Gisela Ullyatt. Vir ’n pa.

 

Junie is die maand van pa’s; 15 Junie is Vadersdag. Jaar na jaar word egter dieselfde sotlikhede op winkelrakke en spesiale uitstallings opgestapel om die skuldige gewete aan te spreek: oorsoet sjokoladetjies en geroosterde neute, die ewige knipmes; wintersokkies. Tydskrifte adverteer glansgeskenke soos ’n peperduur biltongsnyer. Bekendes word glansend saam met pappa afgeneem en soetlike goedjies word gesê oor hulle volmaakte dad.

Maar as jou Junie begroting reeds klaaglik misluk het, kan jy natuurlik altyd ’n beker met ’n gedrukte flou grappie/cliché koop (hopelik nie tweedehands nie) en dit opvul met ’n pers Simba-pakkie grondbone-en-rosyntjie mengsel. Of dalk ’n bierbeker gaps by die Oktoberfest vir volgende jaar se Vatertag.

Hoe dit ook al sy: Junie is die maand van daddy. Die vaderfiguur is een van die bitterste beelde in die poësie. Verder is gedigte oor vaders een van die mees oorwoë temas in die digkuns: alle digters het ’n vader of ’n gebrek aan een.

Stanley Kunitz se “The portrait” (1985:296) getuig van die gebrek aan ’n vader-figuur; die gedig is geperforeer deur ’n disfunksionele familie-dinamika. Ironies genoeg dra die absolute fisiese afwesigheid van die pa daartoe by dat hy in elke ander aspek die lewens van sy gesin oorheers. Die ma, deurdrenk van woede, probeer alles om hom vir goed uit hulle lewens te verban, maar spoke laat hulleself nie verban nie. Die feit dat hy wel geleef het, kan dus nie ontken word nie:

 

My mother never forgave my father

for killing himself,

especially at such an awkward time

and in a public park,

that spring

when I was waiting to be born.

She locked his name

in her deepest cabinet

and would not let him out,

though I could hear him thumping.

When I came down from the attic

with the pastel portrait in my hand

of a long-lipped stranger

with a brave moustache

and deep brown level eyes,

she ripped it into shreds

without a single word

and slapped me hard.

In my sixty-fourth year

I can still feel my cheek

burning.

Disfunksie in die familie-eenheid word baie maal vereenselwig met die “sonde van die vaad’re”. R.D. Laing, ghoeroe in die anti-psigiatriese beweging, noem hierdie disfunksie wat oorspoel van generasie na generasie “the transgenerational transference of neuroses”. Die Amerikaanse digter, Charles Olson, som hierdie filosofie onomwonde op in sy gedig oor vaders en seuns:

 

and if I am his son, this man

is from as far a place and time

as yours is, carries with him

the strangeness you and I will carry

for our sons, and for like reason

Hierdie inter-generasionele verwondheid word veral in Johann de Lange se oeuvre aangespreek; bundels soos Snel grys fantoom (1986) en Die algebra van nood (2009) bevat roerende gedigte oor ’n meestal afwesige maar dwelmverslaafde vader. In “Pa” (2010:36) word die pa-figuur opgeroep in messelaar- en- cowboymetaforiek. Die Anne Sexton-motto omsluit die motief van vergifnis wat herhalend in die gedig “Maar ek vergewe jou” gebruik word. Die vyfde strofe staan veral uit vanweë die uitsigloosheid van die pa se dwelmhel juis omdat dit die verskriklike vervreemding en skeur tussen pa en seun  daarstel:

 

Ander aande het jy mandrax gedrink

& vroeg gaan slaap, moeg,

die woonstel onherbergsaam gemaak

met jou hortende asem. Die kroeg,

enklave waar jy kon ophou kwel,

het sy grys vergetelheid geskink.

In “Petidiendroom” (2010:119) wil die pa intimiteit tussen ouer en kind skep met ’n petidien-ampule, iets wat helaas godsonmoontlik is:

 

Ek loop my pa ná jare raak

& hy probeer weer vrede maak.

