Resensie: Gordel (Adriaan Coetzee)

Gordel deur Adriaan Coetzee  (Protea Boekhuis, Pretoria, 2014; Slapband, 79 pp; ISBN: 978 1 4853 01011)

Resensent: Marius Crous

 

Van die groep digters wat in Nuwe stemme 5 gedebuteer het, is Adriaan Coetzee die eerste om ‘n eie bundel te publiseer. Dié bundel (Gordel) bestaan uit sestien afdelings en word ingelei met ‘n teks uit Efesiërs 6:14 as motto: “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas.” Oor die keuse van die motto en die titel laat die digter hom in sy Versindaba-onderhoud met Gisela Ulluyatt, soos volg uit: “Woord vir woord is ’n proses op sy eie. As wie of wat manifesteer die digter op enige gegewe oomblik? Die bedrieër, ’n vertroueling of verwarde? As belydende Christen is liefde my grootste waarheid. Ek glo so liefde versoen eerder as troef. En hoop lesers dra vrug in dier voege.”

Die openingsgedig, “`n Stapgids tot Blougat” (7) kan gelees word as ‘n gids vir die voornemende leser van wat hy of sy in hierdie bundel te wagte kan wees en die openingsreëls waarsku die leser om “die voetpaaie te vermy” en teen die hoogtes te hou “vir ‘n beter uitsig”. Gegewe die titel, die aansluiting en hierdie waarskuwing, verwag die leser dat ons hier met ‘n verkennende vergeestelike soektog na die waarheid te doen gaan kry – net om verras te word deur die titel van die volgende gedig: “kafgenaai”.  In een van die aantekeninge agter in die bundel noem die digter dat die verse wat elk van die sestien onderafdelings voorafgaan, in gesprek tree met Wilma Stockenström se debuutbundel, en as een lang gedig gelees kan word. Sentraal in hierdie gesprek is, nes by Stockenström, die besinning oor die “skemermense” se verhouding jeens die natuur – alhoewel die flardes vers nie naastenby op die vlak is van Stockenström in Vir die bysiende leser nie.

Kyk mens na die onderskeie onderafdelings se titels, kry jy ‘n indruk waaroor elk min of meer  tematies kommentaar gaan lewer: opdrifsels, grasuil, moeder, vensterbank, inmekaarheid, herenig in glas, ontwortel, apasmara, ondersonganger, nag van lang beloftes, Tuiniers (met hoofletter), woordslaai, loopstokvisioene, droë kuns, boerbandiete en hotnotsgotkakebene. Die deurlopende temas in Coetzee se digbundel is nostalgie en herinnering aan sy jeug, geweld in die land en ‘n sterk ingesteldheid op ekokritiese kwessies – en die digterskap. Daar is ook enkele gedigte waarin met die bladspieël geëeksperimenteer word en die tersye gesprek met Wilma Stockenström.

Die besinning oor digterskap is een van die temas in die bundel en daarom sou mens die volgende gedig as ‘n tipe ars poëtica-manifes kon lees:

 

digter word

 

 

digter word is duisende dae aaneen

die liefde van jou lewe op ‘n afstand bemin

en dieselfde aantal nagte daarby

haar ontoereikende skoonheid besing

en op ‘n goeie dag met ‘n bietjie geluk

sal sy jou lomp oë skalks vang

en jy haar lushof hartlik binnegaan

min wetend

sy’t ‘n kuisheidsgordel in die mik (bl. 23)

 

Die slotreël sluit aan by die titel van die bundel en nes soos die geliefde ter wille van die poësie ironies op ‘n afstand gehou word, is dit ook die geval in die res van die bundel. Maar in aansluiting hierby moet ook ‘n reël soos “jonkmanskaste vol mooiskrywery” (bl.65) in ag geneem word. Dikwels kry ek die indruk dat die digter so meegevoer word deur sy eie woordskeppinge en dan word die gedig nie behoorlik deurgekomponeer nie. So is ‘n afskeidslied vir die oupa in terme van grassoorte (bl, 15) slim gedoen, maar is niks meer as net ‘n slim speletjie nie. Of die Teems-gedig (bl.41) is niks meer as verkapte prosa nie. Ook ‘n gedig soos “dood van ‘n enkeling” (bl. 64) het my aan die slot laat wag vir die ander stewel om te val: het hy eerder… dan … Of wat moet die leser maak met “Die jagter” (bl. 58) of “poskaart van ‘n seeperdjie” (bl. 42)?

