Resensie: Assignaat (Willem Krog)

Assignaat deur Willem Krog
(Uitgewer: Hond, ISBN: 978 1 874969 204; Slapband, 79pp.)

Resensent: Marius Crous

Omslag

Willem Krog het in 2011 debuteer met die roman Jacobus wat handel oor die ontnugterde Jaco Malan wat krities staan teenoor die Suid-Afrikaanse bestel en dit sterk oorweeg om te emigreer. Veral die vrese en ontnugtering van wit Afrikaanse mans kom hierin ter sprake. Hierdie tema word voortgesit in sy debuutbundel, Assignaat; veral in die tweede gedeelte, “Tien lamente vir ʼn MLC”.
Die titel van hierdie bundel verwys, volgens die WA, na “ʼn stuk papiergeld wat tydens die Franse Rewolusie gedruk is en wat gedek word deur die toekomstige opbrengs van genasionaliseerde, kerklike, ontroerende goedere”, maar het ook betrekking op iemand wat “in ʼn assignasie aangewys is om aan ʼn ander persoon (assignatoris) ʼn som geld te betaal.” ʼn Assignatoris is iemand wat as “ontvanger van ʼn aanwysing tot invordering by ʼn derde persoon” benoem is.
In die gedig “Brief aan Jesus” (30) word daar verwys na Christus as “assignaat” wat die “onverdraagsame / rasobsessie wit moet was”. Ook in “Pak vir Perth” (37) is die spreker “moerig / vir Afrika” waar hy voel dat hy gereduseer word tot ʼn assignaat in ʼn omgewing waarin hy toenemend ontuis voel. In “Die boord” (69) verwys die spreker ook met behulp van ʼn boommetafoor na homself as assignaat wat “droog en oud” is en nie van veel nut meer is nie.
Hierdie titelgegewe word verder in die bundel in verband gebring met die “volksevangelie” in die eerste deel. Die gedigte fokus grotendeels op die politiek en die politieke herkoms van die Afrikaner, terwyl dit ook kan verwys na die sosiopolitieke omwenteling wat na 1994 plaasgevind het. Die wit middelklasman sien homself as deel van ʼn groep wat ʼn som geld as aflaatboete vir hul aandadigheid, al dan nie, aan die skuld van die verlede moet betaal. Die gedig “Moet ek jou voete was?” (29) met sy toespeling op die Bybelse gegewe, asook die voetewassery van Adrian Vlok, sentreer ook rondom “die groot verkeerd” en wat gedoen kan word om hierdie onregte van die verlede te besweer.

Moet ek jou voete was?

Moet ek jou voete was om te mag jammer sê
oor die groot verkeerd?

Ek behaag jou as ek volledig bieg
oor die groot verkeerd

Jy maak my tweede klas om te vergeet
van die groot verkeerd

Oor die groot verkeerd
skeur ek my klere en gooi as op my kop
oor die groot verkeerd

Vat my grond om die gat in jou lewe te vul
van die groot verkeerd

Skiet my, die ibhunu, skiet hom dood
oor die groot verkeerd

Sal jy dan ophou om so swaar te kry
oor die groot verkeerd?

Willem Krog baseer in die eerste afdeling van die bundel , “Verse vir ʼn volksevangelie”, sy gedigte op Bybeltekste en hy dui in voetnote onder aan die bladsy op watter onderskeie tekste dit gebaseer word. Eweneens is intertekstualiteit ter sprake in die derde afdeling, wat, soos die titel aandui, “Verse [is] op ou woorde”, waarin bekende ouer gedigte herskryf word in ʼn eietydse idioom.
Die verse in die openingsafdeling word volgens ʼn historiese lyn gerangskik en konsentreer op gebeure soos die ontstaan van Afrikaans, die Anglo-Boereoorlog en aan die hand van ʼn kleuterrym, word verbande gelê tussen hede en verlede, wanneer Zuma se bekende masjiengeweerkreet herklink. Laasgenoemde kom weer ter sprake in “Skiet die boer” (49) waarin die dood van Piet Retief as vertrekpunt dien en deurgetrek word na Fanon en die eietydse geweld in Suid-Afrika. By Willem Krog is daar ook ʼn sterk aanklag teen die kapitalisme soos blyk uit “Saggeüs” (18) en “Die ballade van die bloeddorstige CEO” (24). In laasgenoemde verwys die CEO na homself as iemand aan wie “mag gegee [is] oor alles wat hier / in kantore en computers kom losies”. Terloops, op meer as een plek word die welvarende sakeman gekoppel aan sy Mont Blanc-pen. Skryf sakemanne nog met penne of doen hulle nie deesdae alles op hulle I-pads of slimfone nie?
“Die gevalle Afrikaner-krygsman” (32) is ʼn nadigting van C.M van den Heever en situeer die gebeure in die gedig in die grensoorlog met sy Ratel, plekke soos Brug 14 of Cuito Canavale. In die slotstrofe word Nkandla betrek en die Zoeloe-indoena van Van den Heever se oorspronklike gedig word byna profeties betrek om na die huidige president te verwys. Dit wil voorkom as C.M. van den Heever die vader-digter is vir Willem Krog, want hy tree nie net met hom in gesprek nie, maar herdig hom ook in ʼn nuwe idioom en konteks.
Jeugherinneringe aan Middenspruit en aan die vaderfiguur tussen die skape word in die tweede, meer persoonlike afdeling van die bundel aangetref. Hier word die klaagsange oor die middeljarige lewenskrisisse aangetref: daar is die veragting van die wit middeljarige man (42), die belewing van ʼn hartaanval (43) en die depressiwiteit wat daarmee saamgaan.

