Wicus Luwes. Op die spoor van die spoorsnyer

Foto: Kamberg rotskuns

As jy die spoor van die Eland volg, moet jy weet wat die voorkant en agterkant van die spoor is. Jy moet weet hoe die mis van die dier lyk, sodat jy weet of dit vars of droë mis is. Jy moet weet wanneer die treë ver uitmekaar is en wanneer die spore dieper is as vorige spore. Om die spoor van die Hottentotsgot te volg is moeiliker, want dis kleiner as wat ons kan sien en wat nog te sê as daardie spore nie op grond of deur modder loop nie, maar in die drome van mense.

Die Boesmans of San mense is bekend as spoorsnyers. Hulle moes jag vir kos en moes gevolglik leer om deel te word van hul omgewing. Hul is ook bekend vir die rotstekeninge van jagtonele en ander rituele. Elande en Hottentotsgotte wat groter as mense voorgestel word, is uitgekerf en geverf in grotte en teen rotswande. Om die San spoorsnyer te volg moet die Hottentotgot groter word en die Eland nog groter, want as jy dié twee se spore volg, kruis jou pad dalk met die San se pad.

Eland-spoor

Daar is rotskuns dwarsoor die wêreld ontdek, maar wat ons land en omgewing se rotskuns uniek maak, is die manier waarop diere voorgestel is. Dis asof die dier en mens vriende is. Daar is natuurlik steeds jagtonele, maar die droomwêreld kan net so lank uitgehonger word. Daar is tekeninge van mense in diervelle wat die diere miskien niksvermoedend kon agtervolg – die reuk van die dier se pels om die skouers van ‘n mens kon die sintuie van die bokke moontlik verwar. Ek het al menigte rotstonele in die Drakensberg gesien en dit het my laat wonder wanneer die San dan uit die Drakensberge padgegee het. Het hul gevlug of het hul agter kos aangetrek? Ek kan amper nie dink dat hul vrywillig die volop plante en diere van Kwazulu-Natal verruil het vir die woestyn en semi-woestyn waar hul meestal op die oomblik hulself bevind nie. Daar is een teorie dat hul verjaag is tydens die Mfecane-oorloë. Dit beteken dat hul geweldadig van hul land verjaag is (en sonder vergoeding). Die Mfecane oorloë het in die vroeë 1800’s plaasgevind. Ek wonder of die Nguni en spesifiek die Zulu-koninkryk hul oorwinning of verjaging van ander groepe sou probeer regstel deur vergoeding aan hulle te betaal of van hul land aan die groepe oordra as hul gevra sou word. Daar is natuurlik heelwat teorieë oor die tydperk en wie sal weet of Mfecane, ‘Cobbing se teorie’ of bloot net droogte dalk die regte antwoord is waarom die groepe werklik getrek het.

Die verhale van die San is ‘n verdere manier om die spore van die spoorsnyers te volg:

“Ou ‘Ga (Nag) en sy ou vrou ‘Gagen (Duisternis) het in ‘n klipspelonk gewoon. Hulle het nie seuns gehad nie, maar drie dogters.”

“Kou, die oudste van die drie dogters, is in die berge verander. Haar man, die seun van Hottentotsgot, is verander in ‘n voël, of windvoël.”

– uit Versamelde Boesmanstories 1 deur GR von Wielligh.

Die wind en die nag en die gees van ‘n mens (umoya) kry almal persoonlikhede in die verhale van die spoorsnyers se stories.

“Die vuur se naam is Danser, maar sy vrou ‘Kaun, is verander in Vlaktes. Vuur is die seun van Hottentotsgot en het eers nes ‘n mens rondgeloop, gejag en gespeel.”

Die manier waarop die San-jagter dus sy prooi jag word beïnvloed deur die stories wat rondom die aand-vuurtjie vertel word. Die dier is nie bloot net kos vir die pot nie, die jagter volg nie bloot net ‘n spoor nie.

