Lykdig 22: Susan Smith. Tuin van mondings

Tuin van mondings

(Sylvia Plath)

 

Toe doen jy dit weer.

Jy was suksesvol, hierdie laaste keer.

 

Jou nat pensketse van geïnkte winterbome,

oorgroot tulpe, nog ingesneeu

en nabyskote in die leem

van sampioene se sagte vuiste,

 

nader nog, kring op kring in pers en swart en rooi

die dringende muskus van jou oopgeskilde

blomkrone wat jou asem smoor, bloedpapawers

is jou mond se vel, die saadkapsules vol ingedrinkte

dampe opiaat herinner aan ’n vorige keer,

 

die moed van geslote monde

en uitmondings se rooi vlamme –

 

al die rame waardeur

jy na jou wêreld kyk.

 

Op ’n koue dag in Februarie is jou mond

’n mond van rou wonde, ’n mond

van taai pêrels

in jou tuin van digte mondings

 

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak

en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat.

 

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Lykdig 22: Susan Smith. Tuin van mondings”

  1. TT :

    Pragtige beelde. Bloed en rooi en tulpe en alles. Super mooi!

  2. Nicolette van der Walt :

    Pragtige gedig, Susan!!! Baie geluk met jou vermelding in die lykdigkompetisie. Dis ‘n welverdiende vermelding!

  3. Susan Smith :

    Dankie, Nicolette. Ek is veral bly oor die kommentare, want dit is van groot waarde!

  4. Veels geluk met jou gedig, Susan! Die beelde is meesleurend. Die gang van die gedig skep ‘n hoë spanning tot die nvermydelike einde – die dood van die digter.

  5. Susan Smith :

    Baie dankie, De Waal! Ek het nogal so ‘n vermoede gehad dat die Neruda-gedig joune is! Baie geluk ook daarmee – treffend en triomfantelik!

  6. Lewies Botha :

    Treffende laaste reel; die wereld uit jou oe loslaat.

  7. Susan Smith :

    Hallo mede-Oos-Londenaar! Dankie vir die kom lees! Hoe gaan dit met jou gedigte?

  8. Lewies Botha :

    Susan, ek het vir n lang ruk ontrek en net gelees. Dit was nodig. Ek sal se ek maak nou net stukkies verse en los woorde bymekaar, eendag hoop ek vind ek orde in die warboel.