Resensie: vyf-en-veertig skemeraandsange (Breyten Breytenbach)

Breytenbach, Breyten. vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte. (Kaapstad: Human & Rousseau, 2014).

Resensent:  Heilna du Plooy

omslag

Is dit belangrik dat daar in Afrikaans soveel digters is wat vir dekades lank aktief bly skryf, selfs as die dekades meer word? Is hierdie verskynsel opvallender in die Afrikaanse letterkunde as in die letterkundes van ander tale?

Dit is vrae wat by ’n mens opkom as daar weer ’n bundel van ’n deurwinterde digter soos Breyten Breytenbach verskyn en dan dink jy oor ander digters soos Eybers en Cloete wat al skrywend hulle negentigerjare betree. Selfs Van Wyk Louw en Opperman het tot aan die einde van hulle lewens bly skryf al het hulle nie baie oud geword nie. Volgens oorlewering het die Nederlandse digter Martinus Nijhoff laat in sy lewe gesê hy wil en kan nog ’n goeie gedig skryf, maar hy het nie meer iets om oor te skryf nie, en ander digters begin hulleself herhaal of hulle stemme doof weg. Dikwels word van digters wat jonk sterf, soos Ingrid Jonker of Sylvia Plath gesê dat die onvoltooidheid van hulle oeuvres ’n bydraende faktor tot hulle kultusstatus is want as hulle sou bly leef, weet mens nie of hulle dieselfde gehalte en intensiteit sou kon volhou nie (hulle kon dalk doodgewone ou vroutjies geword het!). Maar dan is daar ’n digter soos Antjie Krog wat inderdaad bly groei en vernuwe en ook inderdaad poësie van hoë gehalte en intensiteit bly skryf. Wat wel duidelik is, is dat dit nie vanselfsprekend is dat ’n digter lewenslank produktief bly nie, ook nie dat die gehalte van die poësie ewe goed bly nie.

In Breytenbach se geval ontbreek dit hom nóg aan stof om oor te skryf, nóg aan tegniese vaardigheid en gehalte. Hierdie vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte is weer eens ’n pragtige bundel wat toegevoeg word tot ’n reeds merkwaardige oeuvre. In Breytenbach se later werk en hier weer, is daar vir my ’n soort verinniging, ’n al hoe subtieler maar ook al hoe meer diepgaande inkeer, al rig die digter sy blik op die realiteit om hom. Ek gebruik hierdie woorde doelbewus so sonder om dit nader te probeer omskryf, want presisering sal in hierdie geval juis die onbeskryfbare effek van die gedigte, die emosie en uitkringende gedagtes wat dit ontlok, verskraal en inperk.

Daar is vanselfsprekend tussen hierdie bundel en ander vroeëre bundels van Breytenbach ooreenkomste en verbande, tematies en tegnies, maar net so vanselfsprekend is daar ook klemverskuiwings, nuanserings, subtiele variasies wat soos ligvlakke skuif en roer. Daar is iets besonder fassinerend daarin om sulke ontwikkelinge in ’n oeuvre te bestudeer want dit gaan om die digter en om sy digterskap wat groei in variasie én in samehang wat sigbaar word in die teruggryp na vorige werk en die uitreik na ’n digterlike en persoonlike toekoms. Maar wanneer ’n mens so na die oeuvre en die betekenis van die digterskap van ’n digter as geheel kyk, moet jy ook nooit vergeet dat elke gedig vir die digter iets op sigself is nie. Die poësieleser moet soos die digter self, elke gedig in sy eie reg benader en waardeer. En as mens ’n bundel aan potensiële lesers voorstel, is dit ook belangrik om te kan verantwoord waarom afsonderlike gedigte in hierdie bundel waardig is om gelees te word. Oor Breytenbach se werk is soveel geskryf en soveel karakteriserings gedoen dat ek hier liewer in spesifieke gedigte wil gaan kyk hoe gedagte-inhoud en poëtiese tegniek saamwerk om betekenis te laat gebeur.

vyf-veertig skemeraandsange open met ’n aanvangsgedig sonder titel wat apart van die res van die verse in kursiewe letters aangebied word en onderteken is met een van die digter se vele aliasse en/of name, naamlik Blackface Afrika. In hierdie gedig word daar in konkrete metafore, soos wat Breytenbach dit by uitstek kan doen, inderwaarheid ’n tematiese intensie en ’n poëtika aangebied. Dit sou dus as ’n soort programgedig beskou kon word.