“die mens is die dimensie van die mens
sy horison sy kompas sy doel en sy middele,
sy dampkring en sy teelaarde:
ék bestaan tog net in ander mense –
ek het jou gesien en kyk!
in my leef ‘n jy;
slegs wanneer ek sterf sal jy vergaan
(en andersom!)
die een mens is die vlees vir die ander se denke
die eggo van die ander se bestaan
– Uit Voetskrif van Breyten Breytenbach

Die eerste inwoners van die land, die San / Khoisan se spore is vasgelê in Suid-Afrika se leuse: !ke e:/xarra//ke – dit kan vertaal word as ‘diverse groepe verenig’ of ‘mense wat verskil verenig’. Ek wonder of die huidige politieke gees daardie diversiteit werklik insien of verstaan. Ek wonder of daardie gees, soos die San se ‘windvoël’ / umoya werklik hul spore kan volg asof al die diere eintlik vriende is en of hul die jagtog eintlik net as  kos vir die pot sien. Daardie selfde gees wat hom blindstaar teen demografie wat eerder as demonologie opgedis word. As die ‘demonografie’ nie nasionale jagtogte se kwota maak nie, moet dit streeks ‘demonografie’ se bloedlustigheid bevredig.

Ek het op ‘n stadium die SASI-kantore (South African San Institute) in Kimberley met hul rekenaars bygestaan en het ‘n klein blik op die werksaamhede van die instansie gekry. Die gemeenskap net buitekant Kimberley het hul eie gemeenskap-radiostasie, X-K FM waarop die !Xu and Khwe-tale nog gehoor kan word (http://www.sabc.co.za/wps/portal/SABC/xkfm). Daar is ook ‘n museum met begeleide toere, ‘n klein tradisionele dorpie waar die toeris kan sien hoe die daaglikse werksaamhede gelyk het en ‘n gemeenskapsaal waar kuns-items gemaak word. Dit bly vir enige gemeenskap belangrik om te sien watter spore hul voorouers getrap het om sodoende aan ‘n identiteit te bou.

Ook die naghemel bevat karakters wat persoonlikhede kry en hulp kan verleen aan die spoorsnyer. Die Wysers na die Suiderkruis (Alpha en Beta Centauri) is deur die /Xam Boesman as leeumannetjies beskou. Alhoewel hul eers mens was, is hul deur ‘n meisie in sterre verander. Die drie helderste sterre van die Suiderkruis is as wyfie leeus beskou. Die Khoikhoi (verwant aan Khoisan) het die Wysers geken as Mura, “Die Oë”. Die Melkweg het ontstaan deur die toedoen van Hottentotsgot of ‘Kaggen se dogter. Die dogter, wat Uil geword het, het die sterre geskep deur warm as in die lug te gooi om sodoende die melkweg te vorm. Dit het egter die gevolg gehad dat kwaaddoeners in die nag kon sien en Uil is so gespot oor wat sy gedoen het, dat sy eerder net in die nag uitkom en treur oor haar dade.

Die kuns van spoorsny is iets wat ‘n mens kan aanleer, maar dit vereis dat ‘n persoon in kontak met sy sintuie moet wees.
‘n Paar riglyne wat ek raakgelees het, is die volgende:
1. Hou die spoor van die dier tussen die spoorsnyer en die son. Die skaduwee maak dit makliker om te sien.
2. Kyk uit vir vere en stukkies pels, gebreekte takke of krapmerke teen die boombas.
3. Dis belangrik om die habitat van die dier te ken. Naslaanwerk oor gunsteling gebiede en plekke waar hul huise of gate sou maak, sal help met die volg van die dier.

Om spoor te sny deur die gedagtes of drome verg ander vaardighede, maar gelukkig oorvleuel heelwat van die sintuie. Die skrywer as spoorsnywer moet ook die habitat leer ken en weet waar om die wippe of droomvangers vir hierdie doeleinde op te hang. Dit verg ‘n bietjie geduld en miskien ‘n bietjie geluk.

in hierdie land
deur  Heilna du Plooy

hoe gelukkig golf verdrukking oor die land
al op die een voet, dan op die ander een

die smart elke keer ‘n huppelende band
al op die een voet, dan op die ander een

rooi uitgeflap vanaf die Kaap, die Baai tot in Ixopo
al op die een voet, dan op die ander een

in elke dorp en stad tot in die bog van die Limpopo
al op die een voet, dan op die ander een

word elke nuwe onreg hier met oorgawe gevier
al op die een voet, dan op die ander een

