Onderhoud met Charl-Pierre Naudé (Al die lieflike dade)

Om dieper te hengel, dan weer vlak

Charl-Pierre Naudé gesels oor sy jongste bundel Al die lieflike dade.


(Onderhoudvoerder:  Louis Esterhuizen, 15 September 2014)

LOUIS (LE): Charl-Pierre, kom ons begin by die titel: Al die lieflike dade is ʼn besonder treffende titel wat regdeur die bundel resoneer vanweë die twee motto’s wat albei betrekking het op dade wat nie noodwendig goed of sleg is nie, maar mooi. Watter implikasies het dié titel vir jou as digter met die verse wat daardeur onder vlag geneem word?

CHARL-PIERRE (CPN): Allereers het die idee van verskillende “soorte” dade vir my ’n vermenslikte implikasie, Louis. As mens ’n daad vanuit verskillende hoeke benader, is dit ’n gans ander daad. Ons leef in ’n tyd wat so inniglik in sy voorveronderstellings gedompel is, dat dit gebruiklik is om oorvereenvoudigend te werk gaan met die redes waarom mense sekere dinge doen, waarom historiese gebeurtenisse plaasgevind het, ensovoorts. As mens die veelkantigheid van dade in gedagte hou, word vergifnis en waardering in alle rigtings meer moontlik.

Die titel is aan my ingegee deur die motto, wat jy hierbo omskryf, geneem uit die Franse rewolusiedenker Montesquieu se werk Die gees van die wette. Ek onthou hoe ek as skoolkind die storie van die Franse Rewolusie verneem het. Vir my was daar geen groter booswigte as die Franse adel denkbaar nie. Maar Montesquieu wys vir jou die denkopset waaruit hulle gehandel het, dat dit nie sommer net bysterheid was nie. En jy kry simpatie vir die tragiek van die saak. En so kan mens waarskynlik alle “booswigte” dekonstrueer en die goedheid in hulle raaksien. Maar dis dalk veral belangrik om die sogenaamde “heiliges” en die hoogheiligheid vanuit ’n ander hoek te bekyk… Die woord “dade” wys daarop dat die bundel dikwels “bewegende stof” – situasies, gebeure (histories sowel as persoonlike ervarings) – as fokuspunt gebruik.

(LE): Myns insiens lê daar ook ’n stewige skoot ironie in hierdie titel opgesluit, want nie al die dade wat in hierdie verse betrek word, is lieflik nie… Sou jy saamstem?

(CPN): Ek sal absoluut met jou saamstem, Louis. Maar ek dink die gedigte soek iets navrant, iets vermenslikends op, selfs in die onlieflike dade. Dis maar wat gedigte doen. Dit verkoop “redresepte”. Die bundel is veel minder op die persoonlike ervaring afgestem as my vorige een. Ek dink ek het onder meer ’n klein geskiedenisverhaal oor Suid-Afrika in die bundel vertel, met my eie dobberende menslike verhaaltjie iewers in die middel daarvan, alles gekleur en verkleur deur daardie posisie van “onskuld” en blootgesteldheid en kinderlike godsheid wat jy inneem wanneer jy ’n gedig skryf.

(LE): Wat my in die besonder van jou nuwe bundel getref het, is die verskuiwing van landskap. Dit is asof jou digtersoog verby die plaaslik-lokale kyk na die groter bestel (en geskiedenis) van die (Westerse) mens. Asof jy doelbewus probeer om wég te skryf van Afrika en haar benouende gegewe. Lees ek korrek?

(CPN): Ek soek maar altyd metafore vir my eie Suid-Afrikaanse ervaring. Soms gooi mens die lyn diep, dan weer vlak. Solank iets byt. En as die soeke my minder van ʼn Suid-Afrikaner maak, en op dáárdie manier meer van een, sal ek dankbaar wees.

(LE): ʼn Volgende aspek, wat met voorafgaande vraag verband hou, is die sosio-filosofiese aanslag in talle van die verse: iets wat aan jou verse dikwels ʼn meer besinnende as beeldende aanslag gee. Daar word ‘stories’ (anekdotes) vertel, maar deurentyd word daaroor besin; word sin en samehang binne ʼn groter bestel gesoek. Uiteraard is dit ʼn gevaarlike werkswyse aangesien ʼn gedig só maklik in blote gedagtegang en/of vertelling kan ontaard wat die leser agter laat voel: So what? Hoe gaan jy te werk om dié slaggat te vermy?

