Wicus Luwes. In beheer van die verkeer

Die eerste beweging: Eerste rat

Die verkeer het ‘n persoonlikhied van sy eie. Dit het ritme, pouses en plekke om stil te hou. Ek dink dit klink soos ‘n konsertina wanneer dit by verkeerligte saampers en dan ooptrek soos wat almal dink dat hul een minuut vinniger by hul bestemming kan uitkom. Ek sal nie verbaas wees as daar iewers in die wêreld ‘n televisie-kanaal is wat net die hele dag verkeer wys nie. Die kanaal sal goed werk saam met die stasie wat ‘n kaggel vertoon wat nooit ophou brand nie. Die regisseur van die stasie kan ‘Verkeersman’ of ‘Vuurvreter’ as moontlike alternatiewe titels weergee op sy besigheidskaartjie. Hy loop egter die gevaar dat hy sou voel dat hy moontlik in beheer van die verkeer is, want niemand is werklik in beheer van die verkeer nie.

“Let’s have a moment of silence for all those Americans who are stuck in
traffic on their way to the gym to ride the stationary bicycle.”
– Earl Blumenauer

Karma & Eksistensiële Verkeer

Vir een of ander rede is al die verkeersligte rooi as ek die dag laat is.
Netso is al die ligte groen as ek betyds of vroeg wegtrek.
Dit voel dus of ek my eie verkeer kan skep.

Ek kan mense inlaat in my baan en tot tien tel as iemand my ‘afsny’ of sy neus in my baan druk. Die passasiers is gewoonlik eerste om uit te wys dat die ander baan vinniger beweeg as die een waarin ons onsself nou bevind. As jy ‘n pad daagliks ry, begin jy later agterkom wanneer jy na ‘n sekere baan moet beweeg. Dis ‘n fyn speletjie tussen spoed en tydsberekening. ‘n Verhaal wat aan Fanus Rautenbach toegedig word, kom by my op: Hy vertel dat jy eendag van Pretoria na Johannesburg toe ry. Hy sien die motor langs hom se flikkerlig flikker en hy maak plek sodat die persoon in kan kom alhoewel hy een karlengte terugskuif in die verkeer. Soos wat hy aanhou ry gee hy plek vir meer en meer mense en voordat hy hom kon kry is hy terug in Pretoria. Ek kan byna sy stem hoor terwyl hy dit vertel.

‘I Know a Man’ deur Robert Creeley het vele vlakke waarin dit jou gedagtes laat parkeer. Een van die vlakke gaan oor die kortsigtige besluite en langtermyn  uitwerking daarvan. Die vraag word gestel of jy met die verkeer praat en of die verkeer moontlik met jou praat.

I Know a Man
deur Robert Creeley

As I sd to my
friend, because I am
always talking,—John, I

sd, which was not his
name, the darkness sur-
rounds us, what

can we do against
it, or else, shall we &
why not, buy a goddamn big car,

drive, he sd, for
christ’s sake, look
out where yr going.

Uit: Selected Poems of Robert Creeley; 1991; University of California Press

Stadig by die stopstraat-feit  #1: 65% van die wêreld-populasie bestuur aan die regterkant van die pad – (http://en.wikipedia.org/wiki/Right-_and_left-hand_traffic)

 

Die Pad

Ek ken ‘n man wat, net vir die grap, afdraai op plekkke waar die GPS-stem nie gesê het om af te draai nie. Jou eie pad. ‘n Moderne vorm van rebellie as die GPS-stem verward uitroep: ‘Recalculating’ of as die stem nou genoeg gehad het van die speletjie en sê: ‘Follow the course of road’.

