Onderhoud met Heilna du Plooy (Die stilte opgeskort)

Joan Hambidge in gesprek met Heilna du Plooy oor haar

derde digbundel Die stilte opgeskort

 

Ons is die tyd,

die wonde van die ewigheid.

 

Heilna, geluk met jou boek.

1. Die openingsvers kan ‘n mens as ‘n ars poëtika lees. Watter invloed het jou werk as literator – ek dink hier aan jou essays oor TT Cloete en NP van Wyk Louw, o.a. – op jou digkuns? Die Louw-bydrae kan gelees word op Litnet en dit is die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing gelewer aan UJ.

Ewewig

Die vlakte drink die afstromende lig

en kaats dit in die glinsterende grassaad terug.

Die rivier stoot sy loop waar die landskap vou

oop sodat bedding en oewers die water vashou.

Is ek iets verskuldig of is iets verskuldig aan my

as die vloed beddings oopkerf en oewers oorskry,

met die gras aan die brand en die rooi en die rook

wat uitsig en insig verwoed teen mekaar opstook?

Die punt van die pen

lê swaar op die blad

om in die opstuwende lyn

die las te versprei

tussen my

en die grein.

’n Bewustheid van poëtikale opvattings kan ek nie ontken nie. Dit is uit die aard van die werk wat ek die afgelope dertig jaar gedoen het, onvermydelik deel van my denke en ek dink ook dit is belangrik, maar as ek skryf dink ek glad nie daaroor nie. Gedigte werk net vir my heeltemal anders en ek probeer ook nie, nie eers vir myself nie, om te verklaar hoe die gedig ontstaan en op die papier of die rekenaarskerm tot bestaan kom nie.  Ek is behoorlik bygelowig daaroor dat ’n gedig sy eie loop sal neem en in dié proses loop alles deurmekaar en werk ek hoofsaaklik op aanvoeling, sowel wat die inhoud as die afwerking van die gedig betref. Trouens, alles wat mens is en ervaar en weet en ken word met verloop van tyd al hoe meer ononderskeibaar en mens weet al hoe sterker en duideliker dat alles met alles verband hou.

Ek hoop maar alles wat ek by ander digters en teoretici gehoor en geleer het werk vanself deur  – hopelik wel so grondig vermeng en aangepas (of dalk verwring) deur my eie aanslag, dat dit ’n eie stempel kan kry. Die skryf van poësie is vir my ’n konfrontasie tussen myself en iets anders, ’n gebeurtenis, saak of idee, op ’n baie  persoonlike vlak, in soveel eerlikheid as wat vir my moontlik is. Die neerskryf daarvan in woorde is ’n poging om my gedagtes te orden. Die woorde en die papier help mens want dit bewaar wat in jou spook en dan hoef jou kop of hart of gees nie alles alleen te dra of te onthou nie.

Die balans waarna jy verwys, is vir my iets wat verband hou met die Griekse konsep, enantiodromia, waaroor jy self ook al ’n gedig geskryf het en wat daarop dui dat elke aksie of beweging of tendens ’n teen-aksie of teen-beweging of balanserende tendens ontlok. Hierdie prosesmatigheid lyk vir my na iets argetipies, want as ons “aanhou beweeg en geraas maak” omdat ons nog lewe, is beweging en teenbeweging onvermydelik. Die oomblikke van balans is nie vir my finale oplossings nie omdat die proses voortgaan, maar die gedigte is rusplekkies langs die pad.

2. Vertel ons meer van “Die vrou en die veer” (Na aanleiding van Miyoko Shida se uitvoering van Sanddornbalanz.)

’n Jong kollega het vir my die skakel na hierdie YouTube video aangestuur.  Ek het nie van die bepaalde soort vertoning geweet nie, maar as mens dit nagaan het die Switser Mädir Rigolo in 1996 die eerste keer hierdie soort uitvoering gegee. Die kunstenaar staan in diep sand en balanseer die are van sterk palmblare op mekaar in ’n raamwerk. My gedig gaan oor die uitvoering van Miyoko Shida waarin sy begin met ’n veer wat sy op die punt van die eerste palmtak balanseer en daarna volg die res. Shida se uitvoering word met Oosterse presisie en elegansie gedoen. Dis byna nie te glo dat ’n mens so ’n losse konstruksie kan balanseer nie en uiteindelik is die veer daarin noodsaaklik. As sy die veer afhaal, val die res inmekaar.

