Egonne Roth. Woord en Beeld in Thessaloniki

My gids vir Griekeland het seker so 600 bladsye waarvan slegs 5 tot 6 aan Thessaloniki gewy is. Die oningeligte afleiding is dat daar nie veel is om in die stad te sien nie. Onwaar!

“Die goedkoopste vlug Griekeland toe is na Thessaloniki,” verduidelik Judy vir my, “en die stad het ’n ryk Joodse geskiedenis. Jou geliefkoosde Yehuda Poliker kom van daar. Kom ons gaan kyk!” Ons bespreek die vlug en ’n hotel in die sentrale deel van die stad naby die Joodse museum. Ons land daar op ’n  Maandagaand – die temperatuur  kort onder die 30 grade.  Ek kreun. Ek haat hitte. Hoekom is ek nie in die koue Kaapstad nie? Of in Sutherland?

Gou ontdek ons dat ons in ’n stad van die mees vriendelike en hulpvaardige mense is. Die ontvangs by die hotel, die vrou wat ons kamer skoonmaak, die mense op straat wanneer ons verdwaal, die man in die Vodacom winkel wat ons help om ons nuwe Griekse simkaarte te installeer – so kan die lys groei en groei.

Joodse Museum

Ons is verras deur die hoeveelheid  besienswaardighede wat ons vind. Die Joodse Museum is puik volgens die nuutste  uitstallingsbeginsels georganiseer. In 1917 was meer as 50% van die bevolking van die stad Joods; teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was meer as 90% van die Jode in Griekeland vermoor deur die Nazis. Vandag is daar weer tenminste twee aktiewe sinagoges in Thessaloniki. Verder is daar die ou Romeinse agora, die Byzantynse stadsmure met hulle soliede vestings, die Wittoring op die seefront, ’n puik argeologiese museum en dan is daar die Museum vir Fotografie.

Dit was vir ons die heerlikste ontdekking: ons was bestyds om die Photo Biennale of liewer ‘n deel daarvan te kon sien. Die afgelope drie biennales vorm ’n tematiese trilogie (Tyd-Chronos:2008, Plek-Topos: 2010-2011, Diskoers-Logos: 2014) Hierdie jaar is die fokus op die tema Diskoers of Woord en is ontwikkel deur verskeie gebeure (uitstallings, besprekings, parallelle gebeure, vertonings, konserte) op meer as 20 lokale in Thessaloniki.  Die publiek het die geleentheid om oor ‘n 1000 werke deur 100 Griekse en internasionale kunstenaars uit 23 lande regoor die wêreld te ontmoet. Hierdie kunstenaars gaan – sommige meer natuurlik, ander minder so – met die interaksie van teks en beeld in hul werk om. Naas hierdie uitdrukkings gevind in die werke self, bied verskeie kundiges en individue in die veld van fotografie uit verskillende lande oop gesprekke aan, gee meesterklasse en werkswinkels. Ons het slegs die voorreg gehad om die hoofuitstallings te sien.

“Logos manifests itself here in a primary obvious manner. In many works it is used as raw material: the alphabet serves as an object to be photographed, literally depicting logos. In other cases it presents itself with the energetic presence of language, which in the form of a text participates equally with image to form a conception of a whole work for the viewer, while many series refer directly to literary genres, such as diaries and autobiographies”. (Uitstallingsteks)

Hierdie tema fassineer my al geruime tyd. ‘n Mens sou kon argumenteer dat die Judaïsme op die ontvangs van ’n beeld en teks – naamlik die twee tablette van Moses met die tien gebooie op geskryf – gegrond is, terwyl die Christendom op die woorde “En die woord het vlees geword en onder ons kom woon”, gebou is. Die woord het dus gestalte in die figuur van Jesus gevind. Teks / woord staan dus in ’n spesiale verhouding tot beeld en in hierdie uitstalling word hierdie verhouding  binne die kunsvorm van fotografie ondersoek.

Ek het voorheen geskryf oor ’n uitstalling in London waar handgeskrewe sowel as gestikte gedigtes elk op dieselfde wit A4-bladsye deur vlugtelingjeugdiges die grondmaterial vir ’n kunsuitstalling geword het. By die Photo Biennale in Thessaloniki is dit ook, maar gegee die aantal kunstenaars wat deelgeneem het, is die variasie op die tema veel wyer ondersoek.

So byvoorbeeld werk die kunstenaars, Elena Sukhoeva, Victor Khmel en Sergey Lutsenko uit Rusland saam om ’n beeld van ’n kunswerk met letters in spesifieke landskappe te skep wat dan gefotografeer word as beeld vir die toeskouer om te sien. Dus,word die oorspronklike installasie net deur die drie kunstenaars gesien. Die letter in die sneeu word met behulp van ander letters gevorm en staan in verhouding tot die ander beelde in die foto.

Ander kunstenaars gebruik ander tegnieke om die woord en beeld te verbind. Ook die Suid-Afrikaanse kunstenaar,  Brent Meistre,  is verteenwoordig en in sy werk word woorde dan die beeld, wat dien as voorwerp om te fotografeer. Die foto’s is tydens die werksaamhede van die Waarheids- en Versoeningskommissie in Grahamstad, in die dorp geneem. Die outeur fokus op woorde wat destyds volop in omgang was.

Brent Meistre

Dis was lekker om so ver van Suid Afrika ’n tuisbeeld te sien. Minder  ‘aangenaam’ miskien, maar tog wel aangrypend was beelde wat negatiewe ervarings uitgebeeld het – wat spreek van die misbruik en geweld en smart van die mens. Ek gee net enkele voorbeelde:

Die ironiese kommentaar in die foto gebruik as posterbeeld vir die Biennale van die vrou wie se mond deur die liefde gesnoer word.

                                    

Die beeld van die vrou wie haar naam nie kan skryf nie.

Uit ’n reeks oor straf op skool kom beelde waar die sinloosheid van sekere soorte straf verander tot iets sinvols – twee gedigte wat op ironiese wyse kommentaar leer. Ek deel hierdie foto’s liewer as om dit te probeer oortik, want dit is juis die tipografie wat die sin van die woorde weerspieël en dus deel van die kommentaar is.

Die beskryfde kind wat die aksie van die fotograaf naboots…

Ons loop uit die koel donker gebou waar ons die laaste deel van die uitstalling besigtig het, in die warm laat middagson wat dans op die water en belowe onsself: oor twee jaar is ons terug in Thessaloniki om die volgende Biennale by te woon en om al die ander plekke wat ons hierdie keer gemis het, te ontdek en te geniet.

Bookmark and Share

Comments are closed.