Resensie: Solank verlange die sweep swaai (Danie Marais)

Solank verlange die sweep swaai deur Danie Marais

(ISBN: 9780624068426; R150.00; Sagteband, 112pp; Tafelberg,  2014)

Resensent: Tom Gouws

Poëtiese nawelstaar op 41

 

Omslag

Danie Marais se debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het die Afrikaanse literêre toneel soos ’n baie opwindende dog onverwagte ruimteskip getref. Dit is oorvloedig bekroon, met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- én UJ-debuutprys. Aan sy tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand (2009), is die Suid-Afrikaanse letterkundetoekenning (SALA) vir poësie toegeken, en dit het eweneens ’n gul ontvangs van kritici en lesers gehad. Pas het sy derde digbundel die lig gesien, weer eens met ’n ongewone titel: Solank verlange die sweep swaai.

            Gemeet aan die vinnige en ywerige mediareaksie op die bundel, die baie onderhoude met die digter en verskillende tipe aankondigings oral, is daar bepaald ’n groot afwagting vir wat hierdie bundel die Afrikaanse leserspubliek kan bied.

     Soos met sy twee voorgangerbundels se voorblaaie het Marais nog eens ’n komiekstripkunstenaar gebruik, en dié parateks speel ’n belangrike rol om die konteks waarbinne die teks aan die leser gebied word, voorop te stel. Die pragtige voorblad en uitsonderlike agterblad deur Anton Kannemeyer het nie so sterk strip-aanslag soos die vorige twee digbundels nie, maar deurdat dit weer ’n stripkunstenaar se werk is, word die digbundel se doelbewuste subversiewe karakter beklemtoon.

          Getrou aan die stripgenre se ondermyningsaard loods Marais se bundel spesifiek ’n opstand teen die oorgelewerde gebruike, tradisie en verwagting ten opsigte van die poësie as genre. Hy skryf uitvoerig oor die “anti-vers” en die “on-gedig”  en deel onverbloemd sy “misnoeë met die digkuns”, en maak deurlopend sterk uitsprake teen die (dikwels) onuitgesproke voorveronderstellings van wat goeie poësie in wese is/behoort te wees. Hy stem saam met W.H. Auden wat gesê het: “Poetry makes nothing happen.”en skryf dan ’n lang gedig met die titel: ‘Wat swak gedigte weet’, waarin hy ’n handvol kenmerke van “vrot poësie” vermaaklik enumereer:

               … die voorspelbare vertwyfeling

die Highveld Stereo-hartstog

die emosionele pornografie

die infantiele woordspel

die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym

die zombie-hallelujas

die grillerige intimiteite en nat klapsoene

die ongesofistikeerde teleurstelling

die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum

die onafgewerkte noodkrete

die selfmoordbriefies vol spelfoute

die onbelese arrogansie

die onbeholpe pretensie

die selfbewuste eerlikheid

die vervelige nagmerries

die macho selfbejammering

die loopmagiese realisme

die voorstedelike surrealisme

die alewige gatkruip by die doofstom Muse

die arseen-poeticas

die aansitterige besorgdheid oor die natuur

die kleingeestige politieke prekerigheid …

Dié gedig word opgevolg deur ’n gedig met die titel: ‘Wat dié klip weet’, waar die klip metafories ’n “volmaakte anti-vers” voorstel. Maar gemeet aan die kriteria vir vrot poësie (en waarop ’n mens in dier voege kan uitbrei) is hierdie gedig bepaald ’n vrot gedig, wat miskien dan juis is wat Marais wou vermag, want dit illustreer netjies sy intensie om poësie te ondergrawe – wat dit dan ’n geslaagde gedig maak. Slim, maar vir my gevoel effens  te  déjà vu.

            Is dit Miroslav Holub wat gesê het: “There is poetry in everything. That is the biggest argument against poetry”? Nietemin, Marais is ’n té begaafde digter om in sy eie wip gevang te word. Die gedig ‘Wat swak gedigte weet’ se laaste strofes wys hoe kragtige metaforiek hom telkens red uit die dralerige langtand-filosofiese trant wat sy poësie soms wil probeer inslaan:

            Die goeie gedig is die frats, die leuen,

            want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –

            die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie

            die dood bloot formaliteit.