Uit: In die Landskap Ingelyf

Een van my gunsteling-flieks is Apocalypse Now deur Francis Ford Coppola. Daarin word ‘n weermag-offisier, Kaptein Willard, gestuur om ‘n Kolonel Kurtz en sy batteljon / volgelinge op te spoor en heel moontlik vir Kurtz te elimineer. Kurtz is ‘n enigmatiese figuur en die vorige mense wat gestuur is om hom op te spoor het boonop by hom aangesluit. Die spoor wat hul volg is die Nung-rivier en dit bring vir Willard nader aan Kurtz, maar dit word duidelik dat Kurtz miskien weet dat Willard hom volg en miskien nog meer: Kurtz wil hê dat hy hom moet volg en doodmaak!

Dit bring my by die spore wat ons laat en die spore wat ons volg (of vervolg). Ons volg die spore van die spoorsnyers en miskien volg die spore ook vir ons. Wat doen die spoorsnyers in ‘n tyd waar die diere afgekamp word? Watter nuwe tekeninge word teen die rotse gelaat? Gelukkig is daar nog rotswande sonder tekeninge en grasvelde sonder grense in ons drome.

Voetnota / Verdere leesstof:
* Piet van Rooyen – Die Spoorsnyer
* Antjie Krog – The Stars say ‘tsau’
Bronnelys:
1. Breytenbach, B. 1976. Voetskrif. Johannesburg: Perskor
2. Du Plooy, H. 2003. In die Landskap Ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis
3. Hattingh, ASJ. 1964. Kunswaardering. Johanneburg: Perskor
4. Internet: http://www.drakensbergmountains.co.za/early-days.html
5. Internet: http://www.koedoeberg.co.za/wp-content/uploads/2012/11/Eland-footprint.jpg
6. Internet: http://www.psychohistorian.org/display_article.php?id=200901111733_african_star_lore.content
7. Internet: http://www.southafrica.info/about/history/national-symbols.htm#.VAyswxbCOZQ)
8. Von Wielligh, GR. 2009. Versamelde Boesmanstories 1. Pretoria: Protea Boekhuis

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Op die spoor van die spoorsnyer”

  1. carina van der walt :

    Wicus, dankie vir ‘n interessante bydrae. Ek het veral die deel oor die Suiderkruis geniet! Hoe die San, Khoi-san en/of Khoi in verhouding staan tot die natuur is baie interessant. Krog het haar daarin verdiep en in een van haar lesings en ‘n paar van haar gedigte uit “The stars say ‘Tsau'” het ek nogal baie daarvan geleer. Eendag moet ons miskien rondom ‘n Kalahari-vuurtjie verder daaroor gesels.

  2. Wicus Luwes :

    Dankie Carina. Dis juis die sterre wat my na die San toe gebring het en gemaak het dat ek meer oor hul oplees. Ek probeer die sterrebeelde van die San, Aborigines en Inka ondersoek om my twee klein manne iets oor die sterre te leer aangesien al die Noordelike halfrond se bekende sterrebeelde onderstebo hier by ons is. Verder het ek so bietjie van Krog se ‘Tsau-werke op die internet raakgelees. Sal bietjie uitkyk daarvoor.

  3. Evette Weyers :

    Baie dankie Wicus vir jou bydrae. As kind was my mees geliefde boek ‘Op die klein spoortjies” van P.J.Schoeman wat oor die San gaan.Ek hou baie van hulle kuns.

    Dawid Kruiper, een van die groot leiers van die San het gesê hulle is Boesmans nie ‘San” nie. Die Khoi het hulle ‘San’ genoem. Dit is ‘n Khoi word vir ‘skelm’. Dis hoe die Khoi hulle sleg gesê het. Antjie Krog het dit ook bevestig. Die jong nakomelinge van die Boesmans ken nie die Khoi taal nie en weet nie ‘San’ is ‘n skelwoord nie.
    Interesant vir my is die word ‘eina’ kom uit die Nama taal. Ons kry dus van kleins af seer in ‘n oer oue woord uit Afrika.
    Dawid Kruiper het laasjaar gesterf.