Kompetisie: Die lykdig

Die kompetisie het nou gesluit! Webmeester gedaan!

Baie dankie vir almal wat hieraan deelgeneem het. Daar was besondere

inskrywings. Binnekort maak ons die Top 15 tot 20 bekend

wat dan na die finale keurders gestuur word vir verdere beoordeling.

-----------------------------------------------------------------------

Versindaba Poësie-kompetisie: die Lykdig

Die  kompetisie sluit vandag stiptelik om 17h00 (21 ste Julie, 2014). Laaste kans om in te skryf!

Die opdrag: Skryf vir hierdie kompetisie ‘n Afrikaanse lykdig

oor enige ontslape digter.

(Die gedig moet ongepubliseerd wees, en NIE in boekvorm, of op die internet, ander tydskrifte, ens. verskyn het nie. Moet ook nie jou inskrywing elders of tussen vriende onder jou naam gaan adverteer, alvorens die kompetisie afgehandel is nie.) Die gedig vir inskrywing kan gaan oor enige gepubliseerde en bekende/gevestigde digter uit enige land of taalverbondenheid. Stuur jou gedig aan Versindaba  of Die Webmeester (in ‘n Word dokument & nie as pdf nie). Voorbeelde van lykdigte sal jy heel onderaan aan hierdie bladsy kry. Geen grafika mag die gedigte vergesel nie.

Pryse:

EERSTE PRYS: R2000

TWEEDE PRYS: R1500

DERDE PRYS: R1000

‘n Gedig met Eervolle vermelding: R500

 

 Om alle vorige inskrywings tot dusver na te gaan, kyk hier.

 

Kompetisiereëls :  

1. Alle gedigte wat kwalifiseer na ‘n eerste keuring sal van tyd tot tyd geplaas word op hierdie webblad, anoniem. Slegs een gedig per inskrywing mag ingestuur word.  Geen grafika by hierdie gedigte nie!

2. Die naam van die afgestorwe digter waaroor die lykdig gaan moet in die titel of subtitel van die gedig vervat word, sodat die lesers/keurders kan weet oor wie hierdie gedig handel. Bv.

Toe kom die najaar

                     Vir DJ Opperman

Of

In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)

 

3. Na ‘n eerste seleksie (anoniem deur Versindaba se komitee) van 10 tot 15 kwalifiserende gedigte sal ‘n nie-deelnemende komitee van drie persone aangestel word om hierdie gedigte (ook anoniem) te beoordeel. Die keurders/beoordelaars sal nie in kontak met mekaar wees nie of weet wie die ander keurders is nie. Volgens ‘n puntetelling vir die keuses van die beoordelaars, sal die wenners gekies word.

4. Moenie jou gedig vir die kompetisie by jou vriende adverteer onder jou eie naam nie. Daar mag dalk ‘n keurder onder hulle wees! Die gedig sal dan gediskwalifiseer word. Geen skuilname is ook toelaatbaar nie. ‘n Gedig verskyn anoniem op hierdie webtuiste, en dus moet jy anoniem bly vir die duur van die kompetisie. Kommentare op gedigte is toelaatbaar, maar hulle mag weer later deur Versindaba verwyder word.

5. Die wenners sal dan hopelik teen die einde van Julie 2014 of vroeg in Augustus bekendgemaak word.

6. Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is om 17h00 op die 21 ste Julie, 2014.

 

Aspekte van ‘n  lykdig:

‘n Lykdig is ‘n elegie of treurlied, meestal oor ‘n afgestorwene. Soms bevat elegië ook lofprysings of  ‘n huldeblyk  oor ‘n afgestorwene.  Die waarde en deugde van die digter se werk, sy menswaardigheid of selfs enige narratiewe elemente uit sy lewe kan besing word. Belangrike elemente in die lykdig sal bv. die volgende wees: lof, rou en troos. Maar jy kan ook in gesprek tree met die afgestorwe digter of selfs met hom identifiseer of nie identifiseer nie. Jy kan aansluit by ‘n spesifieke gedig (of bundel) van hierdie digter wat jou eenkeer geinspireer het en daaroor besin. ‘n Tema wat dus ‘n groot uitdaging aan jou as digter gaan stel!