 

Hy gee vir my ’n smal ampule –

verdowing met ’n streng skedule,

 

& hoop dit sal ons nader bring

soos die naald intiem deur weefsel dring.

 

Ek soek koorsig na ’n plek om te gebruik,

maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

 

Die versugting na versoening, na heelmaak van die verskerfte en versplinterde pa-kind dinamiek word ook gesien in Lucas Malan (16) se “Versoening”:

 

Ag Pa, laat ons nou vrede maak;

jy raas so in jou kis,

jy skaaf so aan ’n kwas

wat lankal reeds vergete is […]

 

en jy’t jou hawer nooit gesaai nie –

net so min het ek miskien geword

wat Pa dalk wou, maar nietemin,

die saad is klaar gestort

 

Wyle George Weideman skryf ’n reeks gedigte oor sy pa onder die hoofopskrif “Homo Faber” (Uit hierdie grys verblyf:1987). Die subtitel – portret van ’n alchemis en sy werkplek” –  is veelseggend en sluit aan by homo faber wat losweg uit die Duits as ‘die mens as produsent’ vertaal kan word. Dit sou interessant wees om te weet of Weideman Max Frisch se roman, Homo Faber, as vertrekpunt geneem het. Weideman se “Homo Faber” is opgedeel in sewe gedigte: (wyding); (interieur); (transmutasie); (feniks); (konjunktief); (sublimasie), en (slot). Ongelukkig is daar nie spasie in hierdie blog om aandag aan elke afsonderlike titel te skenk nie; ’n aparte blog (of eintlik artikel) sal hieraan gewy kon word.

Wat egter duidelik as baken in hierdie gedigte dien, is die vader as skrynwerker of produsent (‘homo faber’), iemand wie se werkspasie ’n “heiligdom” (59) was waar teen “die mankolieke deur” die spreker hom verbeel die volgende woorde opgeplak is: “strictly private. moet asseblief nie steur/ nie. eintritt verboten”.  In (feniks) het die pa “’n duisternis apparaat” en begin die spreker reeds verval in sy pa opmerk: “al krommer /wordend, my monnik-pa aan’t vonke slaan” (62). Die pa se opgaarsels begin dien as simbole teen die ouderdom, verlies en eindelike dood (sublimasie)(64); dit dien ook as afbakening van persoonlike grense; isolasie:

 

wat vergaar kon word teen die ouderdom:

vragte onvoltooide take wat vreug

en frustrasie bring

 

En dan kulmineer die reeks verse in (slot) waar die pa triomfeer, vry word van die oorlaaide opgaarder “homo faber”, gepuur word tot pa-as-feniks en dan simbolies die vlinder in homself vrylaat (65):

 

uit die grys verblyf durf ’n feniks kom:

aanvanklik nog net ’n moontlikheid

daar rond […]  

dan word die lyf

ligweg tussen die vlerke ingeskuif

en vasgeheg. en florissant verskyn

pa, weliswaar gehawender, triomfantlik

uit die hoogoond. Hy laat die vlinder vry.

 

Olga Kirsch skryf ook ’n reeks gedigte oor haar vader, getiteld “Vyf sonnette aan my vader” (1972). Die vyfde sonnet vergestalt die Joodsheid van die pa soos gesien deur vroeë kinderherinneringe aan die sinagoge, God en gebedsjale (1990:375):

 

Toe ek nog klein was het ek aan jou sy

gestaan in die sinagoge en gevolg

terwyl jou vinger langs die letters gly

van woorde wat ek nog nie kon vertolk.

Die kantor hef sy stem op, yl en soet

wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou

slaan vlamme uit die ruit hom tegemoet –

sou die Voorsienigheid Sy guns weerhou

wanneer daar so gesmeek word? En jy vou

jou syige gebedsjaal weg en hou

jou arm om my en ek staan gedruk

vas teen jou knie en bewe van geluk.

Swaar stemme styg in stadige akkoorde –

Oomblikke veertig jare sonder woorde. 

