Wicus Luwes. Fiktiewe voedsel vir ‘n honger wat nie gestil kan word nie

Spaghetti is vir kinders. Ek het gedigte oor spaghetti gesoek en heelwat kinderrympies en oulike versies gekry, maar met my ‘beperkte’ Google-bron kon ek nie iets substansieels kry nie. Kos vul die honger, maar ongelukkig net tydelik.

The trouble with eating Italian food is that five or six days later you’re hungry again.
– George Miller

‘Our appetites being sharpened by the frosty voyage, and in particular, Queequeg seeing his favorite fishing food before him, and the chowder being surpassingly excellent, we despatched it with great expedition…’ – Moby-Dick by Herman Melville, 1851 (Foto uit Fictitious Dishes deur Dinah Fried)

Daar is natuurlik verskillende dele van die mens wat honger word en verskillende maniere waarop dit gevul moet word. Die verskillende voedsel wat ons vir die een deel gee bepaal hoe die kos vir die ander smaak. So is dit dat iemand wat gelukkig van gees is se kos lekker sal smaak al is dit ‘n marie beskuitjie en water. Hierteenoor sal ‘n ongelukkige siel se gereg in ‘n 5-ster restaurant sleg smaak en miskien selfs die persoon naar maak. Vriende van ons het op ‘n keer ‘n diëtkundige gaan sien en sy het vir hul probeer help met hul eetgewoontes. ‘n Eenvoudige manier om dit vir jouself uit te werk is bloot dit: probeer om verskillende kleure elke dag op jou bord te hê. Groen boontjies of ertjies, geel mielies, oranje pampoen en wit of rooi vir die kleure van vleis. Soos enige dieëtpil se vrywaringsvorm moet dit in konteks gelees word en deel vorm van ‘n groter balanseertoertjie. Voedings-kleure vir die ander deel van jou menswees: die groen van gras of blare, die blou van die lug, die geel van die son en die donkerte van die nag.

Dinah Fried se ‘Fictitious Dishes’-boek lyk na ‘n wonderlike manier om na gunsteling boeke te kyk. Daarin word verskillende disse uit bekende boeke uitgebeeld. Ek dink dit kan ‘n wonderlike TV-program of kunsfees-item maak om verskillende sintuie te betrek: ‘n Bekende kok maak ‘n gereg uit ‘n bekende boek en ‘n bekende skrywer lees voor uit die boek. Daar is natuurlik ook verhale uit Afrikaanse letterkunde. Die eerste een wat by my opgekom het, was Jan Rabie se Drie Kaalkoppe Eet Tesame. Dit raak miskien ‘n paar sintuie of dimensies van die mens aan. Dit het raakpunte met die Nagmaal waartydens daar op simboliese wyse veronderstel word dat die gasheer deel word van die dis. Inge Prins het ‘n pragtige video gemaak oor die Jan Rabie verhaal: http://vimeo.com/36790526

Hierbo: Skermskoot uit Inge Prins se Drie Kaalkoppe-video

Die kruisbestuiwing tussen letterkunde en voedsel kom ook al ‘n tydjie aan. So het Alexandre Dumas van die 3 Muskatiers ook sy hand aan kos gewaag in sy ‘Dictionary of Cuisine’. Die storieverteller in die skrywer, maak die boek blykbaar iets besonders. In voorwoord word die leser met die volgende trakteer:

”    There are three sorts of appetites:

1. Appetite that comes from hunger. It makes no fuss over the food that satisfies it. If it is great enough, a piece of raw meat will appease it as easily as a roasted pheasant or woodcock.

2. Appetite aroused, hunger or no hunger, by a succulent dish appearing at the right moment, illustrating the proverb that hunger comes with eating.

The third type of appetite is that roused at the end of a meal when, after normal hunger has been satisfied by the main courses, and the guest is truly ready to rise without regret, a delicious dish holds him to the table with a final tempting of his sensuality.”

In ons eie land het C.Louis Leipoldt die brug tussen letterkunde en kookkuns oorkruis. Sy ‘Kos vir die kenner’ het so jaar of twee gelede ‘n nuwe baadjie aangetrek en bied die hedendaagse leser ‘n perspektief uit die pen van Leipoldt, die skrywer, kok/sjef en medikus. Lees gerus meer daaroor in Joan Hambidge se blog: http://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/c-louis-leipoldt-kos-vir-die-kenner-n.html
Leipoldt se gedig ‘Die Beste’ maak dit duidelik vir my dat die rede waarom sy kookkuns gewerk het voortspruit uit sy gesonde gebruik van die kleure wat nodig is om die ander dimensies van die mens te voed.

Die Beste
(soos dit verskyn het in die tydskrif
Die Brandwag van 15 Januarie 1915)

Geil lusern in die laagste landjie,
Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skad’wees oor die klowe;
Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!

Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag:
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
Somer en son en safier vir my!
Heer, Wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!

Roem van mense,  rykdomme, pragte—
Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in dikdonker nagte,
Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!

My eie koskennis is egter beperk en ek kan hoogstens as waardeerder van kos gesien word. Ek kan twee geregte goed maak: Spaghetti & Maalvleis en dan Maalvleis & Spaghetti. Ek maak dit gewoonlik op ‘n Saterdag-middag. Ek wissel dit af en voeg verskillende kleure in na aanleiding van wat in die yskas beskikbaar is of na aanleiding van naderende vervaldatums.

Saterdagmiddag S&M

daars net een ding
wat die honger stil
wat die spaghetti
om die vurk laat krul

stukkies vlees
en sampioen
laat saamsmelt
in ‘n smulpaap soen

‘n eenpot gereg
vir twee monde
wat sout gooi
oor die sonde

‘n stukkie kaas
wat omkrul oor die rasper
‘n tamatie en bitter ui
opgekerf en fyn gesny

elke mondvol sonder berou
ter vervulling fyngekou
sus die hongerpyne stil
laat die bord vuil en kil

 

Werklike goeie skryfwerk het geen verval-datums nie. Dit kry miskien slegs ‘n nuwe omslag, soos met Leipoldt, om dit vir ‘n volgende tafelbespreking voor te sit.

“Please, sir, I want some more”
– Oliver Twist

Bronnelys:
1. http://en.wikipedia.org/wiki/Oliver_Twist
1. http://vimeo.com/36790526
2. http://www.mieliestronk.com/sadigters.html
3. http://www.brainpickings.org/index.php/2013/07/24/alexandre-dumas-dictionary-of-cuisine-1/
4. http://www.brainpickings.org/index.php/2014/04/16/fictitous-dishes-dinah-fried-book/

Bookmark and Share

Comments are closed.