Wenners van die lykdig-kompetisie!


Wenners : Lykdig-kompetisie
Baie geluk!

 

EERSTE PRYS (R2000): Lykdig 23: René Bohnen. Peter Blum

TWEEDE PRYS (R1500): Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

DERDE PRYS (R1000): Lykdig 40: Marius Crous. Lykdig vir Wisława Szymborska

EERVOLLE VERMELDING (R500):Lykdig 33: Louis Jansen van Vuuren. Maak dit ‘n dubbel

 

Met dank en waardering aan Cordis Trust, maak ons graag die bogenoemde wenners bekend. Die beoordelaars vir hierdie kompetisie was Prof. Louise Viljoen, dr. Marlies Taljard en Prof. Joan Hambidge. Hulle beoordeling het anoniem van mekaar geskied. Gedigte is ook anoniem beoordeel. Die digtersname van alle lykdigte word nou vir die eerste keer bygevoeg. ‘n Puntetelling het die finale keuses bepaal. Daar was soveel uitmuntende lykdigte in hierdie kompetisie, dat die keuse van wenners ‘n moeilike taak was. Ons hoop dat hierdie kompetisie ook ‘n leerproses vir die Afrikaanse digkuns sal wees en vir dié wat hulle graag met die woord besig hou. – Red.Versindaba.

BEOORDELAARS


Klik hier vir die Algemene opmerkings deur die beoordelaars!

Kommentare op die lykdigte deur die drie beoordelaars:

(Anoniem en in geen spesifieke volgorde nie –
slegs numeries of met ‘n kolpuntlys aangedui.)

 

Eerste Prys:

Lykdig 23: René Bohnen. Peter Blum

(Beoordelaar) 1. Die lykdig oor Peter Blum steun sterk op een van sy mees memorabele en tergende gedigte, “Man wat mal word”. Enersyds besing die outeur van hierdie gedig die lof van Blum deur hom te huldig met die naskryf van sy gedig; andersyds bevestig hy met die inhoud van die gedig die blywende impak van Blum op sy werk en op die poësie in die algemeen. Terselfdertyd is die gedig beskrywend van Blum se warse geaardheid en sy kritiese instelling teenoor die Afrikaanse kultuur en letterkunde, vgl veral die reël “Aweregs duin jy al-links op / in my bewoessyn”. Die gedig beskryf ’n rit deur ’n Karoo-nag (“my kar-oë deur die Karoo”) waarop Peter Blum hom aan die spreker se bewussyn opdring. Hy lyk soos ’n bok in die ligte van die motor: hy verskyn, “(a)fgedool / uit die dood en verdwyning” en gooi ’n “steenbokskaduwee op die teenpoolsee”. Naas hierdie toespeling op die bundeltitel Steenbok tot poolsee is daar ook ’n nabootsing van die rare nuutskeppings in veral Enklaves van die lig. Vir die spreker in hierdie gedig is die invloed van Blum iets wat die “verbarring [vlg die Karoo-ruimte] van sy sintuie” teenwerk. Hy “tartel” (tart, tortel) met sy “nuutskoppinge” (’n toespeling op Blum se hardhandige kritiek en uitdagende vernuwings). Hy is “toornynig” (toornig, venynig, dartelend soos ’n tornyn) en hy beweeg op die “limen” (drumpel) so kort voor die “lumier” (dagbreek). Die dagbreek is ’n drumpelmoment, maar Blum het hom as persoon en ook as kunstenaar in ’n liminale ruimte (buite die gevestigde orde) bevind. Dit is juis vandaar wat hy sy toornige kritiek op die Afrikaanse denkwêreld kon uitspreek en juis vandaar wat hy skynbaar ook nog die spreker in hierdie gedig aanspreek en inspireer. Die gedig werk op uiters gekonsentreerde manier met Blum se voorganger-gedig, maar huldig terselfdertyd die gestorwe Blum vir dit wat hy verteenwoordig het. Ek vind dit wel jammer dat die outeur nie die teenstrydigheid tussen vorm en inhoud van Blum se “Man wat mal word” nageboots het nie, naamlik die aftakeling en uitmekaar-val van die taal wat in metries-ewewigtige reëls in die georganiseerde patroon van ’n Italiaanse sonnet gegiet word.

(Beoordelaar) 2. Vir my is hierdie lykdig iets besonders. Die digter gee blyke van Blum se komplekse “odi et amo”-verhouding met Afrikaans en sy besonder vernuftige taalspel. Die gedig speel ook in op bekende verse van Blum soos “Drie uiterstes”:

Man wat mal word

Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dáár
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam

tort in die klier. War-om? Alluin ’n kwik haat
het heerdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal

eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dit ís liefde: kán dus in die greep

van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!

