Onderhoud met Danie Marais (Solank verlange die sweep swaai)

Gisela Ullyatt (GU) gesels met Danie Marais (DM) oor sy nuutste digbundel,

Solank verlange die sweep swaai.

  *****

GU: Danie, baie geluk met Solank verlange die sweep swaai. Die titel beloof reeds iets van daardie bekende Danie Marais-satire. Jou bundeltitels het nog  altyd ’n vreemde trefkrag gehad wat die leser se oog onmiddellik trek. Titels kan egter ’n bietjie soos die eerste hoofstuk van ’n tesis wees; jy kan die hoofstuk eers skryf wanneer jy duidelikheid oor die res van die hoofstukke het. Kom die proses van titels vind vir ’n bundel redelik spontaan? En titels van gedigte?

DM: Die proses is beslis spontaan, organies en deels onbewus. Elkeen van my bundeltitels was ’n versreël of frase uit die betrokke bundel, maar ek het telkens eers nadat ek begin het met die samestelling van ’n manuskrip op die titel besluit.

Ek hou baie van die moontlikhede wat bundel-  sowel as verstitels bied om met gedigte of ’n hele versameling in gesprek te tree. Ek soek altyd hard na ’n titel wat nie inperk nie maar tog omvou en kontekstualiseer en ook op sy eie sou kon staan; ’n titel wat jou weer laat wonder oor die hele gedoente wat dit voorgee om te benoem.

My tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, wou ek lank “Dwaalkoeëls” noem en vir die jongste een was “ ‘Ek’ is ’n dronk woord” en “Die hart se rooi gemors” oorwegings. Hierdie moontlikhede het ek uiteindelik verwerp omdat dit myns insiens een aspek/tema van die betrokke bundel oorbeklemtoon het.

Die spel met titels en band-name is eintlik vir my ’n soort kompulsiewe stokperdjie. Ek en Mark Kannemeyer (Lorcan White van Bitterkomix) wou in ’n stadium werk aan ’n katalogus vir die fiktiewe klein platemaatskappy Ystervarkmusiek; ’n katalogus vol denkbeeldige Afrikaanse bands met allerhande titels en omslagkuns vir die beste, marginale albums wat nooit gemaak is nie. Ons het helaas nooit tyd gevind om die idee verder te voer nie, maar ek brand steeds om Mark se omslag te sien vir die garage-punk band Gordelrosie se obskure debuut, Moenie vir Mamma nog tik verkoop nie. Die Plesierbuise se Dankie vir niks, Die Warm Trane se Kyk nou wat het jy aangevang, Die Kleiduiwe se Buys ruik kuns, en Die Korrektiewe Stewels se Hel is ander Afrikaners sou sekerlik ook versamelaarstukke gewees het.

GU: In Al is die maan ’n misverstand (2009) gebruik jy ’n Raymond Carver-motto uit “Elk Camp”. In jou nuwe bundel duik Carver weer op, dié keer as motto van die eerste afdeling:

 

The people I’m talking about – I’m sure

I must have read about somewhere.

They were not the main characters, no,

as I’d thought first and for a long

while after. But some others you

sympathized with, even loved, and cried for –

just before they were taken away

to be hanged, or put somewhere.

 

Eerstens, wat beteken Carver se dig-oeuvre vir jou as digter en wanneer het jy hom “ontdek”? Tweedens, aan die einde van Nuwe Stemme 4 se voorwoord lui dit: “Digters wat hul sout werd is, moet immers, soos Raymond Carver sê, die wêreld volgens hulle eie spesifikasies herskep” (7). Wat was jou “spesifikasies” vir Solank verlange die sweep swaai en het hierdie drasties verander gedurende die redigeringsproses?

DM: Raymond Carver het in die 90’s ’n geweldige vormende invloed op my gehad. Ek het dieselfde ervaring met Carver se kortverhale en gedigte gehad as Nick Hornby met die lees van Anne Tyler se Dinner at the Homesick Restaurant; ’n ervaring wat Hornby baie mooi verwoord in sy myns insiens noodsaaklike essay oor Bruce Springsteen se “Thunder Road”:

But sometimes, very occasionally, songs and books and films and pictures express who you are, perfectly. And they don’t do this in words or images, necessarily; the connection is a lot less direct and more complicated than that. When I was first beginning to write seriously, I read Anne Tyler’s Dinner at the Homesick Restaurant, and suddenly knew what I was, and what I wanted to be, for better or for worse. It’s a process something like falling in love. You don’t necessarily choose the best person, or the wisest, or the most beautiful; there’s something else going on. There was a part of me that would rather have fallen for Updike, or Kerouac, or DeLillo — for someone masculine, at least, maybe somebody a little more opaque, and certainly someone who uses more swear-words — and, though I have admired those writers, at various stages in my life, admiration is a very different thing from the kind of transference I’m talking about. I’m talking about understanding — or at least feeling like I understand — every artistic decision, every impulse, the soul of both the work and its creator. ‘This is me,’ I wanted to say when I read Tyler’s rich, sad, lovely novel. ‘I’m not a character, I’m nothing like the author, I haven’t had the experiences she writes about. But even so, this is what I feel like, inside. This is what I would sound like, if ever I were to find a voice.’ And I did find a voice, eventually, and it was mine, not hers; but nevertheless, so powerful was the process of identification that I still don’t feel as though I’ve expressed myself as well, as completely, as Tyler did on my behalf then.