            Goeie gedigte is die kopligte

            wat jou fataal verblind,

            want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking

            agter die stuur van dié twaalfton-cliché.

Maar soms slaag hy glad nie daarin nie en raak die metafore ongemaklik verstrengel:

            …sou ek

            net so min verstaan het

            soos jy druppel mens toegewikkel

            in blinde liefde

            en die Madiba-kombers vannag

            terwyl die Kaapse winter

            onverstaanbare reënwoorde

            teen ons rooi sinkdak mompel –

            jy, klein heilige, met een kaboutervuis

            soos “Amandla!” langs ’n fyn stralekrans

            van goue babadons.

Kyk ook na hierdie twee strofes uit die lang gedig ‘God praat met Bloedneus praat met God’:

            Is daar nog ’n Afrikaanse vers wat ’n melaatse woordwerker

            soos ’n judaskus kan plant op die wang

            wat die vrot alles die see in kan laat wankel?

            Is daar ’n liriese digterlike vloek wat die hele

            monomane Monopoly-bord kan omgooi

            en al die banke kan breek?

’n Veelbekroonde digter behoort nie só met halfpap swemvlerkies van selfbewuste woorde in die vaarwaters van taal te spartel nie. Marais kán verdomp vaardig swem, weet ons. Kyk na die aangrypende én knap gedigte soos ‘Vergeet Neruda’ en (ironies genoeg) ‘Nie ’n vrye vers nie’:

            Die liefde soos die lewe was toe nie ’n vrye vers nie,

            maar ’n nagskof met ’n krieketkolf

            voor ons stroois in suburban bohemia waggestaan

            en toe ek teen dagbreek honger ingaan,

            was niks soos ek dit onthou meer daar nie, nee,

            my vrou was vort, die kind het geskree,

            die situasie het die kat miaauend gemeen

            was te desperaat om ernstig op te neem.

            My knie moes buig voor die totalitêre rymskema

            geen afwyking is geduld van die tema

            die liefde se kleinburgery

            was suiwer slaafse dwingelandy –

            ’n laeklas soort van sonnet met

            ’n voorspelbaar verpletterende slotkoeplet.

’n Mens sou die voorblad ook kon lees as ’n heenduiding na die spesifieke ruimtelike posisionering van die bundel, naamlik Kaapstad en omstreke. Die amper-Pierneefbome aan die hang van Vlaeberg en so opsigtelik “teen ’n Tafelberg” tussen Groote Schuur-hospitaal en die Universiteit van Kaapstad, bes moontlik kruin- of sambreeldennebome (Pinus pinea)  wat “stuiptrek” in die wind (p. 27), is bepaald deiktiese aanwysings van die ruimte wat Marais in die bundel sentraal stel. Vier van die bundel se vyf afdelings word deur rubrisering getipeer deur adresse in die groter Kaap, klaarblyklik adresse waar Marais gewoon het of tans woon.

            Hierdie tegniek is duidelik in navolging van Nathan Trantraal (interessant genoeg ook ’n stripkunstenaar) se bundel, Chokers en Survivors. (Wat ook al veel sê van dié epogmakende bundel se belangrikheid in die Afrikaanse letterkundesisteem.) Gérard Genette, in sy Paratexts: Thresholds of Interpretation (pp. 1-2) se verduideliking sou gebruik kon word om wat die abstrakte outeur met die bundelkomposisie doen, mooi te verduidelik: “(It is) more than a boundary or a sealed border, …  rather, a threshold, or – a word Borges used apropos of a preface – a ‘vestibule’ that offers the world at large the possibility of either stepping inside or turning back. It is an ‘undefined zone’ between the inside and the outside …”

            Die verhouding tussen die buiteruimte en die binneruimte is in Marais se oeuvre ’n hoogspanningsdraad, en elk word voortdurend in terme van mekaar geherdefinieer, soos Susan Smith knap uitgewys het in haar artikel oor Marais, getiteld ” ʼn Verkenning van konsepte van binne-/buite-wees in Danie Marais se debuut-digbundel’, wat in Stilet gepubliseer is. Die Engelse opsomming van die artikel is eweneens steeds die stramien van hierdie bundel se tematiek: “Marais explores the concepts of place and identity, of being outside, of being on the other side  … (E)ventually he becomes the Other, a position, … from which there is no return. From this new position there is an act of continuously looking back from one space to another, a movement which brings forward the aspect of liminality. Central to the work is the relationship with the loved one and the disintegration of this relationship, which can be read as a metaphor for the personal experience of loss of cultural identity, mother tongue and homeland.”