Dis seker belangrik om jou eie stel spore uit te ry of uit te trap tussen ander. Dis veiliger om in die vorige spore te ry, maar die enigste manier om nuwe paaie te ontdek is om somtyds die rigting te volg wat nog nie voorheen gery is nie. Daar is paaie wat spoed toelaat en paaie waar krag nodig is en somtyds moet jy natuurlik ‘n stukkie pad van jou eie maak. Dit hoef nie op ‘n kaart aangedui te wees nie, maar solank jy weet waar om af te draai, is ‘n pad mos ‘n pad. As die beiteltjie nie jou padmaak-implement van voorkeur is nie, is daar altyd nog die lugdrukboor. Vreemd genoeg sluit baie van die paaie tog by mekaar aan en eie aan ons groepdier-instink ry ‘n stoet motors makliker agter die voorste een aan as om hul eie roete te volg.

Die pad
deur Elisabeth Eybers

Die pad kronkel fouteloos verder, alles moet lei
tot ontmaskering van ‘n ontsaglike misverstand…
Verdink nie die wandelaar van nodelose sloerdery want
die laaste ontluisterende skuifelgang hoort ook daarby.
Die geïmproviseerde slotnommer word samegeflans
uit raapsels herinnering, klankflarde, ‘n kruppel kadans,
maar die uitkoms is suiwer, vroeër of later beland
iedereen in die vereffening, eendag ook jý.
Al weet jou meedobberende kop beswaarlik nog wat
sy knik wil bevestig, jou voete betwis nie die pad.

Uit: Teëspraak; 1991; Human & Rousseau

 

Padtekens en Tekens langs die pad

Ek onthou goed toe ek die dag my K53-leerlinglisensie geskryf het. Daar was ‘n prentjie van ‘n ‘RY/GO’-padteken en die vraag was: “Watter padteken sal aan die agterkant van hierdie teken wees. Eers wonder ek of hulle dink ‘n mens is met die spreekwoordelike helm (of ‘helmet’ ter wille van die tema) gebore, maar toe ek weer daaroor dink, maak dit vir my sin. Daar sal ‘n STOP-teken agterop wees! Party padtekens het ook dinge agterop, maar dit het nie veel met die wette van die pad te doen nie. Dit gee meer inligting van wat in jou omgewing aangaan. Sien foto’s:

Stadig by die stopstraat-feit #2:  Jou kans om in ‘n motorongeluk betrokke te wees is 23 keer hoër as jy selfoon-boodskappe stuur terwyl jy bestuur. – http://www.arrivealive.co.za/Texting-and-Distracted-Driving

 

 

Stadig by die stopstraat-feit #3: Australië se snelweg 1 is die langste nasionale snelweg in die wêreld en is 14500km lank. Die N2 is SA se langste genommerde roete – 2255km (http://en.wikipedia.org/wiki/Highway & http://en.wikipedia.org/wiki/N2_road_%28South_Africa%29)

 

 

Die motor / das Auto / der Wagen

“sê, byvoorbeeld, elke iets
van ‘n motor tot ‘n fiets,
perdekar of ossewa,
ryperd wat sy ruiter dra –
alles waarop mense ry,
kom onsigbaar hier verby”
– uit ‘Sê nou’ van AG Visser –  (http://www.woorde.co.za/Digters/A.G._Visser.html)

Die Duitsers weet dat ‘n motor persoonlikheid het en dat jy vroulike en manlike motors kry. Die Volla, Herbie, is’n bekende uit die Hollywood stal, maar wie sal Stephen King se Christine kan vergeet? As die motor stotter in die koue weer, word daar maklik met die motor gepraat asof dit verstaan. Ek neem aan dat ‘n motor wat dikwels ‘backfire’ nie ‘n vroulike naam mag hê nie. Toe my Ouma haar tweede man vra of sy snork, was sy diplomatiese antwoord: “It’s a very ladylike snore.” Dis moontlik dat die ouerige studente-motor dalk ‘n naam kan hê, want streng gesproke is die motor ouer as die een wat daarin ry.

