Resensie: In ligte laaie (Jannie Malan)

In ligte laaie deur Jannie Malan. (Pretoria Boekhuis, 2014, ISBN: 978-1-4853-0078-6, Formaat: Sagteband, 127p.)

 

Resensent: Amanda Lourens

Omslag

In ligte laaie is Jannie Malan, ’n Nuwe stemme 4-digter, se eerste solobundel.  Die titel herinner die leser aan die uitdrukking “in ligtelaaie staan”, wat natuurlik verwys na ’n toestand van aan die brand wees.  Die meervoudige betekenisse van dié titel word egter reeds deur die voorblad gesuggereer – dit is naamlik ’n tekening van ’n laaikassie, maar met die boonste laai uit sy plek, tesame met ’n klompie los laaie wat in die lug sweef.  Die kleurgebruik (oranje vir die grond en rooi vir die lug) eggo die brand-gedagte, sodat die leser nog voor die lees van die bundel met ’n paar interpretasiemoontlikhede van die titel gelaat word.  Op die een vlak is ’n aktiewe ont- of verbrandingsproses ter sprake, wat ook deur Malan self in ’n Versindaba-onderhoud uitgelig word.  Hy verwys wel spesifiek na “die simboliese elemente van vuur – passie, vernietiging, reiniging”.  Op ’n tweede vlak kan dit ook hier gaan oor “laaie” as bewaarplek, veral van papier en geskrewe stukke teks.  Sou die laaie “lig” wees, kan dit wees dat die bewaarplek self nie gewigtig is nie, maar dit kan eweneens wees dat die laai “lig” is omdat hulle nie veel inhoud bevat nie.  Wat die simboliese vlak betref, wys Malan self daarop dat “ligte” na “’n verligting, ’n katarsis” verwys, maar dat dit ook die suggestie van ’n openbaarmaking bevat, oftewel, om as’t ware ’n lig oor die inhoud van die laaie te laat skyn.

Malan se mees geslaagde gedigte is dan dié wat – ten minste op die oppervlak – deur ’n ligte aanslag gekenmerk word, oftewel, dié gedigte waarin die sprekende subjek homself nooit te ernstig opneem nie, ten spyte van dikwels gewigtige boustof.  Terselfdertyd openbaar Malan in ’n hele paar gedigte die vermoë om ’n ophelderende lig oor ’n sekere gegewe te laat skyn en die afgesaagde of voorspelbare op hierdie manier heeltemal te fnuik.

Die bundel open met twee insetgedigte, naamlik “In ligte laaie” (p.7) en “Blurb” (p.8).  In eersgenoemde gedig bevestig Malan sy bedrewenheid wat betref gedigte met ’n ligter, dalk selfs ironiese tong-in-die-kies-benadering tot kwessies wat eintlik tot op die been van menswees sny.  “In ligte laaie” keer die cliché van om een kosbare item uit jou brandende huis te mag red, met ’n ligte nugterheid om:

Selde vra iemand:

“Wat is die een ding wat jy daar sal los?”

net te dankbaar

om dit in vlamme op te los.

Die struktuur van die bundel as geheel word uiteengesit in “Blurb”, met ’n motto uit die 1996-film The Pillow Book van Peter Greenaway.  Die gegewe van die laai as bergplek vir tekste kom spesifiek hier na vore wanneer die spreker verwys na “vyf boeke op die lyf geskryf” wat vanuit sy “laaie” na die leser gestuur word.  Hierdie vyf boeke verteenwoordig die vyf afdelings waarin die bundel verdeel is, naamlik “Fotoalbum” (“’n fotoalbum se terugblik teen die agterkant van die ooglede”), “Notaboek” (“’n notaboek van die alledaagse, regs op die ribbes ingeëts”), “Dagboek” (“’n dagboek van stilte en geheime, kripties op die tong”), “Reisjoernaal” (“’n reisjoernaal, op die sole van die voete”) en “Register” (“’n register van die dooies, in die spore van die palms”).  Elk van hierdie afdelings word met ’n aspek van liggaamlikheid geassosieer, sodat daar inderdaad gestalte gegee word aan ’n poësie wat ten diepste met die lyflike verstrengel is, soos reeds deur die intertekstuele verband met The Pillow Book gesuggereer word. Die slot van “Blurb” maan die aangesprokene – en die leser – egter om naas die lyflike, ook na dít onder die oppervlak te soek:

Geliefde,

lê dit nou alles bloot

ons is in en deur die lyf geskryf

en al is in dié seisoen net die vel van belang

moet jy dieper vat

Die eerste afdeling (“Fotoalbum”) open met ’n titellose gedig (p.9) wat nie in die inhoudsopgawe gelys word nie, en ook deur ’n leë bladsy van die res van die afdeling geskei word. In hierdie gedig word die geliefde geïdentifiseer as die onontbeerlike agent in die singewingsproses (“Verstaan / ek het jou nodig om / in my sinne sin te lees”). Hierna volg die afdeling met sy elf gedigte wat gewis as een van die sterker afdelings in die bundel beskou kan word, en waarin veral jeugherinneringe die boustof vorm.  Soos in ’n album met fotobeelde uit die verlede, word daar by diverse momente en karakters vertoef.  Veral die pa-seun-verhouding word ontgin, en in “Roer” (p.13) belig die spreker die onbevredigende aard van verhoudings wat in die oppervlakkige bly vassteek:

hoe elke sonstraal wat deur ’n druppel van die spaanblad reflekteer

die troebel oppervlak

                                    alleen maar vlakweg penetreer

Die pa-figuur is hiernaas ook die sentrale figuur in die geslaagde “Ligspoorkoeël” (p.17) en “Dagsê” (p.22), en ook ander familielede word in verdere gedigte in herinnering geroep.  Sonder ’n omhaal van woorde lamenteer die spreker oor die oppervlakkige aard van die verhouding met die gestorwe ouma “[…] verwens myself oor ditjies en datjies” (vergelyk “Sondagmiddagbriewe”, p.16).  In die treffende “Bywoner” is daar ’n uitbeelding van die troostende fantoombeeld van die oom wat aan sy eie hand gesterf het, maar wat steeds in die spreker se binnewêreld tot lewe gewek word.  Hierdie gedagte van die transformerende krag van die eie binnewêreld is dan ook die boustof van “Gestalt” (p.15), waarin die volwasse lewe gesien word as gestroop van die fantasiebeelde wat die kind in die donker optower, soos die ironies bewoorde slotkoeplet aandui: “Volwasse drome ontknoop die skyn / vereis ’n lewe teen die grein”.

Benewens die temas van herinneringe aan familielede en die ontnugtering van volwassewording stel die eerste afdeling ’n ander belangrike tema aan die orde – naamlik dié van die keep of spleet (vergelyk “Keep” [p.20] met die motto van Sheila Cussons), wat uiteindelik een van die sentrale motiewe in die bundel word.  In hierdie gedig word die eienskap van gespletenheid tekenend van die eksistensiële angs waarvan die mens end-uit slagoffer is:

daar tussen hemel en aarde

met die inlê van die boogsaag in ’n mik

wat dygewys onderstebo ontmoet

skrikgit sit die kwasvlek daar

verloor hy sy balans en tuimel

                        grond toe

winduit

                        lewenslank.

