Utopian thinking does not have good press. It is assumed that one is being unrealistic – a cardinal sin in empirical practical politics! – escapist to boot, and, perish the thought, maybe revolutionary!” Dieselfde sou gesê kon word van verskil (“difference”/différance/verskil-uitstel) – daar is ‘n geneigdheid om dit te wil oorkom, verby te steek, uit te wis, ensovoorts. Maar sonder dit sou ons nie hier gewees het nie, en ja, dit is onrusbarend, maar mens kan ‘n smaak daarvoor ontwikkel as jy jouself toelaat om te sien dat jy alreeds ‘n smaak daarvoor het – wie wil permanent met homse/haarse self speel (ek het J-J Rousseau se skuldgevoelens oor sy met-homse-selwers-speel in gedagte).

    So, dit is inderdaad so dat “within the South African context [utopia/’n smaak vir die verskriklike (slingerdansende) verskil-verplasing-uitstel/”secret”/separasie] can be a useful tool.”

    Oscar Wilde het ook gesê: “The true mystery of the world is the visible, not the invisible”. Heidegger het gemeen ons kan nie die verskil as sulks sien nie, maar Derrida wys dat as jy jouself toelaat, jy die verskil(makende beweging) wel kan sien (dit is ‘n sekere vreemde voor die hand liggendheid, op ‘n sekere manier “in your face”). Die probleem is egter, dit is ook ‘n sekere verskriklike/verstommende gesig gepraat van utopia – die aarde gee half mee onder jou voete as jy dit sien, jy voel asof jy slinger soos ‘n dronk danser, heerlik, maar waarheen …?

    Robert Frost: “We dance around in a ring and suppose. But the secret sits in the middle and knows”.

    Ek het Wilde en Frost uit Gideon Joubert (1997) se Die Groot Gedagte, abstrakte weefsel van die kosmos aangehaal. Dit is baie snaaks om dit vanuit uit ‘n Derrideaanse perspektief te lees, hoogs aan te bevele – “Alles spat uitmekaar”! “Cry Havoc! And let slip the dogs of war” – verwoesting is wat by die grypende bekke van gravitasiekolke gebeur. Heinz Pagels: “Ek het gevoel ek is verby my gesonde verstand tot op die vlak van die verbeelding gestoot”.

    Ek hoop nie ek nou weer te onhebbelik onheilsaam geskryf nie – maar “Waar was ek nou weer gewees?” is vir my ‘n baie mooi gedagte. (Eendag het ‘n geliefde my in een van daai oomblikke van gruwelike (naakondela)gekheid gevra: “waar is ek nou?” …) Viva verskille(nde vrolikhede)!

  37. Buiteblaf Breytenbach :

    Leon?!

  38. Desmond Painter :

    Leon gaan beslis ‘n sokkie hiervoor steek.

  39. Andries Bezuidenhout :

    Andries Gouws het so twee dekades gelede ‘n artikel geskryf met die titel “The Postmodernist’s Progress, or Bluff Your Way in Postmodernism” (as ek die titel reg onthou). Soms, as ek so oor hierdie goed lees en skryf, wonder ek hoeveel bluffing aan die gang is (ek verwys natuurlik hier net na myself). Nietemin, ek wil ‘n punt maak oor Derrida se différance en identiteit aan die hand van Ken Seigneurie se perspektief op sg. postmoderne tegnieke wat tipies in romans gebruik word – in hierdie geval oorlogsromans in die Arabiese wêreld:

    “Iteration and recursivity here point not to the givens of open-endedness and infinite potentiality but beyond these to a compulsion to bear witness. Thus it is not so much the techniques that differ as the attitudes toward them. These novels have little to do with a postmodern fascination with surfaces and much to do with a modernist anxiety about the depths of trauma.” (uit die essay “Ongoing War and Arab Humanism”)

    Die utopiese verbeelding gaan nie, dink ek, oor alles wat in ‘n gewaande plurale wêreld van verskille in taal moet verdamp nie (daarin is die utopiese verbeelding in elk geval onwenslik, ‘n standpunt wat so bietjie 1980s voel), maar ook nie oor eierdoppe wat moet breek om omelette te bak nie (Lenin). Die mees verbeeldinglose utopiese denke kom in elk geval nie op die oomblik van die linkerkant nie, eerder van markfundamentaliste aan die regterkant.