Uittreksel uit Platteland-fantasie
deur Loftus Marais

“ons klim in my chico en ry die platteland tegemoet
‘dis onmoontlik om die platteland tegemoet te ry’ sê jy
‘dis altyd daar, of skielik oral, en nes dag of nag
begin dit nie op ‘n gegewe  moment nie’ maar ek en jy
ry ‘n ou moederlike droë-pram platteland tegemoet”

Uit: ‘Staan in die algemeen nader aan vensters’; 2008; Tafelberg-uitgewers

 

Publieke vervoer

My ervaring met betrekking tot publieke vervoer is meestal beperk tot busse – skoolbusse, Greyhound-busse en toerbusse. Ek maak nie daarvan gebruik op ‘n daaglikse basis nie, maar sou graag wou. Daar is groot stede waar ‘n mens die publieke vervoerstelsel met gemoedsrus kan gebruik. Dinge soos die Gautrein is definitief ‘n stap in die regte rigting. Die minibus-taxi het die potensiaal om soveel probleme op te los, maar die konsep van kompetisie en konflik-oplossing is ‘n groot probleem vir die bedryf. Jy skiet eenvoudig die kompetisie om jou roete skoon te hou. Minibus-taxis probeer hul hand aan versiering deur hul taxi’s vol plakkers te plak. In een van die dorpies waar ek skoolgegaan het, het ‘n minibus-taxi rondgery met die volgende plakker in die ruit: ‘..friends are few’.

Dit het my so gepla (miskien pla dit my steeds). Ek wonder steeds of daar ‘n ander taxi rondry met die ‘When days are dark’ gedeelte. As ek daardie taxi sou kry, sal dit seker gaan soos met die hond wat die wiel jaag – as hy dit eers gekry het, sal hy nie weet wat om met die wiel te maak nie. Ek dink ek sal beter voel.

Foeta Krige en Barend la Grange van RSG is huidiglik besig om deur middel van publieke vervoer te probeer om Afrika oor te steek. Hul reis is van Kaap Agulhas tot by Ras ben Sakka. (Volg hulle by https://www.facebook.com/bigtrek) Ek dink al meer daaroor hoe lekker dit sal wees om Afrika te deurkruis op die manier. Veral met die huidige vrees rondom vliegtuie. Mense is al met ekspedisies deur Afrika, Riaan Manser is met sy fiets om Afrika en as ‘n mens ‘n sekere grassnyer se advertensie kon glo, is Livingstone en Stanley met grassnyers deur Afrika. Ek sien uit na die RSG-reisigers se verhale as hul eers weer op eie bodem is en moet sê dat dit heelwat meer diepte behoort te hê as stories wat geskryf is deur net Facebook of Twitter dop te hou. Miskien is dit tyd vir politici om van publieke vervoer gebruik te maak om beter te besef wat nodig is.

 

Rit in akwarel
deur Sheila Cussons

‘n Dag van wind en waaiende blare
en reën:
Boland, Boland, hoe herfs is jy mooi.
En ons haal sommer ses silinders
deur die jaende, jaende reën,
beskut in ‘n huisie op wiele
in die wye wiel van die reën.
Simonsberg en die Pieke en anderkant
berge verder
met tussenin sulke pienke
soos vonkeldons op Protea,
en die rysige bergkantele al die verruklike
gryse…
En ek word ‘n kwas en ek plas
‘n joelende spoel van kleure
deur al my sinskanale in my ingehoue stilsit,
gretig na vogtige papier.
My oë weet nie waarnatoe nie
en net die stuurwiel tussen jou hande
keer dat ek jou nie frommelmeng nie
in een ekstase van verf –
Hoe beter as goed is dit: dié spoel
uit al die sukkel en vassit – rý! –
net kleur, meer kleur, meer kleur tegemoet
deur babbel en blare en wind en reën.