(CPN): Jou beskrywing “sosio-filosofiese aanslag” is vir my bietjie misleidend, Louis. En tog weet ek waarna jy verwys. Vir my gaan dit allereers en altyd daarom om ’n gedig te skryf wat ’n navrante ervaring op dimensionele wyse probeer uitbeeld, of hopelik daarstel. Van die belangrikste ervarings is sosiale ervarings. En die ervaring wat wentel om nadenke, sowel as die problematisering van bestaande nadenke oor menslike ervaring, wel dis net soveel van ’n ervaring as wat dit is om ’n roos te ruik.

Ek moet sê, ek dink glad te veel word soms gemaak van die trekke van sogenaamde “anekdotiese” of “narratiewe” poësie. Die vraag is dalk eerder: Hoe moet die leser te werk gaan om die slaggat van ’n “so-what”-gevoel te vermy? Ek sal verduidelik wat ek bedoel hiermee.

Die soort beeld waaraan die Afrikaanse poësieleser die meeste in veral onlangse jare gewoond geraak het, is ’n beeld wat afspeel binne enkele reëls (een of twee of drie of enkele woorde), insgelyks gevolg deur die volgende beeld. Dis ook ’n beelding wat dikwels werk waarmee ek sal noem onbemiddelde indrukke. Die beelding in heelparty van my eie gedigte, ook in Al die lieflike dade werk nie so nie, ’n feit wat aanleiding gee tot ’n “narratiewe” of “besinnende” of “anekdotiese” voorkoms, soos jy dit tereg noem.

Ek dink egter die hefboom hier is die soort beelding, eerder as die aspek van “narratiwiteit” (wat daaruit voortspruit). Waar beelding meer “bemiddeld” plaasvind gaan die leser noodwendig die indruk van ’n soort “uitstel” kry: dat daar skynbaar ’n “storie” of “besinning” aanwesig is, maar ek dink hierdie aspek is sekondêr (al noem ek dit hierbo ʼn fokuspunt). Die poëtiese werking van die skep van gapings en die patrone van betekenisondermyning werk anders by kontekstuele beelding.

Alle beelding werk met ’n mededeling en “gapings”, wat deel is van die mededeling. As die leser slegs die kleiner “gapings” van beelding gaan verwag, iets wat nou verbonde is aan die vlietende of meer onbemiddelde indruksbeeld waaraan ons so gewoond geraak het – en wat by uitstek byvoorbeeld Krog en Breytenbach se werk tipeer – gaan hy of sy die gevaar loop om ’n “so what”-gevoel te kry wanneer gekonfronteer word met gedigte waarin “groter” (meer uitgestelde) begripsgapings voorkom, en wat oor langer passasies heen “ingevul” moet word (met ander woorde ’n meer konteksgebonde beelding).

Daar is gewoonlik in my langer gedigte ʼn sentrale beeld wat die leser as hefboom moet gebruik om die ander, ingevoude of daarmee saam resonerende beelde, te ontsluit. Ek gaan ’n voorbeeld gee. In die titelgedig “Al die lieflike dade” is dit die polêre beeld van twee vervoermiddele wat die spil aanbied: die lugskip (antiek) en die ruimteskip (futuristies).

(LE): Charl-Pierre. wat jy hier uiteensit is iets van enorme belang, veral omdat jy my herinner aan ʼn uitspraak wat jy ’n klompie jare gelede gemaak het: “Wat die Afrikaanse digkuns nodig het, is nie soseer meer opwindende digters nie, maar eerder meer opwindende lesers, of iets in dier voege.” Nietemin, twee aspekte in jou antwoord verdien meer verduideliking, te wete “onbemiddelde indrukke” en “kontekstuele beelding”. Gee jy om om effens meer uit te brei op dié twee kernbegrippe?

(CPN): Nee, dis goed dat jy vra, Louis. Ek het daardie stelling destyds in die Burger gemaak as ek reg onthou. (Ek herinner die leser daaraan dat literêre onderskeidings relatief werk, in skakerings; en nie absoluut is nie. Dit geld ook my twee onderskeidings waarna jy verwys.) Die leidende digkuns in Afrikaans sedert die middel-sestigs en sewentigs het gewerk met beelde van baie gebonde lyk aan die onmiddellike indruk en die “gestolde” oomblik. Ek wil byna sê: die indruk soos dit bestaan voordat die “onsuiwerheid” van ’n narratief tussenbeide getree het. Hiermee saam gaan ’n sekere klem op “gevoel”, en wat sommiges “romantiese gevoel” sou noem. Dis mededelings wat oorhel na reëlgebondenheid. My eie gedigte beweeg hiervan weg na mededelings en beelde wat veel meer van die samehang van die gedig afhang.