            Die oënskynlike doodloopstraat waartoe die teks lei, word ikonies van die digterlike outeur se lewe, wat nogal na my gevoel ’n vindingryke stylgreep is. As ʼn mens dit in die lig van byvoorbeeld Gaston Bachelard se klassieke The Poetics of Space sou lees, kan dit lonende uitkomste bied.

            Daar is in hierdie bundel steeds ’n sterk outobiografiese inslag, en ’n mens sou dit selfs ’n digterlike egodokument kan noem. Ons lees die besonderhede en schmertz van sy tweede egskeiding, die krisisse van enkelpaskap en sy algemene droewige beskouinge oor ’n ontgogelde middeljarige lewe in ’n omheinde veiligheidsoord, in “die ligte hel van middelklas”, alles brazenly self-referential, of soos die een gedigtitel dit stel: ’n deeglike onderlegging in poëtiese “nawelstaar op 41”. Daar is ’n “pynlik persoonlike dimensie” ten grondslag van die totale bundel, helaas dikwels met “selfbejammerende ontevredenheid”:

            ’n verslae man van 41

            met ’n brandende dogtertjie van 4

            tussen twee verskroeide huwelike,

            comfort food, matige dosisse

            bokswyn en die oop see.

Soms is die persoonlik sentimentele egter net te aanhoudend benoud en on-universeel om mee te identifiseer. Maar weer is Marais te slim vir wat hy vreemd genoeg “die almagtige leser” noem, want alles in aanhalingstekens hierbo is sy eie kensketsing van sy werk, deel van die anti-poësie waarmee hy sy eie werk probeer ondermyn. En dit uiteindelik dan nié doen nie. Slim. Hy word waarlik soos sy Twitter-profiel @TheDanieLama dit netjies stel: “practitioner of poetry as a form of self-defense”.

            Maar dan, met ’n volgende gedig, slaan Marais jou voete onder jou uit met ’n absoluut vernuftige selfbejammering, so ontroerend jy gaan luister selfs weer na “Back When We Were Beautiful”, Emmylou Harris en Rodney Crowell se weergawe op Old Yellow Moon op YouTube as jy sy gedig ‘Fok jou, Emmylou Harris’ gelees het en jawerklik tot trane beweeg is. Jy besef Marais het jou êrens beetgekry, ten spyte daarvan dat hy sy perdevye aan jou as sitroene verkwansel het.

       Dít besef jy met die volgende gedig ook, waarvan die titel jou reeds kierang: ‘Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê’:

            Ek sukkel deesdae om gedigte te lees –

            al die woordspel, naskeermiddel en ego terwyl

            ’n versukkelde weergawe van ’n Rome vol franchises

            in vlamme staan wat nie heeltemal eg lyk nie.

            Ek staan voor my eie ou liefdes en gedigte

            soos ’n belese bergie in die nag

            met sy neus teen die ruit

            van ’n helder verligte Italiaanse roomyswinkel.

            Ek dink dis tyd om die digters aan te tree

            vir hulle pienk bandiet-uniforms aan te trek

            soos die volksmoordenaars in Rwanda.

            Laat hulle – voor enige verdere selfbewuste woorde

            lugtyd kry, voor die oersop van taal

            verder vertroebel word –

            laat hulle die verwese lyke

            uit die moordkuil van liefdesverse vis.

            Laat hulle die bloed in al die groot odes opvee.

            Dwing hulle

            om die oorkruipers, bloedsuiers en bosluise terug

            te sit in die liriese lofsange aan Stiefmoedertjie Natuur.