Raymond Carver se gedigte het my laat voel ek móét en kan (dalk) skryf; dat daar iewers ’n plek kan wees vir die soort gedigte wat ek besig was om te probeer skryf.

(As dit kom by sanger-liedjieskrywers het ek ’n soortgelyke verhouding met die werk van Bruce Springsteen waaroor ek baie spesifiek skryf in die gedig “Bloedneus praat met Bruce Springsteen praat met my dogter”. Springsteen en Carver is ook beslis geesgenote. Springsteen se klassieke Nebraska-album is Raymond Carver met ’n rhythm guitar, as jy my vra.)

Ek het lanklaas Carver se werk aandagtig gelees, maar hy bly vir my ’n soort literêre kompas. Dis of ek byna bygelowig oortuig is wat ek doen, sal nooit heeltemal waardeloos of verniet wees wanneer ek getrou bly aan die soort gestroopte waarhede wat sy werk verteenwoordig nie. Waarvoor hy vir my staan, is: om te skryf sonder hoop of wanhoop, sonder truuks of vertoon; om te fokus op die konkrete klein dinge waarom lewens draai en waaraan drome en emosies kleef; om te luister na wat die storie vir jou probeer sê; om nooit so dronk van jou eie stem of estetika te raak dat jy begin dink gedagtes en mense is ondergeskik aan styl nie – al is laasgenoemde ook hoe belangrik of kenmerkend.

As ek my kop op ’n blok moet sit, sal ek sê die romantiese Keats het die pot mis gesit – skoonheid is nie waarheid nie. Die beste romans kan soos V.S. Naipaul gesê het, nie van die waarheid onderskei word nie. Dieselfde geld vir die beste gedigte, liedjies, kortverhale en visuele kuns. Carver het my geleer om daardie kuns wat nie van waarheid onderskei kan word nie, na te jaag.

En as dit kom by simboliek, was sy woorde uit “On Writing” nog altyd my riglyn: “It is possible, in a poem or short story, to write about commonplace things and objects using commonplace but precise language, and to endow those things – a chair, a window curtain, a fork, a stone, a woman’s earring – with immense, even startling power.”

Maar wat die herskep van die wêreld volgens my eie spesifikasies betref, verteenwoordig Solank verlange die sweep swaai vir my ook ’n besliste wysiging op Carver se poëtiese visie. Carver se gedigte en kortverhale vergestalt, soos die werk van Anton Tsjechof, ’n onwrikbare geloof in die mag en wysheid van die storie self; gedagtes en begrip vloei meesal uit die noukeurige verhaal van die gegewens.

Francois Smith, wie ek gelukkig genoeg was om vir al drie bundels as redakteur te hê, het met die redigering van Al is die maan ’n misverstand vir my gesê ek skryf verhalende en “beskoulike” (d.w.s. meer filosofiese verse). Met laasgenoemde sukkel ek, soos hy uitgewys het, om die gedagtes in die konkrete te anker. Dan word die vers soms eerder die opvoer van ’n idee as die soort gedagte-eksperiment in versvorm wat lei tot ’n insig wat sowel digter as leser verras.

In die jongste bundel het ek bewus en onbewus die stories en meer abstrakte gedagtes mekaar in die rede laat val. Die manier waarop die lewe telkens filosofiese pogings om orde te stig en sin te maak ondergrawe; die spanning tussen die spesifieke, parogiaal plaaslike en die abstrak universele is deurlopende temas wat in gedigte soos “Tjorts!”, “Reisiger 13”, “Die Nuwe Wêreld – ’n woonkamerdrama”, “Skemerkelkie”, “God praat met Bloedneus praat met God”, “Here be no dragons”, “Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê” en veral “Sirkels – en toe kom Nediswa” (’n gedig waarmee ek baie lank gestoei het) uitgespeel word.

Die gedigte in die jongste bundel is diep onder die indruk van die feit dat die werklikheid van ’n wit, middelklas, forty something Afrikaanse man so spesifiek soos enige psigose is. Daardie ras-, klas-, gender- en taalbeduiwelde perspektief moet dus noodwendig die digter se vermoë tot veralgemenende filosofiese insigte beperk en benewel.

 

GU: Al is die maan ’n misverstand is nie in eksplisiete afdelings verdeel nie, maar Solank het vyf baie duidelike afbakenings. Almal behalwe Afdeling ii dui op spesifieke adresse in die Kaap, soos byvoorbeeld Woodstock. Hoe het jy op die spesifieke afdelings besluit?

DM: Ek het aanvanklik met ’n soort tematiese indeling en struktuur gespeel – i) “Voorbodes en skote in die nag”, ii) “Wat ’n bloedneus begryp”, iii) “Wat nagmerries onthou”, iv) “Wat liefde vergeet” en v) “Op heildronke en laaste rondes”. Maar dit het my nooit heeltemal oortuig nie.

En toe lees ek Nathan Trantraal se merkwaardige debuut, Chokers en survivors, en skielik besef ek maar my bundel is in verskeie opsigte net so oor klas begaan as syne. In Chokers is die drie afdelings na Kaapse buurte met sterk bruin werkersklas-konnotasies genoem; in my bundel is vier van die afdelings die volslae middelklas-adresse waar al die middelklas-dramatjies en pogings tot besinning afspeel.

