Onderhoud met Jannie Malan (In ligte laaie)

Gisela Ullyatt (GU) gesels met Jannie Malan (JM) oor sy digdebuut,

In ligte laaie (Protea Boekhuis).

*****

GU: Jannie, baie geluk met ’n besonderse debuut. The Pillow Book dien as interteks vir gedigte soos “Blurb (8) en “Mono no aware” (29). Eersgenoemde gedig bied ’n netjiese uiteensetting van die vyf afdelings waaruit In ligte laaie bestaan:

1.     ’n fotoalbum se terugblik teen die agterkant van die ooglede

2.     ’n dagboek van die alledaagse, regs op die ribbes ingeëts

3.     ’n notaboek van stilte en geheime, kripties op die tong

4.     ’n reisjoernaal, op die sole van die voete

5.     ’n register van die dooies, in die spore van die palms

Watter rol het The Pillow Book gespeel met die samestelling van jou manuskrip en hoe lank terug het die wisselwerking met hierdie interteks begin?

JM: Baie dankie Gisela. En dankie vir jou deurdagte vrae oor die bundel. Greenaway se film is ’n stuk werk wat ek al vir ’n lang tyd by my spook… ek het eers later ontdek dat dit die werk van Shei Shonogan betrek. Toe ek op ’n punt kom waar ek patrone begin sien in my versameling gedigte het ek gesoek na ’n logiese afbakening of struktuur vir verdeling. Ek het eers gepoog om al dertien boeke wat die karakter Nagiko skryf te emuleer, maar dit het nie gewerk nie. Gevolglik het ek net op my eie vyf besluit, wat steeds – soos met hare – ’n sekere deel van die liggaam met die inhoud in verband bring – soos duidelik in die bogenoemde uiteensetting. Verdere intertekstualiteit met The Pillow Book lê in die gedagte dat – soos Nagiko die hoofstukke van haar boek op vrywilligers skryf wie sy dan na die uitgewer stuur – ons verhale op mekaar skryf, en dat hierdie skryfsels stories van sensualiteit, hartseer, blydskap ensovoorts kan vertel. Miskien ook die gedagte dat die wêreld van woorde – hoe abstrak ookal – nie selfstandig van die lyflike/fiksie volwaardig tot vervulling kan kom nie.

GU: Reeds in die titel word dit duidelik dat die bundel met die vuur-element omgaan en dat dit veral klem lê op die feit dat hierdie geen pieperige vuurtjie voorstel nie, maar wel woorde wat ten volle ontvlam het en steeds brand. Eers veel later in die bundel vind die leser die sub-titel “as”, maar voor dit word “vuur” en “vlam” ontgin. Hoekom “ligte laaie” in plaas van die oorspronklike “ligtelaaie”? Watter betekenismoontlikhede is verbonde aan die grammatikale klemverskuiwing van hierdie idioom?

JM: Vuur is uit die aard van die saak een van die kragtigste simboliese elemente – dink maar aan Cussons se Swart Kombuis en die rol van vuur in Alchemie, The Burning Man, die Phoenix se verhouding met vuur – die lys is lank. Die bundel betrek baie van die simboliese elemente van vuur – passie, vernietiging, reiniging, ens. Die grammatikale klemverskuiwing roep gevolglik die bekende idioom op maar suggereer ook die notaboek, joernale, ensovoorts wat oor die jare in laaie – werklik en simbolies –  versamel het. Die ‘ligte’ sinspeel daarop dat in die skryf van die gedigte daar ’n verligting, ’n katarsis was – ook die suggestie van die intrusie van lig – ’n openbaarmaking… om ’n kersvlam te hou oor dit wat in hierdie laaie lê.

GU: “Gestalt” (15) handel oor kinders se spontane vermoë tot meditasie en dagdroom asook om patrone te sien in voorwerpe wat meeste volwassenes hulleself jare terug al afgeleer het. Hier utiliseer jy die beelde uit die sprokieswêreld wat die vroulike kind in die “houtdeur” en “verniste voetenent” ontdek:

’n lang, maer boom met arms omhoog

en ’n wrede mond – een groot oop oog

ineengestrengel met ’n dunstertdraak

se vlammende vlerke

en ’n gebuigde swaard, bo

die kromrugkoningin met kroon,

haar arms na haar buik geboog

Is hierdie strofe op ’n spesifieke sprokie gebaseer en indien wel, kan jy ons meer daaroor vertel? Het jy met die titel beoog om sekere prinsipes van Gestalt (soos byvoorbeeld gevind in werke van Goethe) of Fritz Perls se Gestalt-terapie met die leser te deel of verkry Gestalt ’n ander betekenis in die konteks van hierdie gedig? Vind jy as digter dat die digproses  gelykstaande is aan ’n oopdink-proses – “ontknoop die skyn” – wat “’n lewe teen die grein” vergemaklik?