 

Bernard Odendaal skets ’n menslike woordportret van sy pa in “Pa” (24); sy pa was “voorbanker in kerk en senaatsaal./ Ook ’n voorslag in die kooi,/met vyf voluit familievernoemde seuns”. Sy moeilike geaardheid word metafories baie geslaagd uitgedruk: “jy’t haaks gebou;/ontoeskietlik draad gespan;/jou hande lékker skurf”. Dié moeilike oubaas het dalk voor geen mens die knie gebuig nie, maar voor die Groot K het hy nie ’n keuse gehad nie:

 

tot jy in die kliniek moes wees

–       slaphandig, grootogig;

 voete watersugtig dik –

 maande lank moes kankercocktails drink.

 Rúikend na sweet en sere.

 Al minder besoek ontvangend.

 Later net woordeloos net lêend.

 

Betsie van Niekerk dra Ronkedoor aan haar pa op en in “Kruk” (13) aanvaar die spreker dat sy haar pa slegs kan bystaan, maar nie kan genees nie: “Geen elikser, Pa/of panasee/kan ek jou gee”. Uiteindelike verval van die geheue en liggaam vind plaas en word roerend uitgebeeld deur die skoenlose en tandelose pa. Hy het dus die ronkedoor van sy menslike trop geword:

 

Maar ontskoei en sonder tande

trap pa op gewyde grond

radeloos, onmagtig rond.

 

Joan Hambidge se oeuvre is deurspek van gedigte wat aan haar pa opgedra is en sy skryf só oor hierdie tendens in Dad (57), ’n bundel wat spesiaal oor haar pa geskryf is na sy dood:

 

“Reeds vanaf my debuut Hartskrif (1985) skryf ek oor my vader […] My vader as gespreksgenoot, as spieë, as iemand teen wie ek my kon meet. Op sy manier ’n man wat weens sy werk dikwels verplaas is – dit verklaar waarskynlik my obsessie met reis. As kind van die depressie het hy swaar groot geword en daar was dikwels bitterheid oor sy grootvader se hantering van sy vader Frank. Hulle is uit ’n plaas verneuk”.

 

Toevallig lees ek die deel (ook in Dad) waar Joan oor haar pa se familieverbintenis met Maggie Laubser skryf (Hannah Laubser, sy moeder, was Maggie se suster) op dieselfde dag toe ons ’n skilderytjie van Maggie Laubser laat waardeer. Dié waterverf is vergeel in sy broosheid (en brosheid) en is inderwaarheid ’n bladsy uit een van haar sketsboeke. Groot was ons verstomming toe die bladsy uit sy ewe brose raam gelig word en aan die agterkant ’n horde potloodsketse van katte gevind word!

Om dus aan te sluit by hierdie broosheid van die vergeelde Maggie Laubser, haal ek die volgende gedig, “Tien” (50) aan uit Dad, wat nie net in gesprek staan met die internet as interteks nie, maar ook met Maggie Laubser:

 

Die webruimte na jou weier

halsstarrig om oop te gaan.

Op elke soekruimte met google

staan ek voor dooiemansdeur:

www.vader.com is tans onbeskikbaar.

Elke soekenjin wys my af,

gooi my uit voor ’n grys skerm.

Laat ek nou met die deur

in die huis val: die huis van my vader

had soveel kamers.

In jou klein heiligdom

hang foto’s van jou as sportman,

’n kanon met ’n loodkoeël,

’n skildery (wat ons verpes) van die Sakekamer,

en  ’n beeld van ’n klei Bonsmara-bul.

’n Staalkabinet met papiere, agendas,

aktes en wat nog van die sekretaris

van vele komitees. Altyd tweede in bevel

’n Maggie Laubser-skets van jou as seun

wys jou weerloos op. ’n Groen brugtafel

vir Dinsdagaande, elke vierde week, by ons

staan langs ’n weggestoke drankkabinet met KWV.

En ek? Met besoeke slaap ek op die enkelbed

in die kamer waar jy alles opskryf, liasseer, behou.

Jou tweede kind, ’n andersoortige sekretaris,

soekend, wagtend dat die webruimte oopgaan. 

 

Bibliografie

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hambidge, J. 2006. Dad. Kaapstad: genugtig!