  40. Buiteblaf Breytenbach :

    Andries, ek is bly jy lê ‘n waarskuwende vinger op die uiteenlopende interpretasies wat kleef aan die gebruikmaak van “Utopie”. (Ek moes my eintlik nie in daardie gebied gewaag het nie: daar is net te veel assosiasies wat opklink, waarmee ek nie vertroud is nie.) Wat ek in gedagte had was bloot: 1.SA is ‘n konstruk, dus (gedeeltelik) ‘n bedagte en verbeelde bedeling in wording; 2. Die huidige opset is onhoudbaar, die ongeregtighede skreiend, om niks verder te sê nie, die smêsj onvermydellik, lyk dit vir my (al is dit dan ook die land “where the worst somehow never happens”). 3. En dan: hoe nou? Met wie? (Interessant nogal in vandag se Rapport die rubrieke van Malala en van Tim du Plessis.) 4. Ons het ‘n Vryheidsmanifes nodig. Ons het ‘n algemeen aanvaarde en afdwingbare kode van etiese optrede nodig. Ons het ‘n volksberaad nodig. Ons het ‘n nuwe nasionale verdrag nodig. Ons kan nie sonder ekonomiese regverdigheid verder nie. 5. Utopie?

  41. Leon Retief :

    Philosophy is garbage, but the history of garbage is scholarship – Burton Dreben

  42. Maria Snyman :

    Leon, in meer poëtiese terme – filosofie sê: pardon de ne pas voiloir dire (“pardon for not meaning (to say) …”). Filosofie eis vir sigself die reg op om enige iets te sê, of alles weg te steek, soos letterkunde, en het dus ‘n nou verband met die vryheid van spraak as voorwaarde van demokrasie … ‘n sekere niks wat ook nie heeltemal niks is nie … Ek hou ook van hoe Steiner dit n.a.v. Heidegger stel: ‘n uitdrukking van “amazement before the blank fact that we are”. Filosowe dink hulle dink, maar eintlik skryf hulle mooi … en doen ongehoorde dinge in die proses. Ek dink dis pragtig en prikkelend, en dit oefen ons dinkspier wat ek dink ‘n goeie ding is.

  43. Maria Snyman :

    Vouloir! Jammer vir die spelfout. Ek haas om Carte Blanche te gaan kyk!

  44. Desmond Painter :

    Maria, jy herinner my nou, ek het eenkeer ‘n boekie oor Heidegger deur Steiner gelees. Wonderlike boek. Praat ons van dieselfde Steiner? George? Die een wat After Babel geskryf het?

  45. Andries Bezuidenhout :

    Ek stem saam Breyten. Die geskiedenis lê vol voorbeelde van nuwe demokrasieë wat in fascisme beland, omdat die demokrasie nie deur ekonomiese regverdigheid bestendig word nie. Voeg harde identiteite rondom ras (soms taal) daarby en jy’t ‘n groot gemors (eufemisties gestel, ter wille van stigting). Weimar Duitsland is een voorbeeld – Sand se boek weer vir my insiggewend hier. Ek hoop nie dis te laat nie, maar ek is bevrees die tyd vir sondebokke soek breek reeds volstoom aan. (Ons het ook ‘n staat nodig wat die werk kan doen – en daar is voorbeelde waar dit werk, maar te min.)

  46. Andries Bezuidenhout :

    Benewens filosofie gaan die vraag seker dan ook oor wat die digkuns kan/moet doen. Of nie kan/moet doen nie? Dalk net boekstaaf. “Skryf neer…”

  47. Andries Bezuidenhout :
  48. Andries, dankie vir jou bydraes. Net een vraag:
    Het jy geen probleem met die begrip ‘ras’ in die
    jaar 2014 nie? Dit maak baie seer om dit te moet
    lees.

  49. Maria Snyman :

    Inderdaad, Desmond. Die 1989 weergawe, “With a New Introduction.” Dit was vir my ‘n unheimlich boek, mens kan “Being” amper net vervang met “secret” of enige van Derrida se ander “terme” en jy kry ‘n les in dekonstruksie! Ek het dit ook op ‘n vreeslike enigmatiese manier bekom – by ‘n Rotary motorhuisuitverkoping. ‘n Joodse persoon in die regte met ‘n belangstelling in filosofie en fokus op die holocaust moes die lewe verlaat het – daar was bokse vol boeke en papiere. Boeke: Kierkegaard, Levinas, Heidegger, Satre, Derrida (twee van daardie “comic strip” inleidings), ens. Spotgoedkoop. Ek dink dit was toe ek Levinas so eerstehands in die hande kry, dat ek regtig begin verstaan het waaroor Derrida se projek gaan. Jy kan dit gerus weer lees, veral die nuwe inleiding is baie interessant vir my – dit plaas Derrida se projek in die perspektief van kontinentale denke. Dit is veral ook baie lesersvriendelik.

