Resensie: Reisiger te perd (Piet van Rooyen)

Resensent: Dr Amanda Lourens

Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde deur Piet van Rooyen. (Pretoria Boekhuis, 2013, ISBN: 978-1-4853-0025-0, Formaat: Sagteband, 120p.)

Piet van Rooyen, wat veral ook as romansier bekend is, debuteer in 1973 met Draak op die erf, waarna Rondom ’n boorvuur (1983), Goedsmoeds (2002) en Kwansuis (2008) volg, telkens met redelike lang onderbrekings tussen die onderskeie bundels.  Reisiger te perd is volgens my somme dus Van Rooyen se vyfde bundel, eerder as die vierde, soos op die agterblad van die nuwe bundel aangedui word.

Alhoewel Van Rooyen dalk meer bekendheid verwerf het as outeur van bekroonde romans soos Die spoorsnyer (1994) en Die olifantjagters (1997), staan sy bedrewenheid as digter op geen manier terug vir sy vaardigheid as prosateur  nie.  En daarom is dit jammer dat Van Rooyen se digkuns dalk nog nie werklik die wyer erkenning gekry het wat dit verdien nie.  Tog het die vorige bundel lof van die kritici ontvang, en Beuke-Muir (2008) maak ’n sterk kanoniserende uitspraak in haar resensie: “Hoewel die gedigte nie almal ewe toeganklik is vir die breër leserspubliek nie – soos dit dikwels die geval is met poësie – is die literêre kwaliteit van Kwansuis van so ’n aard dat Van Rooyen met gemak kan saampraat met die gerekendes onder die Afrikaanse digters.” Hiernaas beskryf Hambidge (2008) Van Rooyen as “’n regte digter”. Sy brei hierop uit: “Hy is nie kammakastig nie. Om sy woorde aan te pas: Hy breek sy kartetse op ons digkuns.” Hierdie woorde kan eweneens op Reisiger te perd van toepassing gemaak word, want Van Rooyen beoefen ’n suiwer digkuns sonder enige grootdoenery.

Wat die nuwe bundel ook besonders maak, is die feit dat die gedigte almal met ’n oorkoepelende tema verband hou, naamlik perde. Hiermee sluit Van Rooyen aan by byvoorbeeld Hennie Nortjé, wie se bundel In die skadu van soveel bome (2012) deur die tema van bome saamgesnoer word.

Die digter self vertel in ’n voorwoord tot die bundel meer oor die agtergrond en ontstaansgeskiedenis daarvan. Hy het in sy leeswerk oor verskeie jare aantekeninge gemaak van verwysings na perde in die wêreldliteratuur waarin hy hom verdiep het. Hierdie aantekeninge is omgedig tot die vorm waarin dit in die bundel aangebied word.  Die volgorde waarin die gedigtekste gerangskik is, volg naastenby die datum van eerste publikasie van die brontekste, maar, sê Van Rooyen, “die idees bly tydloos”. 

Myns insiens lê die sukses van die bundel veral in twee kenmerke daarvan: enersyds in die tydlose gedagtes wat in die gedigte vasgevang word, maar andersins ook in die feit dat die gedigte nooit te swaar leun op die brontekste of selfs te afhanklik daarvan raak nie.  Elk van die tekste in die bundel is ’n gedig in eie reg, en die naspeur van die oorspronklike prikkels sal ’n intellektuele uitdaagspeletjie wees, eerder as wat dit noodsaaklik is om die gedigte te begryp.

Om Reisiger te perd egter eensydig te lees as ’n bundel gedigte oor perde, sou die diepte en geskakeerdheid daarvan gruwelik misken.  Dit is veel eerder die geval dat ’n bepaalde prikkel uit die literatuur wat op die een of ander manier met die perd-tematiek verband hou, bloot dien as die vertrekpunt vir die gedig. Vandaar ontwikkel die gedig merendeels op bedrieglik eenvoudige wyse, en dikwels ook in ’n ewe bedrieglike ligte trant, om uiteenlopende aspekte van die menslike kondisie te verken. Soms bly die gedig gemoeid met die verhouding tussen mens en perd, maar dan is dit selde in ooreenstemming met die ongenuanseerde mens-perd-kameraderie wat dikwels in sentimentele verhale aangebied word.

