Resensie: Die Roebaijat, Omar Khajjam. (Vert. Daniel Hugo)

Omar Khajjam: Die Roebaijat. Vertaal deur Daniel Hugo. (Protea Boekhuis. ISBN: 978-1-4853-0086-1. Prys: R150. 76 bladsye. Sagteband.)

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

Uit die digterlike tulband van Omar Khajjam

omslag

Waarom ʼn versameling kwatryne lees van ʼn digter wat in 1048 in Persië gebore is, en wie se lang gedig (soos dit soms beskou word) reeds ses keer tevore in Afrikaans vertaal is sedert die publikasie van Edward FitzGerald se eerste Engelse uitgawe in 1859? Sou dit iets beteken dat daar al meer as 650 uitgawes van verskillende vertalers verskyn het, dat die teks deur 150 kunstenaars geïllustreer en deur meer as 150 komponiste getoonset is?

Iets besonders moes daartoe gelei het dat o.a. C.J. Langenhoven, C. Louis Leipoldt, Herman Charles Bosman en Abraham Jonker aan hierdie verse ʼn Afrikaanse gedaante gegee het, en I.D. du Plessis se Engelse weergawe ingesluit is by ʼn huldigingsbundel ten tye van sy 80ste verjaardag. Onder die Nederlandse vertalings tel dié van die bekende digters J.H. Leopold en P.C. Boutens.

Die naam van die digter Omar Khajjam is alombekend, en so ook die titel van sy Roebaijat, die bes verkoopte gedig van alle tye. Maar uit gesprekke sou dit blyk dat daar net hier en daar lesers is wat kennis dra van hierdie digter, en dat hy ook ʼn sterrekundige, wiskundige en filosoof van formaat in die Islamitiese wêreld van die elfde eeu was. Veral vir die jonger geslag is die woord Roebaijat so vreemd soos “toeps” vir die ouer garde. Dit alleen is genoeg rede om Daniel Hugo se kraakvars Afrikaanse vertaling van Khajjam-kwatryne onder lesers se aandag te bring – afgesien van die waarde van die werk self.

Etlike van die vertalings word vergesel van ʼn voorwoord oor die geskiedenis van die skrywer en sy kwatryne, sowel as inligting oor die verskillende vertaalvariante. Dit kan lesers met groot vrug self bestudeer. Jammer genoeg het nie almal toegang tot die talle uitgawes wat in die Universiteit van Stellenbosch se J.S. Gericke-biblioteek en ander biblioteke in ons land gehuisves word nie. Die internet bied ook ryke stof, maar gelukkig word Hugo se keuse van ʼn vyftigtal kwatryne (met FitzGerald se Engelse vertaling op dieselfde bladsy afgedruk) voorafgegaan deur interessante toeligting omtrent Khajjam en die destydse Persiese leefwêreld, sowel as aantekeninge oor vorige vertalings. ʼn Besoek aan jou naaste boekwinkel bring dus die hele pakket binne handbereik – net die regte doepa teen die winterweemoed.

Die gewildheid van die Roebaijat is waarskynlik te danke aan ʼn samespel van verskillende faktore. Eerstens het FitzGerald se oorspronklike vloeiende Engelse vertaling die werk aan die Westerse wêreld bekendgestel. Die beknopte en maklik leesbare “lewenswyshede” het in die smaak geval van ʼn leserspubliek wat in die neëntiende eeu gereed was vir ʼn vermenging van speelsheid en erns, waarmee die kwatryne, ook danksy hul inhoud, ʼn alte sobere Victoriaanse lewensinstelling op sy kop gedraai het. Daarmee saam sou die eksotiese milieu waarin die stof ingebed is die verbeelding prikkel, sodat dit geen wonder is dat hierdie stuk antieke erfgoed uit die Midde-Oosterse kultuur met verloop van tyd klassieke status verkry het nie, en tot vandag toe nog groot leesplesier verskaf.

