Carina van der Walt. In aanloop tot Poetry International, Rotterdam 2014

 

Wie die poësiewêreld ken, ken Poetry International. Hierdie jaar staan die poësiefees onder andere in die teken van die feesvieringe rondom tweehonderd jaar na die afskaffing van slawehandel. Die digter wat dié idee as gas seker die sterkste beliggaam is Antoine de Kom, VSB-poësiepryswenner van 2013 met Ritmisch zonder string (Querido).

De Kom is in Den Haag gebore, maar het ’n paar jaar van sy jeug in Paramaribo, hoofstad van Suriname – ’n noordelike landjie in Suid-Amerika, deurgebring. Daar lê sy eintlike wortels, want De Kom se oupa was die swart skrywer en aktivis Anton de Kom. Anton de Kom (1898 – 1945) is gebore en getoë in Suriname, maar emmigreer in 1920 na Nederland. Hy trou met die Nederlandse Nel Borsboom. Uit hulle huwelik is drie seuns en ’n dogter gebore. Anton de Kom se bydrae tot die opkoms van ’n swart bewussyn in beide Suriname as eerdere Nederlandse kolonie en in Nederland sélf, kan in Suid-Afrika vergelyk word met Steve Biko en die Black Consciousness Movement. Toe hy en sy gesin in 1933 vir vyf maande teruggaan Suriname toe, is hy in Nederland as ’n gevaarlike kommunis beskou. In Suriname rig hy binne die eerste maand ’n adviesburo op vir die arbeidsregte van arbeiders. Nie lank daarna nie word hy vir drie maande in die gevangenis Fort Zeelandia gestop. Die rede? Omverwerping van gesag. Toe hy en sy gesin in Mei 1933 na Nederland terugkeer, is hy as ’n held ontvang. Oupa De Kom se bekendste boek was Wij slaven van Suriname (1934, Uitgever De Baanbreker). Hy het ook vir die onwettige Haagse tydskrif De Vonk geskryf. Anton de Kom word deur die Duitsers gevange geneem en sterf op 29 April 1945 – ’n paar dae voor die einde van die tweede wêreldoorlog – in die Duitse konsentrasiekamp, Sandbostel.

Hierdie agtergrond is nodig om te verstaan waarom kleinseun en digter Antoine de Kom homself op die webwerf van Poetry International bekendstel met die woorde: “My identity is much darker than the way I look.” Hy was tydens sy jeugdige verblyf in Suriname verras dat hy as kleinseun van Anton de Kom as die “white Dutchman” beskou is. Na twee geslagte in Nederland is De Kom baie witter as wat hy oor homself voel. Dit was die vonkie van sy eie lewenslange identiteitskwessie, wat saam met ’n begrip vir die tropiese bewussyn sy digterskap vandag teken.

Hy debuteer met Tropen (1991) en word dadelik genomineer vir die C. Buddingh’-prys. Daarna volg De kilte in Brasilia (1995) en Zebrahoeven (2001). Twaalf jaar later verskyn Ritmisch zonder string en beskryf die NRC-Handelsblad die bundel op die omslag:

“De Koms gedichten zijn één en al spanning en contradictie: tussen Europees en ‘tropisch’, blank en zwart, het bijzondere en het universele, structuur en ontbinding, Mallarméaans formalisme en ‘onzuiver’ engagement, persoonlijkheid en ontindividualisering, sensualiteit en reflectie – niet tot een verzoening te brengen tegenstellingen die hij als Surinaamse Nederlander van gemengd bloed letterlijk belichaamt.”

Hierdie bundel is in Suid-Afrika ook bekend, want Die Burger hou dit kort en kragtig by:

“In sy bedaarde voordrag smeul ’n woede getemper met humor.”

In Ritmisch zonder string is daar baie verwysings na lande rondom die Middellandse See. De Kom het al gedige in Istanbul en Damakus geskryf en na Suid-Afrika, Honduras en Hawaii gereis. Hierdie vreemde wêrelde word in die bundel gekombineer met sy visuele taalgebruik. Hy is nie bang om uit die slang van Sranantongo (of Negerengels, vandag meer beïnvloed deur Nederlands) en folklore vir sy gedigte te put nie. Dit dra by tot ’n besonder kragtige aanbod van poësie.