In twee gedigte teen die einde van die bundel word die kompleksiteit van die perd-gegewe raakgesien. In ’n gedig soos “langpad te perd” (p.113, na Elizabeth Gilbert) is die fokus op die eeue oue verbintenis tussen mens en perd, ’n assosiasie wat sowel die romantiese as die primordiale omvat en uiteindelik sorg vir die oorskryding van die grense tussen verskillende lewensvorme:

[…]

 

daar is iets romanties aan ’n rydier

die blote aanwesigheid van ’n perd

iets ouds en oers en buite die gewone

’n sesduisend jaar oue nomadiese tradisie

 

die trans-spesifieke kommunikasie

tussen mens en dier – die ruiter en sy perd

is ’n slingerpad wat grense verbind

met ’n eindpunt aan die oorkant

 

Hierbenewens bemoei die digter hom met ’n getransformeerde beeld van die perd waar die mens nie meer in ’n verhouding van eienaarskap teenoor die perd staan nie, maar waar die perd die rol van geestelike gids vir die mens vervul.  Laasgenoemde moet hom dan op die psigiese patroon van die perd skoei om “vorentoe” te kan loop, soos gesien in “die vul in die droom” (p.115, na Isabel Allende):

[…]

hy het geweet dat die vul nie bloot daar was nie

dat hy nie gekom het om na ’n eienaar te soek nie

maar om hom die pad te wys wat hy vorentoe moes loop

met die perdevul as die gids vir sy gees

nou met die persoonlikheid van ’n perd

die lojaliteit die krag en die uithouvermoë

 

Die gedigte wat aansluit by klassieke tekste ondersoek veral die mens se rol as berede kryger en sy vreugdevolle aanvaarding van hierdie rol tot letterlik in die dood, soos gesien word in die slot van “die land van vreugde” (p.13, na Vergillius):

die perde wei vreesloos teen die hange

die strydwaens staan uitgespan op hul wiele

maar die glimlagte op al die gesigte wys steeds

die oeroue vreugde van perdry en van die geveg

 

Tog sorg die digter dat die omdigtings vanuit die klassieke nie ’n eendimensionele siening van die perd as strydgenoot aanbied nie. In “onsekere hawe” (p.14, na Vergillius) word die perd in ’n gemaklik vloeiende argumentatiewe trant en aan die hand van beelde wat naatloos in plek val, uitgebeeld as die kohesiewe krag in samelewings:

perde die oeroue teken van onrus en van oorlog

tog is daar dié onder ons wat dadelik sê:

ingespan in ’n wa kan perde saamtrek in vrede

ook daarom tekens van die landelike en van harmonie

dus bly daar die hoop ten spyte van wanhoop

 

Die aard van menswees word in meer as een van die gedigte belig.  Deur nugter vertelling word ’n genadelose blik gebied op karaktereienskappe wat die eienaar daarvan nie tot eer strek nie. In die gedig “die goeie ridder” (p.16, na ’n anonieme digter), word ’n sprokie-agtige atmosfeer geskep met ’n anonieme stem wat kommentaar lewer op die ydelheid van sekere ridders, maar sonder dat die gedig oorhel na hinderlike moralisering. Want, sê die stem, diegene wat “[…] ’n lewe van gedurige oorlog en van sonde [lei]/ [en wat] die prooi van selfwaan en van jaloesie [is]”, sal geen plek vind wanneer hulle aankom “aan huis van die groot visserman” nie. Overgesetsynde, die hiernamaals het geen plek vir ydeles nie, soos verwoord in die reël wat ’n tydelose waarheid op treffende wyse as perd-verwante beeld aanbied: “dáár is g’n plek vir ’n man op ’n spoggerige perd nie”.  Die menslike nuk tot ydelheid word dan ook baie suksesvol geïroniseer in “passie vir perde” (p.19, na Stendhal), waar die verteller droogweg kommentaar lewer op die verveelde baron wie se “reusepassie vir perde” hom in die “middelpunt van die hele geselskap” plaas.

’n Uitstaande gedig is “die perdheid van ’n perd” (p.48, na D.H. Lawrence), met as tema die menslike denkproses.  In hierdie gedig verskuif die ondersoekende blik vanaf die objek “perd” na die subjek se kognisie:

wat presies is die perdheid van ’n perd

wat is dit wat ’n man gewaar as hy ’n perd bekyk

kan ’n mens dit behoorlik in ’n oomblik vervat

 

’n mens kyk mos nie soos ’n kamera

in klein stukkies vierkantige momente nie

daar is ’n spesifieke voortrol in die mate van sig

 

die verbeelding self wat begin tol en swaai

die denke wat die elemente bymekaarplak

en verskuiwe na die beeltenis van ’n perd

 

eers dan verskyn die perd vir wat hy is 

 

Politieke kwessies word ook aangeraak in die digter se besinning oor die menslike aard en kondisie, soos byvoorbeeld in “al digter dring die skare” (p.40, na Joseph Conrad). Hier is die “onluspolisie op hulle perde” die verteenwoordigers van die koloniale bewindhebbers wat dreigend bly huiwer op die marge van die inheemse bewoners se driftige byeenkoms. Nietemin bly die koloniale bewussyn nie onaangeraak nie – “selfs wit mense kan nie langer die roep / van die bongo’s in die hart weerstaan nie”. 