Vervolgens ʼn paar opmerkings omtrent oor die inhoud en vormgewing in die Afrikaanse vertaling uit Hugo se hand – ʼn produktiewe digter en vertaler wat onlangs met die S.A. Akademie-prys bekroon is vir sy vertaling van die Vlaming Tom Lanoye se roman Sprakeloos. Hugo is dus by uitstek geskool om ʼn werk soos die Roebaijat in ʼn Afrikaanse djellaba te klee, omdat elke poësievertaling en/of herdigting ʼn skepping in eie reg is wat aan die oorspronklike teks ʼn nuwe aanskyn gee.

Voordat ek enkele van die kwatryne vir my bespreking uitsonder, wil ek lesers daaraan herinner hoe moeilik dit is om poësie te vertaal, omdat dat daar in hierdie genre nie slegs met eksplisiete en implisiete woordbetekenisse, letterlike omsettings en moontlike ekwivalente gewerk word nie, maar met die volle digtersinstrumentarium. Die vertaler moet deurentyd rekening hou met tegniese aspekte soos versbou, beeldspraak, klankwaardes en ritme, en in die geval van die Roebaijat, ook met die vereiste eindrym in die eerste, tweede en vierde versreël van elke kwatryn. Dit is dus nie vreemd dat ʼn mens dikwels hoor dat gedigte onvertaalbaar is, en dit geen doel dien om eens te probeer nie. Louter onsin, natuurlik, want dieselfde sou dan moes geld vir byvoorbeeld die digterlike Bybelboeke soos die Psalms, Spreuke en Hooglied. Sou ons dit maar as “onvertaalbaar” moes beskou en toelaat dat dit aan die res van die mensdom verbygaan? Dieselfde geld vir die poësieskatte uit die Duitse, Franse, Spaanse, Russiese en ander wêreldtale, om maar enkeles te noem. Ek verwys doelbewus nie na die Nederlands nie, omdat baie Afrikaanssprekendes van mening is dat hulle die gedigte in hul onvertaalde vorm kan lees, terwyl dit om verskeie redes tog nie gebeur nie. Gelukkig het Hugo ook al ruim bygedra tot die vertaling van Nederlandse gedigte in Afrikaans, soos dié van Rutger Kopland, Gerrit Komrij, Herman de Coninck, Miriam Vanhee, en meer onlangs, dié van Alfred Schaffer.

Ideaal gesproke moet ʼn poësievertaler self ʼn digter wees om kreatief met die teks te kan woeker, sodat al die nuanses en moontlik versteekte toespelings van die brontaal ook in die doeltaal sal klink. Dit is ʼn groot opgaaf. Hoe word hierdie tergende sluierdans gedans; wat bly bedek, of word by wyse van spreke ontdek? Hieroor bestaan daar verskillende benaderings en teorieë. Om dit eenvoudig te stel: in sommige gevalle word daar na ʼn inhoudelik akkurate vertaling gestreef – wat in die brontaal staan, moet presies so, of minstens naasteby, in die doeltaal staan. Sekere digters dring trouens daarop aan dat hul werk op dié wyse vertaal word – iets wat die vertaalarbeid oneindig kompliseer, omdat ʼn letterlike vertaling kwalik kan laat reg geskied aan die poëtiese elemente waardeur die oorspronklike teks in die brontaal beslag gekry het. Ander kere weer, rig ʼn vertaler hom meer bepaald op die vormgewing, en probeer hy om die digter se aanwending van vormtug so getrou moontlik in die vertaalde weergawe te simuleer. In so ʼn geval is dit onvermydelik dat sommige van die inhoudelike aspekte of die spesifieke woordgebruik opgeoffer word ter wille van verstegniese vernuf. Meestal word hierdie twee benaderings gekombineer of afgewissel om ʼn nagenoeg suksesvolle vertaling staan te maak.