Die digter verduidelik hoe hy na die “suisende sing van die grond” sal luister, hoe hy die “rokende skrywe nadertrek” en met dom vingers en ’n “onbeholpe mond” die boodskappe uit die verlede probeer verstaan. Die digterlike ingesteldheid is dus een van waarneem en bedink, hoe ontoereikend die proses ook al mag wees. Al is die digter verwyder van die vure  van die “welige” verlede, al is sy geheue “vervloë” en sy woorde koud, is hy nogtans besig om die “babbel” van die dood te “verleer”. Hy is dus nog nie oorgegee aan die gedagte van die dood nie al is die dood “soos ’n swaar geboorte” in hom. Trouens, die gedig eindig met ’n vooruitwysing na die verse wat kom, as ’n “hooglied van besinning”. Al is die verse versinsels, is dit die verse wat die “oopgaandae” vul met “sing en sing en sing”.

Die gedig maak mens opnuut bewus van die materialiteit van die gedig as gedig, van die gedig as iets op sigself en nie net ’n deurskynende teken vir dinge daar agter nie. Die skryf van gedigte, die liriese handeling as sodanig, is ’n lied en al is dit ’n versinsel, dra die maak van gedigte by tot die kwaliteit van die dae van die digter. Omdat gesuggereer word die gedigte gebeur in dae wat oopgaan, is hulle deel van die voortgang en die manier van voortgang van lewe vir die digter. Al word die digtaak en die gedig gerelativeer tot in die fynste besonderhede deur die beperkinge van die oor en die oog, die hand en die mond op te noem, al voel die woorde koud in vergelyking met die vure van die verlede, is die gedig nogtans ’n lied wat die dae laat oopvou.

Die belangrike deurlopende tema van die bundel word hier aangedui, naamlik die gedig as verweer teen die voortgang van tyd, maar ook die liedmatige karakter van die gedig as sodanig. Die tydsbewusheid in die gedig onderstreep die titel van die bundel wat aandui dat dit “skemeraandsange” is en die poëtikale bewustheid sluit aan by die aanduiding “uit die eenbeendanser se werkruimte”.

Die eerste gedig daarna “1. ek het gedroom” gaan dan ook inderdaad oor die gedig. Die digter droom die gedig kom staan soos ’n figuur in die deur. In hierdie pragtige eenvoudige gedig, word in gestroopte taal beskryf hoe die gedig ’n boodskap bring en die inhoud van die boodskap lui dat die gedig nie uitgedink of gemaak word nie, maar dat die gedig haarself kom aanmeld. Die eienskappe van die gedig kom dan na vore: die gedig wil na die lig gebring word, maar die gedig is ook die donkerte van onbegrip. Die gedig leef in die ooptes en ruimtes want dit hou verband met verbeelding. Die gedig is nie vas en dig nie, die gedig is oopte en vloei, maar die gedig is ook “die verbeelde ding/ waarvan jy toemond sing”.

In hierdie twee gedigte vind mens poëtikale gedagtes waaroor daar lank en indringend gepraat kan word. Die oënskynlike eenvoud van die verse verberg inderdaad diepgaande besinning oor die aard van die skryf van poësie maar die aantreklike is dat dit hier steeds in die treffende metaforiek van goeie poësie neergeskryf word. Die gedigte is dus inderdaad ikonies van dit waaroor hulle handel, hulle illustreer die aard en die funksie van die medium waarvan hulle deel is.

Wat telkens weer aan die orde gestel word, is die betekenisskeppende vermoë van die gedig deurdat dit letterlik die skemer van die lewe oop en ryk kan dink en verbeel omdat die verbeelde versinsel nogtans ’n hooglied kan wees. Dit bly so ten spyte daarvan dat hele proses en die resultaat relatief tot die waarheid en die werklikheid is en die aanspraak op uiteindelike betekenis steeds verdag. Hierdie gedagte – die gelyktydige beperktheid en misterieuse vermoë van die voëls en van die digter se sang – staan voorop in “klein etimologiese les” (p.10). Die digter se stem steek af teen die sang van verskillende voëls wat nie “opgeskryf” hoef te word “as uiteensetting van aanhoulewe sedert die aanvang van tyd nie”. Die digter bid net met “skamele gebiedstameling” sy “nabootsing van nagmaal onder die hemp”, maar hierdie soort bid kan wel die “vlugwete van son as ster”, m.a.w. die gang van tyd en die onafwendbaarheid van verganklikheid, verdoof. Die gedig kan dus werk!