Malan, L. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal. B. 2007. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

Olson, C. 1960. The distances. New York: Grove.

Opperman, D.J. (ed). 1990. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Poulin, A. (ed). 1985. Contemporary American Poetry. Boston: Houghton Mifflin.

Van Niekerk. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 1987. Uit hierdie grys verblyf. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

Bookmark and Share

18 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Vir ’n pa.”

  1. Joan Hambidge :

    Baie netjies saamgevat, Gisela. Miskien ook iets oor Elisabeth Eybers se verhouding met haar pa?

    Dan my vader in Meditasies:

    My Pa

    My pa was geen musikant,
    ook nie ‘n man van durf en daad.
    Nee hy was dromer, leser, opgaarder.
    Op die oog af ‘n man van raad:
    dikwels die sekretaris of skriba,
    ja weldoener, ‘n man van komitees.
    Maar ek weet van beter:
    in sy binnepraat
    “Ja, Sondag is dit net ek en my God”
    was daar teleurstelling,
    selfs verdriet
    oor sy familie wat sý pa verniel het,
    oor sy broer wat hy in alle onskynlikheid,
    besef ek nou, dikwels moes bystaan,
    oor sy vier telge se opstand en teëpraat.
    My pa was ‘n man van stiltes,
    van ander se laste eien
    soos dit ‘n ankerman betaam,
    van geheime graf toe dra.

  2. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Joan. Tot my spyt is ek nie op datum met Eybers soos ek behoort te wees nie. Is daar ‘n spesifieke gedig(te) of boek/artikel wat jy sou kon aanbeveel? Roerende gedig wat jy aangehaal het uit ‘Meditasies’. Dankie daarvoor ook.

  3. Joan Hambidge :

    Oorsig
    Elisabeth Eybers

    Van kindsbeen af het ek die boos-
    heid van die vlees geraai,
    so wêreldwars en argeloos
    het Vader dit versmaai.

    En Moeder was ’n donker vrou
    met ’n stiletskerp gees:
    van onversoenbaarhede sou
    ek later nooit genees.

    My pastorale vader wis
    haarfyn hoe alles hoort,
    teen elke ydelheid en lis
    gewapen met die Woord.

    En Moeder het gevit, gevra,
    geluister en gelees.
    Sy kon soveel verdriet verdra,
    so ondeemoedig wees.

    Van háár het ek die snelle drif,
    die onrus en die skroom,
    van hom die vreemde teëgif
    van ’n ontasbre droom.

    Deur brakkerige dieptes kon
    my wortel weerbaar dring,
    ook ék haal uit mistieke bron
    my soet versadiging:

    ’n liefde wat geen lessing ken,
    niks ledig of sondeer
    maar eensaamheid en hunkering
    verruklik raffineer.

    Met aftreksels van skaduwee
    moet ek my daagliks voed:
    my vader was die dominee,
    my moeder vlees en bloed.

    uit Balans (1962).

  4. Gisela Ullyatt :

    Veral die laaste strofe van ‘Oorsig’ het my diep getref, juis vanweë my Calvinistiese agtergrond en ‘n beste vriendin op skool wie se pa ‘n dominee was: ‘gewapen met die Woord’. Soveel ondraaglike pyn wat in hierdie versreël opgesluit lê.

  5. Joan Hambidge :

    Ook Breytenbach se “n brief van hulle vakansie” – klassieke vers!

  6. Louis Esterhuizen :

    Eintlik verwag ‘n mens normaalweg nie om in ‘n misdaadroman teen ‘n stuk lewenswysheid te stuit nie. Maar nou ja, daar is gelukkig ook nie baie misdaadskrywers soos Jo Nesbo nie: “All sons believe that one day they’ll turn into their father. That’s why they’re so disillusioned when their father’s weaknesses are revealed; they see their own failings, their own future defeats waiting for them. And sometimes the shock is so devastating that it makes them give up before they’ve even started.”
    – Jo Nesbo (Uit: “The Son”, pp. 242 – 243)

  7. Gisela Ullyatt :

    Louis, inderdaad ‘n gepaste aanhaling vir die vader-tema. Mens sou twee aparte blogs of artikels kon skryf oor die aparte dinamikas van dogter-pa en seun-pa en hoe dit oopgeskryf word in die poësie. Dankie vir die aanhaling en dis hoogtyd dat ek ‘n Jo Nesbo lees.