Daar is egter ook ʼn ander opsie. ʼn Vertaler mag verkies om eerder die essensie en “gees” van die gedig te behou, meer vryhede met die inhoud en vorm van die bronteks te neem, en ʼn nuwe, afgeronde gedig te skep wat in aard en wese met die oorspronklike saamval. Na regte sou dit as ʼn herskrywing bekend moet staan, maar nietemin ʼn verantwoorde weergawe, soms met behulp van alternatiewe beeldspraak of woordkeuses, gewysigde reëlbreuke, ander rympatrone (of die weglating daarvan), en allerlei herrangskikkings, soos wat FitzGerald deels in sy Engelse Roebaijat gedoen het. Een gevaar van so ʼn vryer vertaling is dat die oorspronklike milieu en kultuurgebonde inkleding verlore mag gaan. Tog het FitzGerald volgens verskillende kommentators grootliks getrou gebly aan die Persiese leefwêreld, en kon Hugo dit in die Afrikaans oorneem; let byvoorbeeld op beide die digter en vertaler se beeldspraak en verwysings in die reeks pottebakkersgedigte. In navolging van sy voorganger, maar ook waar hy sy eie oplossings moes vind om die teks Afrikaans te laat praat, handhaaf Hugo se vertaling ʼn goeie balans. Hy gaan skeppend en innoverend met die taal om, maar wyk in die meeste gevalle nie drasties af van FitzGerald se weergawes wat vorm en inhoud betref nie. Tog is hy op plekke deur die struktuur en ook die inherente en ritme en klank van die doeltaal gekortwiek en moes hy hom sekere vryhede te veroorloof – ʼn ou probleem, en een waar die keuses van die vertaler nie noodwendig in almal se smaak val nie.

Die probleem word natuurlik nog groter as die bronteks in ʼn baie definitiewe vorm gegiet is, soos juis in die geval van Persiese kwatryne. Die vertaler moet hom in so ʼn geval hou aan die tradisionele vierreëlige strofes – hoe moeilik dit ook mag wees om alles op ʼn ooreenstemmende wyse in die doeltaal ingepas te kry. Ewe lastig is die vaste rympatroon (hier aaba), omdat die inhoud hom nie altyd ewe gemaklik laat giet in die beskikbare rymklanke van die doeltaal nie, en die metrum ook nog behoue moet bly. Hierin slaag Hugo in die meeste gevalle, maar op plekke kan ʼn mens verskil oor sy aanwending van klankaksente en ritmiek. Dit bring egter nie die oorkoepelende waarde van sy vertaling in die gedrang nie.

Inhoudelik verskil die Roebaijat nie veel van kwatryn tot kwatryn nie, sodat Hugo met veiligheid ʼn verteenwoordigende keuse kon maak uit die kwatryne wat hy wou vertaal. Volgens sy artikel in Rapport Weekliks van 11 Mei, het hy hom laat lei deur die vertaalbaarheid en trefkrag wat elke vers in Afrikaans sou hê. Baie van die kwatryne is wat inhoud betref nogal moedswillig, en ʼn konserwatiewe leser sou dit as epikuristies, hedonisties en selfs rebels kon beskou. Dit kan egter ook gelees word as filosofies-ironiese verse wat iets ontbloot van die menslike onmag en ons vergeefse pogings om iets van die lewe en die Godsbegrip te verstaan. Dit kan nog ʼn rede wees waarom hierdie verse ná nege eeue nog waardeer en geniet word – dit gaan ook oor die raaisels van vandag, en oor maniere om dit te troef, al word dit vermoedelik met die tong in die kies gesê – en mag dit selfs ʼn omgekeerde uitwerking hê en tot stigting en lering lei!

Maar ook die tegniese kwessies moet krities bekyk word. Die openingskwatryn in Hugo se vertaling (waarby die Engelse weergawe bokant die Afrikaans in die bundel afgedruk word) lui as volg:

Awake! for Morning in the Bowl of Night

Has flung the Stone that put the Stars to Flight:

And Lo! the Hunter of the East has caught

The Sultán’s Turret in a Noose of Light.

 

Ontwaak! Die oggend het in die kom van die nag

die blink klip geslinger wat die sterre laat vlug.

En kyk, die ruiter uit die ooste het

die sultanstoring gevang met ’n lasso lig.

