Breyten Breytenbach. Dancing in other words: Die Nabetragting van ‘n Klein Reis

                 

DANCING IN OTHER WORDS : Die Nabetragting van ‘n Klein Reis

                 Vir my drie…of vyf… lesers               «Deber de hombre,

                                                                                                          no estar triste bajo la luz,

                                                                                     dijo el poeta »

                                                                                                  – Homero Aridjis (Poema al Sol)


Hierdie is nie ‘n chronologiese relaas nie. Dis nie ‘n poging om die saamtrek van ‘n aantal digters te verhaal of te vertel of te verstaan nie. Die saambinding is die tydsduur waaroor dit plaasvind, die plek of plekke, woorde of enkele gedagtes wat soos klippe bly skerf, bly glinster. Waarom sommige klippe eerder as ander ? Wat is die sterfsang van klippe ? « It is time the stone made an effort to flower » – Paul Celan ;

*

 

Die narratief (dis nie ‘n narratief nie) begin laat April. Ons is in die kliphuis op die heuwel en die tuin is ‘n skandaligheid van kleure – die irisse op hoë stele gegroei uit risomatiese knolle in Toskane gekweek is in blom, sommige roosstruike het nooit ophou skater nie, die winter was mild, en die rankrose wat elke jaar hoër klim, het trossies knoppies wat wag om oop te bars, lemoenbloeisel- en jasmyngeur kom deur die venster van my studeerkamer en vul die huis, selfs die suurlemoenboompies wat ons ‘n klompie jare uit Paradys se geweste in Suid-Afrika hiernatoe gebring het, dra nou vir die eerste keer bloeisels. Die Middeleeuse stad agter die falanks donker beboste bulte (waar nagtegale binnekort van die verbygaan van dae en nagte ‘n suiwer soetigheid gaan maak) is Poble Gran. Die stadjie was die ontstaanplek en leerskool van die Kabbala destyds voor die Jode uit Spanje verdryf is, dit het iets te doen met diepte en met mure. Dit was die tyd toe ook die Noord-Afrikane en ander Arabiere uit Andalusië verjaag is. Die Weste/Christene wat moet oorwin en beset en bekeer (en uitbuit) en veral gesuiwer moet word…

*

 

« Dans le livre que je n’ai pas écrit, il n’y avait que toi »

–          Marguerite Duras, Détruire, dit-elle

*

 

Hoekom pla dit jou dat dit die fragmente van ‘n vervallende geheel is ? Is sterfgang dan nie ‘n fragmentering met die skerwe van sange en indrukke wat oorbly, lukraak, om verby verdwyning nog stom en ingeslote te bestaan nie ?

Pierre Soulages skryf iewers (jy vertaal) : « ‘n Skildery is nie die ekwivalent van ‘n gevoel, ‘n emosie of ‘n sentiment nie, dis ‘n organisering van vorms en kleure wat op sigself bestaan. Sin sou kon kom om op die ding wat is gemaak en ongedaan gemaak te word. Maar sy (die skildery) is ding, nie teken nie. »

 

 

*

 

Orgaan. Oorgaan. Oorgange. Die seer van die oor. (Jy bly maar ‘n kak vertaler.)

*

 

Ons gaan met Ari se vragwa noordwaarts reis – Ari, Lourdes, Lotus, Jek en Kabbala, Ari se swart-wit hond met die groot pote en die warm skurwerige tong, Ari sê Kabba is sy novia, sy verloofde wat hy onmoontlik nie by die huis kan los nie, en die dag sal  silwerig voor ons oopvou terwyl ons om die buurt bestuur. Kabba lê aan my voete, slaap en kreun, die voorpote om my een enkel geklem. Wanneer sy wakker word sal sy my voete lek. Krakerige musiek. ‘n Sigeuner sing van iemand wat die kleur van sy stem wou oorneem – y quiere mirar el color de mi voz / tan cerca de mi que podria ser yo. Later luister ons na ‘n CD van Joaquin Sabina – ‘n stem rou van jare se rook en drank en melancholie en wysheid.

Kom ons om so kom ons om met ‘n melodieuse gebrom.

