Dansende Digtersfees, H.J. Pieterse (Suid-Afrika)

Nog ‘n Suid-Afrikaanse digter wat vanjaar tydens die Dansende Digtersfees in aksie gaan wees, is HJ (Henning) Pieterse wat in 1960 in Wageningen in Nederland gebore is. Sy digdebuut, Alruin, verskyn in 1989 en word bekroon met die Eugene Maraisprys, sowel as die Ingrid Jonkerprys. In 1998 verskyn ‘n bundel kortverhale, Omdat ons alles is. In 2001 neem hy deel aan “Dichters in het Elzenveld” (Antwerpen) en “Poetry International” (Rotterdam). Sy tweede digbundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000), word in 2002 bekroon met die Hertzogprys. Later vanjaar verskyn sy vertaling van Rilke se Duineser Elegien wat eweneens bekroon is: met die Nedbank Akademie-prys vir vertaalde werk. Tans is hy as Professor en Direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfwerk verbonde aan die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria.

Op die webtuiste van Poetry International het Robert Dorsman hom soos volg uitgelaat oor dié veelbekroonde digter se mees onlangs digbundel, “Die burg van hertog Bloubaard”: “The first poem opens with: ‘Welcome to my castle. You seem surprised.’ We are indeed, and our surprise knows no end, as Pieterse weaves myth into his lines and takes us on trips to the stars, Stonehenge and Krakow. As in the earlier volume, there are musical interludes (Béla Bartók) and images from nature.”

Hieronder volg ‘n onlangs vers van HJ Pieterse; dié vers kan ook gelees word op die Dansende Digtersfees se amptelike webtuiste.

*

Strijdomplein

Vir Robert Lowell

Die nuwe Strijdomplein
staan blink tussen bont geure,
vlaggies en snuisterye uit die hele Afrika.
Niks sou destyds sy marmer kon kraak nie.

As kind moes ek die inwyding
van ou Strijdom se kop bywoon.
Ons het in die wit hitte gestaan
met ons vlaggies, volksliedere gesing.

‘n Falanks histeriese bronsperde
het die blou lug ingerunnik;
Hans Strijdom se gemonteerde kop
het blind noord deur ‘n fontein gestaar.

Dié dag het ek gewens ek was
in die ou Transvaal-museum,
blokke verder van die bleek plein
in skaduryke Boomstraat,

my neus gedruk teen die koel glas
van die kas met die mummie daarin,
kompleet met ‘n gat in die groottoon,
uitgevreet deur ‘n muis van tyd.

(Deesdae staan die museum en vrot
langs die nuwe groen dieretuin,
sy luike en hortjies swaar ooglede
teen die leegheid binne-in.)

Van laer af in Kerkstraat
het speserye aangewaai gekom:
koljander, paprika, peper, knoffel,
gemmer, kerrie, kardamom.

Binnekort sou die winkels se base
hul hemelse geure moes skuif
na Lotus Gardens, Laudium, Christoburg,
ver weg van wit oë en neuse.

Ek het gehyg op die teëls,
na water gesmag.
dominees en staatsmanne
het hittig gepreek deur die hele dag.

Jare later sou Barend Strydom
sewe swartmense op die plein afmaai.
Hulle het suurstof gesteel,
het hy die regter onironies meegedeel.

En daar stort die kop deur die marmerteëls,
skouspelagtig tot in die parkeerterrein,
die tombe diep onder die plein
waar ek soms gedaantes in skemer sien dwaal het.

Net Strijdom se neus het gesteek uit die puin.
Die fontein het spontaan verdroog.
Die perde met hul wilde maanhare en oë
is na groener weivelde verskuif.

Vandag loop ek weer en snuif en ruik
Afrika op die nuutgeteëlde plein.

© HJ Pieterse / 2014

Bookmark and Share

Comments are closed.