JM: Nee, hierdie beelde is op geen spesifieke sprokie gebaseer nie – eerder op sommige argetipiese sprokieselemente. Alhoewel my gedigte nie altyd op dieselfde manier ‘gebeur’ nie (ek het nie altyd ’n spesifieke proses nie). Soos in Gestalt is die gedig meer as die som van die elemente. Gestalt sielkunde ondersoek ons vermoë om vanuit ’n meesal chaotiese wêreld betekenisvolle waarnemings te maak. Een van die elemente hier is die geneigdheid tydens waarneming om heen en weer te spring tussen twee of meer alternatiewe interpretasies. Tydens die digproses is die digter konstant besig met hierdie proses van ‘anders’ kyk. Die gedig betreur deels hoe die grootwordproses ons die kinderlike vermoë om fantasie uit ons alledaagse te tower, ontleer en ontneem.

GU: “Kom nag” (41) tree in gesprek met F.A. Fagan se “Ek het ’n huisie by die see”:

Fagan had ene en Koos reken almal wil

een hê, maar ek en ander

het nie ’n huisie by die see nie; dit

is net die voorreg van ryk uitlanders

of afgetrede apartheidsgeneraals

 

my huisie sit binneland se kant toe

aan die rand, en slegs hittegolwe sal hier slaan

tog, in my skottelbraai brand ’n vuurtjie

teen buitensporige tariewe gee my kersie lig

 

koerantkoppe kom ruk aan my ruite en

oor die radio ruis ’n kreun, op die TV loei ’n klag

knap bo die nok bou wolke aan ’n storm

dig hier binne, is ons veilig vannag?

 

kom sterk skemer, kom die maan

dolomiet is waarop my huisie staan.

Hierdie gedig word gegroepeer onder die tweede afdeling, getiteld “Notaboek”. Daar is ’n kragtige realiteitsbegrip in jou bundel rondom die Suid-Afrika waarin ons onsself op die oomblik bevind. Die huisie is nie by die see nie, maar iewers in die binneland waar ’n bestaan gemaak moet word; Eskom vier hoogty en dié huisie is nie op ’n rots gebou nie maar op sagte dolomiet. Verder herinner veral die “is ons veilig vannag” en “huisie” aan Louis Esterhuizen se nuwe bundel, In die afwesigheid van berge, wat die afwesigheid van veiligheid in meeste Suid-Afrikaanse wonings asook in die psiges van die inwoners hiervan, beklemtoon. Is hierdie tema iets waaroor jy al vir jare besin in jou digkuns; is dit ’n tema wat voortdurend nuwe gedigte laat voorstu?

JM: Kortom, nee. Ek dink baie lesers sal my kritiseer vir die gebrek aan sosiale kommentaar in my werk asook my begeerte om hierdie temas aan te spreek. Ek het Louis se nuwe bundel nog nie deeglik deurgewerk nie, maar is nou gretig om te gaan kyk na die verbande wat jy hier noem. Hierdie spesifieke gedig was een wat ek geskryf het vir ’n kompetisie op Versindaba – waar jy in gesprek moes tree met ’n bestaande gedig. Dit was ’n uitdagende skryfoefening. Maar ek het my – tot op hede – nie pertinent besig gehou met gedigte wat spesifiek ten doel gestel het om die kontemporêre Suid- Afrikaanse psige ontleed nie. Waar daar wel sulke kommentaar is het dit eerder gespruit uit ’n treffende beeld of emosie wat – gegewe die milieu waarbinne dit waargeneem is – onbewustelik kommentaar lewer op die Suid-Afrika van vandag. Tog, soos ’n mens ouer word en jou kinders groter, voel ek dat hierdie tema meer na die voorgrond sal tree in toekomstige werk.

GU: Ook dui “Repelsteeltjie i” (42), “ii” (56) en “iii” (60) op die sprokieselement in jou gedigte. Hier verwerk jy dit tot liefdesgedigte wat handel oor die kompleksiteite en pyn van moderne liefdesverhoudings  “blink pand om jou vinger / waarvan alleen nog ’n bleek sirkel om die vel getuig” en “die belofte van ongebore eersgeborenes / waarvan onbewus jou baarmoeder stil / en liggies / en dofweg spin” (“Repelsteeltjie iii”). Vertel meer oor die ontstaan van hierdie gedigte en waarom hulle nie as ’n eenheid geplaas is nie, maar wel afgewissel word met ander gedigte?

