Onderhoud met Daniel Hugo

Daniel Hugo gesels oor sy pasverskene bundel vertalings van Die roebaijat van Omar Khajjam (Protea Boekhuis) met Bernard Odendaal (van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

Bernard Odendaal (BO): Daniel, jy is, as vertaler, bekend vir die werk wat jy doen om Vlaamse en Nederlandse tekste in Afrikaans om te sit. Nou kom jy vorendag met ’n bundel vertalings van vyftig kwatryne uit die nalatenskap van die elfde- tot twaalfde-eeuse Persiese digter, Omar Khajjam, dit wil sê soos daardie kwatryne deur veral die Engelse vertalings van Edward FitzGerald bekend geword het. Vanwaar hierdie nuwe koers in jou vertaalwerk?

Daniel Hugo (DH):  Eintlik het ek reeds op skool begin om Engelse gedigte te vertaal. Ek herinner my hoeveel plesier ek gehad het aan John Masefield se “Sea Fever”, en later is enkele van my probeersels uit Engels (Robert Frost, Dylan Thomas, Dorothy Parker, Elisabeth Eybers, R.S. Thomas) in my digbundels opgeneem. In die inleiding tot die bundel vertel ek van my kennismaking met FitzGerald se Khajjam-kwatryne in 1976. Ek was toe ’n honneursstudent in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof W.E.G. Louw het ’n kursus in die poësie van die groot Nederlandse digter J.H. Leopold aangebied en sy bewerkings van Omar Khajjam het ook ter sprake gekom. Toe ek in ’n Eikestadse boekwinkel ’n Amerikaanse uitgawe (met dekadente illustrasies deur Edmund J. Sullivan) van Die roebaijat raakloop, het ek dit dadelik uit my skamele beursgeld gekoop. Dit het my so aangegryp dat ek daar en dan my eerste vertaalpogings aangewend het. Omar Khajjam se versvorm en hedonistiese lewensfilosofie het my klaarblyklik nooit laat staan nie – vandaar hierdie vertalings amper veertig jaar later! Die beroemdste formulering van Khajjam se lewensuitkyk vind ’n mens in die volgende kwatryn:

Here with a Loaf of Bread beneath the Bough,

A Flask of Wine, a Book of Verse – and Thou

Beside me singing in the Wilderness –

And Wilderness is Paradise enow.

Ek het dit soos volg vertaal:

Met ’n verseboek in die skaduwee,

’n bottel wyn, ’n brood en jy daarmee

saam om vir my te sing in die woestyn –

en woestyn word ’n paradys vir twee.

C.J. Langenhoven se weergawe lyk só:

’n Snytjie Brood hier waar die skaad’wees sprei,

’n Flessie wyn, en ’n Gedig – en Jy

Hier by my om te sing in die Woestyn –

En die Woestyn is Paradys vir my.

Dit is interessant dat Langenhoven vir Omar en sy geliefde net ’n karige “snytjie” brood en ’n sobere “flessie” wyn gun!

Op die skutblad van daardie Amerikaanse uitgawe van Die roebaijat wat ek so lank gelede op Stellenbosch aangeskaf het, staan die volgende selfgemaakte kwatryn in my studentikose handskrif:

In die tent van Omar Khajjam

het ek rooi wyn gedrink en saam

gesing – maar as die Dood die toue sny

waar gaan ons dan die tent opslaan?

Terloops, die naam Khajjam (in Persies uitgespreek as Chajjaam) beteken “tentmaker”.

BO: Joune is nie die eerste poging om Die roebaijat van Omar Khajjam, of dele daarvan, in Afrikaans te vertaal nie. Ek het nie ál die vorige probeerslae onder oë gehad nie, maar die wat ek wel te lese gekry het …  wel, jou weergawes is, wat die digterlike gehalte betref, stukke beter as die oorgrote meerderheid daarvan. Was die gehalteoorweging die enigste rede vir jou besluit om nog ’n vertaling daar te stel? Was dit jou uitgangspunt om “getrou” aan dié FitzGerald-weergawes te bly? (Die FitzGerald-weergawes is telkens bo-aan jou kwatrynvertalings afgedruk, sodat die leser as ’t ware uitgenooi word om vergelykenderwys te lees.) Ek stel die vraag, want FitzGerald se werk staan stilisties redelik duidelik in die teken van die Romantiek. Wat was jou oorwegings in hierdie verband? 

DH: Eintlik is C.J. Langenhoven se Afrikaanse vertaling nog steeds die beste – en dit het al in 1923 verskyn! Het ek inderdaad probeer om op Langenhoven te verbeter, maar seker nie enduit daarin geslaag nie. Dit is ’n bekende verskynsel in die letterkunde dat klassieke tekste herhaaldelik vir nuwe geslagte lesers vertaal word, onder meer omdat die taal self met die verloop van tyd verander. Langenhoven se Afrikaans klink vandag noodwendig oudmodies; FitzGerald se Engels natuurlik ook, maar dit is myns insiens geen argument om daarom doelbewus argaïsties te gaan vertaal of ’n gedateerde vertaling bo ’n moderne een te verkies nie. Die vertaalde teks moet ewe toeganklik vir die hedendaagse leser wees as wat die oorspronklike in 1859 vir die Engelse leser was. Verder is dit groot pret om die verskillende vertalings met mekaar te vergelyk en taalkundige, ideologiese en verstegniese afleidings daaruit te maak. (Dit lyk vir my na ’n lekker onderwerp vir ’n nagraadse student!)