Die tweede afdeling (“Notaboek”) maak oor die algemeen ’n minder sterk indruk as die eerste. Soos die leser reeds in “Blurb” verneem het, word die alledaagse as boustof gebruik.  Die vervlietendheid van die aardse staan sentraal in “Mono no aware (p.29), ’n geslaagde en redelik vormbewuste gedig waarin die Japannese digter Sei Shōnagon (c.966-1025) se teks met eweneens die titel The Pillow Book betrek word.  “Art Nouveau” (p.34) kan beskou word as ’n sleutelteks vir Malan se eie digkuns waarin die alledaagse (“’n verhouding, familie, kinders grootmaak, / kos kook, vriendskap”) gestel word as die elemente waaruit “die kuns se onverganklike” kan groei.  Kommentaar op die proses van kunsskepping word ook raakgelees in “Repelsteeltjie I” (p.42, wat Malan self in die genoemde Versindaba-onderhoud as ’n “metagedig” bestempel): die ontstaan van ’n gedig is ’n stapsgewyse proses wat die “strooi” van die alledaagse as beginpunt neem en waaruit aanvanklik die “onomdigte klein naamloosheid” gehaal word, wat algaande aan die hand van taal konkreet gestalte kry.  ’n Gedig soos “Sekwens” (p.43) steek ongelukkig ietwat vas in voorspelbaarheid, terwyl die intertekstuele spel met die onderskeidelik Fagan (“Kom nag”, p.41) en Totius (“Repos ailleurs [moontlik in Australië]”, p.40) nie heeltemal daarin slaag om die alledaagse diskoers tot verligtende gedagtes of taalvorme te omvorm nie.  Wel is “Stil aande” (p.45) ’n hoogtepunt in die afdeling en wys met slim beeldspraak op die mag wat in onpretensieuse taal opgesluit lê:

Op stil aande breek die prieel

die bleek bord van die maan

in ’n duisend splinters

oral teen die stoep

en ek en jy moet

met ons kaalvoetsinne

suutjies trap om nie die siel se sagte sole

teen skadu-skerwe oop te sny nie.

Die derde afdeling (“Dagboek”) word in drie onderafdelings verdeel, naamlik “Vuur”, “Vlam” en “As”, waarin veral die kompleksiteite van die liefdesverhouding verken word.  “Vuur” bevat goeie liefdesgedigte, met “Omphalos” (p.52) wat veral uitstaan op grond van die geslaagde aanwending van die praatstyl (sterk in die tradisie van Danie Marais, uit wie se werk daar ook ’n motto vir die groter afdeling gehaal word), maar ook op grond van die uiters konkrete verbeelding.  Die verband tussen vuur, woorde en die erotiese kom na vore in “Tonteldoos” (p.53) wat hierdie assosiasies ook op klankvlak probeer verreken: “verwonder ek my aan die binnerym / van kont en lont”.

In “Vlam” word die problematiese aspekte van ’n liefdesverhouding aan die orde gestel, waaronder vervreemding (“Stoom”, p.67) en verwonding (“Vandag”, p.70).  Die sentrale metafoor in laasgenoemde gedig is goed gekonsipieer en die knap ritmiese en vormlike ontwikkeling van die vers ondersteun die stelling wat gemaak word.  (Die beeld van die “canned fruit-blikke” kom dalk ietwat gedwonge voor, gegee die byderwetse agtergrond waarteen die res van die bundel opgestel word?) “Pandora” (p.66) is interessant in dié opsig dat die toetrede van die bose tot die liefdesverhouding in die vooruitsig gestel word, en dan wel as gekoppel aan die deksel van die bruidskis wat ook die spleet suggereer:

eenkant in die hoek

van onder die oopgeskarnierde deksel van jou

nou omgekeerde bruidskat het skadugeskenke

soos troetelgedrogte geseil

en onrustig aanhou aanhou

lêplek soek

Op hierdie punt kan ’n saamlees met “Versoek” (p.54, in “Vuur”) boeiende winste oplewer.  In hierdie gedig word die openinge van die vroulike liggaam (met die duidelike verband met die spleet-gegewe) eksplisiet aan die demoniese geskakel, teenoor die kurwes van die liggaam wat aan die goddelike gekoppel word.

Die gedigte in “As” is as groep nie van dieselfde gehalte as dié in “Vuur” en “Vlam” nie.  ’n Gedig soos “Lorelei” (p.73) oortuig die leser wel dat Malan ’n bedrewe digter is, maar tog is dit asof die gedig nie werklik daarin slaag om iets te sê nie.  ’n Beeld soos “blus ’n misbank die vuurtoring se vlam” sou herskryf kon word en die rymdwang in die laaste reël (“uit jou hare val ’n kam”) bewys die gedig geen guns nie.

