Philip de Vos. Tyd vir jou om weg te gaan

Hennie Aucamp. Fotograaf: Pieter Strauss

Kaapstad en omgewing is bekend vir die baie skrywers en digters wat besluit het om hier aan die suidpunt van Afrika naby die Atlantiese oseaan hulle sê te kom sê:

Hier in die omstreke is: André Brink en Etienne van Heerden en Elsa Joubert en Wilma Stockenström en Johann de Lange en Petra Müller en Abraham de Vries en Ingrid Winterbach en Marzanne le Roux van der Boon en Lina Spies en Joan Hambidge en Dan Sleigh en Adam Small en Rachelle Greeff en Deon Meyer en Ellen Botha en Danie Botha en Francois Bloemhof en Daniel Hugo en Marlise Joubert en Louis Esterhuizen en Kerneels Breytenbach en Jeanne Goosen en Antjie Krog en Peter Snyders en Marlene van Niekerk en sekerlik nog ‘n hele paar ander.

En dan is daar natuurlik ook die baie akteurs en dramaturge en woordmense.

Hennie Aucamp was een van hulle.

Toe hy skielik dood is, was ek in die Kruger Wildtuin en toe ek die nuus verneem, sê ek vir my vriend Peter:  Ek is seker Hennie Aucamp is een van die min Afrikaanse skrywers wie se dood  ‘n koerant se voorblad sal haal. En ek was reg ook. Daar is natuurlik Breyten Breytenbach en Karel Schoeman en André Brink, maar die ander skrywers en digters sal maar seker tevrede moet wees met ‘n paragraaf of drie dieper in die koerant se binneste.

En toe, gistermiddag by Welgemeend in Kaapstad is daar ‘n tot siens vir Hennie. En daar is vooraf versoek: bespreek gou, want daar is maar net plek vir 80 mense.

En uit die Noorde is spesiaal van ons top-kunstenaars ingevlieg: Coenie de Villiers, Jannie du Toit, Elsabé Zietsman, Janine Neethling en natuurlik Amanda Strydom wat vir oulaas met sang vir haar mentor Hennie kom tot siens sê het.

En daar voor die vleuelklavier lê toe die rye en rye leë stoele.

Ek het darem vir Joan Hambidge opgemerk en  vir Daniel Hugo, en Bernard Odendaal en Murray la Vita en Margot Luyt  en uit die noorde Nicol Stassen en Martjie Bosman.

Waar was die ander? Of het hulle dalkies in hulle binnekamers gesit en swoeg aan ‘n gedig of die volgende boek, om te sorg dat hulle darem weer ‘n rand of drie in die sak sal hê en daardeur nie heeltemal in die vergetelheid sal verdwyn nie.

As dit met Hennie kon gebeur, watter kans het die res van ons?

Ek sê maar net.

En in hierdie twee reëls uit Woerts in die hoekie, sy kinderversieboek het Hennie Aucamp dalk doodeenvoudig oplaas kom tot siens sê:

 

Ou horlosies moet gaan staan

tyd vir my om weg te gaan.

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Philip de Vos. Tyd vir jou om weg te gaan”

  1. Inderdaad, Philip. En waar was Stellenbosch en Kaapstad se letterkundiges? En waar was die persfotograwe?

  2. Hanne Koster :

    Ek sou baie graag daar wou wees maar het (klaarblyklik verkeerdelik) verstaan dat dit ‘n private geleentheid was.

  3. Margot Luyt :

    Ek het my toerusting om opnames te maak saamgeneem, maar is meegedeel dat daar asb geen opnames gemaak moet word nie. Dat die familie versoek het dat daar ook geen TVkameras moes wees nie. Ek het ook verstaan dat ‘n mens slegs op uitnodiging mog bywoon.

  4. Margot, dit is jammer dat die familie so besluit het. Dit was ‘n unieke geleentheid wat gedokumenteer moes gewees het.

  5. Margot :

    Dit is juis waarom ek die bandmasjien saamgeneem het.

  6. Johann de Lange :

    Dit blyk nou dat daar verwarring was tussen die verassingsdiens wat wél privaat was & net deur familie bygewoon is, & die gedenkdiens wat niks met die familie te doene gehad het nie, & wat oop was vir enigeen. ‘n Jammerte.

