Joan Hambidge. Beeld se Kunsblad

Johan Myburg debuteer in 1984 met Vlugskrif en sy bundel Kontrafak, tien jaar later, verower die Eugène Marais-prys.

 

Hier is ‘n vers van Myburg:

 

 

Of rage and remembrance

Simfonie no. 1, John Corigliano

Die deur maak oop op ’n party

aan huis van ’n galante paar.

Musiek dra gaste deur ’n portaal,

deur etlike vertrekke waar

mense ritmies dans, bolangs

gesprekke voer, uitgelate lag,

koketterig flankeer; deur skuifdeure

tot buite in die nag,

tot op die terras waar uitgelate

gaste – dié wat om die dood

ongenooid bly – skaduwerig

teen mure beweeg soos groot

akkedisse. Dieper in die tuin

is ’n klavier besig om veraf en flou

die hunkerende melodie

van Albeniz se tango te onthou.

 

http://versindaba.co.za/gedigte/johan-myburg/

 

Kamermusiek verskyn in 2008 by Lapa – ‘n wonderlike bundel.  Gaan lees wat Daniel Hugo hieroor skryf:

http://www.litnet.co.za/Article/van-lofpsalms-tot-klaagliedere-johan-myburg-se-i-kamermusiek-i

Myburg is egter een van ons mees vooraanstaande kunskritici. Gaan lees maar wat hy oor die Wagner-fees geskryf het. Nou onlangs het hy Skulp van Hennie Aucamp geresenseer en hy wys op die verinnerliking van innige wysheid.

 http://www.beeld.com/bylae/2014-05-11-aucamp-se-innerlike-beweging-na-ander-kant

Hy het eweneens ‘n onderhoud met TT Cloete gevoer wat geweldig insigryk is.

https://www.beeld.com/vermaak/2014-05-29-dromend-denkende-digter

En nou ons wat so polemiseer oor Lacan en Derrida en gedigte plaas op die Versindaba: miskien is dit nodig om kennis te neem van die feit dat Beeld se kunsblad gaan sluit en dat ons die kundigheid van hierdie kunskritikus gaan verloor, iemand wat ook waardeer word deur Engelse lesers aan my universiteit.

Ons as digters moet protesteer: ‘n onreg teen een, is ‘n onreg teen almal. Ons intellektuele debat word by die dag kleiner en al hoe meer populisties.

Kom ons neem ‘n standpunt in téén hierdie sluiting van ‘n belangrike kunsblad.

 

Joan Hambidge

 

 

Bookmark and Share

32 Kommentare op “Joan Hambidge. Beeld se Kunsblad”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek stem volmondig met jou saam, Joan. Waar is ons ‘organisasies’ nou ons hulle so nodig het? Ek praat van o.a. PEN Afrikaans… En siende Media24 se jêm in ieder geval uit China kom en hulle hul nie hoef te steur daaraan dat die ‘kleintjies’ geld verloor nie – die Afrikaanse koerante en tydskrifte (al is dit so dat hulle legitimiteit berus daarop dat hulle uit Afrikaner kapitaal gebore is, en vertrou was met die uitbou van diversiteit en die verryking van geestesgoedere – waaraan hulle hul nou afsmeer) – waarom dan so barbaars alles probeer terugsnoei na die kleinste gemene deler van populistiese stront?

  2. René Bohnen :

    Dis ‘n skreiende skande hierdie, ek is baie ontsteld oor die Kunsblad wat sluit. Johan Myburg is van onskatbare waarde, sy artikels altyd insiggewend, intelligent, verrykend. Ek weet nie meer waar om te kla nie! Kan ons iets optrek en teken, iewers?