Die uitvoering is vir my ’n studie in balans, konsentrasie en fokus, maar dit gaan ook oor ritme en vorm en skoonheid. Die hele vertoning het my geboei, soos sekerlik ook duisende ander mense. Dit laat mens dan ook dink aan ander kunsvorme en ander vorme van menslike aktiwiteit, soos selfs bepaalde sportsoorte, wat afhanklik is van die samespel tussen vernuf en konsentrasie en ritme en krag en vaart.

Uiteindelik gaan dit nie net om die vaardigheid wat verwondering ontlok nie, maar om die idee dat die veerligte veer noodsaaklik is. Dit is vir my iets soos die x-faktor waarvan ons dikwels praat, daardie onbepaalbare eienskap wat van ’n kunswerk iets maak wat meer is as die som van sy onderdele; Browning se “gift” wat “out of three sounds he frame, not a fourth sound, but a star”.  Daardie misterie wat iets gewoons transformeer, wat iets transenderends laat loskom, is tog waarna gestreef word in alle kunsvorme. Maar dit geld ook die kuns van die lewe en dit is soms iets baie kleins en selfs nalaatbaar ligs wat die mees waardevolle element, die vonk, in ’n lewe is.

3. Jy skryf dikwels oor die kwessie van ewewig of balans in die digkuns. Hoe sien jy hierdie “tegelykertydsaspek” in die digkuns?

Vir my is ritme en balans basiese aspekte van lewe. Dit is seker in hedendaagse terme bietjie vervelig en gewoon, maar dit is nie vir almal ewe moontlik om met oortuiging aweregs en skokkend te wees nie. Ek bewonder kunstenaars wat dit kan doen en so juis vernuwing bring, maar ek glo nie ek sal dit regkry nie. As mens ikonoklasties wil wees, moet jy regtig oorspronklik wees en nie net alles omdop of negativeer nie en dit verg ’n besondere soort talent.

Ek het later in my lewe eers poësie begin publiseer en daarom is dit iets anders wat ek daarin probeer vind. Dit is ook so dat ek altyd te veel kante van ’n saak sien (moes vir baie jare fokalisasie aan studente verduidelik!). Ek het dit nodig om te soek na voortgang en om uit ’n impasse uit te kom. As mens dus ’n saak van een kant af beskryf, dan weet jy daar is ’n balanserende ander kant en waarskynlik nog ’n paar ander kante ook. Kyk maar hoe groei ’n boom – as jy aan die een kant ’n tak afkap, is die balans versteur en dan sal boom met tyd ander takke uitstoot om die balans te herstel. Miskien is ek ’n bietjie soos so ’n boom en dalk is my gedigte boompies.

4. Jy spreek dikwels ‘n vrou aan of stel ‘n vrou / ‘n sy aan die woord. Hoe sien jy die rol van die vrou in jou digkuns? Is dit ‘n feministiese posisie? En hierdie “vrou” is waarskynlik verskillende fasette van jouself?

Ek dink nie die gedigte is feministies nie. Dit is wel ’n self-bewus vroulike perspektief en dit gaan om menslike belewenis soos ervaar deur ’n vrou. Ek is die middelste van drie dogters en in die huis waarin ons grootgeword het, was daar geen sprake daarvan dat ’n meisie ’n mindere soort mens is nie. Allesbehalwe. Vanselfsprekend weet ek dat vrouens dikwels steeds tweede kom en dat vrouens baie harder moet werk om te bereik wat hulle graag wil as mans. Trouens, ek weet ook dat daar steeds baie mense is wat vrouens nie ernstig opneem nie; hulle selfs nie eers hoor as hulle iets sê nie (iets wat vrouens self aan ander vrouens doen). Maar ek skryf sulke mense gewoon af en doen nie eers verder moeite om met hulle te probeer veg nie.