  7. Joan Hambidge :

    Ek het ‘n kort toespraak gemaak oor Hennie Aucamp se enorme invloed as ‘n skrywer met vele fasette en sy invloed veral op gay-skrywers hier te lande. Daarna het ek ‘n uitmuntende vers van Johann de Lange voorgelees.
    Dieselfde aand, net ter verduideling, was daar ‘n funksie in die Paarl. Dit is wel jammer dat hierdie aand nie opgeneem is nie.

  8. Joan Hambidge :

    Philip ek is wel bly om te sien dat jy Daniel Hugo se naam sonder ‘n deelteken skryf.Elders op die blad het die deelteken weer uitgespring.

  9. Joan dit sal wonderlik wees om jou toespraak en Johann de Lange se
    gedig hier te kan lees!

  10. Joan Hambidge :

    http://versindaba.co.za/2014/03/23/huldeblyk-hennie-aucamp-1934-2014/ (Kyk hier):
    Ek het sy bydrae as skrywer karteer. Kyk hier na my huldeblyk op Versindaba. Vir my was hy soos ‘n goeie whisky: jy kon hom skoon drink of “on the rocks”. Aucamp was ‘n enorm belangrike mentor. As jong mens het hy vir my die belangrikheid van reis geleer & dat ‘n mens sonder skroom jou identiteit moet uitleef.
    Woede is ook pyn, het op ‘n keer opgemerk. En dat indien jy bitter raak, jy onaangenaam raak vir jouself en ander mense.
    “Playing the game” van Austin het hy aan my voorgeskryf – moenie in gay-stereotipes verval nie. Skryf oor gay-wees as ‘n outentieke ervaring sonder skaamte of skuldgevoel. En kyk wat doen Damon Galgut in sy roman “Arctic Summer” oor E.M. Forster wat teen die kodes van sy tyd moes standpunt inneem. http://www.litnet.co.za/Article/arctic-summer-deur-damon-galgut

  11. Amanda Strydom :

    Dit was so ‘n mooi aand,ek dink die misverstand oor die “private geleentheid” het baie mense wat graag daar wou wees, verhoed om ook hulde te kom bring.Vir my was die ongemaklikste dat,nadat Daniel gesê het almal is welkom om na afloop van die program hulde te bring by die oop mikrofoon,daar ‘n doodse stilte was.Niemand,nie eers die familie,het van die geleentheid gebruik gemaak nie. En die aansienlike aantal leë stoele was soos gapende wonde.

  12. Dankie Joan!

  13. Deon Knobel :

    Hennie Aucamp Brief 24 April 2014

    Dan was ek ook inderdaad afwesig, al het ek my naam aangestuur. Ek het geen verskoning nie en sou so graag wou onthou het om daar te wees. Hennie en broer Wilhelm was tydgenote en vriende. My bejaarde ou moeder het eenmaal aan my lewensmaat, Roy gesê: Jy weet Roy die swaarste van oud word is: Jy verloor so baie van jou vriende.

    Ek was die hele middag by ‘n “vrolike” afskeidsfunksie by Kirstenbosch vir ‘n oud-kollega en mentor, Prof Raoul de Villiers, bekende Departementshoof van Sjirurgie by die Mediese Skool Bloemfontein jare gelede, en daarna sjirug by Groote Schuur Hospitaal. Die afskeidsfunksie is gehou te Kirstenbosch, en toe, glo dit as u wil, het Hennie my heeltemaal ontgaan.
    Hennie. ek sal jou nie meer ‘n opskep kan gee as jy op die sypaadjie by jou woning wag op ‘n “taxi” om na Groentemarkplein te gaan “Sodat ek net weer tussen mense kan wees” nie.

    Ek sluit af met enkele reëls uit die pragtige elegiese gedig van Wilhelm Knobel : (HENNIE) – “Jou oë is hoe lankal toe; Ons lê op jou oë die skulpe van verlore dae / om in ‘n requiem van Herfs te verkleur…”

    Requiescat in pacem: factum est.
    Deon