  3. Desmond Painter :

    Dit is waar dat, vanuit ‘n boekhou- perspektief, Media24 nie die ‘kleintjies’ se geld nodig het nie; maar dit beteken ook enige vorm van protes en aktivisme word bitter moeilik. Boikot jy byvoorbeeld die koerant, gee jy hulle bloot nog ‘n rede (swakker sirkulasiesyfers) om nie net die kuns- en boekeblaaie nie, maar sommer die hele koerant te sluit. Dit is tog immers waarheen dit op pad is. Dit help waarskynlik nie jy noem die barbaar ‘n barbaar nie. So wat maak mens? Ek probeer nie sinies wees nie. Ek dink dit is ‘n egte dilemma: nie net het hulle nie ons besigheid nodig nie; hulle wil eintlik van die albatros ontslae raak! Ek ken nie een Afrikaanse kunsjoernalis wat nie reeds lankal weet hulle oorleef op geleende tyd nie.

  4. René Bohnen :

    Ek lees ook hierdie rubriek van Annemarie van der Walt vandag http://www.beeld.com/opinie/2014-06-26-kuns-is-tog-nie-iets-apart-van-die-lewe

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Jy het gelyk, Desmond. Daar is nie juis veel beweegruimte vir protes nie – nou nie dat protesaksies geneties deel van die meerderheid Afrikaanssprekendes se gereedskapkissie is nie. (Behalwe nou vir ‘n reaksionêre en onbevraagtekende gejammer teen die nuwe bedeling, maar dit gebeur ook maar agter-af en dikwels gesigloos.)
    Dit beteken nog nie dat ons apaties en in-die-mou-mopperend genoeë moet neem met Babilonstoren se afleiwatertjies, tot tyd en wyl daardie leibeurt ook nie meer ‘realisties’ in vloei gehou kan word nie. (Ek weet dis nie wat jy bepleit nie.) Die knieval van ons Afferkanermanne en -vroue voor die dogma van ekonomiese en finansiële ‘haalbaarheid’ is ook nie sodanig eie aan hulle kasregisteraard nie, dit spreek nie van ‘n kulturele spesifisiteit nie – hulle is maar net deel van die profytsugtige Establishment. En hulle wéét van internasionalisme!

    So, punt nommer een is darem dat ons, ten minste as lesers of mense wat glo dat kuns aangewakker vir ons in Afrikaans ‘n onvervangbare waarde het, ‘n protesbrief kan optrek (Joan?) sodat wat vir ons weggelê is nie ongesiens verbygaan nie, al weet ons ook ons spoeg teen die wind.

    En punt nommer twee: ek besef ten volle ons is wesens wat muteer en verbaster in kuberbabbelaars, dis onvermydelik – maar papier gaan deel van ons vel bly. Dis daarom belangrik dat ons op enige haalbare wyse moontlik bly druk, alternatief en ondergronds en samizdat as dit moet.

  6. Charl-Pierre Naude :

    Johann, as jy hier lees, jou blad – en jou openbare teenwoordigheid as kommentator wat ook put uit ‘n rol as gerekende digter – het onmisbaar geword as ‘n brug tussen joernalistiek en die geesteslewe.

    Word enige redes deur Beeld gegee? Dis geweldig deprimerend. Die minste wat mens kan vra is dat Beeld ‘n eenbladsy-motivering vir die skuif gee. Hierdie Kremlin-wyse van opereer, mense wat “per vervoerband” afgedank word – sonder dat ‘n gesig voor jou staan en dit doen, so deur email of iets dergeliks, die manier wat kenmerkend geword het in die Suid-Afrikaanse joernalistiek in onlangser tye, is tog so onaanvaarbaar.

  7. Desmond Painter :

    Breyten, ek stem absoluut saam (1) dat ‘n mens nie nou apaties moet wees nie. Ons het nie juis veel MEER om te verloor nie, so eerder as minder moet mens hulle eintik harder hel gee. (Ek is nie genoeg van ‘n relativis om nie te dink dat mens jou darem tog aan die regte of verkeerde kant van ‘n saak kan bevind nie, ten spyte van filosofiese voorbehoude en historiese nadraaie); en (2) dat mens nie kan ophou druk nie (webblaaie en blogs is fantasties, maar dit is nie genoeg nie). Ek het anderdag die lieflike papierweergawe van Chimurengu Chronic gekoop en gedink: so ‘n ding het ons in Afrikaans nodig.