Uit: Membraan (1984) – (1e Uitgawe; 1984; Tafelberg) -Sheila Cussons

Stadig by die stopstraat-feit #4: Die langste verkeersknoop in die geskiedenis word deur baie erken as Sjina se Nasionale Snelweg 110-verkeersknoop. Dit het op 14 Aug 2010 ‘begin’ en het vir meer as 10 dae geduur. Op party dele het motors so min as 1km per dag beweeg. (http://en.wikipedia.org/wiki/China_National_Highway_110_traffic_jam)

Die laaste beweging: Van Trurat en Spietkops

Om ‘n storie in diepte te interpreteer is dit nodig om vorentoe en agtertoe te lees. ‘n Motorkar se trurat help om terug te beweeg as jy by iets verbygery het, as jy te ver gery het en as die spasie waarin jy jou bevind dit moeilik maak om om te draai. Trurat word nie altyd net gebruik om terug te gaan op jou spoor nie, maar kan ook ‘n alternatiewe manier bied om ‘n pad te verken.
Ek wonder wat sal gebeur as jy een van die belangrikste werke in die Afrikaanse letterkunde agteruit sou lees. As jy dit vanuit die tru-spieël besigtig en miskien nuwe betekenis daarby inlees om dit nuut te maak en moontlik alternatiewe betekenisse daaraan te gee.

As ‘n mens Etienne Leroux se Sewe Dae slot-paragraaf in die milieu van die verkeer sou oorskryf kan dit moontlik so klink:
Veronderstel jy is alleen op die grootpad. Jy lig jou hand om die ligskakelaar aan te skakel. Jy is bang, maar jy vertrou jou kennis van die verkeer. Jy dobbel met die verkeer. In die uniform van ‘n verkeersman volg jy die verkeer, jy lig jou hand van die stuurwiel af, en met volkome vertroue wag jy op die oomblik om die sein te sien wat jou laat voel jy is onder beheer van die verkeer.

Ek sien nie my herskrywe as iets wat nuwe lig op die interpretasie sou kon gee nie, maar dit laat my as leek anders kyk na ‘n boek wat ek beter sou wou verstaan. Ek sien egter dat mense dekades later steeds wonder waarheen Oom Stephen se spore hulle moes lei – http://versindaba.co.za/2011/06/22/amanda-lourens-swart-jan-en-salome/
Hoe sou jou tweede en derde en vierde lees van die boek wees in die lig van die slotparagraaf? Dit is miskien wel die slotparagraaf wat die meeste mense in trurat sit om weer die pad saam met Oom Stephen te laat loop.

In Magersfontein, o Magersfontein kom die verkeer-tema meer duidelik na vore en om so gereeld terug te kyk, maak ‘n mens se nek seer.
Ek wonder of die mense wat die hele tyd in trurat ry
weer hul lewens terug sal kry?

“Soos alle speed-cops is Le Grange eintlik ’n filosoof. Wanneer hy ’n stoet van sewe motors teen ’n rasende vaart in die rigting van Modderfontein sien slinger, besef hy weer eens die lewe is absurd – dis eers ’n Griekse, tragiese konsep.

Maar dan sê die moderne mens NEE! teen die onafwendbaarheid van die noodlot. Dit is hierdie laaste gedagte wat Le Grange dwing om voor die optog in te swaai, en die stoet met flikkerende ligte veilig na hul bestemming te begelei. Een keer verloor hy amper die stoet, maar dan antisipeer hy die kollektiewe behoefte van die groep en kom tot stilstand voor die yslike kennisgewing MAGERSFONTEIN.”

“Waar trollies gaan as dit tyd is om te sterf”

Foto-bronne:
1. Minibus-taxi: http://www.mycitybynight.co.za/wp-content/uploads/2013/02/toyota_bad_2_the_bone_dc06.jpg

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. In beheer van die verkeer”

  1. Joan Hambidge :

    Huidiglik is so ‘n Naas Botha-woord. Gebruik sommer tans. Lekker rubriek!

    Ken jy Ryp geel kring van PJ Bosman met ‘n ou Chev op die voorblad?