Hier bly Hugo getrou aan die teksinhoud, iets wat dit vir enige vertaler moeilik maak om die ooreenstemmende rympatroon en ritme na te volg. Hy gebruik uit noodsaak die woorde “nag” en “vlug”, wat dan deur halfrym weer aansluit by “lig” in die slotreël. Dit lyk na ʼn onbegonne taak om ander rymwoorde te vind wat dieselfde gedagte sou oordra (lesers kan gerus self probeer). Wat die metrum betref, volg FitzGerald die klassieke vyfvoetige jambiese maat wat op tien lettergrepe per reël uitloop, en waarvan elke tweede een beklemtoon word. Om dit in hierdie bepaalde kwatryn ook in Afrikaans te bemeester, lyk haas onmoontlik – tensy die inhoud redelik drasties aangepas word. Gevolglik het Hugo besluit om in reël 1, 2 en 4 twaalf lettergrepe gebruik, wat sy prerogatief is, maar hier val die aksente ietwat ongemaklik en versteur dit die ritmiese vloei van die vers. Lesers kan self met die voet of vinger tydhou, maar diegene met ʼn musikale aanvoeling sal dit spontaan aanvoel.

As mens puntenerig is oor ritme, daag dit jou natuurlik uit om self alternatiewe oplossings te vind (ʼn lekker speletjie voor die kaggelvuur). Een werkwyse, steeds ter wille van die metrum, sou wees om die bronteks se verledetydsvorm links te laat en die hele gedig in die hede te plaas, maar dan staan daar weer iets anders as wat die outeur geskryf het, en word die klassieke teks tot ʼn mate verraai. Soms is dit egter die beste of enigste uitweg. Om nader aan die maatslag te bly, sou ʼn vertaler byvoorbeeld as volg te werk kon gaan:

“Ontwaak! Die dag werp in die nag se kom

die klip wat sterre op die vlug laat slaan:

en kyk, die jagter uit die ooste vang

die sultanstoring in ʼn lus van lig.

 

In hierdie voorstel word die ritme, inhoud en beelde behou, asook die aantal lettergrepe en die ritmiese aksente in die Engels wat hier as brontaal dien, maar van die eindrym (en die mooi woord “slinger”) bly daar niks oor nie, met slegs ʼn mate van binnerym aan die einde van reëls 2 en 3, wat juis nie bedoel is om te rym nie. Elke vertaler besluit egter self watter oorwegings in ʼn bepaalde geval sal geld, en deur watter vertaaltegniek die poëtiese kwaliteit van die vers ten beste tot sy reg sal kom. En nie net vertalers nie, maar ook lesers en kritici sal daaroor verskil. Dit gaan dus in hier nie oor ʼn “korrekte” of “beste” vertaling nie, maar oor die interessante moontlikhede van die spel.

Argumentshalwe word ook D.B. van Soelen se vertaling uit 1965 hiernaas gestel. Hy behou die rympatroon sowel as die metrum met ʼn redelike mate van sukses, maar neem meer vryheid met die inhoud, veral ten opsigte van “verwelk”, waardeur hy die idee van “vlug” verloor, asook by sy keuse van “die toring … wit soos melk” in die slotreël, wat darem baie ver staan van die tipies Oosterse sultanstoring, en waar sy “ligsnoer” ʼn veel sagter, sierliker konnotasie het as die oorspronklike gedagte van ʼn “noose”, deur Hugo vertaal as “lus” (met die vang-motief):

 

Ontwaak! Die dag werp in die nag se kelk

die klip wat sterrebeelde laat verwelk

En kyk! Die Jagter uit die Ooste vang

die toring in ʼn ligsnoer wit soos Melk!

 

En laastens, by wyse van vergelyking, kan mens ook kyk na die vertaling van C.J. Langenhoven, wie se teks aantoon hoe selfs kleure in die mond van verskillende vertalers ʼn transformasie ondergaan, amper soos daardie ronde suiglekkers van ouds – let maar op na die slotwoord:

 

Ontwaak! Sien in die nag se kom gegooi

die oggend-klip, die sterre is verstrooi.

En kyk! Die Jagter van die Ooste vang

Die sultans toring in sy strik van rooi.

 

Ja-nee, soveel vertalers, soveel kleure, en dit terwyl FitzGerald glad nie eers na kleur verwys nie! Dit illustreer hoe vertalers aan soveel aspekte tegelyk moet aandag gee, sodat hulle dit soms waag om hul lyf in meer as een opsig verkleurmannetjie te hou.

Nie alle vertalers van Khaijjam het dieselfde gedigte gekies of dieselfde volgorde behou nie. In die oorspronklike teks het die volgorde in elk geval geen samehang getoon nie, en bowendien kom daar ook nie in al die nagelate Persiese manuskripte dieselfde aantal gedigte voor nie, wat dus aan vertalers ruimte laat om die geheel na eie goeddunke te struktureer.