  8. Desmond Painter :

    NS. As daar byvoorbeeld nou kwartaalliks ‘n LitNET Kroniek of jaarliks ‘n Versindaba Jaarboek in papier kon verskyn… En maadeliks goedkoop nuusbriewe in papier wat verniet in die kliniek se wagkamer, in biblioteke, by die Spar, waar ook al, versprei word.

  9. Joan Hambidge :

    Laat ons geraas maak oor hierdie gesiglose proses. Dit mag nie sommer so verbygaan nie.

    Ek is nie ‘n taalkundige en wil nie voorgee om een te wees nie, maar alle navorsing dui daarop dat ‘n taal deur televisie, radio en koerante gevestig word. Ek glo ook dat daar verskillende soorte Afrikaans gepraat mag word, maar sidder wanneer ek na RSG luister en hoor hoe hoofstroom-Afrikaanse aanbieders nie meer ‘n voorsetsel reg kan gebruik nie. Dan praat ons nie eens van die Afrikaanse musiek (urgghhh) waarna ons moet luister nie.
    Natuurlik is daar nog ‘n Margot Luyt en ‘n Nic de Jager en ‘n Johan Rademan – om drie uit te sonder – maar vaderland, op die internet sit ‘n mens snags met ‘n rooipen om die taaipous te korrigeer van onse dagblaaie …

    En juis hierom is Johan Myburg ‘n joernalis wat deur die jare ‘n besondere standaard gehandhaaf het. Hy het nie die knie gebuig voor die populistiese snert nie en steeds werk van gehalte gelewer.

  10. Maria Snyman :

    Desmond, ek het ook vir ‘n oomblik van daai “maandelikse goedkoop nuusbriewe in papier wat verniet in die kliniek se wagkamer, in biblioteke, by die Spar, waar ook al, versprei word” gedroom, maar wie gaan die koste dra en wie gaan dit versprei?

    Gratis poëtiese toiletpapier (in Afrikaans!) vir vele … iets in die lyn van “toe ek my gat met [daai poëtiese papier (in Afrikaans)] afvee / weet ek ek het vir altyd deur iets gebreek,” soos Krog dit in “verskrikking” in Kleur kom nooit alleen nie stel. Vervuil die land die land met goedkoop kuns & kultuur nuusbriewe … ag hoe asemrowend is die idee!

  11. Desmond Painter :

    Maria, gelukkig het Afrikaners bitter baie geld, so ek is seker ons sou die geld kon insamel!

  12. Leon Retief :

    Mammon het gepraat: jy moet jou aandeelhouers tevrede stel en fok enigiets anders.
    Is daar nog ooit ‘n Afrikaanse koerant wat ‘n bladsy afstaan aan die kunste/musiek/letterkunde?
    Soos voorgestel is die enigste moontlike oplossing dalk om ‘n goedkoop jaarblad te druk en dit gratis te versprei, en ook hier sal Mammon sy pond vleis wil hê in die vorm van advertensies, so nie sal dit finansieël nie haalbaar wees nie.

  13. Wicus Luwes :

    Dis nogal slegte tydsberekening met die debakel oor SABC se Afrikaanse nuus op TV. Gedrukte media is definitief aan die verminder. Miskien is dit n wekroep om gedrukte media soos Dekat ens te ondersteun en miskien bylaes daarby te voeg wat nogmaalweg in die Beeld sou verskyn.

