Hilda Smits. Frank Stanford, ‘n slagveld, Putin, en die maan.

Frank Stanford. Foto deur Fred Kuhlman Jr.

Ek het so twee jaar terug op ‘n Herfsdag in New York vir die eerste keer oë op Frank Stanford se “The battlefield where the moon says I love you” gelê. Dit was ‘n week van eerste ontmoetings – Ben, New York, ‘n Tyrannosaurus rex, Stanford se epiese 15 283 lyn gedig. In die afwesigheid van strofes of punktuasie lees ek Stanford soos wat die mense hier in Nashville die Bybel lees – in geen spesifieke volgorde, vreeslik entoesiasties, honger vir inspirasie, en op tye wanneer ek eintlik ander dinge moet doen. Daar is iets aan ‘n 15 283 lyn gedig wat my afgunstige muse se rughare soos ‘n kat laat rys. Op dae wanneer ek soos die wafferse Kafka (sonder al sy kwale) wil voel, maar net aan uie, werkopdragte, die skobbejak Putin, en die son op die stoep kan dink, sit ek met my neusvleuels tussen Stanford se blaaie vir inspirasie. En dan dink ek weer aan uie en Putin.  Onlangs kom ek op nog ‘n juweel af op bladsy 244. Ek vertaal dit hier:

 

Ek word wakker en dit reën op die vlot.

‘n Duisend Sjinese martelare, ‘n orkes, en ‘n boek met dierefabels,

so die gat in die emmer maak nie saak nie.

Jy vind my naak en dood langs stilte en water.

Jy sien die wolwe kerm oor my spore in die sneeu,

die reise wat ek onderneem het, die vlieë wat ek doodgeslaan het.

Die dood is in die ruïnes van die aarde wat voor die skare buig met ‘n sakdoek,

dit is in my liggaam van twee skaduwees,

in die bloedige aand, en in die verminkte boesem

van ‘n sak gesteelde appels. Dit is waar meisies aan hulleself vat

wanneer die wind oor hulle bloese waai.

Die dood is sy eie ontheiliging,

dit is oop gespes en handdoeke.

Die dood sweet soos ‘n eier in ‘n broeikas.

Jy kan dit proe in melk en in seëls.

Dit is iewers in die bodem van die boot.

Dit lê in hinderlaag vir ‘n kind alleen en wag, dit is net soos die kind,

sy wimpers en knieë en elmboë,

die vlek in die tuin.

Die dood is soos ‘n anker, soos ‘n geruïneerde net.

Dit is golwend onder die blou vel, soos die lyk van ‘n meisie deur ‘n slang gepik.

Jy sien dit in die nag, jy gooi klippe

dit keer terug, en broei uit op jou kussing.

Dit wil ‘n drom van jou vel maak.

Dit wil jou aandag hou met ‘n blou lig.

Gooi jou skaduwee onder die boom, Judas.

Dit neurie trou met my, neem hierdie ring,

en spoeg in jou oog soos ‘n sprinkaan.

 

Stanford is in 1948 in Richton, Mississippi gebore en deur sy weduwee ma opgegee vir aanneming. Hy publiseer The battlefield where the moon says I love you en ses korter digbundels in sy twintigs. Hy pleeg selfmoord op die ouderdom van 29 deur homself drie keer in die hart te skiet tydens ‘n onderonsie tussen sy vrou, die skilder Ginny Stanford, en sy minnares, die digteres C.D. Wright Sedertdien het hy ietwat van ‘n kultus figuur in die Amerikaanse briewe sirkels geword. Volgens die wikipedia is Stanford se nalatenskap gehul in legende, raaisels en foutiewe informasie. Stanford het glo self die lyn tussen fiksie en werklikheid in sy briewe vervaag, en vele gepubliseerde artikels en opstelle verwar selfs die mees basiese besonderhede soos sy geboortedag en dorp. Baie van die raaisels rondom sy nalatenskap is skynbaar as gevolg van sy eie fabrikasies.

 

The battlefield where the moon says I love you, Stanford, F. (1977).