            Stuur hulle dadelik

            om al die tollenaars, korporatiewe borge en dweepsiekes uit die tempel

            van kuns te verdryf.

            Miskien is ’n Duitse vriend van my reg:

            Onder fascistiese diktature sterf digters;

            onder individualisme en kapitalisme sterf die kuns,

            word digters maar net hofnarre en lastige verkoues.

            Maar ja, arme leser, jy’s reg as jy vermoed

            my misnoeë met die digkuns lê

            in ’n minder abstrakte, laer,

            meer pynlik persoonlike dimensie.

Die hofnar is duidelik die ontredderde digter se taksering van homself, en hy wil die digterlike tuig neerlê (en na die eerste drie strofes van die gedig elk met ‘Ek’ begin het, moet hy dalk). Maar weer – deel van anti-poësie is die knaende vooropstel van die self. Ai.

            Die konsep van anti-poësie is immers nie nuut nie – daar word vir baie jare steeds verwoed gepoog dat  Nicanor Parra, die Chileense digter en sogenaamde vader van die anti-poësie-beweging, tog wel eendag die Nobelprys vir Letterkunde sal kry. (Sy 1954-teks, Poemas y antipoemas, is die vlagskip van die beweging, alhoewel daar bepaald ander voorgangers ook was. Die meeste het absoluut in hul doel geslaag – niemand kan hulle, of hul poësie, onthou nie.)

            ’n Paar interessante aspekte van anti-poësie word soos volg deur Parra uitgewys:“The poems have been described as prose-like, irreverent, and illuminating the problems of human existence.” (Introduction to Poetry Criticism, red. David Galens.)

            Danie Marais se poësie pas hierdie beskrywing nousluitend. Sy werk het veral in die onlangse tyd die beliggaming van hierdie tendens,  die ‘poésie parlante’ of dan ‘praatpoësie’, in Afrikaans geword. Dit is poësie wat deur woordkeuse en sinsbou eerder oorleun na die spreektaal. Die literator Bernard Odendaal noem dit mooi ’n “aldagtaaltrant”. Dit is ʼn  spontaner en uiteraard meer toegankliker poësie, en is dikwels eerder meer verhalend en beskoulik, met meestal ’n (oppervlakkige) filosofiese inslag. (In 1932 reeds het die eerste uitgawe van die Nederlandse literêre tydskrif  Forum hierdie Nuwe Saaklikheid bevorder – dit sou interessant wees om ’n vergelykende studie ten opsigte hiervan te maak.)

            By Versindaba 2007 het Lina Spies, met die Dana Mouton-gedenklesing getiteld: “Wat is poësie?” haar sterk uitgespreek teen die sogenaamde praatpoësie. Volgens haar beleef dié tendens “ʼn ongekende bloeityd gesien al die literêre geleenthede waartydens digters in die kollig staan, hulle verse voorlees en geapploudisseer word.” (“Zombie lag hom kak / vir die aansit van kultuur.”) ’n Mens kan verstaan dat Marais in hierdie nuwe bundel deur hierdie tipe kommentaar gedryf is om iets soos die volgende te skryf:

            Of is dit bloot hoog tyd

            om die goorgat god van die lettere

            in sy eie verwaande kots te laat lê?

(Die ironie is dat Spies myns insiens met haar latere bundels ook eintlik oorwegend praatpoësie lewer, maar dit daar gelaat. )

            Maar die ‘poésie parlante’ kom tog ’n veel verder pad – dis gemeenplaas om te weet Amerika het ʼn sterk stroming van narratiewe poësie in die twintigste eeu geken. Digtername soos Ezra Pound, William Carlos Williams, Charles Olson en talle ander kan in hierdie verband genoem word. (En Ezra Pound het indertyd al saamgestap op die poëtiese slingersinne van Breyten Breytenbach in veral Voetskrif.) So what’s new, Pussycat?