In navolging van die “aweregse” lewe is daar toespelings op die studie van Kannemeyer Wat het geword van Peter Blum? (1993), maar veral tree die gedig in gesprek met die digter se procédé, naamlik die ontginning van taal. Ons vind dit in woorde soos “bewoessyn”, ““tor-wyl”, afgedool”, “aangeleuen”, “gestoldte”, “jubelwok”, “verbarring”, “tartel”, “nuutskoppinge”, “toornynig”, ensomeer. Die slotwoord, limen, verwys na die liminaliteit of oorgang van hierdie vers en aktiveer die belangrike vraag van so ‘n tipe vers: wat behoort aan die eerste digter en wat is geapproprieer of oorgeneem? Is daar uiteindelik ‘n eie stem? In welke mate is hierdie vers ‘n blote pastiche? Ek is van mening dat die gedig genoeg blyke gee van ‘n eie stem. Die spreker ry deur die Karoo en dink na oor die belangrikheid van Blum, ‘n verdwene figuur, maar terselfdertyd ‘n figuur wat met alleen twee bundels die Afrikaanse digkuns verryk het. Ook is die lykdigte van Ina Rousseau hierna ‘n bevestiging van sy grootsheid. In die landskap word die figuur ‘n “gestoldte” in die skerf lig en verskyn hy as’t ware aan die spreker teen die einde van die dag. Die spreker beleef ‘n soort verblinding (“verbarring”). Dit terg (“tartel”) en hierdie vers is ‘n huldeblyk aan die digter se nuutskeppinge of neologismes en sy vermoë om grense (limen) uit te daag, sowel op menslike as digterlike vlak.
Hierdie gedig beweeg in die ruimte van liminaliteite en die grense tussen lewe/dood en die opposisies tussen vertrek/kanonisering, Blum/spreker word so geaktiveer.

(Beoordelaar) 3. Die styl van hierdie gedig, wat gemaak is op die patroon van Man wat mal word, is besonder tekenend van Blum se betekenisverrykte woordomvormings. Ook in hierdie gedig slaag die digter by uitnemendheid daarin om meerduidigheid deur betekenisfusie te bereik. Die kort gedig dra ʼn ryke semantiese lading. Oor die geslaagdheid van die gedig kan beslis gedebatteer word – volgens my mening is dit egter effens oordoen en klink dit gedwonge. Ook hierdie gedig steek vas in die beskrywing en tipering van ʼn enkeldigter sonder om ʼn dieper dimensie van bestaan te verken. Tipies van die digter Peter Blum se lewe, ontbreek die tradisionele elegiese styl en word dit vervang met ironie, sinisme en spot.

Tweede Prys:

Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

(Beoordelaar) 1 Die digter dra die gedig op aan Leon Rousseau – die skrywer van die biografie oor Eugène N. Marais, Die groot verlange – en skryf ‘n “objektiewe” of gedistansieerde vers oor hierdie belangrike digtersfiguur. Die gedig se struktuur word gekenmerk deur die objektiewe beriggewing met ‘n teenstem in kursief. Hierom verwysings na “nagrefrein” en “partituur”. Die digter gebruik sterk beelde om die verslawing of donker kant oor te dra (“’n newel op vlerke van papawer/krul om nokke van die suiderkruis”). Die ego/alter ego-spanning word beklemtoon deur hierdie afwisseling van stemme. Die inbeweeg in ‘n ander dimensie word beklemtoon deur die toespeling op Dwaalstories. Jan Konterdans, die vioolspeler uit die groot woestyn, het die digter kom haal. Hier aktiveer die slot die digter se belangstelling in “ander dimensies” soos die film van Katinka Heyns, Die wonderwerker ook verbeeld het. Die digter Marais se belangstelling in hipnose en die parapsigologie word dus só geaktiveer.
Die gedig getuig van navorsing en ‘n besondere kennis van Marais se lewensloop, sy werk en die politieke outsiderskap met verwysings na Burgers en Kruger. Die gedig intimeer ook dat hy as misverstane persoon in sy eie land dalk elders sou kon oorleef as dit nie vir sy verslawing was nie. Daar is ‘n eie stem en ‘n besondere inspeel op die werk en lewe van Marais. Daar is ‘n fyn balans tussen historiese feit en digterlike interpretasie.

‘n heuningvoël lok hom terug
deur versengde provinsies
om in die kaal takke van strofes en klinkers
‘n korf oop te breek

alles kon hy besweer
maar nie die adder aan eie bors
wat met vrypas deur sy are
aan die hart kom drink het
soos by ‘n kuip