*

pyn en vlerke

 

dit gebeur selde dat ek van engele droom

maar vannag was dit so

dat ek ‘n portaal betree

en jou daar tussen ander naakte engele

sien sit

asof jy saam met hulle in die wagkamer

van ‘n bevallingsaal jou beurt afwag

 

toe het ek die vlerke gesien

waarmee naaktes soos jy ongemaklik is

skaam oor die letsels

wat uit julle groei

 

ek wou jou weerloosheid troos

vra of ek met verwondering

die intieme dons mag aai

 

jou vertel dat dit ‘n verbygaande

kondisie sal wees

en ek weet van ‘n donker stoor

vol ruisende weerklanke

waar die gebruikte vlerke

ry op ry gehang word

losgespeld van die liggaam

soos van vlug

en dat hulle soms nog gloei

soos net vere dit kan doen

met die lig vasgevang van hoë reise

oor ons sterwende planeet

 

maar dit het jy geweet

en ek wil jou sê dis net ‘n droom

hierdie vlerk wat uit jou groei

as verlywing van die skroeiende pyn

*

 

‘n Verwysing na die Absolute – God, Rede (of Patroon), die Niet, die Onbekende. Is hierdie ‘pool’ (die verwysing na die nie-self) permanent en bewegingloos ? Is ons altyd besig om die nie-self te skep, uit te vind, te verander ? Is dit ‘n relatiewe of verskuiwende teenstelling ? Hoekom belewe ons onsself in bipolariteit, in terme van die teenoorgestelde ? Is dit nie maar net die aap in die spieël wat die werklike Anderling is nie ? Is dit moontlik om te wees sonder iets daar buite (objektief) wat nié self is nie ?

Is die besef van self nie juis in die verhoudelike nie ?

En wat is dan die gesag toegedig aan die nie-self ? As Reguleerder ? As objektiewe bestaan wat as verwysing vir almal geld ? Wat is die rol van die absolute in normevorming ?

*

 

Verbygaan, die verganklike, die ervaringskim, die luglyn. Is die antwoord (oplossing) om die hede ruimer te maak – dat die verlede daarin opgaan (en verdwyn) en die toekoms aanwésig word ? (Die hede is tog so voor die hand liggend soos die tien vingers van jou beide hande ; dit is tog vanselfsprekend en onmiddellik selfs al kan jy nie tel nie.) Maar wat word dan van ‘geheue’ ? Waarnatoe verdwyn dit behalwe in die gedig ? As alles in die huidige moment van verandering is, omvattend so – wat dan van oorsprong en wording ?

*

Het ons ‘n geheue aan die dood ? Verdwyning, vervaging : hierdie belewenisse ervaar ons gou genoeg… Maar ‘n herinnering aan nie-syn ? is dit miskien die rede waarom ons dit gedenk of selfs fêtisjeer – omdat ons instinktief vrees dat ons daarsonder nie sou bestaan, nie sou kon wéét ons bestaan nie ?

*

 

die donker melk van drome in nagwerk wanneer jy nie kan sien wat jy drink nie maar die bitter of die vrank of die soet aan die lippe proe

*

 

dit gebeur selde

 

dit gebeur selde

dat ek van water droom

soos ‘n slagdier vasgedruk

in ‘n bootsruim tussen vreemdelinge

en te weet my mense is op ‘n ander skip

waar daar gelag en die klink van glase is

en dan te sink

en al die tale waarin die finale

waterliedere gesing word

nie te ken nie

 

wat maak dit saak

om die vaart te verpas?

 

dit gebeur selde

dat ek in ‘n vreemde hawe

voet aan wal sit

begelei deur ‘n ou kletsnat gids

om in ‘n luukse hotelkamer

tot my sinne te kom

 

te hoor hoe onderhandel hy fluisterend

die salwende diens van twee dames

voordat hy uit my sinkende skrywe verdwyn

 

en hoe sou ek weet die hand kan fluister

 

terwyl ek in die badkamer langsaan

tot aan die plafon vol water

my spartelend voorberei vir die oorgaanorgasme

en nou besef ek het my klere

verloor in die verdrink?

*

 

Skryf/skilder – vir die nut van hierdie gedagtestroom sê ek dis dieselfde ‘begin’ of ‘impuls’ al weet ek hulle paaie skei gou – is ‘n skeppingsdaad.

Dit waarvan jy gebruik maak – hetsy woord (as basiese bou-element) of lyn/kleur/vorm by die skilder – gaan die aard van wat geskep word bepaal. Die woord praat saam.

Maar dit bly nog altyd ‘n skeppingsdaad, ‘n salto mortale, om iets te maak of in werking te stel wat nie vantevore daar was nie, al is daar ook aanklank of affiliasie of voortsetting.

Mens sou kon beweer dis nie ‘n streling of ‘n gerusstelling van die bekende nie. Dis ‘n niksdoen, un acte gratuit.