    “Kersfees en motors”

    Van vroegoggend arriveer
    daar met die sandpad
    deur die mielielande,
    kar ná kar:

    Tant Kate se sewe en dertig-Chev
    moet, soos altyd weer,
    eerste op die werf
    van saamkoms wees.
    Sy moet oujongnooi-alleen
    oor sinkplaatpaaie swerf.
    Teen ‘n kantruit sit kwylstrepe
    van haar erg bedorwe pikenees.

    Oom Ren se Tudor Ford Sedan
    ‘n rammelkas weens blesbokjag,
    kom staan
    met voëlmis en ‘n skewe lamp
    onder die weggesnoeide takke
    van die sipreslaan.
    Hy grom met wie yt-krag.

    Dan arriveer oom Lodewyk.
    sy elmboog en arm
    stut sy kar se dak
    – die swaers se grappie –
    dat dit nie inmekaar moet sak.
    Met linkerhand alleen
    beheer hy knap
    die stuur en ratte
    van sy loodgrys Nash.

    Neef Johan se spog
    met neëntig myl per uur, soos,
    en hierby sal hy staan of val,
    bevestig deur spiedomieter op dash,
    laat my stilweg twyfel
    aan die vermoëns van ons eie wa.

    Pa se skerpneus Chev
    omdat hy die nuutste is
    en tussen al die Vrystaat O’s
    ‘n Transvaalse nommer dra,
    staan snobberig eenkant –
    weg van die sipresboomgom.
    Nooit mag ons op ‘n sitplek trap,
    die skoon, swart enjin rev,
    of deure klap.
    In die fel Desemberson
    glans sy duco bottelgroen.

    Oom Louw kondig sy naderkom
    met dawerende toeter aan.
    Sy vaalbruin Silver Streak,
    dié oggend nog met politoer geboen,
    hel effens oor
    weens liewe ou Tant Sus se lyf.
    Sy hoed en stofjas
    stel ‘n ryk man voor.
    Pontiac is immers tweede hoogste
    op die statuslys.

    En so gaan die gedig vir nog ‘n hele paar vermaaklike strofes aan en dan eindig die digter:

    Gelag en stemme klater op die stoep
    en daal die Kersfeesvreugde neer
    met geur van koffie, melktert, vrugtekoek.
    ‘n Niggietjie in lintjiesrok
    bring gemmerbier tot by die hek
    waar ons klomp neefs
    met soetklank motorname speel
    in skaamtelose spog en jok:
    Buick Roadmaster, Ford wie-yt, Dodge,
    Pontiac en Chevrolet,
    Deutches Kinder Wagen, Willy’s Overland
    En die neëntig-myl-per-uur-óp-die-spiedomieter
    Nash Lafayette.

  2. Ek het in die periode 1952 tot 1955 as leerling in die eenmanskool Tulbaghweg daagliks skool toe gery in die skoolhoof (Meneer Coetzee) se maroen Nash Lafayette. Die “Nes kag” was in ontwerp nogal sy tyd vooruit. Ek dink die naald op die snelheidsmeter het sommer lukraak gewys. Ek het daarna nog nie weer so’n motor gesien nie.

  3. Leon Retief :

    Dankie Wicus. Ek was nogal verbaas om te sien dat 35% van die wêreld se bevolking aan die linkerkant ry, ek het gedink dis minder. Ai Joan, jy het my gedagtes nou laat teruggaan na die jare toe ek nog ‘n laaitie was en Klaas Geswind vir my die hoogtepunt van Afrikaanse poësie was. Die kargogga het my al kleintyd gebyt, ek onthou al daai karre in die gedig wat jy aangehaal het. My droomkar, wat my pa tot my verdriet nie wou koop nie was:

    http://en.wikipedia.org/wiki/Studebaker_Gran_Turismo_Hawk#mediaviewer/File:Studebaker_Gran_Turismo_Hawk.jpg