  8. Maria Snyman :

    Baie pragtige en provokatiewe blog Gisela – ek wou skepties wees, maar is oorrompel. Johann de Lange se Stockenström vertaling “Father on son” is vir my ook mooi en gepas vir hierdie pa-maand in ons God-Abraham-Isak wêreld/teks wat nie ‘n buitekant het nie – God het sy woorde/opdrag terug getrek, die offer geoffer, wat in Derrideaanse terme neerkom op: “in die begin was daar vergifnis” en waar mens streng gesproke net om vergifnis kan vra vir die onvergeefbare … Die dood (groot en klein) is vir Derrida nie soos vir Heidegger die finale horison nie, eintlik eerder juis die ware begin …

    Father on son
    Wilma Stockenström

    Ought to love the teenage torso
    with shoulders brown and solid as beams,
    his young flyhalf in striped sweater
    and rugby shorts, the bulge in front,
    flesh of sensuality, seeding
    fruit of the tree of his body.

    He ought to love them, those
    blue candid eyes, replicas,
    white apples swelling into iris, pupil
    already like a sign of conception,
    sign of contamination already,
    my son, my son, in your eyes.

    Bron: http://johanndelange.blogspot.com/2014/04/wilma-stockenstrom-father-on-son.html

  9. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Maria vir jou kommentaar (ek voel gevlei om kommentaar te ontvang van Versindaba se famous ‘Derroris’!). Ken jy dalk die Afr naam van dié knap-vertaalde Stockenström-gedig en uit watter beundel van haar dit kom? Ek vind dit glad nie in die bundels wat ek het nie. Dit sal gaaf, wees, dankie. En groete aan Derrida en Heidegger…

  10. Gisela, “Vader oor seun” uit “Van vergetelheid en van glans”.

  11. Maria Snyman :

    Vader oor seun

    Behoort lief te hê die tienertorso
    met skouers bruin en massief soos balke,
    sy jong losskakel in streeptrui
    en los kortbroek, die knop voor,
    vlees van vleeslikheid, saadskietende
    vrug van die boom van sy liggaam.

    Hy behoort hulle lief te hê, die
    blou openhartige kykers, replikas,
    wit oogballe gestulp tot iris, die pupil
    reeds soos ’n teken van bevrugting,
    teken van besmetting reeds,
    my seun, my seun, in jou oë.

    Uit: Van vergetelheid en van glans, Stockenström (1976:30)

    Plesier Gisela, dankie Daniel.

  12. Gisela Ullyatt :

    Fantasties, dankie Daniel. En ook aan Maria. Dis juis dié bundel wat ek sukkel om in die hande te kry.

  13. Leon Retief :

    Ek het geen idee hoe dit is om pa vir ‘n seun te wees nie en ek kan nie juis sê dat dit ‘n groot gemis in my lewe is nie. Ons het wel twee dogters gehad en dit wil my voorkom asof daar ‘n baie, baie spesiale band tussen ‘n pa en dogter is.

    FISHING
    AE Stallings

    The two of them stood in the middle water,
    The current slipping away, quick and cold,
    The sun slow at his zenith, sweating gold,
    Once, in some sullen summer of father and daughter.
    Maybe he regretted he had brought her –
    She’d rather have been elsewhere, her look told –
    Perhaps a year ago, but now too old.
    Still, she remembered lessons he had taught her;
    To cast towards shadows, where the sunlight fails
    And fishes shelter in the undergrowth.
    And when the unseen strikes, how all else pales
    Beside the bright-dark struggle, the rainbow wroth,
    Life and death weighed in the shining scales,
    The invisible line pulled taut that links them both.