                Marais skep algaande in sy oeuvre ’n persoonlike mitologie van die alledaagse. Hy buit die nosie uit dat die teks en die skrywende subjek eintlik maar net toevallige kruispunte is van ’n verswelgende aanbod van oorrompelende hoeveelheid tekste waarmee die moderne mens gebombardeer word. In ’n groot mate is dit ’n tipiese post-modernistiese aanslag, en die weef van die literêre teks binne die soomlose intertekste van ’n oorvloeiende populêre kultuur word ook die neerslag van sy belewenis én tekste. In sy “literêre bestaansboerderytjie”, “die gehuggie / van ’n gediggie” is:

            … die orde wat ’n paar gedigte en versreëls stig (…) suiwer

            illusie die verse waarin ek woon is niks meer as

            ambisieuse country songs en baie swak adresse nie

            en as kak eers jou adres het, meneer Gaddis,

            kan jy maar skryf soos en wat jy wil.

Die gevolg is dat jy telkens verras word oor insypelaars in Marais se persoonlike poëtiese diskoers – ’n ganse popkultuur kan skielik opdoem in ’n eenvoudige ervaring. Derhalwe is hierdie digbundel boordensvol même, wat Wikipedia uit Richard Dawkins se 1976-boek The Selfish Gene omskryf as “an idea, behavior, or style that spreads from person to person within a culture”. Angela McRobbie, in haar boek: Postmodernism and Popular Culture wys uit watter gevolg dit het: “Instead of referring to the real world, much media output devotes itself to referring to other images, other narratives; self-referentiality is all-embracing, although it is rarely taken account of.” Dit gebeur by uitstek met Danie Marais se bundel, maar algaande ook met sy identiteit. Die onderhoud wat hy op die Versindaba-webwerf gehad het met Gisela Ullyatt oor hierdie nuwe bundel illustreer hoe die digter helaas ’n gevangene van sy verwysingswêreld geword het. Dit word jammerlik ook ’n transmutasie in sy poësie, wat uiteindelik meer ánder se tekste en belewenisse is, paraderend as sy eie. Hiervan is daar in die bundel oorvloedige voorbeelde, om dalk net te verwys na die openingsgedig ‘Tjorts!’ en die latere gedigte: ‘Here be no dragons’ en ‘In Oldenburg se winterbiblioteek’ as voorbeelde waar die verwysings onverteerd in die krop van die gedig lê.

            Met ’n stellingname van anti-poësie kan veel vergewe word, selfs die setfout op p. 41 (“angenome” in plaas van “aangenome”), en mens kan vloek soos jy wil (“ronddôner” in plaas van “ronddônner, p. 42), maar dan – anything goes. Tog sluk die gewone “arme leser” dan moeilik aan kategoriese uitsprake soos die volgende:

            Die beste gedigte het nie

            betekenis nie.

            Die beste gedigte is ’n ervaring

            nie ’n les nie.

            Dieselfde geld vir mense.

            Gedigte is soos kerke en tale –

            gewyde tekens van afwesigheid.

Marais kom op alle vlakke nét-nét weg met hierdie bundel, maar dit vra meer as deursigtige anti-poësie foefies, flou grappies (p. 25) of ’n afshowerige verwysingswêreld om eendag as digter onthou te word. Hier is te veel “banal vocabulary of popular song lyrics, the glaring shorthand of journalists sentimentality, overripe clichés” (soos netjies verwoord deur Edith Grossman in haar artikel: ‘The Technique of  Antipoetry’). Die té bewustelike ontheemdingsbelewenis, vervreemding en buitestanderskap vra om groter diepgang om regtig te beïndruk. Die invloede van byvoorbeeld Raymond Carver en Charles Bukowski moes Marais meer leer oor minimalisme en gestrooptheid, ’n ekonomie van woorde, onopgesmukte afstandelikheid. Poëtiese nawelstaar gaan helaas nie langer deug nie – ons het reeds die spore van literêre grootsheid by hom raakgesien en verwag wragtag niks minder as dit nie.

            Die “klassieke klein fokop / van enige lewe”, soos dit in die gedig ‘Sirkels – en toe kom Nediswa’ genoem word, kan blywend meespreek mits dit poëties vaardig verdig word. Dit is bepaald tyd:

            daarom, o digter, is dit tyd

            om hand in eie boesem te steek.

 ***

 Resensie geborg deur

 

Bookmark and Share

Comments are closed.