 

Gepraat van slim speletjies, ‘n gedig soos “Moenie jou verlede Google Earth nie” (bl.29), werk met koördinate om die onderskeie plekke en gebeure uit die digter se verlede in herinnering te roep. Vergelyk ook die volgende treffende reëls: “Daar is geen wreder klank / as voetstappe van lewens wat wegdraai / uit leë huise nie.”  Dit is ‘n besonder vernuftige variasie op ‘n ou tema.

 

Dit is veral wanneer Coetzee die “kinderspore oor stofpaaie” (bl. 44) volg en hom nie steur aan sy vrou wat sê hy moet “ophou in [sy] kluisenaarskap / peins oor [sy]kinderdae” (bl.30) dat hy met sy beste verse na vore kom. Voorbeelde sluit in “Meidjie” (bl.31), “Waar mense nestel” (bl.33) – met sy kontrasteer van die oupa en die kleinseun se lewensuitkyke en “Nagedagte” (bl.44).

 

Naas die oproep van die verlede is daar ook heelwat verse in hierdie bundel wat skerp en satiries kyk na die eietydse samelewing. “Vryheidsmanifes” (bl.53) met sy ironiese titel lewer kommentaar op die bestaan wat die pa moet voer sodat sy seun na twaalf jaar “’n oop toekoms en [n] voëlvry taal” sal kan hê.  Woorde uit ons alledaagse geweldadige samelewing vorm die grondslag van sy kommentaar, soos “rot en kaal”, “honde”, “afgesaagde telefoonpale”, “oopgeforseerde veiligheidshek”, “’n rollie” en “bosse sleutels”.  Of in die besondere wrang “Kennisgewing aan nuwe moeders” (bl. 20) waarin instruksies gegee word hoe om van “pasgeborenes deur bewegende voertuie se vensters” ontslae te raak.

 

Die voëlvry taal kom weer ter sprake in “om ‘n digter te dood” (bl.75) waar die digter in terme van ‘n Christusfiguur op sy helletog in eietydse beeldspraak beskryf word en afgesluit word met dié woorde: “ as hy iets te drinke vra / dan doop ons die spons in sy taal.” (bl.75).  Ook in die slotgedig, “Relieke afstof” (bl.76) word na “Afrikaans se heilige graal” verwys en waar die Christusparallel weer voorkom:

 

Ek kon sweer jy’t eens in ‘n droom vir my gefluister

dat gedigte soos blomme van die na-bye toekoms handbestuif is …

Binnekort sal ek ook jou tot KONING VAN DIE TAAL

verhef en jy sal roep: “My Leser, my Leser, waarom het U My verlaat?”

 

Ek laat dit aan die leser oor om te besluit hoe hulle oor hierdie debuutdigter en sy verse voel, gedagtig aan die volgende versreëls uit sy voorgangerdigter Wilma Stockenström se “Ek wantrou woorde”:

 

Woorde is rampe, rampe, rampe!

Wys my ‘n woord, ene, wat nie kul nie.

 

Met sy debuutbundel bevestig Coetzee dat hy ‘n nuwe stem is in die koor van die Afrikaanse digtendes, wat, gedagtig aan Obama, kan uitroep, “Ja ek kan” (bl.73):

 

Ja ek kan 

Jy mag nie ‘n digter se woorde begeer nie.

Jy mag nie sy leksikologie begeer nie,

ook nie ‘n metafoor of muse,

‘n prul of ‘n praat,

of enige ander poëtika wat aan hom behoort nie.

 

 Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.