  14. Gisela Ullyatt :

    Jy is reg, Leon. ‘N Band tussen vader en dogter kan só sterk wees. Tog ook broos. Soms ook wrokkig. Die versreël wat my veral opgeval het is: ‘Once in some sullen summer of father and daughter’. Dit seg sóveel! Dalk is ‘n blog oor vaders en dogters iets om oor te besin. Petra Müller se aangrypende gedig ‘verwildering’ oor haar konstabel-vader in die bundel om die gedagte van geel is ‘n voorbeeld.

  15. Leon Retief :

    Ek het Fishing onder andere om daai reël gekies Gisela – geen verhouding, ook nie en dalk veral nie die van ouer en kind is perfek nie en maak nie saak hoe lief mens vir jou kind is nie, daai verhouding het sy “sullen summers”, veral in die tienerjare. Solank sulke “sullen” periodes net ‘n seisoen of twee duur en nie ‘n leeftyd nie wat ongelukkig by sommige mense die geval is. Dan is daar natuurlik ook ‘n ander aspek van ouerskap, een wat gelukkig vir min mense beskore is.

    De val
    We kruisten de Styx.
    De veerman lag dronken in zijn schip.
    Ik hield het roer en we zonken als stenen.
    Water bestaat als de aarde
    in lagen, transparante linten, glanzende strata
    van steeds kleiner leven, minder warmte.
    In je haren bloeiden luchtbellen,
    de stroom trok je hoofd naar achter
    en streelde je hals.
    Stenen wuifden met armen van algen en varens,
    zongen zachtjes gorgelend “vrede”.
    Ze sneden je kleren los.
    Vissen likten het bloed van je benen.
    Ik hield je hand vast. Ik wilde je troosten
    maar we vielen te snel en er zijn geen woorden
    die zonder lucht bestaan, mijn liefde
    bleef boven, blauwe ballonnen, bakens voor even,
    de plaats markerend van het ongeluk
    voordat ze verder dreven. Je mond ging open.
    Je gezicht werd rood, je handen zochten
    evenwicht, zochten mijn armen.
    Je probeerde in me omhoog te klimmen.
    Je was een glasblazer met een wolk van diamanten
    aan zijn mond. Ik hield je vast als een katje.
    Ik aaide je vingers.
    Je liet niet los.
    Je sliep en ik aaide je vingers, liet los.
    Esther Jansma

  16. carina van der walt :

    Dankie Gisela! Vadersdag. Ek lees. Nou besef ek van vooraf hoe kompleks en intens my eie verhouding met my pa is… Dit sal seker nog ‘n paar jaar vat om daaroor te probeer skryf. In “Reis” (uit “Die donker is nooit leeg nie”, 1997) skryf Heilna du plooy o.a.

    Wanneer dit middelwinter was
    en snags die Hoëveld tot poeier
    skroei in koue en in yl ryp,
    dan het Pa graag gereis
    na waar dit warmer was.

    In strofe 3:

    Pa wys waar die Drie Konings sit
    en ook die Suiderkruis.
    Ons loer so vaak-vaak na die lug,
    verstom dat ook die maan kan ondergaan.

    En in strofe 5:

    Pa gee deurlopend aardrykskunde-les,
    plantkunde en dierkunde
    en ook geskiedenis kom by:
    Kyk, hier begin die landskap breek –
    die binneland is mos een groot plato.
    Let op, ons ry nou baie minder op as af.
    Kyk na die heuwelrige glooiings daar,
    die voëls, die soorte gras,
    die boom se soort, sy bas en blaar.

    Ek herken hierin my eie pa se Aardrykskunde lesse in die kar op pad na ons jaarlikse vakansiebestemmings – elke jaar in ‘n ander windrigting. En die lieflike opneem van algemene kennis by die dogter, ingegee deur ‘n rustig besturende vader. Dankie vir die hartsgedig oor pa’s en dogters, Heilna du Plooy, en dankie liewe pa.

  17. HEILNA DU PLOOY :

    Ek is so bly jy het die gedig geniet. Uiteraard lê dit my ook na aan die hart.

    Groete

    Heilna

  18. Gisela Ullyatt :

    Carina, dankie vir die kommentaar. En vir die roerende gedig van Heilna wat ek nou by my arsenaaltjie van vader-gedigte kan voeg.