Mens sou ook kon beweer die skryf is ‘n breuk/verbreking (rupture) met die verwagte of die veronderstelde.

Die skrywe is ‘n misdaad : dit onderbreek of bevraagteken die bestaande orde om ‘n wanorde (onder skyn van orde of herrangskikking) aan bod te bring. In hierdie sin is skepping ondermynend. (Onder-myn-end)

*

 

die vlug

 

daar was nou en steil straatjies

waar ons naglank steierend gekuier het

in kroeë met gebottelde vlieë

en in flou verligte hotelkamers

saam met lyfversluierde hermafrodiete

(die muurpapier had ‘n blomme-motief)

 

‘n taxi sou ons lughawe toe neem

(ons het kaartjies gehad)

maar hy het deur donker buitewyke

se voue geluier

heuwel-op en heuwel-af –

die uur was somber, die maan laat en plat

 

in die tonnel het ek my

op Spaans vererg –

gesê ons is nie geflous nie –

hom beveel om stil te hou

sodat ons ‘n ander geleentheid kan soek

om ons na die bestemming te bring

 

die eerste drywer in sy streepbroek

en met ‘n grynslag op die gesig

het aangedring om saam te ry

in die opgekommandeerde motorkar

bestuur deur sy puisiestil broer

langs skrootwerke en ander agterplase

waar dooie boklammers in deurposte hang –

ons was op pad na die lughawe

(ons het kaartjies gehad)

 

 

wat het dit tog kon beteken

in die donker dae

van hierdie vernietigde Spaanse stad?

 

onder waaiers in wagkamers

het vetnaakte hermafrodiete gesit

met in swetende hande die kaartjies

vir vlugte

wat soos die trilling van bottels vol vlieë

lankal nie meer bestaan nie

*

 

Onderweg die lorrie met die vragwa (ons is op die hoofweg al langs die see, Narbonne se katedraaltoring het reeds links agter ons weggeraak) en agter-op die boot ewe sedig soos ‘n eend op pad na ‘n staatsbanket, met ‘n spits en preutse stuurkajuit baie netjies en skoon. Die boot se naam is « My Dream ».

*

 

‘n Leser se kommentaar onder ‘n koerantberig : « corruption is a deaseas. »

*

 

« honest hands & honest hearts »

*

 

La paix est un combat permanent.

*

 

philosophopper

filosoviolonis

filosloof

filosofis

filosotterny

filosovis

*

 

die blaffende wysgeer

 

toe sê Woordvraat vir die vrou en die kind :

kyk na die filosot se weë en word wys en moenie

dat hy julle enigiets wysmaak nie.

moenie dat hy julle ore aansit

met sy geneul oor wording

waarin bederf kwansuis opgesluit lê

soos ‘n woordslak in die spiraal

van taal nie,

want hy is nie goed wys nie

en weet dadels van wat hy probeer verkwansel –

sterf is immers die enigste kerfskerf

op die werf van begrip en van drolle :

net die ophoudood is oorerflik

 

troos die arme vasloopswerwer

wanneer hy beweer hy voel

hoe skop die angskloppe van sy hart

onder die dop van diskoerse en dispute.

sê vir hom die slak kan nie sluk nie,

en mits hy die wolke se kolke uit kan pluis

en begin verstaan hoe die liefde

altyd weer spuit in die niet

sal hy sy mond af kan vee

aan vaal speeksel

om viltong met woorde te praat

en as hond geïnkarneer te word :

 

en dan vir ewig in die tydelike

van bewegende hede te lewe,

te poep en stert te swaai

sonder toekomsverlede of rede

 

toe sê Woordvraat vir die vrou en die kind :

net so soos die filosofis met ‘n mate van goeie geluk

en sonder enige verdienste as hond

herbore kan word in die hemel van die ondermaanse

moet julle weet dat bêre se weggooiwoorde

eintlik gevou word in die vers

soos bene onder sooie :

 

julle moet mooi dink

en niks vir die hond daarvan sê nie

*

 

« Comme il serait préférable que nous comprenions que nous sommes solitude. » Rilke.

*

 

Luister, jy beter mooi kyk sonder om alewig oor jou skouer te loer hoe jy waarneem, wat jy na kyk, waarom – en jy beter diep luister. Op die man af. Moenie tevrede wees met oppervlakkige slim waarnemings nie. Maak seker dat dit is wat jy werklik sien of hoor en vertolk. Bevraagteken alles. Jy gaan nie nog ‘n kans kry nie.