(LE): Nog ’n verrassende aspek van jou nuwe bundel, is die volgehoue gesprek tussen persona en leser. Dis asof die leser by ’n kroegtoonbank sit en gesels met ʼn hoogs intelligente en ingeligte persoon oor die mens en sy gedoentes. Watter voordele hou dié ingesteldheid vir jou in, teenoor byvoorbeeld die meer tradisionele benadering van objective correlative of selfs dramatisering van taal?

(CPN): Ek dink ek gebruik al drie ingesteldhede waarna jy hierbo verwys in die nuwe bundel, Louis. “Dag van die superbikes” (byvoorbeeld) is nader aan ’n soort objective correlative. In “Nawoord” hel dit weer oor na ’n talige fokus. Ek moet sê dat die dramatisering van taligheid vir my altyd wisselend belangrik is, maar ek hou daarvan om dit in meerdere of mindere mate op die agtergrond te hou.

Om jou vraag meer pertinent te beantwoord: Andersoortige fokusse as die taligheid of die objective correlative, maak ander soorte dramatiserings moontlik; en daarmee saam ander soorte beelde, ander soorte registers en ander toonaarde.

Uiteraard is daar niks wat voorskryf dat die drie fokusse nie ewe sterk in ’n enkele gedig mag figureer nie.

(LE): In die gedig “Huis van die digter” (p.47) vind ek die volgende reëls wat vir my klink soos ʼn ars poetica ten opsigte van die verse in hierdie bundel? Kan jy uitbrei op die stelling dat die digter se afwesigheid “leef” in die plek waar hy skryf?

Nooit was hy tuis wanneer hy daar aan die skryf was nie,

maar in Bisantynse nisse waar sy gedagtes

gedool het, ’n oomblik voordat

of nadat dit deur ’n koffiewinkel gerinkel het.

Ek kyk na my deurmekaar werkkamertjie

– ’n periodieke verwyt –

’n skrywersgrasie, minder as syne, maar hiérin gelyk:

in die plek waar jy skryf, leef jou afwesigheid.

(CPN): Die gedig handel oor ʼn besoek aan die huis van die beroemde Alexandrynse digter Konstantyn Kavafis (1863 – 1933). Dit was my gelukkie om daar op ’n vakansiedag op te daag en die huismuseum was gevolglik gesluit. Maar sou ek Kavafis daar gevind het, of sou ek hom vind in sy gedigte – die plekke waar sy gedagtes altyd gedwaal het? Ek dink die gedig besin oor ’n redelik onwelkome, solipsistiese kant verbonde aan die digtersambag.

(LE): Nog ʼn interessante (strukturele) aspek van Al die lieflike dade is dat die gedigte in nie minder as sewentien afdelings ingedeel is nie. Kan jy dalk kortliks verduidelik hoe jy dié indeling bewerk het?

(CPN): Die afdelingsindelings en die titels daarvan is vir my allerbelangrik (nie soseer die aantal afdelings nie, hoewel daar wel iets aan die getal 17 is wat my aanspreek op ’n gut level). Die gedigte in die afdelings moet onder meer in die lig van die afdelingstitels gelees word, en ek hoop dat die afdelingstitels teenoor mekaar en saam met mekaar gelees sal word – in die lig van die oorkoepelende bundeltitel natuurlik. So dis ’n bietjie soos ʼn blom met binnekroonblaartjies, buitekroonblare, en kroon. So dink ek daaraan, altans.

(LE): Charl-Pierre, jy as digter is bekend daarvoor dat jy ʼn bepaalde voorkeur het aan langerige versreëls en lang, voortstuwende gedigte aan die hand van ʼn bepaalde anekdotiese vertelling; dikwels met talle verskuiwende fokuspunte daarin opgeneem. (Soos jy dit self in onderstaande reëls uit die gedig “Ars poetica lost and found” op p.87 stel…) Hiervolgens word die konvensionele siening van die gedig as “afgeronde” en geïsoleerde kunsuiting ondermyn. En tog vind ek besonder sterk poëtiese resonansie regdeur jou verse. So was dit veral met jou vorige bundel (In die geheim van die dag, 2004: Protea Boekhuis), en so is dit nou. Hoe slaag jy daarin? (Of vra ek nou onnodig na fabrieksgeheime …)

(Maar mymering as herbenuttingbedryf staan my

nie aan nie. Onder die wyses van verwerking verkies ek selfs

plastiek. Ek verneem die dilemma begin reeds by die heuningsel.

Hoe sê die groot digter? Just add water. Maar roer nou ’n

sondeval by dit alles in. Want só kom ek by my staaltjie uit.)

(CPN): Die gedig wat jy noem en aanhaal is deels ’n prosagedig (my mins gunsteling-gedig in die bundel). Toevallig dink ek die aangehaalde stukkie hierbo kan emblematies wees van hoe ek resonansie probeer verkry; ek wil gedagtes teenoor mekaar opstel sodat ’n soort breekbare spanning in die reëls tot stand kom.