  14. Ek is nie opgelei om ‘n bydrae tot die gesprek te maak nie. Tog stap ek 25 jaar al voort op die pad soos ek dit verstaan vir die bevordering van Afrikaans(1990-99 alleen en sedert 2000 as Cordis Trust). Talle inisiatiewe (alles uit my eie sak)word bloot ignoreer-soos die skep van http://www.dieboektuiste.co.za in die nag volgende op die sluiting van die boekehuis waaroor ek ook saam met Breyten in die pers te velde getrek het. Die kubergeleentheid kon nog nooit van die grond af kom as gevolg van gebrek aan deelname en het die unieke geleentheid van gratis publikasie en selfs afvalpapier notablokke ingesluit. Die wat navraag gedoen het wou weet hoeveel sal betaal word vir bydraes.
    Ek stem saam met die opmerkings, maar hoeveel van die 7 miljoen eerste taal Afrikaanssprekendes en duisende tweede en derde taalgebruikers word daardeur geraak?.
    My pogings is gemik op ‘n balans en kruisbestuiwing tussen die wat weet en die wat graag wil weet, maar nie genoegsame geleentheid kry nie (my siening). Ek werk volgens die aanname dat daar ‘n piramied van skeppende mense bestaan waarvan die grootste gedeelte deur die kubermeganisme bereik, gementor en tot voordeel van Afrikaans bemagtig kan word.Teen ‘n fraksie van die koste van verskeie organisasies maak ek hoofsaaklik van vrywilligers gebruik of huur kundiges wie se kundigheid baie wyd beskikbaar gestel word. Die resep werk.Ek sien die sluiting van die kunsblad as nog’n uitdaging.

  15. Marie Bredenkamp :

    Ek stem so volmondig saam oor die taal wat ons deesdae moet aanhoor. Baie jare gelede, toe ek nog jonk was, kuier ek in Waverley, Pretoria by ‘n onderwysmaat. Sy het ‘n tannie wat daar kuier uit Christiana se wêreld. En elke keer as sy ‘wonder’ oor iets is die volgorde van woorde só: “Nou wônder ek of van het…..” Dit is ‘n uitdrukking wat in ons huishouding oorleef het. As ons iets nie verstaan nie, sê ons: “Nou wônder ek of van het…?”

  16. Marianne de Jong :

    Ek ondersteun Joan en andere se aktivisme en deel hulle frustrasie.Is van huis uit intekenaar. Kunsblad altyd ‘n moet-lees vir my.Vraag aan Beeld/Burger: sal die kunsblad en MM behoue bly as ons almal dadelik inteken op julle web-koerant?

  17. Desmond Painter :

    Ek sou ook wou byvoeg: die radikaal teruggesnoeide BY. Twee jaar, selfs ‘n jaar gelede nog was dit die beste bylaag in die land; nou is die inhoud steeds goed, maar met ongeveer twee-derdes verminder. Dit is ‘n terugslag vir lesers, maar ook vir die baie joernaliste en ander skrywers wat weekliks interessante teks gelewer het.

  18. Desmond Painter :

    In die jongste PEN Afrikaans nuusbrief skryf Kerneels Breytenbach oor die sluiting van die Beeld Kunsblad:

    “Dit is ’n besluit wat ek as joernalistieke barbaarsheid beskou en een wat, hoop ek, deur die bestuur van Media24 met dieselfde pragmatisme benader sal word as wat hulle aan die dag gelê het met hul misplaaste besluit om Volksblad se nek om te draai en dit deel van Beeld te maak.”

    En:

    “Ek doen namens PEN Afrikaans ’n beroep op Beeld om sy Kunsblad in ere te herstel en daardeur na die belange van sowel sy lesers as die Afrikaanse kultuurbelewing in sy verspreidingsgebied om te sien.

    Ek doen die beroep met inagneming van die feit dat Beeld die laaste plek in die noorde van ons land is waar Afrikaanse kulturele joernalistiek nog aktief bedryf word. Die sluiting van Beeld se Kunsblad is ’n marginalisering van die Afrikaanse kultuur vanuit eie geledere.”