*

 

kraaie soos die snawelslim

handskoene van uitgehongerde weduwees

*

 

In Paname sou ons ‘n week oorbly. Die woonstel, na ‘n lang leegstaan, word ontruim.  Jare se leefleegmaak opgegaar in kartonne, lêers, krabbels op velletjies papier al die  seisoene al op die solder of in die onderkamer ‘n verdieping laer waar Jan en Marjorie gekuier het, waar André P. gewoon het, waar Petitloup sy laaste dae geslyt het… Dokumente van ondergrondse bedrywighede. Manuskripte. Gedigte. (‘n Vers van Yehuda Amichai in 1971 geskrywe… « I shall return you your book / with the streets of exile-always / You shall return me my book / Of poems of always-exile / We are all two brothers / We are all two sisters ») Boeke. ‘n Ruising van stemme. Muwwe drome. Weggooilewe. ‘n Derde word verpak in nuwe bokse. Vir wat ? Gelaai in Ari se vragwa.

Op pad terug na Can Ocells het die son langsaam gesnik in voue van aandword. Teen die heuwels,naby die Middellandse See was daar hier en daar rookpluime as seine vir die voëls. Soms was daar strepe lig, snot en trane afgevee aan moue van skemering waar dorpies die dagkwyn vang en ‘n laaste glans gee. En Pavarotti het ons uit volle bors oor die berg begelei die beloofde land in.

*

 

You must have confidence and a knowledge of self in order to engage the non-self, so as to do away with the self step by step. The self is a way of being, of interacting with the non-self. You must respect the means at your disposal – the movements of interaction – and treat these with understanding and compassion, learning how to listen to the soft rubbing away of skin by skin, so as to be effaced. Being is migration.

*

 

Salomo het drie boeke geskrywe in die grafiek van sy lewe : Hooglied toe hy verlief was en gedog het die liefde is ‘n metafoor, Spreuke toe hy nog gedog het hy kan die wyshede van die wêreld onder woorde bring, en Prediker met die donker melk van drome in die mond toe hy nie meer kon slaap nie. (Wysheid is ‘n liefdesverhouding met Waan.)

*

 

Ek was in die groot badkamer van hierdie gebou, ondergronds, toe iemand my van agter in ‘n omhelsing gryp. Toe ek omdraai was dit hy, my ou vriend V wat al so lank dood is dat hy byna uit ons gesamentlike geheue vervaag het, en wat oorgebly het is verwring deur die jare. Wat was my oorstelping groot om hom in lewende lywe voor my te sien, my pêl, my diep maat ! Hy het baie gewig verloor in die dood maar dit kom hom goed te staan, en hy is grys ; sy oë is egter nog net so vol terglus soos vantevore. Hy het badkamer toe gekom om sy medisyne te sluk. Dit doen hy dan nou ook met groot omhaal, ‘n glas water in die hand terwyl hy hardop beskryf wat hy doen. Sy vrou, J, moet agter die toe deur buite in die gang vir hom wag, bang dat hy weer aan die drink sal gaan, wyn oor sy lippe neem. (Toe hy nog gelewe het was daar altyd ‘n bottel of twee weggesteek waar sy dit nie in die hande sou kry kry nie.) Nou vertel hy haar met groot smaak sluk vir sluk dat hy saam met B in die badkamer is, dat hy my hier raakgeloop het en dat ons nou dop maak. (Ek was altyd ‘n slegte invloed vir hom.) Ons hoor hoe sy ontsteld buite protesteer. Hy lag en knipoog vir my.

Nee, hy was maar nog altyd hier naby ons, die Anderplek is by ons waar die land vaal en kaal word en afdalend doodloop teen die see. Hulle het wel moes verhuis, is nie meer so vermoënd as vroeër nie veral siende sy inkomste sedert sy afsterwe drasties opgeskort is. Hulle woon nou in hierdie nederige en veel kleiner huis, nog steeds danksy die vrygewige en beskermende hand wat vriende bo hulle hou. Dis beter dat die wêreld liewer van hom vergeet. Ja, hy is op hoogte van wat daar bo aangaan maar hou hom nie daarmee besig nie. As hy ‘n opinie moes hê sou hy tog net weer begin drink en dan is hy terug by die politiek.

Dis ooglopend dat hierdie bestaan in Anderplek hom pas soos ‘n duif veilig is in sy vere. Hy het nog steeds dieselfde ondeunde sin vir humor, sy intelligensie is skerp, sy diep meegevoel met ander wesens is tasbaar, sy bene onder die kortbroek bruin en gesond.