Breytenbach se intense bewustheid van meerledigheid, die meerledigheid van alle dinge en van betekenis is weer eens ’n deurlopende aanwesigheid in die verse, en dit is baie interessant hoe tyd en ruimte sodoende gekompliseer word. Die verse gaan terselfdertyd en gans vervleg oor die terugreik na wat agter lê en die uitreik na vorentoe net soos wat hierdie aspekte van menswees in die lewe self onlosmaaklik en ononderskeibaar vervleg is. In die gedig “my vriende” (p. 12) beskryf die digter hoe sy vriende van die verlede (ontnugter en ouer en wyser) nou stilweg leef, of dood is, of die tyd verwyl met lees en skryf. Die slotsom is dat hulle uit ervaring weet “die wêreld is nie daar om verander te word nie”, want alle drome en ideale word deur die werklikheid getemper. Dit is die verwoording van ’n gedagte wat ek met groot instemming gelees het maar ook met die koue hand van waarheid om my hart.

“die zar-partituur” (p. 14) is ’n vers oor die liefde en die geliefde, ’n tydlose vers oor die tydloosheid van die sorgsaamheid oor en vir die geliefde, maar die onafwendbaarheid van Jantjie Dood as die spanleier vir die digter met al sy dubbelgangers en spieëlmakkers, is net so ’n werklikheid (p. 22). Gedig nommer 7 (op p. 23) is Breytenbach se verjaarsdaggedig vir 2012, soos wat hy elke jaar op 16 September vir homself ’n gedig skryf. As ’n soort bestekopname kom daar uit die gedig ook die ontnugtering met die wêreld na vore soos in van die voorafgaande gedigte. Die digter noem oorlog en grypsug en die voortwoekering van lande met mag wat staan teenoor die “kleinweesweet van menswees”. Daar is baie manifestasies van mag wat die enkeling ondergedoke hou, maar die digter hoop tog dat daar nog regverdiges is “wat tog net aanhou skyn”. Hier word die gedig weer beskryf as ’n uitvlug die “plek […] waarheen voëls kom om blind te sterf”, want die digter wat in ’n “ander taal leef” om nie weet hy gaan dood nie, tel ’n klip op “om so gewapen die dood tegemoet te gaan”.

Natuurlik is die klip oneffektief teen die dood, maar dit is wel ’n wapen en ’n troos. Die digter is dus gekonfronteer met die aaklighede van die wêreld, met die magteloosheid van die klein mens wat net moet probeer oorleef, maar die digter bewapen en troos homself in die gedig terwyl hy ook weet dat die gedig net so min tot verweer in staat is soos ’n klip teen die dood.

Daar is in die bundel baie verskeidenheid. Daar is gedigte met ’n verhalende onderbou (“10. Naak in Benarés”, p. 31, waarin die digter ’n verbeelde verhaal vertel oor die relatiwiteit van pryse, spesifiek die Nobelprys, en “24. Eine kleine Nachtmusik” oor Walter Benjamin/Benedix Schönflies , p. 59), daar is tallose gedigte wat as ’n veronderstelling aangebied word (6, 13, 23, 30), ander wat ’n versugting uitspreek (32, 37, 38) of ’n uitroep is (35, 12.4).

Maar die oorkoepelende samehang van die bundel is ook belangrik. Daar is by die variasie ’n toenemende vervlegtheid van die tematiek, van die verlede en die hede en die toekoms, die dood, die liefde (veral die liefde) en die gedig. Die digter sing voort, van sang tot sang, van skemersang tot skemersang en selfs wanneer dit gaan oor die koue kennis wat met jare kom en oor die onveranderlikheid van die wêreld, bly die digter tog glo in dinge wat vir hom belangrik is. Hy hou ten spyte van al die ontoereikendhede en ten spyte van sy eie ondermyning vas aan die gedig en aan die liefde.

Waar die bundel begin met die gedig oor die “gedig in die deur” waarin die digter tog die moontlikheid van lewe in die oop plekke sien, betreur hy in die 43ste  skemersang dat sy gedigte nie die “seerkry van aanhou lewe” wat hy graag wil verlig, kan besweer nie. Die 44ste skemersang gebruik die aanvangsgedig as motto en lui so die slot in, waar die afsluiting van die bundel aansluit by die begin.

Die slotgedig (“45. ek het gedroom”, p. 98) word ook in kursiewe letters aangebied soos die voorafvers aan die begin van die bundel. In die beginvers praat die digter oor sy voorneme om hoogliedsange te skryf al weet hy dis die dood wat in hom babbel en waar die hele bundel afwisselend met die verlede, die hede en die toekoms gemoeid is, stel die slotvers die onafwendbaarheid en totale verbreking van “Grootsterftenis” aan die orde. As die lewe eindig, is dit of die heelal in “stukke skerf” en die hemel en die aarde ophou bestaan. Daaroor is daar min woorde te sê. Die digter moet in die aangesig hiervan die beperking van woorde begryp en weet dat woorde die denke van nóg die verlede, nóg die hede, nóg die toekoms kan “vasvat”.

