De Waal Venter. Vertaal, herskep

Vertaal, herskep

Hier is die eerste reëls van Pablo Neruda se gedig “Cuerpo de mujer” (Lyf van ‘n vrou) uit die versameling “Veinte poemas de amor:1” (Twintig liefdesgedigte):

 

Cuerpo de mujer, blanca colinas, muslos blancos,

te pareces al mundo en tu actitud de entrega.

Mi cuerpo de labriego salvaje re socava

y hace saltar el hijo del fondo de la tierra.

 

Een van Neruda se voorste vertalers in Engels, Mark Eisner, het die vers soos volg vertaal:

 

ME (Mark Eisner) vertaling:

 

Body of a woman

 

Body of a woman, white hills, white thighs,

you look like the world in your attitude of giving.

My savage peasant body plows through you

 and makes the son surge from the depths of the earth.”

 

Ek het dieselfde reëls uit Spaans in Engels en Afrikaans vertaal.

 

DWV (De Waal Venter) vertalings:

 

“Body of a woman, white hills, white thighs,

you are like the earth in your attitude of surrender”

 

Lyf van ‘n vrou. Cuerpo de mujer, blancas colinas … (Poema I)

 

Lyf van ‘n vrou

 

Lyf van ‘n vrou, wit heuwels, wit dye,

jy is soos die aarde in jou oorgawe.

My wilde boerelyf ploeg deur jou

en laat ‘n seun opspring uit die aarde se diepte.

 

Ek was eensaam soos ‘n tonnel. Voëls het gevlug vir my.

En die mag van die nag het my binnegedring.

Om te oorleef het ek jou in ‘n wapen omgesmee,

soos ‘n pyl in my boog, ‘n klip in my slinger.

 

Maar die uur van vergelding daal neer, en ek het jou lief.

Liggaam van vel, van mos, van gretige, stewige melk.

O, die vase van die bors! O, die oë vol afwesigheid!

O, die pubis-rose! O, jou stem, stadig en treurig!

 

Lyf van my vrou, ek sal voortbestaan deur jou guns.

My dors, my oneindige verlange, my besluiteloosheid!

Donker rivierbeddings waar die oneindige dors vloei,

en vermoeienis volg, en oneindige smart.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

My vertaling in Engels van die eerste reël is identies aan Eisner se weergawe. Maar die tweede reël verskil:

“you are like the earth in your attitude of surrender”

 

Die woorde “el mundo” beteken “die wêreld” soos in die ME vertaling. Verder is een van die betekenisse van “entrega” die frase “om te gee”, weer soos in die ME vertaling.

 

Verskille

Die DWV vertaling verskil in drie opsigte van die ME vertaling:

“are like/look like the earth/the world surrender/giving”

“Parecer” kan “lyk soos” beteken, maar ook “is soos”. Die DWV vertaling lui eenvoudig “is soos”. Die lyf van die vrou “lyk” nie net soos die aarde nie, dit “is” die aarde waarin die spreker in die gedig ploeg en sy saad saai.

Die DWV vertaling gebruik “aarde” in plaas van “wêreld”. “Aarde” is vir DWV nader aan die bedoeling van die digter. Dit is nie die wêreld wat geploeg word nie, maar die grond, die aarde.

En laastens, die DWV vertaling bied “oorgawe” as ‘n akkurater vertolking van die digter se bedoeling. Die toonaard van die gedig is wilde (savaje) hartstog wat die lyf van die liggaam dwing om “oor te gee” en nie bloot om te “gee” nie.

Die frase “attitude of surrender” is goed bekend in baie Europese tale, soos in die Spaanse sinne hier:

Pero es una actitud de entrega interior. Es una actitud de Presente. (vedantaadvaita.com) But it is an attitude of inner *surrender*, It is an attitude in the present. (vedantaadvaita.com)

In Afrikaans is hierdie uitdrukking egter nie in gebruik nie en die Afrikaanse vertaling laat die woord “actitud” (houding) weg en lewer eenvoudig: “oorgawe”. Let op die ooreenkoms in die Nederlandse weergawe.

Ander tale

‘n Franse vertaling: “l’attitude du don te rend pareil au monde”. ‘n Direkte vertaling: “Die houding van gee maak jou soos die wêreld.”

‘n Italiaanse vertaling: “assomigli al mondo nel tuo gesto di abbandono”. ‘n Direkte vertaling: “Lyk soos die wêreld in jou gebaar van oorgawe”.