“Reisjoernaal”, die vierde afdeling, bevat ongelukkig ook ’n paar gedigte waarvan nie die boodskap, beeld- of taalgebruik werklik beïndruk nie. ”Life vest under seat” (p.95) kom byvoorbeeld voor asof lukrake indrukke bloot tot ’n gedig saamgevoeg is sonder dat ’n samehangende boodskap deurgekomponeer word.  Die vormlike eksperimente in “Kuslyn” (p.104) en “Slot” (p.105) slaag wel deeglik (met laasgenoemde ’n treffende blik op ’n ritueel waardeur jong liefde konkreet uitgebeeld word).  Visuele indrukke is die grondslag vir “Leemte” (p.93), maar anders as in sommige ander verse word die onderskeie beelde van die spreker en “die ou man met ’n bril” deur onder meer die netjiese aanwending van enjambement aan mekaar verbind. Uiteindelik gee die beeld “[d]ie woonstelblok grinnik haasbek / soos ’n kind met ’n uittand” die deurslag vir die sukses van die gedig. Die praatverstegniek word weer gesien in “Pippo se toring” (p.100) met die liriese slot waarin slim woordspel die reismotief deurtrek na die wete van die sterflikheid:

Onder gesperde vingerpunte

ysig, aardsklam

deur my palms sug die handgekapte klip

geduldig onbetrokke

oor die voetnota

van ons kortstondige bloed.

Juis die sterflikheid is die boustof van die laaste afdeling, “Register”. Die gedagte van skryf as liggaamlikheid en sensualiteit in die eerste afdeling word hier deur middel van die Ondaatje-motto (uit die poëtiese einde van Almásy se verhaal in The English Patient) aan die tema van die dood geskakel: “I wish for all this to be marked / on my body when I am dead. / I believe in such cartography …”

Die digter se omgang met mitologiese gegewens (byvoorbeeld in “Likantropie”, p.110), maar terselfdertyd ook die meer eietydse alternatiewe kultuur (byvoorbeeld in “Goot”, p.114) sorg vir ’n slotafdeling met heelwat skakering en diepgang.  ’n Gedig soos “Skroei” (p.111) roep die bloeddorstige wraaksug van die berugte Graaf van Anjou op, waar hierdie gegewe nou gebruik word om die verwikkelde aard van die liefdesverhouding te verbeeld.  Hierdie gedig illustreer Malan se vaardige gebruik van ’n gemaklike verteltrant, wat op ’n baie funksionele wyse hortend raak sodra die spreker die komplekse onderstrominge in sy psige onthul.  Die digter se vermoë om uit die alledaagse kuns te haal, word uitstekend geïllustreer deur “Oggend in badkamer ná begrafnis” (p.112). In oënskynlik ligte trant word die toiletbenodigdhede van die gestorwe geliefde verken, en die slot met die fokus op hierdie voorwerpe se “belewenis” van hulle hieropvolgende nutteloosheid belig die sterwensproses op ’n verrassende wyse:

die morning after

herken hy skaars

vanuit versonke oë

die gesig in sy spieël

vryf oor sy ken

en trek die badkamerkassie oop

kry daar haar gesigroom, ’n buisie maskara,

die borsel met

lang swart hare nog gestrengel

en draai dit ongelowig om en om

asof in ’n droom

wonder hoe dié dinge gewoond gaan raak daaraan

om nutteloos te wees

In ’n gedig soos hierdie een is Malan op sy beste, en ’n mens hoop dat hy sy digterskap verder aan die hand van só ’n poëtika sal ontwikkel.

Daar is ongelukkig enkele redaksionele aspekte wat hinder.  In “Osteologie” (p.109) word “DNA” in plaas van “DNS” (vir deoksiribonukleïensuur) gebruik (wat terloops ’n fout is wat deesdae baie dikwels in Afrikaans voorkom), terwyl die woord “osteoporees” op dieselfde bladsy vreemd voorkom.  Hier wonder die leser of “osteoporeus” nie dalk die beter keuse is nie – gedagtig aan die WAT se beskrywing van osteoporose as ’n toestand waar “’n poreuse struktuur [ontstaan] sodat die bene bros is”?  Verder is daar “flooimarkte” op p.83 (in die gedig “Sint Agnes”), terwyl “vlooimark” die gedokumenteerde en aanvaarde vorm is.