Partykeer is feministe vir my gevoel te aggressief en dan lyk dit vir my die aggressie kom voort uit ’n gevoel van bedreiging. Dis wel nie altyd die geval nie en ek is dankbaar vir die feministe wat vir ons vrouens ’n klomp dinge reggekry het, hetsy as digters, romanskrywers of filosowe. Maar wat myself betref, weier ek om bedreig te voel omdat ek ’n vrou is – dit voel vir my dit sal my selfbeeld heeltemal kelder. Daarom wil ek as ek kwaad word, in die eerste plek as mens kwaad word, wel as ’n vroulike mens en nie as ’n bedreigde vrou nie. Om konfrontasie as ’n bedreiging in genderterme te beleef, sal afbreuk doen aan wat ek is. Maar my belewenis is wél vroulik, voluit so, en daarom is die mens wat praat en ervaar in die gedigte, ’n vroulike mens. Of ander mense die gedigte wel so sal lees, is natuurlik glad nie vanselfsprekend nie en dit maak ook nie saak nie. Die verdere bestaan van die gedigte gebeur in terme van die persoonlike vryheid van lesers.

5. In die aangrypende “Leidse dagboek” kyk die spreker na die omgewing en ervaar die landskap as bedreigend. Ek sien hier ook ‘n gesprek met Elisabeth Eybers: die skryfproses as een van stilte en afwagting. Kommentaar.

’n Mens leef op ’n plek en in ruimtes, ’n huis, ’n dorp, ’n land. Jy is histories, kultureel en emosioneel aan so ’n plek of ruimte verbind en vir my, hoewel ek ’n 12de generasie Suid-Afrikaanse en Afrikaanse mens van Europese herkoms is en dus geen ander heenkome het wat op ’n vergelykbare manier ’n appèl of aanspraak op my maak nie, het die verhouding met Suid-Afrika gekompliseerd geraak. Dit is so vir baie ander van my generasie met dieselfde kulturele agtergrond.

‘n Mens word spesifiek tydens ’n langer verblyf in die buiteland besonder bewus van die veelfassettigheid van jou verhouding met die plek wat jy as kind as vanselfsprekend aanvaar het. Ja, Eybers se eenkanteend staan hier op die agtergrond, maar hierdie watervoëls aanvaar al die eise wat hulle landskap aan hulle stel. Dan wonder mens hoe lank jy self sal bly staan as dit om jou vries al is dit in die land van son. Die twee gedigte gaan dus om ’n baie persoonlike belewenis van ruimtes en die uitwerking van gevoelens van vervreemding op die verhouding met ander mense.

6. Daar is ook reisgedigte in hierdie bundel. Hoe definieer jy hierdie soort gedig? Ek dink aan Fanie Olivier se Om alleen te reis en dan hier het ons ‘n reisiger wat wil lig reis.

Om lig te reis

Van ’n reis het sy telkens ’n klip saamgebring,

van die kus van Amerika of van Vesuvius: In ’n klip

sit onthou van gans alles vooraf, maar ook

die gang van haar voete gister en nou oor die aarde.

Tussendeur die bitter klippe, mensgemaak, stapels

rampe, galverhale, te veel om te onthou, aanhoudend

opgedis. En sy begryp sy moenie meer gewig

versamel nie. Sy gooi die klippe uit en kies vir lug.

Dan word haar oë wind, en sy word lig.

Haar nek rank op, haar hande word slap blare.

Sy drink van die son en sluk aan die gloed:

al haar nuwe leegtes word warm en vol.

Soos vergete bloekoms langs ’n vergeleë pad

bondels sonlig stiekem in hulle arms rondrol.

