Lykdig 55: Kirby van der Merwe.Klein manifes van ’n reisiger

Klein manifes van ’n reisiger

vir George Weideman

2 Julie 1947 – 27 Augustus 2008

 

 

Ek het gisteraand gedroom van jou, George.

Ons het op ’n rivierwal onder ’n boom gesit terwyl die son kliplangs spring,

die blare roeiend in die wind. En jou oë

het geswem agter jou brille. En daar was bye

wat gekom het vir die koelte en die water en die soet

sonnigheid van die geelperskeboord daar oorkant.

En ek het hulle met my hand weggeklap, want hulle het teen ons vasgevlieg,

hard en grof en iesegrimmig. En toe sê jy, nee, bye is maar net boodskappers.

 

En ek sê vir jou, George,

hier moet ’n korf wees iewers bo ons koppe

in ’n uitgeholde mik of in die donker kol treurwilgers daar oorkant.

En jy kyk vir my

met jou rug teen die stam

op die klam molm op ’n flenterlap van droë eikeblare in jou chalk stripe kispak,

das, blink vasgerygde skoene.

 

En ek sê vir jou, George,

ek was in Onseepkans en toe het ek aan jou gedink.

Ek was op Pella en toe het ek aan jou gedink.

Ek was diep nag in ’n staning onder die sterre en ek het aan jou gedink –

ek was in die tuin van klip en vuur en ek het aan jou gedink.

 

En toe sê jy vir my, George,

kom ons doen iets met die eik. En ons saag dit met ’n treksaag en die boom

val in die koue duikpoel, sink tot op die bodem.

 

En toe sê jy vir my, George,

die boom week in stille waters,

dat die waters sap, son, siekte uit die selle loog.

En eendag gaan die boom op ’n sandbank uitspoel, sê jy, soos ’n geraamte, soos gebeente.

 

Ons loop versigtig deur die rivier na die oorkantste wal,

na die droë beenwit boom

op die witgewaste sand met die kantwerk van verkoolde takkies

uitgespoel na ’n bosbrand.

 

En toe tel jy ’n takkie van die sand af op, George,

en met die stukkie houtskool ets jy op die  wit gebleikte hout

jou klein manifes.

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Lykdig 55: Kirby van der Merwe.Klein manifes van ’n reisiger”

  1. Hello Kirby, Baie geluk. Ek was terug op die bus na Brandvlei,waar ek vir die eerste keer met George Weideman kennisgemaak het.
    Anne Michaels skryf in haar Fugitive Pieces:
    The mystery of wood is not that it burns,but that it floats.
    So ook met die nalatenskap van GW.
    Groete
    Louwene.

  2. Marlise Joubert :

    Stem saam met jou Louwene. Ek het besonder baie van hierdie ‘klein manifes’ van Kirby gehou! Die eenvoud van die gedig het my ontroer en ‘n baie presiese beeld gegee van George Weideman wat ek oor jare ook geken het.