*

 

« Er werd herhaalt : « Waar

gaan gedichten eigenlijk over ? »

Bert Bevers

*

 

« clean lips clean sleep

clean language clean language »

Duoduo

*

 

« Days and months are travellers of eternity. So are the years that pass by. Those who steer a boat across the sea, or ride a horse over the earth till they succumb to the weight of years, spend every minute of their lives travelling. There are a great number of ancients, too, who died on the road. I myself have been tempted for a long time by the cloud-moving wind – filled with a strong desire to wander. »

Matsuo Bashô, The Narrow Road to the Deep North.

*

 

Waar is Gabriel Garcia Marquez se gedagtes heen noudat lippe voorlopig die swart mond snoer in stilte ? « Recordar es facil para quienes tienen memoria, olvidar es dificil para quien tiene corazon, » het hy gesê.

Om te onthou is maklik vir hulle wat ‘n goeie geheue het ; om te vergeet is moeilik vir diegene wat ‘n hart het.

*

 

Dis die tussen-inne wat tel, die gleuwe, die voeë en die voue, die kreukels, die epentese in woorde, die amperse epigrawe en die epiloë en die epitawe en die epsomsout, die insetsels en (tot ‘n mate) die byvoegsels.

Wat bly oor wanneer jy jou tussen wêrelde/ideologië/geskiedenisse/tale/stoele bevind ? Nog net beweging en ‘n absolute sin van syn. Oftewel, dat jy jou aanmekaar moet posisioneer. Die gat sal moet leer om van draad te hou.

Maar wat is die dissipline ? Hoe word dit gedoen ?

Dis om die fokus net effens te verskuif, om laterale visie te ontwikkel, om te hoor sonder om te luister in watter boom uit watter kloof die nagtegaal sing. Die beweging wat jy dan optel, die stoornis, is met verwysing na die sentrale fokuspunt, sê maar die doelwit, die bekende of die verwagte. Die betekenis…

Jy moet diffuus wees soos kladpapier. Die belange-hiërargie van wat jy waarneem moet ontdaan en ongedaan gemaak word.

The centre must no longer hold in order for new shapes to emerge.

*

 

« I said, bathed in tears : Tonight I won’t need a full moon for my asshole to burn. Don’t complain, she said. If it burns it’s because you still have one, thanks be to God. »

Marquez, My Sad Whores.

*

 

Die mensebewussyn is nie bedraad om die toekoms te kan voorspel nie. Die vereiste/behoefte/ om te voorspel, om vorentoe te kan sien, om jouself te verbeel is egter byna allesoorheersend. Hierdie twee grondgegewens saam – die onvermoë en die noodsaak – maak dat die lewe interessant bly (‘lewe’ synde die trajek tussen geboorte en dood en, indien jy oop en bevoorreg genoeg is ook iets van ‘n sin van wat om jou, voor jou en vorentoe lewe). Mens weet eenvoudig nooit.

*

« I leave a piece of paper behind, I go away, I die, it is impossible to escape this structure, it is the unchanging form of my life. Each time I let something go, each time some trace leaves me, ‘proceeds’ from me, unable to be reappropriated, I live my death in writing. »

Jacques Derrida, interviewed by Jean Birnbaum, Le Monde, summer 2004.

*

« In writing one expropriates oneself without knowing exactly who is being entrusted with what is left behind. Who is going to inherit, and how ? Will there even be any heirs ? »

Derrida, ditto.

*

« Vast emptiness, nothing sacred. »

Bodhidharma.

The Emperor said, « Who is it that faces me ? »

Bodhidharma said, « I don’t know. »

*

 

Die Anderling (vondeling ? liefling ? vyandeling ? vriendeling ? vervreemdeling ?)

Die Vertaalde.

Wanneer ons oorstaan op Kersefontein word die Suid-Afrikaanse stemvolk oorgery na Dagbreek, die naburige plaas waar die stemlokaal in ‘n plaaswinkel ingerig is, sodat hulle kruisies kan trek om deel te neem in die ritueel van nie verteenwoordig te word nie.

‘n Banier beweer : stem of stom.

Later in die aand terug by ons staning leun Jek oor ‘n gesuipte deelnemer en verneem,

« How are you ? »

« I’m f- f- f- wine, » sê die digter.

*

 

« The bird’s wing bends the evening » – Edmond Jabès, A Share of Ink.