‘n verslete verstoteling
voortvlugtend vir beelde
wat deur sy drome galop
sonder behae in sy dae
en sy nagte hel

die knal van ‘n haelgeweer het die newel gevel

(Beoordelaar) 2 Hierdie lykdig vir Eugène Marais kan woord vir woord teruggevoer word na Leon Rousseau se Die groot verlange. Die gedig het ’n sterk narratiewe inslag (dit loop trouens die gevaar om te uitgesponne te raak). Effektief is egter die uitlig en konkrete verwoording van sentrale momente in Marais se lewe, die effektiewe afwisseling van die narratiewe strofes met reëls in kursief wat hierteenoor momentopnames of beeldende insigte verteenwoordig, die deurdra van sekere motiewe in die kursief-gedrukte reëls (sonde, gevaar, dood, donkerte, waansin) en die slot wat gehaal word uit enkele van die mooiste momente in Marais se werk. Sy dood deur die haelgeweer word gesien as die moment waarop hy deur Jan Konterdans uit die Dwaalstories teruggeneem word na die huis van ’n eenvoudige ou boer, Oom Dirk, oor wie hy op bekoorlike wyse in “’n Voëlparadys” in Sketse uit die lewe van mens en dier geskryf het (“Op ’n rusbank in die middel van die gewemel en die geraas, sit oom Dirk. / Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, vol voëltjies…”) Die gedig lig dus die twee pole van Marais se persoonlikheid uit: die donker kant (o.a. die adder van morfien “wat met vrypas deur sy are / aan die hart kom drink het / soos by ’n kuip”) en die ligte, serene kant wat hy kon verwesenlik deur sy kontak met diere (“vol voëltjies”). Die element wat van hierdie grootliks narratiewe gedig ’n lykdig maak, is dat dit gesien kan word as ’n roulied oor die tragiese afloop van sy lewe. Die storie-element in die gedig word juis aangewend om vir sy lewe ’n positiewe en vertroostende afloop te versin deur die fantasie oor sy dood in die slot van die gedig. Dit is dus ’n heel spesifieke soort lykdig, een wat probeer om die droewigheid van die dood op te hef deur dit as ’n positiewe wending voor te hou. Alhoewel die narratief miskien meer gekonsentreerd kon wees en die prosodie meer gedissiplineerd (wat klank en ritme betref), vind ek dit ’n interessante variasie op die tradisionele lykdig.

(Beoordelaar) 3 Die aanleiding vir die gedig kom – blykens die opdrag – waarskynlik van Leon Rousseau se boek oor Eugéne Marais, Die groot verlange. Die gedig beeld duidelik grepe uit Marais se lewe uit met kommentaar in kursief. Dit is ʼn vrye vers wat gebind word deur klankherhalings en ʼn aangename praattempo, asof iemand vertel. Die “tersydes” het dikwels ʼn lerende, ironiese en suggestiewe waarde en verwys selfs vooruit na dinge wat nog moet gebeur. Die laaste deel van die gedig wat waarskynlik Marais se eie woorde is, slaag daarin om iets vas te vang van die era waarin hy geleef het.
Die opbou van die narratief het ek problematies gevind, aangesien die fragmente waarin die verhaal gesitueer is, nie logies met mekaar verbind is nie en die invul van die narratief bemoeilik. Dit maak die gedig dus ontoeganklik vir dié lesers wat nie bekend is met die lewensverhaal van Marais nie. So is dit byvoorbeeld nie duidelik na wie die woord “haar” in die tweede strofe verwys nie – is dit die ma wat in die “tersyde” genoem word? Aan die ander kant kan egter ook geredeneer word dat die tegniek om van fragmente gebruik te maak, juis die leser tot die kreatiewe invul van feite aanmoedig – ʼn tegniek wat klem wil lê op die narratiewe, fiktiewe en gefragmenteerde aard van die geskiedenis. Myns insiens kon die digter meer gekonsentreerd te werk gegaan het, aangesien sommige feite nie die verhaal ondersteun nie en ook nie veel van Marais se karakter onthul nie.

Derde Prys

Lykdig 40: Marius Crous. Lykdig vir Wisława Szymborska

(Beoordelaar) 1 Dié gedig gaan besonder vaardig om met die drie mees prominente aspekte van die sewentiende-eeuse lykdig en wy afsonderlike afdelings aan die laus, luctus en rou. Die motto uit Szymborska se werk (“The dead sit before us comically, as if on buttered bread”) berei ’n mens voor op die wrang speelsheid waarmee die dood in dié gedig hanteer word. Daar is dus heelwat variasie in toon. Die toon is hoogdrawend en ironies in die laus-gedeelte, ook in die geval van die selfspottende manier waarop daar na die gedig verwys word as ’n “smartlap”. Die luctus-gedeelte van die gedig het eweneens ’n dramatiese klank, maar dit suggereer tog die egte gevoel van verlies veroorsaak deur die dood. Die consolatio-gedeelte maak gebruik van Szymborska se eie woorde en beelde. Haar spottende woorde oor die “corpse” van die ouderwetse digters wat nie aangesluit het by die avant-garde nie bring letterlik die lyk die lykdig binne. Ter vertroosting word haar dood ook gerelativeer deur dit te stel teenoor die eindelose wenteling van die aarde (dit sal “nie die groen van die gras stopsit nie”). Die slotbeeld (gehaal uit haar gedig “Cat in an empty apartment”) beklemtoon egter ten slotte tog die gevoel van ontreddering veroorsaak deur die dood: “ons voel alleen gelaat soos katte in toegegrendelde woonstelle”. Die gedig kry dit dus reg om Szymborska se ironiese, selfs lakonieke inslag te kombineer met ’n werklike gevoel van verlies. ’n Mens word ook bewus gemaak van die feit dat jy haar werk deur die lens van vertaling leer ken deurdat die einde van die eerste strofe die unieke aard van die taal waarin sy geskryf het, beklemtoon. Dié gedig is oënskynlik die naaste aan die patroon van die sewentiende-eeuse lykdig, maar aan die ander kant tog ook vernuwend deur die speelsheid, humor en ironie waarmee die dood hanteer word.