Met dank aan Cordis Trust wat hierdie kompetisie vir ons borg

 

Voorbeelde van die lykdig


1

 

toe jy sterf, Magmoed

toe jou slagaar kronkelend en sloom

soos ‘n pers slang bars

want die reëls kon die volmaakte metafoor

nie meer dra

en jou hart as gedig

die laaste bloed moes spuit

in die siekehuis in die vreemde

land van barbare,

toe jou hart oplaas

‘n verskeurde klinker is

 

groei ‘n maan oor die eiland

tussen die skuiwende wolke

van hierdie ‘klein winterseisoen’

wat aans ‘n donker ink in lang verslyne

oor die golwe gaan stort

sodat kraaie en bokke en arm kinders

al singende in die modder kan plas

asof dit die viering van bevoëling is

 

(Uit: Oorblyfsel/Voice Over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj,

deur Breyten Breytenbach; Human & Rousseau, 2009)

 

*

 

In Memoriam: Hennie Aucamp (1934 – 2014)

 

I. Ewige flaneur

Vir jou is elke dag steeds vol

soos die wyd-oop kelke van lelies,

& uit die vensters van kerke

sing die lig sy evangelies.

 

By Blouberg kom die wit reëls een-een aan,

die soutige jambes vanmelee

wat die jongmans wit vlerke

om hulle enkels gee.

 

Die meeue duikel bo die water,

opgehef soos die palms

van priesters

met oggendpsalms.

 

Seepunt se palmbome span boog

teen die wind, & op ’n seemuur

verstrak ’n akkedis in sy skadu

tot hiëroglief van die middaguur.

 

Op die blou uur hunker jy van lig- na skemerkol,

op jou lippe die gesoute asem van ’n kus

& in jou binneoor eggo

die domkerk van die nautilus.

 

 

II. Dagreis

In jou woonstel kom & gaan die lig,

kantel van ruit na ruit,

maar jy’s nie langer op die son gerig.

 

Die wind se ape-spel

van blaar na blaar bedaar,

& skadu’s ink die park tot luiperdvel.

 

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,

het jy ingekruip onder ’n grou kombers

& met jouself gaan lepellê op langelaas.

 

© Johann de Lange. 2014

 

*

ELISABETH EYBERS

 

Die predikantsdogter van Wes-Transvaal

promoveer van intieme moederskap-

en herinneringsvers tot optekenaar

van verlies: leef ver van jou goed

en na aan jou poëtiese wins, of bly

ná aan jou vers en vér van jou minnaar.

Meet in ’n liniaalland iets onmeetbaars

soos ingeperktheid, eensaamheid, kilheid.

In die omgekeerde teleskoop van verdriet

registreer sy beelde in ’n sober tussentaal.

Soms laat die digter die voordeur oop,

’n lig aan of laat die ketel oorkook: ’n beeld

glibber in die donker voornag …

Voetjie vir voetjie, stadig, langsaamaan

word mens woordimmigrant: tel die woorde jou af,

reguleer die ritme jou lewe soos die tik-tak

van ’n wekker ’n slaaplose steur.

Ironie word ’n bloeiwyse, die kruis

en munt van ’n bloederige bedryf.

Leer ritmies reflekse van oorlewing aan,

selfs siekte se slopende houvas met rym bedwing.

Iewers staan geskryf: die digter leef haar

gedigte soos ’n slegte gewete of herinnering af.

Flink afgerig vir iets soos kil ironie,

word sy meester van die pynlike prosodie.

 

(Uit: Lykdigte, deur Joan Hambidge; 2000)

 

*

 

Laatnagvrese

Wessel Pretorius (1949 – 2012)

 

Wessel, dis nou drie dae na jou dood

& die koerante swyg in al hulle kolomme

oor die dertiende van die derde

toe jy die onderspit gedelf het.

Die media voel fokkol vir digters.

Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter

& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.