Die slot van dié gedig bestaan uit ’n reeksie Zen-uitsprake wat die hele gesprek oor eindes oplug: die mediterende monnik moet skoon voete hê, as jy wil stilbly moet jy dit so doen ”dat ander jou nie hoor nie” sodat jy weer en weer “op die maan mag pis/ sonder dat sy roes”. Daar bly dus altyd ’n alternatiewe manier van kyk en besin oor en daar is altyd die moontlikheid om die gesprek as ’t ware in ’n ander dimensie te laat inbeweeg, dit te verplaas na die domein van die tydlose wat ook ongebonde aan plek is. Die sikliese bou van die bundel word so bevestig.

Dit is merkwaardig hoe die gedigte bly vloei en hoe die tegniese struktuur van elke gedig daartoe meewerk dat die gedagtes kaleidoskopies in mekaar ingroei. Baie van die gedigte is inderwaarheid een uitgesponne maar baie slim gekonstrueerde sin. Die voltooiing van ’n gedagte word soms uitgestel op ’n manier wat die leser van elke versreël na die volgende lei, byna soos in ’n spannende verhaal. Daar is ’n volgehoue ritmiese vloei waaraan die digter self erkenning gee in die voorlaaste gedig: “maar wanneer die ritme jou verlaat/ struikel jy oor die dooie maat” (p. 97). Ritmiese patrone, gekombineer met herhalings en inspelings of toespelings op gedigte onderling en selfs op vroeëre gedigte, maak saam met die tematiese samehang op alle vlakke van die sange meer ’n reeks as los gedigte. Weer eens is ek getref deur hoe moeiteloos wat geskryf word en hoe geskryf word dieselfde aard en trant behou en dieselfde gedagtegange dra.

Breytenbach se skemersange is nie swaarwigtig nie al gaan die bundel in ’n groot mate oor ontnugtering, die onontkombaarheid van nugtere insig en oor naderende eindes. Al hou dit die leser bewus van verganklikheid en die koue kant van die werklikheid op individuele en kollektiewe, selfs politieke en ideologiese vlak, is die verse self die skone vreugde om te lees.

(Heilna du Plooy)

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Resensie: vyf-en-veertig skemeraandsange (Breyten Breytenbach)”

  1. Marianne de Jong :

    Ek verwys na die eerste vyf reels van die sewende paragraaf van die resensie. (“Die gedig maak mens opnuut bewus van…. voortgang van lewe vir die digter..”) Hoe laat ‘n mens in ‘n bespreking reg geskied aan hierdie “materialiteit”? As die gedig “materialiteit” is, hoe kan dit ook “versinsel” wees? Die resensie gee oorwegend diskursiewe(tematiese) betekenis aan die gedigte, maar daardeur negeer dit die “materialiteit” van die vers.

  2. HEILNA DU PLOOY :

    O.

  3. Is die kosmos met al sy stoflikheid dan nie ‘n versinsel nie?

  4. Waldemar Gouws :

    Dis jammer dat die bespreking net kennis neem (om dit sterk te stel) van die een helfte van die titel van die bundel – die bepalende ruimte van die eenbeendanser word negeer. Terloops, indien Sylvia Plath langer geleef het, sou sy godsonmoontlik uiteindelik “as doodgewone ou vroutjie” kon deurgaan. Lees Janet Malcolm se “The Silent Woman.

    In die laaste strofe van “klein etimologiese les” is dit nie die gedig wat “die vlugwete van son as ster” verdoof nie, met HdP se gevolgtrekking dat die gedig dus “werk” nie, maar wel die omstandighede in ‘n bepaalde plek, nl. “in die kloof waar dit groen en dig genoeg is” wat die verdowende effek het.

    Die bespreking lyk ook na ‘n kragtoer t.o.v. die gebruik van woorde wat met “dig” te make het; amper die teenoorgestelde van Perec se een boek wat geen e- gehad het nie. .

  5. carina van der walt :

    Die “O”-kommentaar was so opvallend en anders dat ek hierdie resensie moes lees. Nou’s ek nuuskierig oor die klein digter Dawid met sy klippie(in die slinger?)teen die reus Tyd Goliat! Ook al is die naaste boekwinkel baie ver weg van waar ek in my skryfkamertjie sit… En nog nooit het ek so diep nagedink oor die eenletterwoord “O” se semantiese reikwydte nie. Geen clichéagtige hartstog hierin nie, maar eerder die teenoorgestelde: nugtere relativering.