(Beoordelaar) 2 Hierdie lykdig val op weens die streng klassieke struktuur waarop dit gebou is, naamlik Lament, Lofprysing en Troos – hoewel die eerste twee dele hier omgeruil is. Soos die geykte klassieke styl waaraan die gedig sy vorm ontleen, slaag die digter byna deurgaans ook daarin om die verhewe register wat kenbaar is aan geykte taal, vol te hou. Deur die opnoem van prestasies in die eerste strofe slaag die digter daarin om nie slegs die ruimte te skep waarbinne die digter geleef en gewerk het nie, maar ook om iets van haar doodgewone, sagte aard weer te gee. Die lament slaag daarin om emosie by die leser te ontlok en herinner aan die treurpsalms. In teenstelling tot die emosiebelaaide tweede strofe staan die laaste strofe uit weens die beheerste styl daarvan en suggereer dit dat die ontslape digter reeds as heilige tussen haar bewonderaars teenwoordig is. Ten spyte van die meestal geslaagde toe-eiening van die styl en struktuur van die klassieke elegiese vorm, konsentreer die digter hoofsaaklik op die afgestorwene en diegene wat sy treurend agterlaat, sonder om bewustelik ʼn dieper dimensie van menslike bestaan te verken, soos dit eweneens in klassieke elegieë gebruiklik was. Die gedig bly steek dus in die hede by die betrokkenes sonder dat dit universele betekenis suggereer – ʼn aspek wat nie by alle gedigte noodsaaklik is nie, maar wat gewoonlik nie by lykdigte ontbreek nie. Hier het die gedig myns insiens segkrag ingeboet, veral ten opsigte van ander gedigte waarin daar doelbewus en baie suksesvol ʼn meerdimensionele betekenislaag geskep is.

*

Top drie eervolle vermeldings:

Lykdig 33: Louis Jansen van Vuuren. Maak dit ‘n dubbel    (Wenner)

• Hierdie gedig is ʼn universele besinning oor die dood – met spesifieke verwysing na twee afgestorwe woordkunstenaars, D.J. Opperman en Arthur Rimbaud. Die gedig het ʼn fyn uitgewerkte struktuur waarin die besondere algaande in die algemene oorgaan. Die titel verwys onder andere na Doors Dubbeldop in Opperman se gedig Kantelkompas – ʼn figuur wat met die dood geassosieer kan word. Verder mag dit ook verwys na die slotgedig in Opperman se bundel Komas uit ʼn bamboesstok – die laaste bundel wat in sy lewe gepubliseer is, met die reël “die uur vir die laaste doppe”. Ook Rimbaud was volgens oorlewering ʼn geharde drinker. Die gedig begin met ʼn elegiese besinning oor die digter D.J. Opperman deur verwysing na sy bekende gedig Vuurbees waarin “dink aan sterf” een van die hoofmotiewe is. Die tweede strofe is ʼn besinning oor die Franse skrywer Arthur Rimbaud waarin verwysing na Lazarus op lewe én dood én opstanding uit die dood sinspeel. Die volgende strofe trek ʼn verband tussen belangrike werke en ideë van die twee genoemde skrywers – sowel Vuurbees as die Illuminasies is visioenêre poësie wat gerig is op die metafisiese bestaan van die mens en ʼn na-doodse bestaan suggereer. Skepping en destruksie is belangrike temas in Opperman en Rimbaud se oeuvres en kan direk aan dood en wederopstanding (ʼn ewige tydsiklus) gekoppel word. Die laaste deel van die gedig oorstyg die betrokke figure en word ʼn besinning oor die tydgebonde bestaan van die mens en die onafwendbare dood. Die tema van sterflikheid word versterk deur aanhalings wat telkens as refrein aan die einde van strofes verskyn: timor mortis concurbat me (“vrees vir die dood ontstel my” – uit die Katolieke Dodemis) en timor mortis morte pejur (“die vrees vir die dood is erger as die dood self” – Robert Burton in The anatomy of melancholy). Die gedig sluit met ʼn sinspeling op die reeds genoemde figuur Doors Dubbeldop se skuit met die naam Bokkie. Terselfdertyd roep die slot ook die bekende volkslied Bokkie jy moet huis toe gaan op, wat binne die konteks van die gedig die dood impliseer. Hierdie gedig verwys op ʼn gesofistikeerde manier na verskeie tekste van die skrywers aan wie dit opgedra is en waarin sprake is van die dood of die metafisiese aspek van die menslike bestaan. Die intertekstuele verwysings skep ʼn fyngesponne weefdraad wat die gedig tot ʼn sinvolle eenheid bind en – indien dit deeglik nagespeur word – beduidende verbande tussen die twee skrywers en hulle werk blootlê. Die wyse waarop met intertekste omgegaan word, kan as minimalisties beskryf word: meestal word die konteks slegs deur enkelwoorde opgeroep. Nêrens versteur dit die balans van die gedig nie; dit verryk die betekenis deur ʼn konstante kontrapunt te lê en ʼn addisionele betekenislaag toe te voeg. Die finesse waarmee die gedig afgewerk is, die treffende onderbeklemtoning van die spesifieke geval sonder om vaag te word, die deurlopend besinnende aard en die fyn balans wat hierdie gedig in alle opsigte kenmerk, is die etiket van ʼn bedrewe digter en die essensie van die digkuns. Dat die digter dit regkry om naatloos oor te gaan van ʼn treursang oor spesifieke digters tot ‘n treffende besinning oor die universele tydgebonde bestaan van die mens op aarde, wil gedoen wees. Baie geluk met ʼn skitterende gedig!