Reis is altyd en opnuut ’n wonderlike ervaring wat ’n mens se grense uitstoot en jou kop oopmaak. Reiservarings gaan egter nie net oor die reis of gebeure en plekke as sodanig nie, maar veel meer oor wat die gebeure en plekke vir die reisiger beteken; wat dit aan die reisiger doen en die oorgange wat in die reisiger bewerkstellig word tydens en na die reis. Maar mens reis ook deur tyd en deur ervaring en van alles dra jy met jou saam op die vérdere verloop van jou reis. Later kan jy swaar dra aan al jou soeweniers. Mens wil mos maar graag goed reis en dalk is ligter reis ’n moontlikheid.

Ek dink baie oor die dekonstruktiewe aanname dat net dit wat ervaar word en in tekens gerepresenteer word, bestaan, maar ek sien soveel skoonheid en sin in dinge waarvan mens eintlik toevallig bewus word – voordat ek dit gesien het, het dit ongesiens tog reeds bestaan en was dit onopgemerk reeds waardevol.

7. Watter invloed het die skilderkuns en beeldende kuns op jou digkuns? Jy is immers ook skilder. Ek dink hier aan “Die jag” wat in gesprek tree met Maureen Quin se beeldreeks. Daar is afdrukke van die beelde wat ‘n nuwe gesprek open in die ekfrastiese gedig. Kommentaar.

Die verwantskap tussen verskillende kunsvorme is vir my regtig ’n fassinerende saak. Om te kan teken, moet jy eers baie goed kyk en fyn detail kan raaksien en dit geld ook vir skryf. Goeie waarneming is egter net die begin want dan moet daar geselekteer en gekombineer word, en veral vereenvoudig word. Dit gebeur in beeldende kuns én in skryf: beide kunsvorme werk met die skep van nuwe strukture en vorms, ontwerpe of patrone wat ontwikkel word en dan ook verbreek word. Dit is vir my elke keer ’n wonderlike ontdekking om te sien hoe die vaardighede wat mens in die wêreld van die beeldende kuns ontwikkel, ooreenstem en nuttig en selfs onontbeerlik is vir skryf.

Maureen Quin het hierdie beeldereeks, The Hunt,  in 2004 in die ouditorium op die PUK-kampus uitgestal. Sy het vertel hoe sy ’n opdrag ontvang het om ’n beeld van ’n groep luiperds vir ’n firma te maak. Sy het op ’n luiperdplaas die diere bestudeer en die aanvanklike realistiese beeld gemaak, maar daarna gevoel sy is nie klaar met die luiperds nie. Hierdie reeks het daarna oor ’n periode van 8 jaar ontstaan soos wat haar gedagtes steeds bly ontwikkel het. Vir haar was die groen gedagte, die bewaring van diere wel sentraal, maar sy wou ook aantoon dat die mens se wreedheid teen ander mense gerig word.

Soos die luiperds Maureen nie met rus wou laat nie, wou haar beelde my nie loslaat nie. En ek het in die beelde die oorlogsugtigheid van die mens gesien, iets wat my terselfdertyd boei en ontstel. Hoe meer mens daaroor lees, hoe meer kom jy onder die indruk dat mense aggressie en mag “nodig het” en wil hê. Dit is dan egter asof mense nie genoeg verbeelding het om vooruit te kan dink, om te kan insien wat die uiteinde van hulle sug na mag gaan wees nie, soos Lady Macbeth.  My gesprek met Maureen se beelde sentreer rondom hierdie gedagtes, soos trouens ook heelwat ander gedigte in die bundel.  Die laaste beeld in die reeks is haar antwood op die problematiek. Dit is ’n religieuse oplossing en daarom is die laaste gedig in die gedigreeks eintlik net ’n beskrywing van haar beeld terwyl die voorafgaande gedigte meer ’n eie gesprek ontwikkel.

8. Jy het al uitstekende artikels en boeke geskryf oor die narratologie. Jy het ook ‘n seminaar aangebied oor verteldigkuns. Hoe sien jy die verhaal of storie wat hierdie bundel vertel?