De Kom is in sy werk geneig om die tradisionele versvorm te ignoreer deur die grense van poësie te probeer opskuif. Dit doen hy in die vorm van prosagedigte. Tog moes hy erken dat hy baie versigtig moet wees dat die boodskap nie die oorhand kry nie, soos wat dit dikwels in Surinaamse poësie die geval is. “With me the aesthetic always has to hit back at the ethical aspect.”

Antoine de Kom se poësie getuig van groot toewyding. As Afrikaanse leser voel ek in sy gedigte die son prik en die stof onder my kaalvoete, terwyl die hond warempel nog ’n voël gevang het. Dis baie herkenbaar. En tegelykertyd is dit eksoties met ’n leë hangmat, beloftevolle wisselvingers, ’n dreunende beat wat aangewaai kom op die wind… en ander vreemde woorde waaraan ons in sy gedigte kan proe. Daar wag ’n fees in Rotterdam. En deel van fees is dat die Afrikaanse digter Charl-Pierre Naudé ook gaan optree.

Lees hieronder die Afrikaanse vertaling van noudat die son (p.59) uit Ritmisch zonder string.

.

noudat die son

laer hang is dit des

te warmer en ek vrees dat

êrens – die jongste

van ons honde het pas ’n duif opgeëet.

klein bruin veertjies oor die plaveisel

verspreid. ek het gister vir myself

 gewaai. ek sal more

vroegoggend die land verlaat

kaalvoet.

die honde maak asof hulle slaap.

my hangmat is leeg. bo die kus

dryf die rooi en wit van voëls

deur die groen. ek ruik soos hout

tog bietjie surig. en verder is daar stof

en natuurlik die gevoel om uiteindelik

hier tuis te hoort: by die cambio* was daar

die klein wisselvingers van ’n bruid sy

doen dinge en het

nog gou-gou iets liefs gesê oor betaal

betaal maar en kyk

het sy gesê terwyl sy op skulpsand by die see staan.

vanuit die verte het ’n dreundende techno

beat aangewaai. en ek sal netnou

aangespreek word en dan

sal dit blyk dat ek nie bestaan nie dat familie

in my plek gekom het in

klere uit ’n baie ander tyd as ons s’n

hulle kleur en tongval oorval my net soos

die beat op die wind

wat laat in die middag opsteek toe

omgevalle leë bokse teen die kar streel

terwyl daar laos* in die son lê en droog

op ’n beteëlde tafel

*cambio – winkeltjie waar jy geld (euro’s vir die Surinaamse dollar) kan ruil inruil teen die jongste wisselkoerse

*laos – ’n soort gemmerwortel, maar kleiner en donkerder as gemmer

Vertaling @ Carina van der Walt

 

Antoine de Kom

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Carina van der Walt. In aanloop tot Poetry International, Rotterdam 2014”

  1. Dankie, Carina – baie interessant! Met Weltklang (wat n naam!) begin die 15de Berlynse Digtersfees op 5 Junie met o.a. Phillippa Yaa de Villiers en Ko Un.

  2. carina van der walt :

    Ek moet dankie sê, Engela. Deur jou kommentaar is my nuuskierigheid geprikkel i.v.m. die Suid-Afrikaanse digter Phillippa Yaa de Villiers. En ja, ek was ook nie bewus van die Berlynse Digtersfees nie. Een van my gunsteling digters, Les Murray (Australië), sal ook deelneem.

  3. Carina, slawe in Suriname in 1933?

  4. carina van der walt :

    “arbeiders” Daniël. Nou’s dit reg, maar vir die interessantheid, kyk gerus op:
    http://www.antondekom.humanities.uva.nl/

  5. carina van der walt :

    @ Daniel: Maar miskien is dit tog ‘n bietjie ingewikkelder as net die verandering van ‘n woord? In 1933 was Anton de Kom die beliggaming van die Surinaamse bewussyn dat hulle die kinders van slawe is. De Kom het self ook na sy Surinaamse landgenote as “slawe” verwys, hoewel dit nie meer so letterlik die geval was nie. Nederland was in die dertigerjare van die vorige eeu nog steeds die blanke koloniale mag wat bepaal het wat, hoe en wanneer dinge (ook rondom arbeid) in Suriname mag gebeur. Suriname het eers in 1975 onafhanklikheid gekry.

  6. carina van der walt :

    Poetry International 2014 – vir ‘n glimpsie in één dag se gebeure, digters en lesings (o.a. van Charl-Pierre Naudé) kliek op:
    http://fleursdumal.nl/mag/index.php?s=poetry+international&x=6&y=12