Lykdig 55: Kirby van der Merwe. Klein manifes van ’n reisiger

• Hierdie gedig is meer intiem in die direkte aanspreek van die ontslape digter, George Weideman. Daar is ‘n ek versus George. Dit is duidelik uit die beelde dat die spreker die digter persoonlik geken het – hulle het immers saam op ‘n rivierwal gesit. Daar is vele verwysings na Weideman se werk en lewe, onder andere sy siggebrek word hier geaktiveer om die Onsienlike te betrek. Hier word die beeld van bye gebruik – met toespelings op Lorca en Emily Dickinson – om die rol van die digkuns te beskryf. Die werklike saamwees op die rivierwal word nou opgeroep in hierdie lykdig-as-herinnering. Die spreker het in bekende Weideman-streke soos Onseepkans en Pella aan die mens en digter gedink. In hierdie ruimte dink hy ook aan die digterlike “staning onder sterre” en “die tuin van klip en vuur”.
‘n Intieme kennis van die oeuvre en lewe word onthul. In die gesprek onthou die spreker ook ‘n voorspelling van die digter, wat weens ‘n slopende siekte, bewus was van sy eindigheid. En die mens se kortstondigheid en die belangrikheid van die natuur word dan in tipies-Weideman-beelde verbeeld: daar word gestap na die beenwit boom (wat dan uiteindelik die digter se liggaam word) en in die spreker onthou hoe die digter met ‘n stukkie houtskool ets op die wit gebleikte hout en sy klein manifes skryf. So word die hele bundel Uit hierdie grys verblyf opgeroep – en word hierdie gedig ‘n “donker melk van daeraad”. Dit word ‘n wonderlike en aangrypende verering van die digter en die impak van die digkuns – al is dit net ‘n “klein manifes”.

• Die gedig slaag daarin om ʼn ruimte te skep wat kenmerkend is vir die poësie van die digter wat gehuldig word, naamlik George Weideman. Die informele gesprekstyl is tiperend van die poëtiese styl van dié digter, asook die plasing in die natuur. Ook in hierdie gedig is die struktuur fyn beplan. Die spreekbeurte van die skrywende ek gaan ten slotte oor in spreekbeurte van die digter, George. Hoewel daar nêrens gewag gemaak word van die digter se dood nie, word dit gesuggereer in talle verwysings, soos byvoorbeeld die plasing van die gedig binne die liminale ruimte van die rivieroewer. Ook verwysings na “daar oorkant”, die bye wat, aldus George, “boodskappers” is, en “kispak”, “geraamtes” en “gebeente” suggereer dat die droom ʼn vooruitwysing na die dood is. Die elegiese toon word in hierdie gedig plek-plek vervang met die gewaarwording van iets unheimlich – ʼn droom waarin die dood van die digter George Weideman aan die verteller geopenbaar word. Ironies is dat die gestorwe digter in die droom die skrywer troos en bemoedig. In hierdie opsig is die gedig uniek, omdat dit nie ʼn nabetragting is nie, maar ʼn vooruitskou op wat nog gaan gebeur – dus ʼn omkering van die idee van die elegie.
Integrasie van biografiese gegewens en intertekste word sinvol hanteer en dra by tot die karakterisering van die gestorwe digter. Die gevoel van verlies en van melankolie oorheers die gedig.