Die  bundel as geheel het nie ’n eksplisiete narratiewe onderbou nie. Ek weet egter wel goed dat die bundel en heelparty afsonderlike gedigte deurlopend met tyd en ruimte en oorgange te make het, wat alles narratiewe elemente is. Sommige gedigte het wel ’n narratiewe lyn soos “Santjie se droom “ , “Gemerk” en “Gesigloos”. Die storie wat daar seker wel in die bundel as geheel is, en dalk maar altyd daar is in enige digter se werk, word in die slotgedigte genoem: Hier is ek. Hoe nou verder?

9. Jy tree ook in gesprek met jou jeug en die kind wat alles presies kan sien:

 

’n Kind se oog

sien wonders in die grond.

(“Nanagvers”)

Hoekom keer ouer digters terug na hul jeug?

Ek glo nie dit het primêr of uitsluitend met ouer word te make nie. Dit gaan dalk eerder daaroor dat mens in die afgelope dekades so toegegooi is met verklarings en interpretasies van wie of wat jy glo is of was of behoort te wees, dat mens soek na een of ander “skoon” en “ongekontamineerde” belewenis. Ons is meer as bewus van die ideologiese geladenheid van alles, selfs van dit wat mens glo eg en natuurlik is. Verder is ons postmodernisties geskool dat alles relatief is, gekonstrueer en gemanipuleer en al beweeg die filsofie tans hiervan weg, kan mens nie vergeet hoe dit jou oë oopgemaak het nie. Jy kan hierdie insigte nie “ontleer” of afleer nie. En die gemanipuleerdheid van ons werklikheid kan ons ook nie tans vir ’n enkele oomblik ontken of miskyk nie.

Maar daar was tog ’n tyd of ’n plek in ’n mens se lewe waar jy dinge vir die eerste keer gesien of gehoor het op ’n manier wat nie vir jou voorgesê is nie. Daar is wel eksistensiële werklikhede (soos wanneer ’n mens geboorte skenk aan ’n kind – ek daag enige filosoof uit om my daarvan te oortuig dat dit ’n gekodeerde ervaring is!) ’n Mens se belewenis as kind is egter ook ongekontamineer en daardie herinneringe word dan ’n soort toetssteen.  Dalk het ek, en baie ander digters, dit nodig om onsself hieraan te herinner, om weer daaraan te dink dat daar dinge is wat wel waar en moontlik is, soos ’n sluitende en dalk selfs perfekte sirkel.

10. In die gedig “Die pornografie van oordaad” lewer jy skerp kommentaar op die politieke en sosiale geweld in ons land, die verloedering van standaarde en die soeke na dít wat steeds waarde het. Vertel ons meer?

Uiteindelik wens ek vir my en my huis

dat ons spoelklippe sal pak

langs mekaar tot ’n kring, uit die aarde self, hier

en vir hier, tot ’n gebedestring.

Ja, ek dink regtig die oordaad van alles laat mense afstomp. As ek soms in ’n boekwinkel voor ’n rak staan wat van bo tot onder vol is met boeke waarop rose en strikke en skouers en borste so mildadig pryk, dan vra ek myself in wanhoop af wat ’n maatstaf eintlik is, of daar hoegenaamd nog bepaal kan word wat goed of belangrik of waardevol is. Daar is  juis nou ’n diskussie op die internet-gespreksgroep van die International Society for the Study of Narrative aan die gang oor hierdie saak. Die vraag is: Wat is literatuur, dit wat verkoop en gewild is of dit wat ernstiger is en tot nadenke stem, maar tog partykeer vervelig en veeleisend is?  Die meeste mense aanvaar gewoon die werklikheid wat ons ken en om ons sien as normatief. Hulle sien net die oppervlak raak, geniet ononderskeidend van wat daar is en vergeet dit weer net so vinnig. Maar vir mense wat geleer het om dieper te kyk, is dit onmoontlik om nie raak te sien hoe die oordaad, die voortdurende produksie ter wille van winste, kwaliteit en diepgang laat verdwyn nie.