JM: Ek het ’n groot liefde vir sprokies en is veral geïnteresseerd in hulle oorspronklike aanwending as didaktiese instrumente. Ek dink dat baie mense (al krimp die getal) steeds droom van ’n sprokies- of ‘fairy-tale’ verhouding. In hierdie gedigte poog ek bloot om hierdie beeld te dekonstrueer. Die Repelsteeltjie-sprokie betrek ook die geweldige krag van name en woorde of om ’n gelukkige of ongelukkige uitkoms te bewerkstellig. Baie maal moet die digter ‘raai’; soms raai hy of sy reg. “Repelsteeltjie I” is veral meer van ’n meta-gedig as ’n liefdesvers. Om die drie verse bymekaar te plaas sou te obvious wees… nou is hulle grepe goue draad deur die bundel… om só verder die tema te versterk.

GU: In die tweede afdeling, “Dagboek”, kom die volgende motto van Danie Marais voor: “en niks, / is so vlambaar / soos eensaamheid en stilte nie”. Vier van jou gedigte het in Nuwe Stemme 4 verskyn, waarvan Danie Marais een van die samestellers was. Het sy digkuns ’n groot invloed op jou gehad? Hoe voel jy oor die Nuwe Stemme platvorm?

JM: Ek het Danie Marais se eerste bundel baie geniet… ek keer weer en weer daarna terug. Die toeganklikheid van die verse en die duidelike biografiese gegewens het tot my gespreek. Vir my het Danie dit weer lekker gemaak om gedigte te lees. En, alhoewel jy as digter versigtig bly om nie ander digters te emuleer nie, dink ek daar is wel elemente van Danie se aanslag in van my werk teenwoordig (byvoorbeeld die verwysings na pop-culture, ’n meer verhalende versvorm.)

Wat die Nuwe Stemme platvorm betref, bly ek ontstettend dankbaar vir die geleentheid wat Danie en Ronel  de Goede, sy mederedakteur, my hiermee gebied het en ek glo (en hoop) dat dit sal voortgaan om ’n waardevolle forum vir ongepubliseerde digters te wees.

GU: Jou gedigte getuig van belesenheid uit verskeie tradisies soos onder meer gesien uit die volgende titels: “Kundalini” (50), “Omphalos”(52), “Leto” (55), “Xipetotec” (58), en “Khamsin”. Is daar spesifieke titels van boeke en skrywers/digters en skryftradisies wat die keuse van jou onderwerpe geïnspireer het?

JM: Ek probeer wyd lees. Ek het ’n groot voorliefde vir wêreld mitologie. Brewer’s Dictionary of Phrase and Fable is een van my gunstelinge. Ek geniet die werk van Joseph Campbell, veral sy The Hero with a Thousand Faces waarin hy die sogenaamde monomite, die held se archetipese reis, postuleer. Ek geniet ook die werk van TS Eliot, veral “The Wasteland” – met sy stapeling van intertekste. Uit die verwysings sal dit ook duidelik wees dat ek ’n besonderse voorliefde vir Sheila Cussons en haar mitologiese verwysings het. Hierby moet ek ook Carl Jung se Man and his symbols voeg.

GU: Die bodhi-boom is bekend vir die boom waaronder die Boeddha uiteindelike nirwana bereik het. In “Bodhi” (68) is daar ’n intertekstuele verhouding in die laaste strofe met die Christelike tradisie: Christus se vervloeking van die vyeboom. Vertel ’n bietjie meer oor hoe die titel en hierdie strofe verband hou.

JM: Die gedig betrek hierdie element om iets te probeer sê oor die klein gewaarwordings wat voortspruit uit natuurlike elemente. Onder die bodhi-boom bereik Siddharta verligting; deur die vye kom daar ’n oomblik van duidelikheid oor ’n spesifieke verhouding met die spreker in die gedig. Die natuur kan as ’n entiteit op haar eie gesien word en hier is dit een van haar bome waaronder die Boeddha verlig raak, maar ook een van haar bome wat Christus frustreer. Al die karakters in die gedig, ongeag van wie of wat hulle is, kom tot een of ander gewaarwording tydens hulle interaksie met ’n natuurlike element.

GU: Jou reisgedigte getuig van fyn waarneming oor jou bestemmings asook die reis self, soos ’n tipiese langafstandvlug wat redelik kloustrofobies kan raak soos byvoorbeeld gesien in “Life vest under seat” (95). Hoe beïnvloed jou reise na ver bestemmings jou gedigte teenoor dié wat jy skryf wanneer jy tuis is? Is daar ’n reisgedig uit In ligte laaie wat jy met Versindaba as ’n lusmaker wil deel?