Lykdig 39: Willem Krog. Dodemis vir Federico García Lorca

• Die basis waarop hierdie gedig gekonstrueer is, is rofweg dié van die Katolieke dodemis (die digter maak wel gewag daarvan in ʼn verwysing). As sodanig volg dit ʼn vaste struktuur waarin biografiese feite en roubeklag die eerste deel van die gedig vorm. Daarna word by wyse van intertekstuele verwysing gefokus op die werk en die filosofie van die digter wat metafories die geweldenaar wat hom laat teregstel het, verslaan. Die laaste deel van die gedig, waarin wel ook intertekstueel na die werk van Lorca verwys word, is egter ʼn besinning oor die tydloosheid van die digkuns as sodanig – die laaste strofe impliseer dat die treurendes getroos kan weet dat die digter Lorca ewig sal lewe deur sy werk. Die struktuur is deeglik beplan en dui op ʼn verinnerliking wat die spesifieke ruimte, tyd en personasies oorskry. Die tema van die gedig is die geweldige krag wat in die poëtiese woord geleë is, soos dit gekontrasteer word met die magsmisbruik van die magtiges en soos dit gesien kan word in die lewe van die digter wat in hierdie gedig gehuldig word. Die tema word ondersteun deur die gebruik van metafore waarin die wreedheid van oorlog en die subliemheid van die poësie mekaar afwissel. Die gebruik van metafore is besonder geslaagd en dra by tot die uitbouing van die tema en tot die rekonstruksie van die besondere ruimte waarbinne die digter geleef en gewerk het. Intertekstuele verwysings na die werk van Lorca kom deurgaans voor en baie van die metafore is inderdaad aan die digter se werk ontleen. Dié verwysings is egter nie steurend nie, maar dien veral die doel om die digter by wyse van sy werk teenwoordig te stel en te huldig, maar ook om die poëtiese ruimte van die digter te representeer. Aspekte wat van hierdie gedig ʼn wengedig maak, is onder andere die geslaagde struktuur, die opbou na ʼn klimaks, die geslaagde metafoorgebruik en die skep van ruimte. Die taalgebruik is aangepas by die deklamatoriese styl wat so kenmerkend is van die digter Lorca.

Alle ander vermeldings (uit die kortlys) deur die beoordelaars
(In geen spesifieke volgorde nie):

Lykdig 19: Heilna du Plooy. Buiteblad

• In plaas van direkte verwysing na die digter Ted Hughes, aan wie hierdie gedig opgedra is, maak die digter gebruik van indirekte verwysing – hy/sy beskryf en besin oor die buiteblad van Ted Hughes se laaste digbundel, Birthday letters – gedigbriewe aan sy eks-vrou Sylvia Plath wat selfmoord gepleeg het nadat hulle huwelik misluk het. Die gedig tree veral in interaksie met die laaste gedig in die bundel, Red. Omdat dit die laaste gedig in Hughes se laaste bundel is, dra gebruik van dié gedig as vernaamste interteks waarskynlik besondere gewig – dit wys op subtiele wyse heen na Hughes se dood nie lank na die publikasie van die bundel nie. Hoewel daar nie eksplisiet sprake is van rou nie, dra die melancholiese toon van die gedig by tot die elegiese aard daarvan. Die gedig is in die vorm van ʼn gesprek geskryf – ʼn laaste besinnende gesprek met die digter Ted Hughes, ʼn bevestiging van wat hy self in die gedig Red oor sy gestorwe vrou sê en ʼn verrekening van dié feite om by ʼn nuwe slotsom uit te kom: die simboliek wat geleë is in die buiteblad van die laaste bundel van die digter, ʼn simbool van hulle huwelik. Die gedig is geskryf in die vorm van ʼn Shakespeariaanse sonnet met drie kwatryne en ʼn rymende koeplet wat ʼn verdieping of gevolgtrekking of abstrahering van die voorafgaande inligting bevat. Wat hier besonder treffend is, is die optimale benutting van verseindes en strofebou om ʼn addisionele semantiese laag aan die gedig toe te voeg. Geen formele rympatroon kom in die kwatryne voor nie – dit word voorbehou vir die twee belangrike slotreëls. Herhaling word benut om dié belangrikste woord – “hoop” – uit te lig. Dit is veelseggend dat die reëls waarin van hoop sprake is, die enigste voorbeelde van rym (oor strofes heen!) in die kwatryne bevat. Die sintuiglikheid en die simboliese gebruik van kleure verruim die betekenis van die gedig en gee dit ʼn dieper dimensie as net die objek (en die hartseer verhaal) waarna die gedig verwys. Gebruik van die papawer-simbool sluit natuurlik ook aan by Sylvia Plath se werk, en spesifiek by haar gedig Poppies in July waarin sy op haar en Hughes se destruktiewe verhouding sinspeel. Die energie wat merkbaar is in die kwatryne en wat Plath se lewensdrang suggereer, loop in die slotstrofe oor in ʼn meer gedrae ritme wat dalk met besinning en selfs met troos geassosieer sou kon word.
In hierdie gedig slaag die digter daarin om nie slegs ʼn elegie vir die digter Ted Hughes te skryf nie, maar om ook dié digter se hartseer en wroeging oor sy afgestorwe vrou, Sylvia Plath aan te voel en te verwoord. Die subtiliteit waarmee die digter te werk gaan, die harmonie wat alle aspekte van die gedig kenmerk en die digter se bedrewenheid in die skryf van ʼn moeilike genre, het my beïndruk. Hierdie gedig sou ook ‘n wenner kon wees.