 

In die inleiding van sy boek skryf Stanford se minnares die volgende “I do not know whether he was drinking steadily or heavily – water or strictly whiskey. I believe he was both dreaded and loved for his intelligence, his beauty, and his pervasive mystery. I believe that the poem anchored him to the world, and that it stood solidly between himself and a much earlier death than he died. He wrote ‘I’ll just bleed so the stars will have something dark to shine in’. What can you say to that”. ..Wright, C.D. (1978). ‘n Gedig getiteld “Instead”, vertaal uit sy digbundel, You, wat na sy dood in 1978 deur C.D. Wright gepubliseer is:

 

Die dood is ‘n goeie woord.

Dit keer dikwels terug

wanneer dit baie

donker is buite en warm

soos ‘n visserman

oor sy limiet,

sonder pyn, seks

of melancholie.

Jonk soos wat ek is

hou ek lig vir hierdie boot.

 

Toe die res van julle nog kind was

het ek ‘n monnik geword

van my eie verbeelding.

Dae en nagte het oor die bordeel

gedryf soos spinnerakke op ‘n meer,

‘n klooster gevul met lawaai en meisies.

 

Die maan gooi die messe,

die digters eggo totsiens,

en sleep die stilte soos nette in.

 

Digby my huis was ‘n eiland

waar ‘n perd alleen gestaan en skuim het.

Abednego was sy naam

skemerig, so wreed soos ‘n gedig

teenoor ‘n swart sigeuner.

 

Verdriet en whisky

kos meer as vriende.

Ek besoek tronke,

weeshuise, kroeë,

hopend om hulle weer te sien.

Wilgers, ys,

aas, geen geld.

Jy sal dit binnekort moet sê, jy weet

aan jou vrou, jou kind, jouself.

 

‘n Gedig vir Ben wat my aan Frank Stanford, Brooklyn, die 76’ers en die definisie van ‘n goeie bagel voorgestel het.

 

Nashville

 

ons stap in die pad af krieke skree in die kele van bome

Stravinsky net vir ons

ons laat die stoep agter die huis asof ons nie daar bly nie

en stap myle verby vensters waarin TV’s

so gesellig soos goudvisse flits

huise waarin mense so gesellig soos gesinne is

 

skil die donker af

die magnolias hang gloeiend en hoog swanger in bome

 

swart is die pad wat sweet soos ‘n slaaf onder voet

jou hand is warm en benerig soos die vibrasies van ‘n voël jou stem

knetter soos ‘n buitelandse enjin tussen ons

 

diep-long drink ek die magnolias in

vannag sal ek droom van die dronk mot wat al om die stoep lig gons

 

 

Nog ‘n foto van ‘n poel water in New York

 

Bronne & meer oor Frank Stanford en The battlefield where the moon says I love you:

http://en.wikipedia.org/wiki/Frank_Stanford

http://www.english.illinois.edu/maps/poets/s_z/cdwright/stanford.htm

http://writing.upenn.edu/epc/authors/thomas/thomas_stanford.html

http://www.npr.org/2012/08/08/158438476/strange-fruit-and-stranger-dreams-in-the-deep-south

http://www.poetryfoundation.org/bio/frank-stanford

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Hilda Smits. Frank Stanford, ‘n slagveld, Putin, en die maan.”

  1. Baie dankie, Hilda! Baie mooi, interessant en angrypend.

  2. Baie mooi, interessant en angrypend. Dankie, Hilda!

  3. Ook mal oor jou foto (weer eens!)

  4. Hilda Smits :

    Baie dankie vir die lees, Engela! Dis een van my susters op die foto. Natuurlik heeltemal onherkenbaar. Bly jy in Berlyn? Ek was daar so paar somers terug. Daar was ‘n uitstalling van Andre Kertesz se foto’s by die Museum of Modern Art. Beautiful. En die bier was net so lekker.

  5. Vol in die kol, Hilda! Ek het my tent n hele paar dae gelede by hierdie Berlyn-
    oase opgeslaan – volle vier dekades gelede. Vir die kunshonger en -dors n ongelooflike plek. Nul kontak met Afrikaans – my hart bewe as ek dit skryf!

  6. Hilda Smits :

    Veertig jaar in die woestyn. Die dat ons boer op Versindaba, Engela 🙂 Ek slaan my tent in die Kalahari.com op.