*

 

hulle het geweet

dat die laaste skof

van vlees tot stof

uitputtend sou wees,

en omdat my tong

reeds droog was

het hulle my woordeloos

‘n glas stilte gegee

om te drink

*

die nag het reeds haar donkerte

soos bewussynsbloed ingeboet

en die grou oggendlig het uit eerbied

vir die eerste ure niks gesê nie

al het hy haar nie geken

al was hy nie aan haar verwant nie

 

miskien het hy vaagweg besef

dat hulle die bewegings van verganklikheid oorvleuel

en gesamentlik verantwoordelikheid moet aanvaar

in die land waar die dooie hand begrawe is

*

die sjamaan se slaap is die verkleurmannetjie se versteking

 

die sjamaan se gebied is die nag

in daardie laaste ure

voor bleekbloei aan die horison

voor wind deur die bome stoot

 

die sjamaan se rituele reiniging

van oksels en oë en die rif

van die skrotum

is wanneer water nog koud is

in die krane

en woorde soos naginsekte

hulle skarrelende donker beweging

verloor in die stolling van papier

 

die sjamaan se klere is beplak

met vere

van voëls wat weggevlieg het

en in donker kuipe

verdrink soos sterre

die sjamaan se klere is ‘n doodskleed van papier

beteken met reise

van verskietende drome in ‘n donker gewelf

 

hy stink

die velle fladder

die klokkies om sy heupe rinkel

om die dood uit te lok tot ‘n dans

 

die sjamaan se voorwoord inkantasie uit die buik

is met die swart kat wat haar pootjies sit en lek

in die gang

 

die sjamaan se gang is ‘n ligter-wordende

deuropening aan die eindpunt

van ‘n tonnel

waarvan die mure gekroon is met bokhorings en skilde

en vervloë geslagte se verstorwing vasgevang

agter blindstaar van glas

 

 

wat uitloop op ‘n werf waar ‘n haan

die voering skorring tussen nag en môre

en woorde die betekenis gaan dra

van ‘n geheue aan die nag se donkerwees

aan insektebewegings

*

 

Nostalgie : « At the time when violence lived in the country. »

*

 

Let us stop being nice to one another. Let us not shave the asperities. For to translate is an act of tough love. You see (understand and apprehend) through who you are. In other words, you are the spectrum through which you approach and experience the other. It is an arousal. It is also a limitation.

*

 

The way ‘imagination’, images and songs travel or migrate from one mouth to the other, one language to the other, one usage to the other. A religious hymn becomes a struggle song. Translation is migration. And you travel so slowly from sunset to sunset, learning leaving and taking in every oasis, that you’re no longer a stranger at the place of destination.

*

« I don’t know if there ever was a before, » Neo Muyanga says.

*

 

the fire never sleeps

*

 

What is voice if not breath ? And what is breath if not affirmation ? And what is affirmation if not appropriation ? And what is appropriation if not occupation ? And what is occupation if not protest ?

*

 

« This part of the world is a jazz poem. »

*

 

The first premise of breath is that it is personal, individual. But it can only come to the rhythm of survival if it also breathes a space and the shape of the flow between I and the other. This could be a confirmation or an intrusion, appropriating and occupying through ebb and flow the space that we think we share.

In Tibetan chanting the breath comes from the hara ; it is resonant, breath made sound and vibration and the physical intention is to establish a space of selflessness.

In some societies you have poets reading to the dead. Particularly the nameless dead, those who go into the earth with neither name nor attachment. Is this also a way of establishing a space of selflessness ? The solidarity of coming and going.

*

 

But breathing is also about silence. We know from Chinese philosophy that emptiness/the Void calls forth movement (plenitude). Could we argue that breathing a space is by means of establishing silence so that life might flow ?

We have been singing dirges, dancing our anger and our sadness too often. We have buried too many lives.

*

 

Now, only too often, ‘breathing’ is confined to making a private space, a comfort zone of self-hearing and self-indulgence.

Don’t breathe your fetid version of the past at me !

Breathing is a dangerous affectation.

*

breathing in silence

breathing out silence

breathing to silence

breathing out into silence

to let go silently, also of silence

*

Wat ons hier doen raak Duoduo baie diep. Hy vra hom af : In terme van die keuses wat ek gemaak het – wat het van my geword ?

*

 

Nimrod se hoed en bril neem die plek in van die nomaad se kop-en-gesigdoek. Hy is bang sy gesig wys wat hy werklik voel of is. Interessant dat hy nou vir die eerste keer sy hoed afgehaal het. Gisteraand het hy Jek se hand geneem en gesê : « Ek het die gevoel ek het tuisgekom. »

*

 

Neo het lang voete van agter sy ouma aanloop om die stories te hoor.