• Hierdie gedig aktiveer die bundel Birthday letters van Ted Hughes wat hy geskryf het kort voor sy dood. In hierdie bundel word die komplekse verhouding met Sylvia Plath ontgin – en die gedig sluit met ‘n treffende slot:

Rooi blomme in ‘n blou raam ingebed,
is wat die wanhoop aan liefde oor het.

Lykdig 22: Susan Smith. Tuin van mondings

• Hierdie gedig is gebaseer op die gedig Poppies in July deur Sylvia Plath. Die meerduidigheid en selfs simboliese betekenis van die rooi papawers word gesuggereer deur die herhaalde gebruik van die woord “mond” wat enersyds na die vorm van die papawer kan verwys, maar waarvan ook die woord “monding” afgelei is – die uiteinde van ʼn rivier – in hierdie geval die rivier van die lewe, verwysend na Plath se dood. In die bogenoemde gedig van Plath word die rooi papawers metafore vir die verwonde mond – ʼn insinuasie dat sy deur haar eks-man, Ted Hughes, aangerand is. Verskeie heenwysings na Plath se lewe en intertekste uit haar werk verruim die betekenis van die gedig. Ek het egter gevoel dat die intertekstuele verwysings in hierdie gedig effens hinderlik is en by tye die betekenis versluier. Ook is ek nie heeltemal seker dat die gedig wel sin maak vir lesers wat nie vertroud is met die lewe en werk van die digter Sylvia Plath nie. Die gedig bly steek in die feite van Plath se dood en die redes vir haar selfmoord, maar sny net vlietend ʼn dieper dimensie aan in die reëls “die moed van geslote monde / en uitmondings se rooi vlamme”.

• Hierdie gedig tree in gesprek met Plath se bundels en raam as’t ware hierdie digkuns in ‘n lykdig.

Lykdig 16: Gisela Ullyatt. wanneer verse begin droom

• Die titel van die gedig is ’n toespeling op die woorde “wanneer woorde begin droom” uit Knobel se gedig-siklus “Bloedsteen”. Die ambivalensie van die Knobel-figuur word onmiddellik aan die orde gestel deur die verwysing na die feit dat hy as “verskalwer” gemerk is: ’n vroulike kalf en ’n kalf wat verse gaan skryf. Die gedig vereer Knobel deur ’n toespeling op belangrike tematiese gegewens uit sy werk, veral die verhouding met sy moeder en vader, hier elkeen weergegee in die plaasruimte wat in die eerste strofe aangedui word. Sy psigologiese aftakeling (en moontlik ook skokbehandeling) word gesuggereer in die beeld van bedrading wat smelt, die brein wat bouvallig word en die voetpaadjies wat toegeskroei word. Die beelding in die vers is gekonsentreerd en konsekwent, die toon en woordgebruik sober en sensitief. Dit werk as lykdig omdat daar duidelik sprake is van ’n gevoel van rou vanweë die ontstellende aftakeling van die persoon, maar tog ook van vertroosting deurdat die dood voorgestel word as moment van selfverwesenliking (die funksie van die bloedsteen in Knobel se oeuvre) en die begin van ’n kreatiewe droom (wat deur ander soos die skrywer van hierdie gedig voortgesit kan word).

Lykdig 20: marcelle olivier. kersiewit : dorothy parker

• Ek hou van hierdie vers se kriptiese, donker, selfs ‘bytende’ aard wat in die styl van die onderwerp Dorothy Parker is. Die gedig is as ‘t ware saamgestel uit woorde en beelde te vind in haar uitgebreide oeuvre van aforismes, kort gedigte, pittige sêgoed, ensomeer. Die titel wat verwys na haar gedig “Cherry White” berei ’n mens voor daarop dat die gedig gaan fokus op haar talle uitsprake oor selfmoord, depressie en die dood. Uit die verwysings na die selfmoordpraatjies kom byvoorbeeld die treffende beeld “sny lintkwatryne uit die duister lug / se pols, sening”. Die slotbeeld van “die tou styfgepluk om lewe en onvrugbare sand” verwys weer na haar bundel Enough Rope. Die gedig is vol kriptiese leidrade uit Parker se werk en lewe vir die leser om te ontsyfer, maar dra ook sy eie vindingryke beelde by ten einde die gevoel van rou en melankolie oor ’n ingewikkelde lewe te vertolk.

Lykdig 1: Hendrik Botha. Ek het jou belowe

• Met spaars, min woorde word die die lewe van hierdie digter, Len S. Louw in ‘n lykdig beskryf. Daar is sprake van ‘n intieme verbintenis tussen spreker en onderwerp. Baie knap is die vergelyking met die dood as ‘n gemsbok vasgevang in ‘n draadstrik.