Ek het so ver as moontlik getrou probeer bly aan die FitzGerald-weergawes, maar die streng aaba-rymskema stuur ’n mens soms in onverwagse rigtings. In die volgende kwatryn word daar reikhalsend uitgesien na die einde van Ramadan, die Moslems se vasmaand:

“Be of good cheer – the sullen Month will die,

And a young Moon requite us bye-and-bye:

Look how the old one meagre, bent, and wan

With Age and Fast, is fainting from the sky!”

In my vertaling het die beeldspraak in die slotreël letterlik uit die lug geval:

“Hou moed, vriend, hierdie maand gaan gou tot niet

en ’n nuwe maan sal ons oorvloed bied.

Die ou een is krom en uitgeteer van vas

en hy verdwyn – ’n sekel in die mied.”

BO: Jy vertel in die inleiding tot die bundel watter verkoopsukses die FitzGerald-vertalings van Die roebaijat van Omar Khajjam was sedert die eerste uitgawe daarvan in 1859: 650 verskillende uitgawes, met illustrasies deur sowat 150 kunstenaars. En dan het meer as 100 komponiste al hulle hand daaraan gewaag om toonsettings daarvan te maak. Wat skuil agter dié enorme gewildheid van die Khajjam-kwatryne, dink jy?

DH: Die verklaring wat vir die sukses van FitzGerald se Khajjam-bewerkings in die Victoriaanse tydperk, d.w.s. die tweede helfte van die negentiende eeu, gegee word, is juis dat dit deur liberale mense aangegryp is wat teen die benouende sedes van hul tyd in opstand was. In sy besonder boeiende boek A Book of Verse: The Biography of the “Rubaiyat of Omar Khayyam, The Astronomer-Poet of Persia (2007) wys Gary Garrard daarop dat FitzGerald se vertaling in dieselfde jaar as Charles Darwin se On the Origin of Species by Natural Selection verskyn het. Al is die een literêr-filosofies en die ander wetenskaplik van aard, het dié twee boeke die lewensuitkyk van miljoene mense beïnvloed: “Both were welcomed by those who sought an alternative to claustrophobic religious teaching.” Maar Khajjam se kwatryne het ook dwarsdeur die “verligte” twintigste eeu gewild gebly, en dit kan sekerlik toegeskryf word aan FitzGerald se virtuose versvernuf. Dit het daarom ook die mees vertaalde vertaalde (stet) teks in die wêreld geword. Die Engelse vertaling het klassiek geword; nie Khajjam se oorspronklike Persiese kwatryne nie. Daar het ’n hele arsenaal publikasies in 2009 verskyn ter 150ste viering van Edward FitzGerald se Rubaiyat of Omar Khayyam.

BO: Die titel, Die roebaijat van Omar Khajjam, is seker een van die bekendste bundeltitels waaraan ’n mens kan dink. Ek twyfel egter of almal wat die titel ken, ook weet wat die woord “roebaijat” beteken.

DH: Roebaijat is die Persiese meervoudsvorm vir “kwatryne”; die enkelvoudsvorm is roebai. Die Khajjam-kwatryn het ’n baie kenmerkende eindrymskema: aaba. Die derde versreël is dus rymloos en enjambeer dikwels, d.w.s. die reël stu sintakties voort tot by die slotrymwoord in die vierde reël. In sy voorwoord beskryf FitzGerald die struktuur van die roebai soos volg: “The original Rubaiyat … are independent Stanzas, consisting each of four Lines of equal, though varied, Prosody; sometimes all rhyming, but oftener (as here attempted) the third line a blank.” Hy illustreer dit dan met die beeld van ’n brander wat in die derde reël opbou en huiwer voordat dit in die slotreël breek. D.J. Opperman was die suksesvolste beoefenaar van hierdie versvorm in Afrikaans en hy het ’n baie insiggewende stuk “Oor die kwatryn” geskryf wat in 1959 in sy opstelbundel Wiggelstok opgeneem is – presies 100 jaar nadat FitzGerald hierdie versvorm in die Westerse wêreld gewild gemaak het.

BO: Dit word duidelik dat ’n mens, wat Die roebaijat in Engels in hierdie geval betref, eintlik van twee digters daarvan moet praat: Omar Khajjam én Edward FitzGerald. Het ek reg? En dis daardie kwatryneversameling wat jy vertaal het, of dan ’n keur van vyftig kwatryne daaruit?