Al die gedigte in die bundel is egter nie kontemplatief nie, en enkeles fokus slegs op die beeldende vermoë van taal, soos byvoorbeeld “oggendrit” (p.74, na Mervyn Peake) en “’n slee oor die sneeu” (p.69, na Ringuet), met laasgenoemde wat ook ’n sterk sintuiglike komponent bevat. ’n Hoogtepunt is “vier van die mooistes” (p.22), na Honoré de Balzac, met ’n meesleurende ritmiese taalgebruik en ’n slotreël wat die leser bybly lank na die bundel neergesit is:

wat is die mooiste dinge wat daar is:

 

drie is vir my wonderlik, nee daar’s vier

’n perd wat oor ’n wye vlakte galop galop

’n seilskip wit gekantel in seesproei en wind

twee swart arende swaar hangend in die lug

en ’n rooikopvrou wat uitbundig dans

 

Die uitbeelding van geslag in die bundel is ’n uiters opwindende aspek, en die assosiasie van die perd-gegewe met tradisionele kragdadige manlikheid is ’n tema wat regdeur die bundel neerslag vind.  In “’n man op ’n perd” (p.25, na Leo Tolstoi) word hierdie assosiasie duidelik opgelet:

[…]

perd en ruiter albei barstens vol selfvertroue

albei baie bewus van eie manlikheid en krag

gereed om enige oomblik op te styg en te vlieg

 

Hoe afhanklik manlikheid in sekere kontekste van die man se besit van ’n perd is, blyk uit “kosbaarder as kinders” (p.72, na Victor Serge) waar daar eksplisiet gestel word: “sonder ’n perd is ’n man nie meer ’n man nie / niks anders as honger nie niks meer as die dood”.

Ook die sensuele en seksuele verkry reliëf in die ervaring van die ruiter en met die perd – vergelyk hier “galop” (p.29), na Ivan Toergenjef. Voorts word ’n vroue- of meisiesfiguur, wat sterk met die primordiale geassosieer word, teenoor die spreker en sy selfbewuste gekultiveerdheid geplaas in “eendag op pad langs die meer” (p.31, na Anton Tsjechof):

[…]

maar met een kyk na my gekultiveerde gesig

het sy haar hare woes na agter gegooi

en wild weggetrek met ’n skreeu

met hoewegedreun in vlieënde stof en klip

 

In “brose besittings” (p.33, na Charles Doughty), peins die manlike spreker oor die eise gestel deur eienaarskap van ’n perd, maar vergelyk dit dan ook met die eise wat ’n vroulike lewensmaat stel, “want hierdie brose paar besittings / verg aandag en hoë onderhoud”. Wat merkwaardig is van die perspektief wat Van Rooyen in dergelike gedigte aanbied, is dat die spreker hom nooit met ’n chauvinistiese ingesteldheid vereenselwig nie.  Veel eerder plaas die manlike spreker hom in die rol van verantwoordelike versorger.

’n Byna hoofse ingesteldheid teenoor die vrou word raakgelees in ’n gedig soos “vrou wat in ’n koets klim” (p.35, na Thomas Mann), waar die manlike waarnemer pynlik bewus is van sy eie armoede teenoor die waargenome vrou se bevoorregting. Die vrou is egter, soos in die hoofse tradisie, die onbereikbare – hier is sy letterlik afgesper van die waarnemer deur haar luukse koets (die “gewielde dop”) en die perde is die agente wat haar wegvoer van die man se verlange. Op ’n manier sluit die teer herinneringe aan die gestorwe moeder in “herinneringe” (p.58, na Vladimir Nabokov) by hierdie siening van die vrou aan – weer eens is sy die keurig geklede dame wat deur perde in ’n rytuig weggevoer word (“dis my eie mamma in haar tjintjilla-jas en swart sluier / ek sien haar agter die boude van die drywer die slee bestyg”).