Die afdelingtitels in my bundel is dus ’n herinnering aan alles wat binne ’n Suid-Afrikaanse konteks deur jou adres verklap en bepaal word. Dis ook ’n draakstekie na die digkuns se pretensies tot universaliteit. Daarbenewens speel die afdelingtitels met dié reëls in “Sirkels – en toe kom Nediswa”: “as kak eers jou adres het, […] kan jy maar skryf soos en wat jy wil.” Die adresse, waarvan die eerste en laaste dieselfde is, dui ook ’n sirkelgang aan; ’n onbenullige klein voorstedelike swerftog wat eindig waar dit begin het.

Die vierde afdeling, “Frankenstein-verse ­– ’n tussenspel, ’n kitaarsolo op soek”, is soos dit titel aandui ’n tussenspel wat om gruwelprente draai. Die afdeling-titel gee ook te kenne dat daar altyd ’n verband tussen die monster en sy skepper is.

Die eerste verse in daardie afdeling het ’n paar jaar gelede ontstaan uit ’n poging van my om as NP van Lyk Skou satiriese gedigte met ’n pop-inslag te skryf wat nie so ondraaglik sensitief soos ou Danie Marais se werk is nie. Uiteindelik het NP van Lyk Skou egter maar weer deel van Danie Marais geword. Miskien sou dit anders kon werk as ek kitaar kon speel of wel regtig ’n band gehad het …

GU: Die Danie Marais-oeuvre is deurspek met musikale verwysings, van Bruce Springsteen tot Johnny Cash tot die klassieke genre. ’n Voorbeeld van jou voorliefde vir en kennis van lirieke kom reeds voor in Afdeling I waar jy uit Bill Callahan se “Drover” aanhaal en as motto utiliseer.  Vir my klink Bill Callahan so bietjie soos ’n kruisbestuiwing tussen Johnny Cash en Michael Gira van die groep Swans. Het jy in besonder baie na Callahan geluister tydens die skryf van gedigte vir jou bundel? ’n Digter soos Louis Esterhuizen het byvoorbeeld onlangs in ’n onderhoud aangedui dat hy tydens die skryf van ’n bundel of ’n gerf gedigte deur ’n spesifieke komponis beïnvloed word of herhaaldelik na ’n sekere snit luister. Verkies jy musiek terwyl jy skryf en indien wel, is dit lukraak of gelang na bui? Verskaf die musiek waarna jy luister tematiese rigting en emosionele kartering aan jou gedigte?

DM: Ek het in die laaste paar jaar baie gereeld na Bill Callahan, voorheen bekend as Smog, geluister, maar ek kan nie na musiek met woorde luister terwyl ek skryf nie. My oor zoem dadelik in op die lirieke en dan begin ek oor die woorde dink. Die enigste musiek waarmee ek wel lekker kan skryf, is Bang On A Can se interpretasie van Brian Eno se enigmatiese ambient-komposisie, Music for Airports.

Ek bewonder egter Callahan om verskeie redes. Hy kry dit reg om liedjies te skryf wat bitter intiem en persoonlik voel, maar by nadere ondersoek verbasend geheimsinnig, filosofies en ontwykend is. Sy lirieke het ook ’n uitgesponne, mymerende kwaliteit wat eintlik nie binne die struktuur van ’n liedjie behoort te pas nie maar tog uitstekend werk. Soms is dit asof die musiek en lirieke oor en weer in mekaar se slaap praat.

Die musikale verwysings in my werk is, nes die intertekste, altyd my manier om in gesprek te tree met woorde en gedagtes wat my besighou. My reël is gewoon om nooit iets aan te haal net ter wille van literêre gewig of garnering nie, maar slegs wanneer dit nodig is vir die leser om “die gesprek” te volg.

In die geval van Callahan is daar verskillende van sy idees waarby ek aanklank vind, maar dit is veral sy ritmes wat my bekoor. Dit is sy soort loop-en-val ritmes waarna my binne-oor soek wanneer ek skryf. Ek hou van die manier waarop sy woorde oor die rand van die melodie spoel; die manier waarop hy sy lirieke en gedagtes toelaat om af te dwaal en tog telkens die pad terug te vind na die slingerende voetpaadjie van die wysie; die manier waarop sowel die woorde as die instrumente aan hul leirieme ruk en beur; van hoe perfek hy eintlik nie regtig kan sing nie, maar sy stem tog so gemaklik op die bries van die melodie sweef.

My werk tas na die ritmes wat my so vang in Callahan-liedjies soos “Drover”, “I’m New Here” en “The Sing”:

https://www.youtube.com/watch?v=bfEkegI3ySI

https://www.youtube.com/watch?v=eV_astp3BjM

https://www.youtube.com/watch?v=96xpXS3hbec

Ek hoor iets soortgelyks in die ballades van een van my ander groot invloede, Lou Reed. Sy “Baton Rouge” was nog altyd iets waarna ek in my eie liefdesteleurstellingsgedigte gesoek het:

https://www.youtube.com/watch?v=4yQC4XTVdHw

Ek is allergies vir dinge wat te suiwer en ooglopend of afwyserig mooi afgewerk is. Die regte vals note en skewe klanke hou vir my iets van die waarheid en die essensie van ons aardse gebrokenheid in. Daarom bly Tom Waits en sy groot voorlopers Bertolt Brecht en Kurt Weill se The Threepenny Opera vir my onweerstaanbaar.