  50. Leon Retief :

    Filosowe dink hulle dink… ek het nie verwag dat ek met jou sal saamstem nie Maria. 🙂 Sommige filosowe dink natuurlik meer as ander filosowe dat hulle dink. Dreben was nie een van hulle nie.

  51. Andries Bezuidenhout :

    Engela, ek dink nie die (utopiese?) ideaal van nie-rassigheid kan bereik word sonder om oor ras (en ek stem saam met die aanhalingstekens wat jy gebruik) te praat en die sosiale gevolge van die feit dat mense in terme van ras dink en optree te ignoreer nie (verskoon die lomp sin). Ek sien dit as ‘n sosiale konstruksie, nie ‘n biologiese werklikheid nie. Ek moet noem dat van die kritiese rasteorie wat so hoogmode in die VSA is my soms irriteer. Iemand het dit al “confessional whiteness studies” genoem – Foucault saam met openbare selfkastyding. Ek weet nie of dit ter plaatse ‘n antwoord is vir die harde nasionalisme wat sommige Suid-Afrikaners as inheems en ander as vreemdelinge sien nie.

  52. Andries Bezuidenhout :

    Om dit terug by die digkuns te bring en noudat die insomnia my in elk geval aan die ooglede beet het, kan ek seker maar noem dat die tragiese gebrek aan diverse stemme in die Afrikaanse digkuns ook oor “ras” gaan. Nie eksklusief nie, maar grotendeels. En dit in 2014. (Engela, ek hoop nie dit klink bitsig of hoogheilig nie, nie so bedoel nie.)

  53. Desmond Painter :

    Andries, ek deel jou irritasie met sekere tendense in die Amerikaanse kritiese rasstudies, witheid studies, postkoloniale studies, ensomeer, maar as mens verby die akademiese kommodifisering en moralistiese selfkastyding kyk, word daar tog ook belangrike dinge bespreek en produktiewe konsepte geskep. Ek dink tog daar is plek vir intelligente kritiese studies (en dekonstruksies, of afbouing) van ‘witheid’ (let wel, witheid, nie wit mense nie) en hel, dalk van ‘swartheid’ ook, in Suid-Afrika (ek dink hier aan ‘n goeie voorloper, Ivor Chipkin se artikel The Sublime Object of Blackness; ‘n rare kritiese blik op onder andere Biko). In sosiale sielkunde praat ons baie oor rassisme, maar min oor ‘ras’ – ja, ons noem dat dit ‘n ‘sosiale konstruk’ is, maar dan gaan ons nie verder om te kyk wat die geskiedenis en ‘loopbaan’ van hierdie konstruk is nie. Ek het gevolglik so 2 of 3 jaar gelede ‘n honneursmodule oor ‘ras’ aangebied; dit was nogal ‘n touch and go storie, want die (wit) studente bied weerstand. Ons het benewens akademiese tekste baie videos van Die Antwoord en Jack Parow gekyk, onder andere. Maar ja, dit was moeilik om die gesprekke weg te hou van of ontkennings of belydenisse – en nie een van daai interesseer my nie.

  54. Desmond Painter :

    NS. Andries, Noel Ignatiev het ‘n klassieke boek geskryf, How The Irish Became White. Ek wonder al lank of mens dalk ‘n soortgelyke boek oor die Afrikaners (en Afrikaans) moet skryf. Nie as ‘n soort opportunistiese of sentimentele oefening nie, maar om by nierassigheid uit te kom juis langs die weg van fundamentele kritieke (soos in ‘critique’) van raskonstrukte hier by ons. David Theo Goldberg het iets hiervan beet, deur te fokus op hoe verskillende samelewings, die VSA, SA, ens., hulself elkeen op redelik unieke wyse in rasterme verbeel; en dus die uitdaging: om te herverbeel. Hier is ons terug by die utopiese funksie van kritiek.

  55. Leon Retief :

    Desmond en Andries, lees gerus:

    http://chronicle.com/article/In-Research-Involving-Genome/145397/
    asook:
    http://www.unz.com/gnxp/not-by-cline-alone/?utm_source=rss&utm_medium=rss&utm_campaign=not-by-cline-alone&utm_source=twitterfeed&utm_medium=twitter

    Desmond, hierdie vraag is uit blote onkunde. Ek weet sowaar van sowel Jack Parow en Die Antwoord, maar dis waar my kennis eindig. Hoe het jy die kloutjie by die oor gekry mbt lesings oor ras?

  56. Maria Snyman :

    To This Day – Shane Koyczan (Kanadees). Nie seker hoe bekend Koyczan aan Versindabbers is nie, maar hy blyk te dans. Skakel
    https://www.youtube.com/watch?v=ltun92DfnPY
    13,101,412 views

    (…)
    That has less to do with pain
    And more to do with beauty