Lykdig 35: Gerhard Botma. Klipwerk

• Hierdie gedig werk veral met die beelde en gedagte-inhoude uit Van Wyk Louw se oeuvre (Raka, “Die beiteltjie”, “Kamer van spieëls”, “Ballade van ’n jeug: duif en perd”, “Karoodorp: someraand”) om te dui op die inspirasie wat van hom uitgaan op die lykdigter wat self besig is met die “alleenwerk” van gedigte skryf en die teleurstelling wat daar volg wanneer die “klein idees” wat tot stand gebring is vernietig word deur Raka of die krag van die natuur. Die gedig is beeldend, ritmies en klankmatig goed afgewerk, maar is een van dié wat op die rand van die genre van die lykdig lê. Dit vereer Louw en erken sy invloed, maar daar is min van die gevoel van rou of vertroosting wat ’n mens met die genre assosieer.

*

Pryswenners se gedigte sal later opgeneem word by die Gedigteblog van Versindaba.
Om al die ander gedigte terugwerkend te lees met die digters se name bygevoeg, gaan na :

Kompetisies

Sien hier ook weer die Kortlys van finaliste

Met spesiale dank aan die deelnemers, die beoordelaars en Cordis Trust!

 

 

Bookmark and Share

17 Kommentare op “Wenners van die lykdig-kompetisie!”

  1. Louis Esterhuizen :

    Wat ‘n allemintige stuk werk! Van harte geluk aan al die pryswenners …

  2. Fransi :

    Baie geluk! Uitstekende werk!

  3. Marlise Joubert :

    Baie geluk aan al hierdie wenners! Daar is heelwat verrassings by…

  4. Susan Smith :

    Baie geluk aan die wenners! Dit was ‘n vreugde om hieraan deel te neem en dankie ook aan die insiggewende kommentare van die beoordelaars.

  5. Hendrik Botha :

    Veels geluk aan die wenners, welverdiend!
    Baie dankie vir die geleentheid om te kon deelneem. Dankie ook aan die beoordelaars vir hulle kommentaar.

  6. René Bohnen :

    Uiteindelik is ek by my rekenaar (my foon is nie baie slim nie) en kon ek kans kry om vinnig hier te lees. Baie dankie aan Cordis Trust vir hierdie kompetisie. Dankie, Marlise, vir die administrasie en harde werk. Dankie aan die beoordeelaars vir deeglike kritiek – dit is vir my baie waardevol en ek leer uit elke kommentaar wat gelewer word, hetsy op my eie vers of iemand anders s’n. Dankie aan almal wat deelgeneem het – ek voel bevoorreg om in goeie geselskap te wees. Baie geluk ook aan elke deelnemende digter: veral ná die kortlys, kon enige gedig gewen het, daar is soveel goeies. Ek ag my gelukkig. Mag die muse vir almal bly dans!

  7. René Bohnen :

    Veels geluk aan elke pryswenner, julle verse is lieflik 🙂

  8. Marie Bredenkamp :

    Baie geluk aan die wenners, aan almal op die kortlys, en sommer aan elkeen wat deelgeneem het: wat ‘n heerlike leerskool! Dankie aan Versindaba, en dankie aan Cordis Trust – ek slurp ook die beoordelaars se menings op: hoe bevoorreg is ons om te mag deel hê aan so ‘n lieflike platform!

  9. Dankie: Cordis Trust, Versindaba, deelnemers, beoordelaars. Uiters inspirerend!

  10. Maria Snyman :

    Baie opwindend (en leersaam)! Geluk aan die wenners! Dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het!

  11. Riana :

    Baie, baie geluk!

  12. Cordis Trust en my eie gelukwense aan die wenners en dank aan die deelnemers. So ook aan almal wat bygedra het tot die sukses van ‘n kompetisie met ‘n hoë standaard.
    Ter inligting wil ek graag ‘n raakvlak uitwys. In 2000 stel Cordis Trust die RAU/Mardene Marais-debuutprys in (en die inisiatief lei tot ‘n eie RAU-prys). Een van die wenners van eersgenoemde was Marius Crous. Die naam van die prys het verander na die UJ-prys wat vanjaar deur Dominique Botha gewen is.

  13. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘n Taal (en volk, of dan volkere) wat so mooi en gevoelvol die voorgangers en die naglangers (en selfs die agterryers) kan besing en begrawe, moét mos tog ‘n toekoms hê!

    Veels geluk.

  14. Susan Smith :

    Mooi gesê, Breyten. Ja, die woord is nie dood nie. Nie in Kaapstad nie, nie in Johannesburg nie. Ook nie op Pofadder, Piet Retief of in die Paarl nie.

  15. Johann Lodewyk Marais :

    Hartlik geluk aan al die wenners en betrokkenes. Die tradisie word lewendig gehou.

  16. Linda Neill :

    Baie geluk aan die pryswenners!
    Baie dankie ook vir die geleentheid om te kon deelneem aan die kompetisie en my nederige dankbaarheid aan Versindaba en Cordis Trust.

  17. Groot waardeer aan almal wat hierdie puik kompetisie moonlik gemaak het
    en baie hard daarvoor gewerk het. Hartlik geluk aan die pryswenners, alle
    deelnemers en beoordelaars! Ek het dit geweldig geniet.