GU: Levinia die “nimlike” kat (of dalk Levinia die Verskriklike) duik heelwat in jou vorige bundel op. In Solank is haar katspoortjies weer daar. Met die lees van hierdie gedigte kon ek nie anders as om te dink aan Mary Oliver se gedigte wat oor Percy, haar hond, geskryf is nie, asook haar nuutste bundel, Dog Songs. Uiteraard verskil jou Levinia-gedigte van Mary se Percy-gedigte, maar wat wel ooreenstem is die idee van troeteldier-as-zen-meester. Beskou jy Levinia as ietwat van ’n zen-meester of wat wou jy te kenne gee met haar? Ek neem aan sy is nie fiktief nie.

DM: Levinia is gelukkig nie fiktief nie en ook nog met ons. Ek weet nie of ek daardie sjarmante, totaal selfgesentreerde, sensuele klein luistert van pels ’n zen-meester sou noem nie, maar ek is verknog aan haar.

Levinia fassineer my. In die gedigte speel sy dikwels die vierbeen-weergawe van daardie ondeurgrondbare, onkenbare Ander wat ’n lewe en ’n ruimte met ons deel. Hoe katte se kop werk, weet ek beslis nie, maar ek vermoed ek en Levinia projekteer ewe veel wedersyds. Ek is waarskynlik die vreemdste kat wat sy ken, en sy is ongetwyfeld die beste jagter in my vriendekring. (Maar daardie stelling sê dalk meer oor my vriendekring as Levinia se jagvermoëns. Sy’s nie ’n vreeslike suksesvolle roofkat nie, maar haar bekruipstappie getuig van styl en dodelike erns.)

 

GU: Een van jou bytendste gedigte is “Wat swak gedigte weet” (16) wat reeds op Versindaba in 2010 verskyn het. Ek dink nie ek het al ’n gedig in Afrikaans gelees wat die komiese asook die irriterende aspekte van swak “poësie” (as ’n mens hierdie tipe skryfsels as “poësie” kan beskou) so briljant saamvat en satiriseer nie. Ek gaan dit oorlaat aan die leser om die gedig se laaste twee strofes wat grotendeels oor “goeie gedigte” handel te ontdek en te interpreteer. Ek haal die tweede strofe aan wat die essensie van “swak gedigte” netjies saamvat:

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling

die  Highveld Stereo-hartstog

die emosionele pornografie

die infantiele woordspel

die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym

die zombie-hallelujas

die grillerige intimiteite en nat klapsoene

die ongesofistikeerde teleurstelling

die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum

die onafgewerkte noodkrete

die selfmoordbriefies vol spelfoute

die onbelese arrogansie

die onbeholpe pretensie

die selfbewuste eerlikheid

die vervelige nagmerries

die macho selfbejammering

die loopmagiese realisme

die voorstedelike surrealisme

die alewige gatkruip by die doofstom Muse

die arseen-poeticas

die aansitterige besorgdheid oor die natuur

die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

“Die loopmagiese realisme”; “die alewige gatkruip by die doofstom Muse”, en “die arseen-poeticas” het my veral laat skater. Dit het my ook onmiddellik laat dink aan die voorwoord van Nuwe Stemme 4 waarin jy en Ronel de Goede as samestellers die volgende te sê het oor inskrywings wat ontvang is in 2008 en wat baie van hulle gekniehalter het:

Ongemotiveerde eindrym, retoriese taalgebruik, stilistiese onbeholpenheid, afgesaagde beelde, ongetemperde sentimentaliteit, registerverwarrings en nawelstaardery ontsier die grootste gros van die ingestuurde gedigte en dien as verklaptekens van ’n gebrek aan lees-en skryfervaring. Om in te skryf vir ’n bloemlesing soos dié sonder om vertroud te wees met die stand van die eietydse digkuns, is om te glo jy kan sinvol bydra tot ’n gesprek wat jy hoegenaamd nie gevolg het nie (6).

 

Het jy “Wat swak gedigte weet” na aanleiding geskryf oor die keuringsproses van Nuwe Stemme 4?

Verder mag ek dalk met die volgende deel van my vraag aan jou  ’n Levinia in die duiwehok loslaat en duiwe(ls)advokaat speel deur Amanda Lourens se veelbesproke blog, “Daardie dekselse papierknippie” van 22 Januarie 2013 op Versindaba by die vere in te sleep http://versindaba.co.za/2013/01/22/amanda-lourens-daardie-dekselse-papierknippie/. Soos die Engelse sal sê, please bare with me for a moment, terwyl ek die agtergrond so kort en kragtig as moontlik probeer kontekstualiseer. Lourens haal ’n gedig aan wat maklik as prototipe van “Wat swak gedigte weet” kon dien. ’n Storm het gevolglik losgebars onder die sogenaamde “facebook-digters”-beweging (slegs ’n sambreelterm vir individue en groepe wat gereeld gedigte op fb plaas). Lourens kon netsowel paraffien op ’n vuur gaan gooi het want die kommentare wat sy ontketen het vanuit die facebook-geledere was van so ’n aard dat ’n artikel hieroor in Rapport  op 9 Februarie 2013 geplaas is: http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/So-jy-dink-jy-is-n-digter-20130209.