JM: Ek was bevoorreg om deur my werk te kon reis. Ek dink reis maak dit makliker om te dig. As ’n mens aanneem dat die digter met ’n ander invalshoek na die wêreld behoort te kyk, bied reis by uitstek hierdie invalshoekskuif. Jy word gebombardeer deur nuwe omgewings, kulture en gegewens. Die nuwe plekke en opinies vervreem ook die gegewens waarmee jy goed vertroud is; laat jou met ’n nuwe kop oor ou konsepte dink. Die ware toets vir ’n digter, glo ek, is om ook betekenisvolle verse te kan skep binne die – baie maal – saai roetine van die alledaagse gang van die lewe. Ek deel graag die gedig Leemte hier – bloot omdat ek baie van die finale beeld hou en omdat daar soveel sit in sulke klein, onverwagse, in-die-oomblik-wees momente:

Leemte

 

Vanuit die venster

van my hotelkamer in Lexington

kan ek die sneeuvlokkies volg soos hulle tydsaam val om

twintig verdiepings laer

in ’n warreling van wit te verdwyn.

Ondanks die gure weer kuier-kuier New Yorkers jolig

in jasse en musse, want

dit is Sondagaand en Superbowl-finaal.

 

Loer ek uit, kyk ek reg tot in die teenoorstaande gebou

met die verligte reghoeke van die metropolitaanse woonstelbewoners.

In die suite oorkant my eien ek

’n leunstoel, ’n staanlamp – ietwat outyds –

’n paar onherkenbare potrette teen ’n muur.

 

’n Ou man met ’n bril skuifel na die ruit

soos ’n akteur vanuit die vleuels

en kyk op.

 

Ons hou mekaar se blik

 

’n ewigheid

 

deur die drywende sneeu

tot hy sy kaak klem, frons

en die staanlamp

afskakel.

 

Die woonstelblok grinnik haasbek

soos ’n kind met ’n uittand.

 

 GU: “Ontvlees” (124) roep ’n makabere skoonheid op wat gevind word in die doodstradisies van die Zoroaster-geloof en Tibettaanse Boeddhisme, laasgenoemde wat gebaseer is op selfs ’n ouer, sjamanistiese tradisie genaamd Bön:

 

die Zoarasters het hul dooies

op torings van stilte bo die grond gelig

en aan die rawe oorgelaat

 

tot onlangs nog het ook die Tibettaanse Boeddhiste

met hul lugbegrafnisse

die dooies se verguisde, gekwartierde liggame

vir die roofvoëls

teen berghellings gelos

                     ’n taak aan die jong monnike opgedra

                      om die waarde van die liggaam te verteer

 

met my dood

laat sestig snawels my verskeur

om in ’n duisend kroppe te verteer

vanaf ’n krans wil ek die hiernamaals betrag

vanuit ’n stadig-verstenende wit skytstreep,

in ’n skeur

Is verganklikheid ’n tema wat jy as digter gereeld mee gekonfronteer word en watter rol speel dit in jou gedigte? Is daar spesifieke digters wat oor hierdie tema besin wat jou inspireer?

JM: Aangesien ’n hele afdeling in my bundel afgestaan is aan die verganklike sal ek hier skuldig moet pleit. Miskien is dit die “goth” van my tienerjare wat gevoed moet word. Ek is geïnteresseerd in die werk van die eksistensiële filosowe – veral Camus, Heidegger en Sartre. So miskien is dit nie soseer ’n belangstelling in die verganklikheid nie, maar hoe ons betekenis put uit die tyd wat ons het voor ons onafwendbare afsterwe. Ek kry die gevoel dat in ’n samelewing wat nou, meer as ooit, grotendeels op ’n beginsel van onmiddelike gratifikasie gebaseer is, hierdie vrae al hoe minder gevra word. Tog is hierdie besef van die ‘groot slaap’ iets waaroor ons almal, en soveel te meer die digter, op een of ander stadium moet besin – hopelik in ’n poging om meer sin aan ons besluite en optrede voor hierdie onafwendbare afspraak te gee. Daar is baie digters wat hieroor besin; ek vind veral byval by die pogings van Sylvia Plath en Czeslaw Milosz.

GU: Hoe het die voorblad van In ligte laaie tot stand gekom?

JM: Tydens die redigeringsproses het Daniel Hugo by Protea Boekhuis my gevra of ek enige insette oor die voorblad het. Ek het die illustrasie van die kabinet met die vlieënde laaie geskep en dit deurgestuur. Dit was bloot ’n speelse visualisering van die In ligte laaie titel, met die oranje wat die vuur simboliseer. Die uitlegkunstenaar by Protea, Hanli Deysel, het dit in haar ontwerp vir die omslag gebruik en met die toevoeging van treffende tipografie die omslag ontwerp. Ek is baie tevrede daarmee.

GU: Dankie vir ‘n heerlike gesprek, Jannie. En voorspoed met jou verdere digwerk.

Omslag

Bookmark and Share

Comments are closed.