Hierteenoor kan estetiese tekste geplaas word, dinge wat nooit tweekeer dieselfde kan wees nie, wat nie geyktheid of epigonisme verdra nie, wat ook nie presies simmetries kan of wil wees nie, wat foute bevat omdat dit uniek is, wat nie oral ewe goed werk nie omdat dit eerlik is. Daarom is die gedigte oor skilderye wat maar net iets eenvoudigs iets probeer regkry deel van die reeks.

11. “In die streke van die wind” tree jy in gesprek met Elize Botha, ‘n persoon wat haar lewe aan woorde gewy het. Hierdie vrou had ‘n invloed op jou op verskillende vlakke en ek het gehoor jy is besig met ‘n biografie oor haar.

“Ek dink so baie oor die wind,”

sê jy dikwels in die laaste gesprekke,

soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke.

….

Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie,

nee, vier wat ek met ontroering onthou,

jou stem, jou oë, jou stem en jy,

met wie ek steeds in gesprek wil tree.

Kommentaar?

Dit was uiteraard ’n gedig wat moeilik te skryf was. Dit het my ook inderdaad baie jare geneem om die gedagtes so te laat uitkristalliseer. Elize Botha het haarself  beskikbaar gestel vir vriendskap en daarom het sy so baie vriende gehad. Sy was my studieleier vir my meestersgraad en daarna het ons saam gewerk by UP en Unisa. So het ons vriende geword met ’n vriendskap wat deur ons gedeelde liefde vir lees en ons gesprekke oor boeke versterk is. Die res staan in die gedig.

Ek is inderdaad gevra om ’n biografie oor haar te skryf en het pas daarmee begin. Dit is ’n gedugte taak en ek hoop net ek kry dit reg.

12. Die lykdig “Vierluik” is besonder aangrypend. Verskeie persone het ook positief hierop gereageer: http://versindaba.co.za/2012/11/18/heilna-du-plooy-vierluik/ Watter rol het jou vader in jou lewe vertolk?

Die verhouding tussen ouers en kinders gaan deur verskillende fases, van die kind se kant af van onbevraagtekenende bewondering tot by ontvoogding en latere nuwe waardering en begrip. Ek het ’n ontstellend normale kinderlewe gehad, wat my nie met wroegings toebedeel het nie, al was ek, soos enige normale kind, soms oortuig daarvan dat ek en my ouers nie op dieselfde golflengte is nie en dalk selfs nie eers regtig familie behoort te wees nie. Maar ek het gewis my liefde vir taal en estetiese dinge van my pa geërf – hy was ’n sensitiewe man (met ’n goed bewaarde lêer met gedigte in sy lessenaar se laai), maar van ’n generasie wat geglo het jy moet diens lewer. Wat hy dan ook gedoen het as ’n baie toegewyde skoolhoof in ’n minder gegoede stadsbuurt.

My ouers en skoonouers (oor wie die gedigte gaan) was van die generasie wat tans die meeste skuldig gehou word vir die verloop van die land se politieke geskiedenis, maar as ek terugkyk, voel ek net deernis want ek weet ons, en selfs die heersers van vandag, sal in die toekoms net so beoordeel en veroordeel word vir wat nou gebeur.  En soos ek in ander gedigte probeer sê het, twyfel ek aan die vermoë van ’n individu om so ’n groot verskil te kan maak. Daar is iets onverbiddeliks in die verloop en voortgang van die geskiedenis en uiteindelik is almal kinders van hulle tyd. In Etienne Leroux se woorde laat elke generasie maar weer “’n bloedige park” vir die nageslag na.

13. Jy skryf intense landskapverse, verse wat terugspeel op jou eie binnelandskap. Jou gedigte vergestalt die intense belewenis van landskap, asof elke gedig ‘n skildery word hiervan. Hoe sien jy dit?