Die gevarieerde uitbeelding van die vrou word bewys deur ’n gedig soos “die vrouekryger” (p.101, na Maxine Hong Kingston), waar die vrou as kryger besing word. Terselfdertyd word die gelyke status van die manlike en vroulike kryger bevestig deur die parallelle konstruksies waarin elk se voorkoms opeenvolgend geprys word: “kyk hoe pragtig lyk jy nou” en “kyk hoe pragtig lyk sy nou”.

Die aangrypende gedig “soos sy gereeld in die donker aande” (p.78, na Patrick White) se vertrekpunt is die uitbeelding van ’n eensame vrouefiguur wat snags op die stoep die donker instaar, wagtend op ’n groep ruiters om terug te keer. Terwyl sy vrugteloos wag, begin sy om die uitgestrekte kosmos asook die donker huis om haar op ’n nuwe en intuïtiewe, maar steeds sintuiglike manier te verken. Hiertydens “voel [sy] die asemstote van die perde op haar wange”, maar ook die wind en trompette vanuit ’n onbekende domein.  Oplaas gee sy haar oor – aan eers die oorweldigende mag, en dan die sussende ritme van die kosmos (“die vuurwa jaag met luide geknetter / […] / stadig begin sy te wieg en te bewe / ritmies die diep gedreun van die ghong / die aanhoudende gestuif van die stof”.

Perde is ook in meer as een gedig die agente wat ’n verliefde paar se samesyn moontlik maak, byvoorbeeld in “kom ons ry” (p.23, na Nikolai Gogol) asook in “daar kom hulle deur die strate aan” (p.39, na Joseph Conrad).

Van Rooyen verdiep sy besinning oor menswees op besondere wyse deur voortdurend bewus te bly van die onderbewussyn se aanspraak op die bewussyn, oftewel, impulse en gewaarwordinge wat voortdurend “aan my binnegoed bly vreet / soos wurms in ’n lappie donkerbruin grond” (“gedagtes te perd”, p.65, na Stevie Smith).  Die donker en ongeordende inhoude van die eie bewussyn (of onderbewussyn) is dan ook die boustof van die fyn gekomponeerde “by hierdie selfde venster” (p.55, na Miroslav Krleža).  In herinnering keer die spreker terug na koorsdrome wat hy as kind gehad het, met perde as die simbool van die stuwende primordiale impulse:

ontelbare perde in daardie koorsagtige nag by my venster verby

op dun breekbare bene en klinkende hoefysters

[…]

 

[…]

sonder verposing sonder ophou die een na die ander

die sterte die koppe die nekke die rompe en bene

’n massa van donker proesende perde op pad na die oorlog

die maanhare en sterte wat dryf in die effense maanlig

 

Van Rooyen se digkuns is bedrieglik eenvoudig; die verse is gestroop van pretensie en oordaad, en wat die leser wel op die blad vind, is suiwer woordkuns. Die leser moet dan ook tydens die lees van die bundel waak teen die gevaar om slegs in ’n tematiese lees vas te steek.  Dié gevaar is wesenlik, en veral omdat van Rooyen sy tegniek so goed beheers dat die gedigte almal moeiteloos lees, byna soos die volmaak geoefende bewegings deur ’n vaardige ruiter.

Kritiek teen Reisiger te perd sal geforseerd wees. Die bundel is ryk en gevarieerd, en is kennelik die produk van ’n vaardige digterlike verbeelding wat ontvanklik is vir prikkels vanuit ’n groter konteks.  

Die bundel is aantreklik uitgegee met Jahni Wasserfall se kunswerk op die voorblad “Om van ’n perd te droom” wat die bewussyn van die primordiale in die bundel ondersteun. Die teks is deurgaans keurig versorg soos lesers teen hierdie tyd van ’n Protea-publikasie uit die redakteurshand van Martjie Bosman verwag. 

 

Bronne:

Beuke-Muir, Chrisna. 2008. Kwansuis. Republikein, 4 September [Internet]. http://www.republikein.com.na/kollig/kwansuis.72517.php. [15 April 2008]

Hambidge, Joan. 2008. Dié manlike verse is nie kammakastig. Van Rooyen dig oor aarde, see, dood, vergande dinge en dies meer [Internet]. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2008/09/29/SK/13/BBjhambidgeKwansuis.html. [16 April 2008]

Terblanche, Erika. 2008. ATKV-skrywersalbum. Piet van Rooyen (1953-) [Internet]. http://www.litnet.co.za/Article/piet-van-rooyen-1953.[16 April 2013]


 Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Reisiger te perd (Piet van Rooyen)”

  1. […] Volledige resensie: Versindaba […]

  2. Joan Hambidge :
  3. Amanda Lourens :

    Dankie Joan 🙂