‘n Nederlandse weergawe: “In jouw overgave lijk je op de wereld” Vertaling: “In jou oorgawe lyk jy soos die wêreld”.

Peter Landelius, gebore 2 April 1943, is ‘n Sweedse vertaler, skrywer, kultuur-joernalis, prokureur en gewese ambassadeur. Hy woon sedert 2004 in Chile. Hy het hoofsaaklik uit Spaans vertaal, maar ook uit Frans en Engels. Hy het verskeie werke vertaal van die die Nobelprys-wenners Mario Vargas Llosa, Gabriel Garcia Márquez en Pablo Neruda en ander Spaanse en Latyns-Amerikaase skrywers, onder andere Julio Cortázar en César Vallejo.

Landelius het opgemerk:   “What is it like to be a translator?”

“You are alone with a text that you read more carefully than others. You can not ask the author for an explanation because he cannot speak your language.

You have to trust your instincts. No one knows where the problem lies. The structure and the value of the poems in the two languages do not match, but you must know the tone that corresponds to the original. The translation is an attempt to recreate the text. It is an internal process, something you do in solitude.”

 

Herskep?

Dit lyk asof vertalers neig om poësie te “herskep” wanneer hulle vertaal. Hulle doen dit moontlik omdat: “The structure and the value of the poems in the two languages do not match, but you must know the tone that corresponds to the original.”

In die vertalings hierbo het die Italiaanse vertaler dit nodig gevind om weg te beweeg van die letterlike betekenis van “entrega” en dit as “abbandono” of in Engels “abbandonment” wat uiteindelik ook “oorgawe” kan beteken.

Die Nederlandse en Afrikaanse vertalings kom goed ooreen -“overgawe” en “oorgawe”.

 

Ten slotte

Daar bestaan nie so iet soos ‘n volmaakte vertaling van ‘n gedig uit een taal in ‘n ander nie. Spraakritmes, volksmond-uitdrukkings, konnotasies van woorde, grammatikale strukture ens. wissel grootliks van taal tot taal.

‘n Vertaler kan maar net hoop om die gedig te “herskep” in die teikentaal, om dit ‘n lewende entiteit te maak, ‘n waardige kunswerk, sonder om te ver af te dwaal van die aard en bedoeling van die oorspronklike.


– De Waal Venter –

Bookmark and Share

4 Kommentare op “De Waal Venter. Vertaal, herskep”

  1. Wicus Luwes :

    Baie interessant. Ek wonder of die vertaler die oorspronllike skywer se skoene net moet hersool of nuwe veters gee as hy daarin probeer loop. Hoe belangrik is dit as vertaler om iets van die oorspronklike skrywer te weet? Gebruike of spreekwoorde eie aan die plek waar die gedig geskryf is? Solank dit net die oorspronklike digter se skoene bly waarmee daar geloop.word.

  2. Treffende metafoor wat jy gebruik, Wicus! Om dit verder uit te brei, sou ek sê dat die vertaler eintlik ‘n hele paar nuwe skoene moet maak op die oorspronklike digter se lees. En dan lyk die nuwe skoene ook nooit presies soos die oorspronklike nie. Spaanse stewels word Afrikaanse vellies.

    Verder stem ek saam dat dit belangrik is vir die vertaler om soveel moontlik te weet van die digter se taalgebruike, lewenswyse en milieu.

    Neruda was baie lief vir vroue en het drie keer getrou. Dan het hy nog ook ‘n hele paar minnaresse gehad. Sy laaste vrou Matilde Urrutia, was moontlik sy grootste liefde. Hy het vir haar sy “Kapteinsverse” geskryf toe hy op die eiland Capri verban was. “Kaptein” was haar troetelnaam vir hom.

  3. Susan Smith :

    De Waal, baie interessant. Ek hou van die vellies wat jy dra om by “boerelyf” uit te kom; dit voel baie eg aards Afrikaans. Dankie vir die kykie binne die digter-vertaler se wêreld.

  4. Ek is bly jy sien dit so, Susan. Een van die groot uitdagings vir die vertaler is om in die vertaling ‘n toonaard te skep wat eg klink en voel vir die leser, al is dit nie presies die letterlike weergawe van die oorspronklike nie. Die vellie is op die Spaanse lees gevorm, maar dit lyk en voel ietwat anders as die Spaanse stewel:)