Ja, ek sien myself altyd in ’n landskap en in verhouding tot my omgewing, hetsy ’n huis of ’n kamer of ’n kantoor  – ek weet ek is baie ruimtelik bewus. Meer nog, ek weet ook die landskap is nooit wat dit op die eerste oogopslag skyn te wees nie. Ek soek altyd na dit wat onder die oppervlak lê, die ware struktuur of die spesifieke kleur of tekstuur. Dit is wel ’n ingesteldheid wat verband hou met skilder, omdat mens altyd soek na lyne en vlakke wat beduidende strukture is in ’n landskap sodat jy iets betekenisvol op die prentvlak kan weergee. Maar dit gaan ook daaroor dat mens die ruimtes om jou op bepaalde maniere aanvoel en beleef. Dis jou eie belewenis wat die ruimtes vir jou uniek maak. Dalk is dit nie eers so uniek nie en ervaar ander dit ook maar so, maar dit is die persoonlike belewenis dat daar iets ongrypbaars in ’n landskap is wat tot ’n gedig kan lei.

14. My keuse van ‘n finale gedig:

 

Vierluik  

I

In ’n stewige ou gebou

– die kamer liggroen

onder ’n hoë plafon

en almal om sy bed –

het hy gesterf.

Dit was ’n grootse worsteling

asof die dood iets was

wat hy moes verwerf.

II

Aanvanklik net ’n kleinerige aar:

nogtans genoeg om haar

half agter te laat.

Sonder een arm en een been

het sy bladsye halfvol geskryf:

 ’n lewe net

van die middel

af éénkant toe.

Eers toe die groot aar bars

was sy weer volledig

in haarself verenig.

III

Op die oomblik van sy val

was hy  alleen:

sy brein onmiddellik

’n donker sampioen.

Drie dae lank gelê

met ’n al hoe gladder gesig

soos foto’s uit sy jeug.

Toe was dit of die wind

’n deur sag toegestoot het;

ferm en finaal,

en ons allenig daar.

IV

Sy is nou al wat ons nog ma kan noem.

Tussen geliefdes sit sy al hoe stiller

asof sy reeds weet van vertrek.

Die dae raak toenemend ligloos

oor die borduurwerk en die porselein;

en sy wat al hoe meer deurskyn.

*

Die stilte opgeskort. Heilna du Plooy  (PRYS: R150.00 (BTW ingesluit); ISBN:978-1-4853- (gedrukte boek)   978-1-4853- (e-boek); FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband;  128 pp; Protea Boekhuis, 2014)

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Heilna du Plooy (Die stilte opgeskort)”

  1. carina van der walt :

    Dankie Joan, vir ‘n gebalanseerde onderhoud met Heilna du Plooy oor haar jongste bundel, elf jaar na “In die Landskap Ingelyf”. Jy betrek nie net landskapsgedigte in jou vrae nie, maar ook ekfrasis en lykgedigte. Eerlik gesê het ek hierdie bundel nog nie gelees nie, maar ek ken ‘n paar gedigte soos “Die Jag” al. Die onvermydelikheid van die jag in die rigiede verhouding tussen jagter en prooi het my keel laat toetrek. Die beskrywing van “Die vrou en die veer” het my ook laat besef dat ek al baie aandagtig na hierdie filmpie op You Tube sit en kyk het. Dus: genoeg rede om tog te reageer. Opvallend uit die onderhoud is dat Du Plooy blykbaar op soek is na balans en in haar soeke bagasie wil afgooi. Dit blyk nie net uit die gedig wat jy as ‘n soort ars poëtica geïdentifiseer het nie (Ewewig),maar ook uit “Die vrou en die veer” en reëltjies in die gedig met die veelseggende titel: “Om lig te reis”. Die volgende woorde “…En sy begryp sy moenie meer gewig // versamel nie. Sy gooi die klippe uit en kies vir lug.” laat my aan ‘n ander gedigtereeks van Du Plooy dink, naamlik “Lemoene I” en “Lemoene II”. Is hierdie reeks opgeneem in die bundel? Spesifiek “Lemoene I” het al sy eie interessante paadjie geloop. Vir die vertaling daarvan en ook van “Reis” uit haar eerste bundel “Die donker is nooit leeg” nie” kliek gerus op:
    http://fleursdumal.nl/mag/index.php?s=vertaalvrucht+1&x=10&y=10