Depressie

Elke oggend
klop die swart hond
my op die skouer
sy stink asem in my nek

kom wolfie
die gat is diep,
kom ons sak ons sterte in en kyk
wie vang die eerste vis

My tong droog
teen die verhemelte
soek ek na die stem
om hom af te weer
maar die neurologie
ontbreek die impuls

So sit ek elke dag vasgevries
die landskap grys verdroog
my gedagtes speel snoeker
in die grotte van my kop
wyl my sinne al sagter sagter
in die stilte van my kopbeen eggo

Ook word die verlede bevraagteken en word krities standpunt ingeneem teen die ideologiese manipulering vanouds toe apartheid as “’n Godgegewe vrug” (51) verkondig is. Die afdeling word afgesluit met Spivak se bekende aanhaling oor die subaltern, wat as grondgegewe dien vir ʼn gedig oor die honger stemloses in die land. Deur hulle by die naam te noem (Sebengu, Mapule, Nkune, Onkarabile, Gabaediwe Motsage, Junaid McKenzie, Mogamat Jacobs) word hulle anonimiteit opgehef.
Die derde afdeling bestaan grootliks uit intertekstuele herskrywing van bekende gedigte of beelde uit die werk van ouer digters word herkontekstualiseer, bv. Boerneef in die Virgin Active. Ook Leonard Cohen die digter en sanger se werk word betrek en word hy direk aangespreek in “Ek wil met Leonard praat” (66). In hierdie afdeling word ook ʼn paar erotiese verse ingesluit waarin Willem Krog hom heel vernuftig van sy taak kwyt.

Sonata vir seks

Soos die orkesmeester sy orkes roep
is daar die punt tussen voorspel en seks
waar speel eindig en intensie begin
waar vroetel eindig en ritme begin
waar stryk eindig en vryf begin
waar druk eindig en pols begin
waar styf eindig en klop begin
dit is dan wanneer die lywe
in simfonie saam speel
die tong die vinger antwoord
die lippe die dy versterk
die kwyl dik heuning word
en as jy hard binnegly
en jou skelet jou spiere sluit
kom die wysie in perfekte harmonie
ritmies ritmies ritmies in die ritme rol
en al die note die oeroue wysie
in jou keel kom speel

Wanneer die oorspronklike model so nougeset nagevolg word of baie pertinent oor-geskryf word, bestaan daar die gevaar dat die nuwe teks dikwels as bolangs of sonder diepgang beskou kan word. Willem Krog se omdigtings is myns insiens nie oral ewe geslaag nie en hy trap maklik in daardie slaggat.
In geheel gesien is dit ʼn bundel wat relevante, eietydse kwessies aanspreek – dikwels met heelwat humor. Soms begin van die gedigte vir my te stellerig en oordrewe, of maak Willem Krog hom skuldig aan ʼn tipe mooiskryf. Hinderlik in die eerste afdeling is die enkele setfoute – veral die koppelteken ontbreek dikwels – terwyl “koningkryk” (23) en “finansieële” (27) die oog verblind.
Ek sien veral uit na ʼn volgende bundel waarin hy meer à la Cohen, “die oeroue wysie / in [die] keel kom speel” en in die proses ook sommer die gesteelde appels uit sy voorgangers se boorde prysgee.

***

 Resensie geborg deur

 

Bookmark and Share

Comments are closed.