Daar was nie minder as 75 kommentare en baie van dit het presies Lourens se punt oor swak, ondeurdagte “gedigte” bewys. Baie van die kommentators besit duidelik nie oor ’n woordeboek nie; meeste van hulle lees nie gereeld poësie nie en baie van hulle is vreeslik seertoontjie oor sogenaamde “geleerdheid” wat reeds-gepubliseerde digters volgens hulle op die leserspubliek “afdwing”. Ongelukkig kon nie een van hulle een voorbeeld van so ’n gedig of digter aanhaal nie. Die strekking van hierdie kommentare het ook uitgewys dat meeste van hierdie “digters” volstrek weier om hul eie skryfwerk te verbeter, omdat hulle bloot nie glo hulle meesterstukke hoef na een skryfpoging verander te word nie (’n Digter soos Douglas Livingstone het juis jare terug gesê dat hy ’n gedig twintig, dertig keer hersien). Daar is selfs ’n hele paar swak gedigte geplaas op die kommentaar-forum wat weer eens die Lourens se argument versterk.

Dit het my aan Prof. Hans du Plessis laat dink wat sê: “Weet wat jy nie weet nie”. Hierdie boertige kommentare stel ook die handjievol groepe en individue in verleentheid wat wel ’n ernstige poging aanwend om kritiese mentorskap aan te moedig. Ongelukkig is hulle ’n minderheid in die see van fb-“gruweldigters”.

Die vraag is dus: dink jy sosiale forums soos facebook het die tendens om swak gedigte te skryf, vererger? Dink jy aspirant-digters het nou selfs nóg minder rede om die HAT nader te sleep en hulself van die digkuns te vergewis en op hoogte te bly van wat binne die literêre wêreld gebeur? Kan jy hierdie tendens sien in ander slypskole waarvan jy ’n mentor was (byvoorbeeld op Litnet in 2013)? Hoekom dink jy wil mense “dig” maar nie gedigte lees nie?

DM: Ja, “Wat swak gedigte weet” is wel geskryf tydens en in reaksie op die keurproses vir Nuwe stemme 4. Ek weet egter nie of ek intussen ’n werklik bevredigende antwoord gevind het op die vraag wat ek daarin stel nie: “Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?”

Per slot van sake is “swak” en “skitterende” gedigte min of meer ewe onskadelik oftewel magteloos. Dis nie regtig of “swak” digters ’n bedreiging vir “goeie” digters is nie. Hopelose verse is dikwels ’n geval van “the poet just doesn’t get that he just doesn’t get it”. Daardie vers is in volslae onkunde gepleeg waarskynlik uit ’n mengsel van persoonlike nood en die desperate behoefte aan erkenning of hulp.

’n “Belangrike gedig/digter” is aan die ander kant is maar baie na aan ’n oksimoron. Daar’s waarskynlik selfs meer “ryk digters” as “belangrike digters” – dis nou as jy belangrik wil definieer as: op groot skaal invloedryk en magtig.

Ek skat die “ernstige” digter – daardie persoon wat skryf as toegewyde poësie-leser en in gesprek wil tree met die kanon, die tradisie en ander toegewydes – reageer heftig op die stortvloed “swak” gedigte omdat hy of sy gedwing word om te besef met watter klein groepie mense hy of sy eintlik kan praat; hoe min mense hoegenaamd gaan belangstel of verstaan.

Swak poësie is dus net so min ’n regte probleem met reële gevolge as wat goeie poësie ’n oplossing vir die wêreld se magdom regte maatskaplike probleme is.

Wat egter moontlik is, is dat ’n gewisse moderne retoriek wat almal van geselsprogramme tot in die kerk en skool wil wysmaak dat hulle outomaties spesiaal en uniek is en hul bydrae daarom inherent waardevol is, meer mense oortuig het dat hulle kan en moet sing, dig, skryf of toneel speel. Maar indien dit so is, het dit waarskynlik ’n groter impak op bestuurstyle en oordrewe persoonlike gevoelens van mislukking as op die gehalte van poësie of popmusiek.

Uiteindelik meen ek egter dat sowel “goeie” as “swak” gedigte terapeutiese waarde vir die skrywer het. Sodra jy jou eie storie begin vertel en begin speel met vertelmoontlikhede, perspektief, ritme en beligting, begin jy ’n greep kry op daardie situasie wat jou voorheen oorweldig het. Jy vind afstand en in afstand lê daar ’n mate van beheer en begrip.

 

GU: Terug na “ongruwelike” digters. Jy haal W.H. Auden as motto aan van “Wat swak gedigte weet”: “poetry makes nothing happen” wat in deel ii van ’n lykdig, “In memory of W.B.Yeats” voorkom. Die voorafgaande twee strofes lui as volg: “Mad Ireland hurt you into poetry. / Now Ireland has her madness and her weather still”. Die voorlaaste reël lees: “Raw towns that we believe and die in”. Treffend hier is die raakpunte tussen hierdie versreëls en die tematiese onderstroming van jou bundel wat dan ook opgesom word in Bill Callahan se lirieke: “Yeah one thing about this wild, wild country/It takes a strong, strong/it breaks a strong strong mind”. Sou ’n mens “Ireland” met “Suid-Afrika” kon vervang?

Het Solank verlange die sweep swaai volgens jou ’n sterker sosio-politiese inslag as jou vorige bundels? Behoort Afrikaanse digters meer bewustelik om te gaan met hierdie tipe van tematiek?

DM: Ek dink mens sou beslis die wilde “Ireland” van weleer met die hedendaagse Suid-Afrika kon vergelyk. Baie digters was ook mos maar deur die eeue buitenstanders en pleitbesorgers vir allerhande verlore sake.