*

 

I was born from the wound of my mother and the mouth of my father.

*

Jabir : « Une bouche qui saigne ne peut pas faire la poésie. »

*

Jabir : « Culture is difference. »

*

 

*

« Onthou julle nog, » sê B terwyl ons opskuif om plek te maak vir hom op die bankie – ons neem nou sedert ons skouers smaller geword het veel minder ruimte in beslag – « van hoe hulle ons hande afgekap het toe hulle ons wou laat praat ? » Natuurlik onthou ons die gesigte van ons teisteraars, dié wat ons hande gesteel het en toe as buit laat oorplant het. Die kraaie sal ook enigiets wat blink of kriewel optel en nes toe dra. « Wel, » sê B, « nou die aand was ek in die konsertsaal toe ek in die ry voor my my destydse ondervraer sien sit. Sy hande was op sy skoot. Die orkes was besig om die viole in te stem. »En toe ? » wou ek weet. « Het jy hom gekonfronteer ? Het jy jou hand terug ge-eis ? » « Nee, » sê B en skud sy kop teleurgesteld. « Ek het oor sy skouer gekyk. Hy het nie van my geweet nie. Maar die hand, myne, ek het dit herken aan ‘n ou litteken waar die voorvinger in die handpalm loop, daardie hand wat my toekom » (hy beduie met ‘n leë mou) « het gebewe terwyl dit die konsertprogram vashou. ‘n Aria uit een van Puccini se operas sou volgende gespeel word. En die vingernaels was blou geverf. »

*

 

om in die donker kroeg

onder die geween van hoë bloekombome op die werf

te dans

op maat van die weemoedige donker polsing

van Cesaria Evora se stem

wat sing van verre dansende eilande

 

dronk met wyn in verdriet

van die wyn

te rondomtalie, te wieg, jou hand te los,

te draai, jou hand weer te neem

en ons skadu’s teen die muur flikker mee

 

te dans te dans

asof die donker nag buite

met ‘n droom van vlermuise en uile

in die takke van die wenende bome

die dou wat neerstuif

die halfklaar maan verdoesel

in haar skip van wolke

die dans in die skulp van die donker kroeg

die wyn die nag Cesaria Evora

se stem en ritme

die wegbeweeg en die paring

die vergaan van die nag

nooit weer sal verbygaan nie

*

 

Ilya says : « Jewish is not a religion, it is an opportunity to travel. »

*

 

Duoduo is aangedaan. Dis vir hom asof hy teruggekom het, asof hy uiteindelik is waar hy hoort. Hier wil hy bly. « I want to die here. » Maar eers moet hy léwe, protesteer ek.

« Life and die is same thing, » sê hy. So sad, so many years so sad. So much sorrow, yah. Now happy ! People happy here. Not like Europe, not America, not like Holland. » (Hy beduie hoe treurig mense daar is, trek sy wange met sy vingers na benede. « Notta like China. Pfffttt ! People so sad there. No happiness ! »

Hy sê hy het ‘n ou siel. Sy siel sê vir hom hier is waar hy hoort. Hy was nog altyd teen die regime in China. « No freedom ! People like dead !

Hy sê, « always fight ! » Hy sê sy ma se pa se ma was Joods. En Bei Dao s’n ook, Bei Dao het ook Joodse afkoms. Notta YL. » (Die veragting is voelbaar.) « YL also mixed. His ancestors Mongolian. YL issa nothing. Bastard. Arsehole. »

Ek herinner hom daaraan dat Ilja ook Joods is. Die twee omhels mekaar onder die sterre. Ilja is nou die jonger boetie wat moet omsien na big brother.

*

 

‘n Paar dae later toe alles verby is behalwe die doofheid in die ore, vir ontbyt op die terras van die Winchester Hotel, en na hy uitgewerk het dat ons beide onder die teken van die haas (konyn) gebore is volgens die Chinese diereriem met siklusse van twaalf jaar – hy is twaalf jaar jonger as ek – vra hy of ek ook van Joodse afkoms is. Ek sê, nie sover ek weet nie maar my oudste broer, die soldaat met die lyf vol wondtekens glo so. Omdat ons onrustig en befoeterd is.

*

 

How do you survive writing which is commuting/communing with death ?

*

 

Rimbaud ran away to Africa to become a gun-runner and a slave trader, not to preach or practise poetry.

*

 

carnation / carnal / incarceration / reincarnation

*

The word is a hallucinogenic drug.

*

 

Poets are word-eaters.