Uiteindelik is In ligte laaie ’n debuut wat jou laat uitsien daarna om die verdere ontwikkeling van hierdie digterskap dop te hou.

Bronne

Versindaba. 2014. Onderhoud met Jannie Malan. Gisela Ullyatt gesels met Jannie Malan oor sy digdebuut. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2014/05/27/onderhoud-met-jannie-malan/ . [9 Junie 2014].

Elektroniese WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). S.j. Beskikbaar: http://www.woordeboek.co.za.ez.sun.ac.za/. [26 Junie 2014].

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Resensie: In ligte laaie (Jannie Malan)”

  1. Amanda, DNA is die internasionale afkorting wat ook in Afrikaans gebruik mag word – sien AJ Brink, e.a. se “Woordeboek van Afrikaanse geneeskundeterme” (Pharos, 2004).

  2. Amanda Lourens :

    Dankie Daniel, ek neem kennis.

  3. Maar “flooimarkte” is natuurlik nie internasionaal aanvaarbaar nie!

  4. Amanda Lourens :

    Sommer ‘n lighartige brokkie: In baie vroeë Afrikaans is opgeteken (opgeneem in die WAT):
    “Hulle maak vyande dood nets Tante Saartje een flooi knip” (Klaas, 1889, in G.S. Nienaber: Meurant, 1968, 98)

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Dis dalk die flikflooiery en flikkers gooiery wat maak dat daar so baaije knippies gevang is. Selfs Tante Saartje het frylywig geword.

  6. Desmond Painter :

    Fielaflooi,
    Tant Saartjie en die Khoi.
    Oi.

  7. Buiteblaf Breytenbach :

    Oom Kallie looi die vetstertooi…
    Tant Saartje kwyl ‘n klag en sê,
    “dis nou mooi, dis vokken mooi,
    ma’ wat van moi?

    Oom Kallie mompel van te veel hooi
    op sy furk, en stel foor:
    “Dalk word jy nog genooi
    om te klim op Boet Derrida se wa.”

  8. Leon Retief :

    Hmmmm ja Breyten jy herhinner my nou aan daai gesegde oor Australie: The country where men are men and sheep are nervous…

  9. Maria Snyman :

    Wat se gekonfoesie gaan hier aan met vees en effe en bra’ Derrida se wa?

  10. Waldemar Gouws :

    Die effe is effe anachronisties, maar Derrida se wa is die vierperdewa (hy het nie naam nie, sy naam moet hy nog kry, is mos voorspel). Dis iets met polisemiese waarde, soos Plato se khora.

  11. Desmond Painter :

    Derriwa? Derrida! (Die metafisika van teenwoordigheid.)

  12. Desmond Painter :

    Vanaand trek Derri die wa
    geduldig deur die drif
    tot Tant Saartjie sug:
    “Derri, ek’s ôk nou da.”

  13. Maria Snyman :

    Jong ja, Desmond, maar met daarie – oi, oi – derridawa wat ook so die kar voorie pêre span, moet dinge mos maar altyd nog (weer) kom … Dit is hoekom demokrasie nie vir ape is nie (om nou vreeslik vieslik dogmatiese metafisies te wees om so teen ape te diskrimineer).

    Die punt is: Oom Kallie se noi bly hom noi, al mompel hy fan die flippin teveel hooi op sy furk en ek stel foor, wees gewaarsku “Dalk word jy nog [ook nog] genooi”!

    Toevallig is dit juis ook so:

    My pa se naam is Kallie
    my ma se naam is Suzie
    my pa se kop is in die kole
    die goed moet mark toe gekarwei word

    maar my ma bly bewus
    van haar …
    en gee hom geen …
    en ou Kallie …
    oi oi
    “vryf oor sy ken”

    Wat noem mens dit wat tussen die kar en die perde funksioneer? Want dit is hierdie onder-hande-ling wat Derrida interesseer en wat hy probeer het om te demonstreer.