DH: Ja, twee digters. FitzGerald se vertaling is in ’n groot mate eerder herskrywings as getroue weergawes van die oorspronklike gedigte. Hy het dit ook gerangskik as ’n eenheid, sodat die meeste literatore van Die roebaijat praat as ’n selfstandige gedig. Khajjam se kwatryne daarteenoor is in ’n chaotiese toestand oorgelewer, sonder enige tematiese samehang. Binne die groter eenheid van FitzGerald se gedig staan “Die boek van potte” (Kuza-Nama) as ’n afsonderlike afdeling wat die sentrale insig van die Persiese digter se filosofie dramaties uitbeeld d.m.v. sprekende erdepotte. Hierdie afdeling word reeds in die vooruitsig gestel deur onder meer die volgende kwatryn:

Skemeraand het ek ledig op die mark gestaan,

gekyk hoe die pottebakker die nat klei slaan –

en saggies het ek dit sonder tong hoor prewel:

“Versigtig, broer, jy sal ook nog tot klei vergaan.”

Die eerste uitgawe van die Rubaiyat of Omar Khayyam bestaan uit 75 kwatryne. FitzGerald het tot aan die einde van sy lewe aan die gedig bly werk deur nuwe variante van bestaande kwatryne te maak (nie altyd verbeterings nie!) en deur nuwes by te skryf. Dit het tot gevolg gehad dat die verskillende uitgawes wat in sy leeftyd verskyn het, ’n wisselende aantal kwatryne bevat het. Ek het vyftig kwatryne uit die oorspronklike uitgawe en latere variante en byvoegings uitgekies wat die meeste tot my spreek. FitzGerald se Rubaiyat bevat heelwat herhaling van dieselfde idees, sodat sommige kwatryne uitgelaat kan word sonder om die geheelindruk te versteur. FitzGerald het ’n eenheid tot stand gebring met sy rangskikking van die kwatryne, maar die afgesloty aaba-versstruktuur veroorsaak tog dat die meeste kwatryne as gedigte in eie reg gelees kan word. Die titel van die versameling is per slot van rekening Roebaijat oftewel Kwatryne.

BO: Jy het voorheen onder andere aansien verwerf as behendige, vindingryke skrywer van eie kwatryne en ander gedigte in vaste vorm. Jou 2012-bundel, Hanekraai, het byvoorbeeld tientalle kwatryne en haikoes bevat. Waarom is jy aangetrokke tot sulke vorme?

DH: Dit is altyd ’n opwindende uitdaging om die beperkings van ’n vaste versvorm te benut; om ’n gedagte, indruk of emosie so kompak en gestruktureer as moontlik te formuleer. Die vereistes van die vorm laat jou dikwels onverwagse ontdekkings doen, soos in die Ramadan-kwatryn hier bo. Die aantrekkingskrag van die FitzGerald/Khajjam-kwatryne lê vir my waarskynlik in die spanning tussen die vaste, aforistiese versvorm en die filosofie van ongebondenheid wat daarin verkondig word:

Oor reg en verkeerd het ek ophou dink;

ek versmaai die skelet wat aanhou wink

en trek my vingers liewer deur die lokke

van die aanloklike ene wat skink.

BO: Watter uitdagings het die Persiese kwatrynvorm van Die roebaijat-verse aan jou gestel?

DH: In ’n paar gevalle kon ek nie die aaba-rympatroon en die tienlettergrepige versreëllengte handhaaf nie. Hier en daar moes ek my berus by ’n halfrym en langer of korter reëls – hoewel die rymende reëls altyd dieselfde aantal sillabes het, naamlik 10 of 12. In die volgende kwatryn kon ek nie ’n gepaste rymwoord vir die eerste reël vind nie:

Awake! for Morning in the Bowl of Night

Has flung the Stone that puts the Stars to Flight:

And Lo! the Hunter of the East has caught

The Sultan’s Turret in a Noose of Light.

Ontwaak! Die oggend het in die kom van die nag

die blink klip geslinger wat die sterre laat vlug.

En kyk, die ruiter uit die ooste het

die sultanstoring gevang met ’n lasso lig.

BO: Jou Afrikaanse omsetting van Die roebaijat van Omar Khajjam is ’n vreugde om te lees, Daniel. Dit verdien om gewild te word by Afrikaanse lesers!

DH: Mag ek ten slotte my lieflingskwatryn laat inglip?

Daardie paleis met torings wat die hemel soek

waar sultans daagliks gebid het en soms moes vloek –

ek het ’n lagduifie daar alleen sien sit

en “koeroek, koeroek”, roep sy, “koeroek, koeroek”.

Baie dankie, Bernard!

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Onderhoud met Daniel Hugo”

  1. adriaan :

    “en hy verdwyn – ‘n sekel in die mied” Die bestes val altyd uit die lug soos ‘n bloureier na ‘n veldbrand.

  2. René Bohnen :

    Ek sien daarna uit om hierdie pragtige vertalings te lees!

  3. Hans Pienaar :

    Die vertalings hierbo lyk baie mooi en Hugo is ‘n kwatrynkaptein, maar waarom die afgeleefde, outydse Fitzgerald as bron? Wat van die oorspronkelike Persies?

  4. Hans, FitzGerald se vertaling is die klassieke teks wat die afgelope 150 jaar ‘n eie lewe gekry het – in so ‘n mate dat dit inderwaarheid self die status van ‘n oorspronklike kunswerk
    het. En verder is my Persies nie iets om oor huis toe te skryf nie!