En ja, ek dink wel my jongste bundel is meer begaan oor sosio-politieke kwessies of dalk net meer pynlik bewus van die individu se verstrengeling in sy sosio-ekonomiese situasie.

Toe ek jonger was en veral toe ek uit ’n posisie van groot isolasie in Duitsland geskryf het, was “art for art’s sake” iets waarmee ek kon saamleef. Nou lyk dit net nie vir my na ’n sinvolle houding om in te neem in ’n land soos Suid-Afrika waar kuns en letterkunde ’n luukse vir die meerderheid van brandarm mense is nie. En dit sê ek welwetend dat poësie geen beduidende rol in die verbetering van daardie honger massa se ekonomiese lot kan speel nie.

Dis meer ’n geval van Gustave Flaubert se beroemde woorde:

Never have things of the spirit counted for so little. Never has hatred for everything great been so manifest – disdain for beauty, execration of literature. I have always tried to live in an ivory tower, but a tide of shit is beating at its walls, threatening to undermine it.

In Solank verlange is een van die deurlopende temas (en dis iets wat ek eers by terugskoue besef het): die lyding van die middelklas soos dit uitdrukking vind in die letterkunde as ’n soort perverse luukse. Hierdie bundel gaan verder in die problematisering van die ek-verteller se perspektief as iets wat noodwendig deur klas, ras en gender benewel word; die ek as ’n klomp los drade wat met die spoeg en plak van ’n narratief aanmekaar gehou word; ’n verhaal wat die ek uit sy eie desperate duim suig. Soos Bill Callahan dit in “I’m New Here” stel wat Gil-Scott Heron so hoendervleis sing:


And I’m shedding plates like a snake

And it may be crazy
But I’m the closest thing I have
To a voice of reason

 

Maar ek dink nie Afrikaanse digters behoort of moet enige iets doen nie. As die poësie ’n direkte uitwerking op mense se welsyn gehad het, sou ’n mens ’n saak vir een of ander plig kon uitmaak. Dit staan egter enige een vry om te droom en dink en skryf soos en waaroor hy of sy wil. In my poging om te probeer sin maak van my eie lewe en my prekêre posisie van bevoorregting binne die Suid-Afrikaanse samelewing, kon ek gewoon nie anders as om ook soms te worstel met my eie ras, taal en klas nie.

Daarbenewens het ek by tye baie fundamenteel aan die sinvolheid of waarde van die digkuns self getwyfel. Die slot van Stephen Dunn se gedig “Saints” het drie jaar gelede ’n groot impak op my gemaak:

            […] Saints, like revolutionaries walk headlong into
the cool, dry wind, are always serving a hidden flame, are terrifying
because of what they do not need. The saint asks, What will you die for?
The revolutionary adds, For what would you kill? Either way, sacrifice is
an ugly business, as ugly as history itself. Choose between these terrible
things , history often says. We are only commentators until, for us, it
comes to that choice.

Sedertdien het ek altyd weer gewonder oor die waarde van die digter as kommentator en ek is steeds nie presies seker hoe “belangrik” die poësie as kommentaar is nie. In die laaste paar jaar het dit dikwels vir my gevoel asof die tydrowende skryf van gedigte ’n mens eerder van daadwerklike betrokkenheid in die wêreld weerhou; dat ek dalk liewer ’n bom of ’n boom behoort te plant.

’n Mens kan egter ’n goeie saak vir bomme, bome en die digkuns uitmaak. En met die skryf van hierdie bundel het ek wel opnuut vasgestel dat poësie vir jou ’n vastrap- en vashouplek kan skep wanneer die lewe soos ’n seepgladde rotswand bo jou uittroon en die aarde baie gevaarlik ver onder jou lê.

GU: Jy skram nie weg van self-ironie nie; in “Sirkels – en toe kom Nediswa” (97) praat jy van “my sogenaamde werk my / literêre bestaansboerderytjie” en “die verse waarin ek woon is niks meer as / ambisieuse country songs en baie swak adresse nie”. In dieselfde gedig skryf jy oor die T.S. Eliot se bekende en briljante “In my beginning is my end” in “East Coker” in Four Quartets: “T.S. Eliot sê daar sal ’n openbaring wees/wanneer jy eindig waar jy begin het/dat jy daardie plek vir die eerste keer sal ken.” Dink jy dis in die einde-begin-motief waarin die verlange sy sweep swaai? Of is dit in die inversie hiervan waarmee Eliot “East Coker” eindig: “In my end is my beginning”?

DM: Ek dink verlange laat die mensdom in sirkels jaag na wind. Soos Saul Bellow se Henderson the Rain King dit aan die einde van sy mal tog na Afrika stel – ’n ekspedisie waarmee hy probeer het om legitimiteit aan sy eie soeke en bestaan te gee:

I don’t think the struggles of desire can ever be won. Ages of longing and willing, willing and longing, and how have they ended? In a draw, dust and dust.

Maar tot daardie slotsom kan jy eers kom wanneer jy eindig waar jy begin het; wanneer jy moedeloos terugkeer van jou eie besete klein eenman-kruistog.