Een van die bekendste kwatryne uit Hugo se keuse (van vyftig) is die volgende (no. 33):

The moving Finger writes; and, having writ,

Moves on: nor all thy Piety nor Wit

Shall lure it back to cancel half a Line,

Nor all thy Tears wash out a Word of it.

 

Wat die Hand ook al skryf, sal ingegrif

bly staan; niks van jou vroomheid of vernuf

sal Hom iets laat wysig nie, en geen

enkel traan wis ’n woord van daardie skrif.

 

Wat hier in die vertaling ontbreek, is die beeld van die bewegende, skrywende vinger wat die vers so visueel treffend maak. Dit is vreemd dat Hugo dit onderspeel, veral ook omdat sy vers nie ritmies bevredig nie. Langenhoven het dit anders gestel, weliswaar met ʼn wins aan die begin, maar ʼn onbevredigende slot waar die rymwoord “daar” soos ʼn stertjie hang, en ook te veel klem kry:

 

Al-skrywend skryf die Vinger eenmaal klaar

En al jou Kuns en Vroomheid saamgegaar

Sal hom nie truglok om ʼn woord te skrap

Jou trane nie ʼn letter uitwis daar.

 

In een van die kwatryne wat die skynbare vergeefsheid van die lewe benadruk (no. 15), bou Hugo die Oosterse beeld van die “Muezzin” uit deur ʼn “minaret” te gebruik – een van die mooi vondste in die bundel, waar die derde en vierde reël in die Afrikaanse teks boonop ritmies nommerpas loop:

 

Alike for those who for TO-DAY prepare,

And those that after a TO-MORROW stare,

A Muezzín from the Tower of Darkness cries,

‘‘Fools! your reward is neither Here nor There.’’

 

Daar is dié wat slegs lewe vir vandag

terwyl ander hoopvol op môre wag.

’n Donker man roep uit die minaret:

‘‘Vergeefs dat jul na ’n beloning smag.’’

 

Kwatryn no.16, met sy allitererende eietydse woordkeuse (“prof” in reël 1), sal vermoedelik vir die jonger leser die spyker op die kop slaan:

 

Why, all Saints and Sages who dicuss’d

Of the Two Worlds so learnedly, are thrust

Like foolish Prophets forth; their Words to scorn

Are scatter’d, and their Mouths are stopt with Dust.

 

Die redenasies van profeet en prof

oor tyd en ewigheid sal gou verdof;

môre word hulle verkeerd bewys en

ten slotte is hul monde propvol stof.

 

ʼn Ander gunsteling, wat die kostelike gedagte-inhoud sowel as die Afrikaanse vertaling betref (ondanks geringe ritmiese steurings in beide die Engels en Afrikaans), is no. 17:

 

Myself when young did eagerly frequent

Doctor and Saint, and heard great Argument

About it and about; but evermore

Came out by the same door as in I went.

 

Toe ek jonk was, het ek graag gaan luister

hoe doktor en dominee oor duister

dinge redeneer. Nou is ek grys

en die ware weg nog altyd byster.

Om nie al wat djin is uit die flesse te laat nie, stuur ek liewer die lesers direk na die boek. Hierdie spreukagtige, speelse verse bied iets wat ons nie in die eietydse Afrikaanse poësie aantref nie – hoe dankbaar mens ook al vir die ryke plaaslike spyse is. Die Roebaijat is koningskos vir dié wat hou van rym,humor, vinnig lees en wysheid in een mandjie, en waardering het vir verskuns uit verre oorde en vergange tye. Hugo het sy eie digterlike tulband keurig gevou en die vertalersfluit vaardig bespeel; kyk maar hoe kartel die Afrikaanse kobra uit Khaijjam se kruik. Pure Persië.

 

Tot slot, ʼn knertsie vir die pad (no. 25):

 

Kortstondig trek ons deur hierdie dor woestyn,

kortstondig drink ons by die oase wyn.

Skink gou! Die karavaan gaan met dagbreek

verder en die môrester het alreeds verskyn.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.