  19. Annali Dempsey :

    Natuurlik raak mens emosioneel oor aksies wat onnadenkend voorkom, maar terselfdertyd is die tipiese kunsbladleser bepaald nie onnosel nie. Die globale veranderings in gedrukte media is nie nuwe nuus nie en daar is begrip vir gesonde sakebesluite.
    Ongelukkig het Beeld nie deursigtig met die kunsblad-sluiting omgegaan nie. Geen antwoorde op vrae nie Kortstondige Face Book-oomblik. Nie ‘n mooi verduideliking wat ek in my eenvoud kan verstaan nie.
    Dus vra ek nou weer:
    Watter persentasie van die koerant word deur kunsverslaggewing in beslag geneem?
    Kan die afdanking van drie kundige kunsverslaggewers die koerant se voortbestaan help verseker?
    Word hierdie debatte/protesaksies maar net beskou as ‘n storm in ‘n teekoppie wat geleidelik gaan verdwyn of gaan die besef een of ander tyd tot die media-patriarge deurdring dat hulle belangrike lesers/opinieleiers/kundigheid op die wyse vervreem?
    Wanneer word daar met lesers/adverteerders (wat ‘n publikasie vir jare ondersteun) op demokratiese wyse gekonsulteer om vriendelik te verneem wat hul behoeftes is?
    En, sê ek:
    Kunstenaars in al die verskillende dissiplines is profete wat die tydsgees aanvoel en ‘n samelewing se ellendes en vreugdes weerspieël. As hulle stemme, en die van kunsskrywers, stilgemaak word, is dit laat in die dag.

  20. Buiteblaf Breytenbach :

    Die ontleding, aantyging en pleidooi van Kerneels Breytenbach in Pen Afrikaans se nuusbrief is sterk, aangrypend selfs, en dra die stempel van eie ervaring.

    Ek dink nog ons moet as beswaardes op gekoördineerde wyse gesamentlik in die openbaar protes aanteken. Iewers moet die hak tog in die grond geslaan word al weet ons ook dit gaan geen verskil maak aan die Mammone nie. ‘Bearing witness’ het ook ‘n funksie.

    Daarna moet daar besin word oor die haalbaarheid van ‘n periodieke publikasie toegewy aan die kunste op toeganklike manier. En as mens nou die nodige befondsingsteun sou kon kry om so ‘n blad onder vaandel van PEN aan die lewe te hou? Waar sou die probleem lê? By die verspreiding?

  21. Beeld is besig om in ‘n tipiese poniekoerant te verander. Sensasiesoekende joernaliste met hul histeriese populistiese berigte kry deesdae voorkeur bo kunsskrywers van hoogstaande gehalte soos oa Johan Myburgh! Beeld het Afrikaanssprekendes kunsliefhebbers verraai! Sies!

  22. Waldemar Gouws :

    Beeld is nou Verspeel. Wie is regtig aan die roer daar?

  23. “Facing the loss of language or culture involves the same stages of grief that one experiences in the process of death and dying.” ( Dauenhauer and Dauenhauer: Technical, emotional, and ideological issues in reversing
    language shift, 1998, 78).
    ” The need for a global perspective on language endangerment is…
    urgent and its importance cannot be overestimated.” (David Crystal,
    Language Death, 2000, 99).

    Ek wonder of die ag so magtige Bestuurslede van Beeld besef dat hulle
    hierdeur nie slegs alle kunsliefhebbers wat Afrikaans lees van vandag en die toekoms skaad nie, maar ook dat kwaliteitsverlies nie noodwendig winsgewend moet wees nie.
    Die teenoorgestelde kan eerder verwag word.

  24. Ek stem saam met Breyten se voorstel ivm kollektiewe, openbare
    protes . Saam met lesers, sprekers en skrywers van ander tale. Die koerant
    wat sy kunsblad afskaf, moet teenstand ondervind!

  25. Ek stem. Johan is uiters waardevol vir die industrie.

    Ek wonder of daar nie ‘n nuwe/ander/onafhanklike model vir resensies/rubrieke/opinies geskep moet word nie? Die een na die ander kunsblad/musiek tydskrif/ vou dan…