GU: Jy gaan geweldig intertekstueel te werk, soos te sien in “Ek en Pappa” (Dostojefski) en “Stellenbosch Revisited” (Kerouac), om maar net ’n paar voorbeelde te noem. Verder is daar ook ’n menigte flieks wat jy noem; die volgende beskrywing van The Ring (“Die probleem met dooie mense”:65) sal die meeste lesers laat kraai van die lag omdat jy die essensie van die fliek se gruwelikheid maar ook die humor wat daaruit spruit (omdat die fliek homself so ernstig opneem) so raak vat:  “jy sien nooit daai klein dooie meisie se oë/agter haar olie-swart haargordyn nie maak nie saak/of jy haar jammer kry oor sy destyds deur geliefdes/in die put gegooi is nie. / Sy speel nagmerriereëls./Jou begrip skeel haar niks./Jou empatie sal jou net noodlottig vertraag.”

Wat kom gewoonlik eerste wanneer jy skryf: interteks (literêr en nie- literêr) of gedig? Spruit die omgaan met intertekstualiteit uit jou joernalistieke ervaring en werk as omroeper of is dit net ’n natuurlike honger na en verorbering van die wêreld om jou?

DM: Ek skryf as leser, fliek- en TV-kyker en musiekverslaafde. My Duitse eks het eenkeer verwytend vir my gesê: “Al waarvoor jy omgee, is boeke, musiek en flieks.”  Ek was weliswaar nog altyd meer oor daardie goed begaan as orde in die huis en administrasie, maar ek dink tog boeke, musiek en flieks gaan oor “life, the universe and everything”.

Een van verskeie uitstekende punte wat Nick Hornby in High Fidelity maak, is hierdie een:

It’s no good pretending that any relationship has a future if your record collections disagree violently or if your favourite films wouldn’t even speak to each other if they met at a party.

Intussen het ek meer waardering, eintlik dik respek vir orde in die huis en goeie administrasie, maar wat die intertekste in my werk betref: Ek beskou elke kunsvorm as ’n potensieel eindelose gesprek, soos die filosofie; ’n gesprek sonder een oorkoepelende doel of reëls en riglyne waaroor almal saamstem. Dis ’n gesprek en nie ’n debat of hofsaak waar een of ander regter of beoordelaar finaal uitsluitsel kan gee of ’n wenner kan aanwys nie.

Soms skryf ek in antwoord op woorde uit boeke, liedjies, flieks en/of TV-reekse wat by my spook, my onthuts het of aanhou om aan my te torring; en soms noop sekere gebeure, emosies, vermoedens of idees my om weer te gaan kyk na die woorde en gedagtes van ander wat ek vaagweg of helder onthou en dalk ook iets oor die betrokke tema te sê het.

Die gesprek met intertekste is dus myns insiens ’n heeltemal natuurlike proses. Maar as dit kom by die popkultuur, skryf ek nie as iemand wat meen die letterkunde of poësie is ’n verhewe vorm van kommentaar wat die nonsens van pop op sy plek moet sit of moet korrigeer nie. Daar is ook klassieke, intelligente pop in boek-, film- of liedjievorm. En daar is onverbeterlike country songs wat iets van die menslike toestand uitdruk op ’n manier wat net in ’n country song gesê kan word.

Oor Afrikaans voel ek, byvoorbeeld, nes “Southern Accents” dit sê – ’n liedjie van Tom Petty wat Johnny Cash, soos min of meer alles wat hy geïnterpreteer het, sy eie gemaak het:

 

http://www.youtube.com/watch?v=TT7CVDiCDQI

There’s a southern accent,
Where I come from.
The young’ uns call it country,
The Yankees call it dumb.
I got my own way of talkin’,
But everything is done,
With a southern accent,
Where I come from.

Oor die poësie en die verhouding tussen digkuns en “die mark” voel ek baie soos Guy Clark dit sing in sy country-ballade “Cold Dog Soup”:

https://www.youtube.com/watch?v=BR-1Bgch_l4

Ain’t no money in poetry
That’s what sets the poet free
I’ve had all the freedom I can stand
Cold dog soup and rainbow pie
Is all it takes to get me by
Fool my belly till the day I die
Cold dog soup and rainbow pie

Met ander woorde, ek skryf oor boeke, musiek, TV-reekse en flieks soos ek skryf oor die ander mense, diere, geboue, paaie en landskappe in my lewe. Ek probeer met hulle praat met woorde waaroor ek deeglik gedink het – al beteken dit dat ek dan grotendeels met myself praat en enige ander persoon wat dit lees.

GU: Watter gedig (oftewel ‘ambisieuse country song’) beskou jy as besonder kentekenend van die voorplat en sal jy so gaaf wees om dit vir Versindaba-lesers aan te haal?

Hierdie een praat beslis met Anton Kannemeyer se omslag. Dis dalk ook die bundel se mees ambisieuse, wysielose country song geskryf na aanleiding van ’n rotsstorting gedagtes en emosies wat deur ’n country song losgetrap is:

Fok jou, Emmylou Harris

I guess you had to be there, she said, you had to be
She handed me a yellowed photograph
And then said, See
This was my greatest love, my one and only love
And this is me
Back when we were beautiful, see

 

“Back When We Were Beautiful” is Matraca Berg se liedjie, maar dis Emmylou Harris en Rodney Crowell se weergawe op Old Yellow Moon wat speel

Fok jou, Emmylou Harris,
ek het nie vir hierdie laatnagtrane
in my glas gevra nie ek wou net
’n stil whisky in die TV-kamer
drink ek kan nie meer
bekostig om behoorlik na ou foto’s
te luister nie my rug styf te maak teen die golden oldie
wat daar buite hang nie.