*

 

Translating is (like) dancing with the dead.

*

 

The last hippo shot on the farm (river bank) 1869. The skull & the gun in the corridor of the house.

*

 

Digters is stilteverorberaars. Maar dan die gedig as asemtuig.

Mouthnus. Mouthtum. Mouthrun. (Hickory-dickory-dock.)

*

 

« You try to sort out  your madness through poetry. » H. Pieterse.

*

 

Om buite verwagtinge te dink.

*

 

« Nothing on earth, no god, can heal you. You can only be changed into something else. » Ilya Kaminsky.

*

« A mad man looking for justice, Don Quixote. »

Homero Aridjis.

*

 

« Poetry is but (a) poor translation. »

Kafka.

*

 

« Translation is impossible ; translation is necessary. »

Ilya Kaminsky.

*

 

Jek gaan weg (sodat) omdat hy weet julle sal sit met die gebakte pere. Daar is nie iets soos Dood as aparte substansie nie. Dood is, bly agter, word ‘n gefluister in dié wat agterbly. Dis ‘n oorlewering. Dit sal vereenvoudig, vertel, vertaal word in patroon. Mense sal sê, « Jek is dood » – asof dit iets beteken. Want eintlik praat hulle van hulself. Jek bly lewe as swart gif in hulle/julle hartklop. Niks kan agtergelaat word behalwe die skoppende, dansende dood nie. (Yi as death whisperer.)

*

 

Jek gaan weg miskien ook omdat hy nie verby Ego kon kom nie. Ego het hom verduister. (En in die donker het Ego vir hom gefluister, ons is één… kom, niemand sien ons nou nie : géé jouself aan my…ons wéét dis wat Jek eintlik wil hê) Ego, die monster-soogdier, het in ander gewestes (te) groot (vir sy skoene) geword en toe hier in Jek se tuisland kom optree in die sirkus, lomp kom dans om die naastes en selfs die anderlinge te vertrap en vermorsel asof dit ‘normaal’ is, asof dit sy geboorte-erfdeel sou wees. Ego is ‘n uitheemse gewas wat bloei in hierdie klimaat, an alien. Ego was die spreekwoordelike olifant in die kaia.

Ook maar goed Ego was in die pad want anders sou Jek lewend verslind gewees het deur bloedsoekers en ander wat hulle vermom as anderlinge. Die goed-bedoelende kannibale. Dié wat soos Hollanders patologies smag na die melodieus (maar nederig) brommende uitreik en streling van die Odder Other. (Generies word anderlinge  Allochtone genoem – langtoon engele.) En eintlik is die versugting dat Anderling net so dor en uitsigloos soos hulle moet wees, ook die prys moet betaal van  nooit ooit weer jou toe te laat om jou eie vertaling te wees nie.

*

 

What about the way forward ? Ah, the unthinking (albeit blinking against the light) human condition wanting against all odds to keep on moving forward ! (Homero Aridjis spoke of « human people. ») To live, to be at all costs – blinly, cruelly if needs be.

Yi knows he will not be part of the revolution. What revolution ? Upheaval ? The breakthrough of new dream material that will, in turn, be soiled in due time. (To each revolution its sewage.) The reckoning ? But it will happen in ways that Yi cannot foresee and, if he were to be around, will neither understand nor be part of.

*

 

strangeness / transgression / estrangement / strangulation / straps & bangles & whistles

*

 

Blackface, Mei 2014

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Dancing in other words: Die Nabetragting van ‘n Klein Reis”

  1. Andries Bezuidenhout :

    drie of vyf wat verstaan
    hoeveel begryp om te kan waardeer?
    alles tevergeefs
    maar iets gesnap toe die saksofoon
    Jabir se kitaar vertaal het
    snaar en asem
    asem en snaar
    dan dalk vele, vele meer?

  2. Maria Snyman :

    Pragtige foto van Breyten! (Solank, nog voor ek begin lees wat ek nou gaan doen – een ding op ‘n slag.)My oog het iets van Hooglied en “(Wysheid is ‘n liefdesverhouding met Waan.)” gevang – dit klink na dinge so in my kraal. Dankie dus solank, mnr. BB.

  3. Leon Retief :

    Hoendervleis Breyten, dankie!

  4. Breyten, dankie vir die skerwende, glinsterende gedagtestroom.
    “This place is like a jazz poem” – mooi dat die digtergaste so tuis
    kon voel.

  5. Waldemar Gouws :

    Die ou blues song “Fixin’ to die” word hier ‘n ding of ‘n duisend gewys.