  26. Die volstruise het meer as een veer laat val in Desember 1963. Die Meisie-
    skool Oudtshoorn word gesluit om met die plaaslike seunskool ge-
    amalgameer te word. n Laaste foto van al die meisies en onderwyseresse plus twee onderwysers op die grasperk voor ons sandsteenskool. Vir my
    die verskriklikste nuus op hierdie dag: Letterkunde, n volwaardige vak
    newens Afrikaans en Engels, word afgeskaf! Later word die mooi klipgebou
    afgebreek en n polisiekantoor met n standbeeld van ‘n konstabel en ‘n
    polisiehond reg op die sypaadjie opgerig. Die storie loop nog verder.
    Die waardevolste voorbeeld van Oudtshoorn se volstruispaleis-argitektuur,
    The Towers, word ook platgeslaan ( as kind was ek so gelukkig om in die
    koetsiershuis te kon grootword) om plek te maak vir n nuwe skool. Ten
    spyte van taamlik sterk protes. Vandag weet nie and eers wat van die
    Oliviers (oorspronklike eienaars) se familie-begraafplaas geword het nie.
    Ten minste staan die ou seunskool (ook sandsteen) nog – as museum met ‘n afdeling vir Joodse geskiedenis op Oudtshoorn waarna destyds as Jerusalem
    van Afrika verwys is.
    Hoe het Sagmoedige Neelsie nou weer gese?
    ‘Om af te breek is geen kuns nie. n Klein babatjie kan n blommetjie verniel
    wat n god gekos het om te maak’.
    n Eggo rol deur die dekades…

  27. René Bohnen :

    Op Litnet het ek hierdie brief raakgelees: http://www.litnet.co.za/Article/brief-n-ope-brief-aan-beeld

  28. Sandra Pretorius :

    Ek het gehoor nadat Beeld belowe het sy kunsblad gaan nie gesluit word nie, is al die lede van die kunsredaksie, behalwe een, afgelê. Is dit aanvaarbaar dat kunsjoernaliste so behandel word? Nou sit hulle almal sonder werk.

  29. Sandra Pretorius :

    Ek het ook gehoor dat daar splinternuwe deftige kantore vir Beeld gebou is wat honderde duisende rande gekos het en dat hulle selfs nou ook hulle eie televisie-ateljee daar het.

  30. Ek het al tien jaar gelede – in 2004 op Litnet – my rougewaad in die openbaar aangetrek. Dit is heel gemoedelik aanvaar. G’n kunstenaar of ander kunsjoernalis het veel daaroor gesê nie.

    http://www.oulitnet.co.za/teaterindaba/kobus.asp

    Nou ja… enigeen kan nou verder op die internet klets, maar drie top-kunsjoernaliste moet einde vandeesmaand elektristeit en water betaal.

    Die base het nog nooit veel respek getoon vir die kunste of kunsjoernalistiek nie. Een redakteur het op ‘n stadium aan ons erken dat ons nie juis betaling vir ons werk hoef te verwag nie, want ons “geniet dit mos”…

    In elk geval, ten minste weet ons nou een ding waarvoor Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, onthou sal word.

  31. Joan Hambidge :

    Kobus, ek het hierdie sluiting op die Versindaba rondom ‘n digter se lewe geplaas.Dis immers ‘n webblad vir digters. Jammer om te verneem niemand het destyds op jou skrywe gereageer nie.

  32. Buiteblaf Breytenbach :

    Sover ek van bewus is, is die stand van sake by Beeld tans so: uit hoofde van koste-oorwegings (die koerant se verlies beloop nou R30miljoen per jaar) is die kunsredaksie van 3 voltydse joernaliste ontbind. 2 word afgedank (hulle poste verdwyn) en ‘n 3de sal dan voorlopig oorlewe onder dekking van die Leefstyl bylae. Verder hoop die arme Adriaan Basson-hulle om hulle te beroep op vryskutte om die skyn van kunstedekking te handhaaf.

    Dis niks meer en niks beter as slegs slegte kruideniersredenasie nie. En omdat daar geen ‘gemeenskap’ van belangstellendes is wat gedien(s) of geraadpleeg hoef te word nie, is dit ‘n goeie outydse kragdadige besluit. Immers, die ‘straf’ wat pa moet uitdeel “gaan vir my seerder maak as wat dit vir jou maak.” Pass my die handdoek vir die krokodiltrane.

    Eerlikwaar, ek glo dis sinneloos om so ‘n nasie of redenasie te probeer beredder of uit te bou. As ons nie saamstaan om ‘n kunsteblad onder ‘n ander vaandel te water te laat nie sal wat daar nog oorbly van kuns & kultuur in Afrikaans bemiddel en bevorder nog slegs bloei in fô baai fô’s en Toskaanse huisies by die see.