Jy’s soos ’n boksie Lion vir ’n piromaan, Emmylou, ek weet te veel
van al jou drama die spook van Gram Parsons
die “Grievous Angel” wat steeds
loop die manier waarop jy “love” telkens soos ’n laaste asem
uitfluister-sing teen die waansin van die eeue die dodelike argumente
van tyd en geld.

Jy is dikwels regtig sentimenteel, my liewe, liewe
Emmylou, maar vanaand brand jy woorde
met melodieë verklaar jy onomwonde alles het –
al die wêreldoorloë, bruilofte, groot odes en verraad –
ja, alles het wel gebeur my ma het regtig
daardie bloeding op die brein gehad dit was sy
wat die dag moes deur toe kruip om die sleutel in die voordeur
te probeer draai my driejarige Lea het Ouma deur die katdeurtjie
sien lê dit was Ouma se bril
wat op die vloer tussen die TV en rusbank
in die middel van alles
bly lê het die aand toe ek
van intensief huis toe kom haar bril
daar op die blink kammahout-vloer in Mountain View-weg 14
van die veiligheidskompleks buite Stellenbosch op die grond so voor die TV
ek kom nie daarvan weg nie ek sien nog hoe die dokter by ongevalle die lig in jou oë
skyn hoe die pupille nie wil volg nie jou kop skielik stukkend dis te veel, Emmylou,
ek was twee toe jou en Gram se “Love Hurts” opgeneem is ’n paar dae later
was hy dood aan ’n oordosis is die lewe
nie uiteindelik altyd ’n oordosis
of ’n country song nie?

Jy kon nie na die begrafnis gaan nie, Emmylou,
want Gram se weduwee, Gretchen,
dis te verstane jy moes oud word
om hierdie liedjie vanaand
deur my te skroei ek moes middeljarig word my ma se kop
moes eers bloei my ouma Max moes eers
doodgaan haar troue lewensmaat-bediende Lea moes eers
begrawe word nou die dag in Malmesbury waar die bruin
mense nog rou psalms tot in die hemel verlang
my tweede vrou moes eers wegloop en my nefie Adriaan
moes eers in sy woonstel in die Bo-Kaap per ongeluk aan ’n bipolêre oordosis
met sy worshond Neelsie sagmoedig twee dae lank by sy lyk selfs Neelsie
is nou die dag uitgesit my oom Nico sê hulle moes hom drie keer
inspuit hy wou nie die lewe laat los nie al
was sy agterlyf verlam
sy niere op ja, ek moes eers leer hoe sekere soene nogtans
so duur
eers sien hoe die liefde nietemin
soos ’n hond kan vrek voor ek
vanaand kon hoor hoe versigtig jy, Emmylou,
“love”, “beautiful” en “me” in die mond neem
voor jy laat los skynbaar
vir altyd, Ma, ek onthou
hoe jy vertel Rod Stewart het die oggend met al sy bottelblond,
sy buite-egtelike kinders en mislukte huwelike op RSG
“When We Were the New Boys” gesing toe jou ma
my ouma Max deurtrek steeds van die allerblindste liefde net daar
in jou huis in die spaarkamer met sy ingeboude kammahout-kas uit die 70’s
al haar liefde saggies uitgeblaas het.

Liesbet het vertel: “Die oumiesies het gesê
sy wou hier by jou kom doodgaan.”
Ouma Max en Liesbet het mos altyd verbete saam Bybel gelees en gebid
die sendeling in Ouma het nooit gaan lê nie sy was mos onverskrokke
jonk destyds in Malawi se sendingstasie soms luiperdspore
soggens onder haar venster.

Maar fok jou, Ma, jy moenie dink jy kan weer
na my toe kom om jou nuttelose bril finaal
net daar op die grond voor die TV
te laat lê nie dis nie hoe jy my grootgemaak het nie.

Ek weet jy kry nou swaar met jou kierie en nagevolge dit skud my
wanneer jy rustig oor die telefoon sê jy moet eintlik nou groet
jy voel so nutteloos pa is nog so “able-bodied”
was die woord wat jy gebruik het
wat moet jy met die res van jou lewe doen wat word
van selfrespek?

Ek weet nie, Ma, maar ek kan nes Neelsie nie
laat los nie jy was dan al die jare ons bendehuis en Emmylou
sing dis alles nou ’n ou foto
net die groot goue ou sakhorlosie daar buite hou aan o
fok jou, arme Emmylou, toemaar skop uit nou jou cowboy-stewels
in hierdie ondermaanse ellende laat los nou vir Gram dis alles
net die oordosis
van ’n ou country song, kyk,
buite in die maanskyn staan Iron Man van plastiek –
klein Lea se maatjie Sam het hom rooi en goud
in die agterplaas se lang gras vergeet ’n standbeeldjie
wat eendag sal herinner aan die verre droomverlore
vroeë 21ste eeu.

(c) Danie Marais (Uit: Solank verlange die sweep swaai, 2014: Tafelberg)

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Danie Marais (Solank verlange die sweep swaai)”

  1. adriaan :

    middelklas se stoeledans soos woude slink, so stewel die soutpan wat soog ‘n flamink

    Baie geluk Danie! Plant eerder die saad en dan die boom, dit kweek groter waardering.