Al was ons haaks al om die hawerklap

(darem nooit slaags, behalwe in woorde),

verdien ’n digter darem ’n afskeidsgroet.

Laatnagverse & ander vrese bly

’n befokte boek, ons sal ver

na nóg een soos jy moet soek,

jy is ’n original, met jou ingat, ougat taalspel,

met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.

Alles is verniet, & níks is verniet.

Trust jou om die dertiende

vir jou flatline op die Styx te kies.

Wás die lewe maar soos ’n LP

wat op ál die regte plekke vashaak,

daardie spesiale blikke & oomblikke

waaraan mens bly vasklou

as die naald gly oor die blinkswart strook

om in die voltrekte stilte te bly hakkel.

 

Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,

& jou vrytyd verby, is dit saktyd

& jy is gans uit jou plek. (Boer jy

nou saam met Carl Ziervogel

& voer daai groen gesprek

wat net in begraafplase gedy?)

Of is jy sprakeloos gedryf

om druk ondergronds te skryf

met ’n lyf wat lykant toe leun?

Ek hoop jy het op jou nul-uur

weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.

Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,

tussen verloor & vind – dáár lê die ding.

 

(Uit: Stil punt van die aarde, deur Johann de Lange, H&R, 2014)

 

*

 

Brief vir Chris Lombard

Poste Restante

 

“Die aarde hou geen seismografiese register

van selfs die felste trillinge van pyn”

 

Ek het jou eenmaal in lewende lyf ontmoet

toe jy my buurman in Monte Alto besoek.

 

Uiloog, vriendelik, afstandelik, onthou ek;

’n man van min woorde, ’n ware heer, ontdek.

 

Met jou spaars bydrae egte poësie geskryf,

hier waar die hekbrekers, elke kywende wyf

 

deesdae ’n “gedig” op die internet post,

selfs betaal vir ander om dit op te “poets”.

 

Met die digkuns, so lyk dit my, is die verhoog

verkieslik bó dit wat jy in die vuurherd stook.

 

Daar is meer poëtasters, kansvatters en knoeiers

in hierdie bedryf as oorgewig én dom rofstoeiers.

 

Daar is méér pryse en medaljes as Augustyne;

gemeensaamheid en domastrantheid vier hoogty.

 

Vergeet van die awdl, daar word te veel gedoodle;

die zeugma by kaalkoppe dui op dié verloederle.

 

Hierdie is geen ligne donnée, net iets vir ’n Poète Maudit.

Nog ’n afsterwe van ’n ware digter maak my morbied.

 

(Uit: Meditasies, deur Joan Hambidge; H&R, 2013)

 

*

 

sjalom, Amichai

 

tussen dooies is daar vrede

en gryswit stiltes in albasterkruik

 

sjalom, waar jy rus

sjalom, tussen hemel en aarde

jou woorde bloei nog steeds

en jou are aan bome vertak

na alle lande

 

tussen die dooies rus jy vir altyd

jou woestyne flikker en tem die verse

oor al jou seer of verbeelde geliefdes

met hulle hare wat spoel tussen die see

en die strate van Hamadiya of Jerusalem

met hulle hande wat soek

in kamers van Buenos Aires

waar geluide in rou nette van waterpype

opwel en knetter

 

en hulle staan by verkeersligte geel en groen

en by die rooi waar jy hulle verloor het

 

maar hulle onthou jou drome

hulle onthou die ure in deure of vensters

die gordyne wat in flarde roer teen ʼn nag

olyfpit en glad as die wind jou weer neem

na die stilte tussen hemel en aarde

 

hulle onthou veral jou woorde

wat sag en sagter bloei aan gisters

net voordat die dun skelet van jou sandale

verlore gaan in die dooie see

met die wegsink van jou son

 

want tussen dooies is daar vrede

en gryswit stiltes in die kruik

 

sjalom, waar jy rus

sjalom, tussen hemel en tale

 

(Uit: passies en passasies, deur Marlise Joubert; Protea, 2007)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Kompetisie: Die lykdig”

  1. Maria Snyman :

    Mal oor die moeë letterlê katjie, en dankie vir die harde werk Marlise!