Daar is egter ander gedigte in die bundel met reëls wat weer slegs een woord bevat, Louis, soos “Continental interface”, ’n gedig wat nogal aftrek gekry het hier in Duitsland waar ek tans woon (met ’n Duitse vertaling op ’n oorhoofse skerm, natuurlik), en my eie gunsteling as ek een mag hê, uit my bundel. Dis ’n staccato-gedig, en dit bevat ’n wit reël tussen die kort, staccato-reëls. Jy kry nie ’n korter reël as ’n wit reël nie…

Ek dink soms my gedigte werk wat eenheidskonstruksie betref redelik konvensioneel. Die gedeeltes eggo mekaar, die beelde “neem mekaar op”, ensovoorts. En aan die einde is die gedig iets wat jy op sy eie kan lees, in isolasie. Ek dink ek werk dalk juis met geykte afrondingsbeginsels, maar gee net ’n ander soort uitvoering daaraan. Vir my is Philip Larkin se idee van “the poem as universe in itself” (ek herskryf die frase) steeds belangrik. Dis ’n ou beginsel, maar ek dink ek gaan wel bietjie ellipties daarmee te werk betreffende die rankskikking van elemente. Die digtersgenerasies wat voor my gekom het, Breytenbach, jouself, en sommige andere – het dalk meer ingrypend afgewyk en geëksperimenteer wat betref die poëtikale beginsel van eenheidsformasie as sulks. Maar miskien is ek verkeerd. En dan sal jou kompliment aanvaar …

(LE): Ek is bly jy verwys hierbo na die gedig “Continental interface”, Charl-Pierre, want inderdaad is dit vir my ook ʼn unieke vers in jou bundel; enersyds vanweë die besonderse strukturele aanbod daarvan, maar veral weens die humor. Trouens, na my mening maak jy in hierdie bundel veel meer gebruik van humor as in die verlede? (Maar dan ook meer ‘gryns-lag’ as skaterlag…) Is ek reg met dié waarneming, en indien wel: watter voordeel bied humor vir jou binne die opset van dié gedigte?

(CPN): Louis, ek hoor soms dat my gedigte “swaar onderwerpe” met ’n “ligtheid” aanpak. As dit so is, is ek gelukkig. Daar is niks soos humor nie om ewewigtige erkenning te verleen aan die gelyktydige bestaan van swaarwigtigheid en veerligte verganklikheid, wat tog die lewe kenmerk.

(LE): Eweneens word jou gedigte gekenmerk deur verrassende beelde wat heel onverwags na die oog spring… Bestaan daar vir jou as kunstenaar ʼn wisselwerking tussen jou werk as skilder en dié van digter, of bedryf jy dié twee dissiplines streng apart?

(CPN): Louis, jy vly my nou uit my nuwe tekkies (dis van daardie’s wat in die donker blink as jy per ongeluk op ’n foto beland en die flash skyn op jou). Ek is geen skilder nie! Jy kry wel digterskilders, in Afrikaans is hulle welbekend. Ek dink ek is ’n tekenaar van naïewe “gedigteprentjies”, wat ek metafoorposse noem. Daardie metafoorposse, die wisselwerking tussen beeld en woord, is wel emblematies van hoe my digterlike tegniek van elipsis werk, glo ek. (Dalk is ek verkeerd.) Dis my pogings tot kuber-straatkuns, my “shadow dance”. Dit kan gevind word op die webtuiste www.hoenderdief.co.za

(LE): Volgens die “Erkennings” aan die einde van die bundel, het heelwat van dié verse hul ontstaan tydens projekte en skrywersuitwyke in die buiteland (hoofsaaklik Noord-Europa) gehad. In welke mate het dié groter blootstelling aan veral Europese kultuur en digkuns op jou eie digkuns gehad?

(CPN): Dit gaan moeilik wees om te sê. Maar die algemene kulturele afstandelikheid wat enige iemand beleef terwyl hulle in die buiteland is, is baie waardevol vir enige dissipline. En baie Suid-Afrikaners sal dalk hiervan kan getuig. Ek het vanaf ’n jong ouderdom myself bewus gemaak van Europese en verbandhoudende digkunste, Louis, dit was eindeloos waardevol vir my. Ek het uit my pad gegaan om myself bewus te maak en so te hou. Dit, helaas, het ek op my bed gedoen. Daar is niks meer internasionaal as jou eie bed nie. Ek kan niks meer hartstogtelik by enige aspirant-digter aanbeveel nie, as om dieselfde ook te doen nie. Dit is net so belangrik, en dalk meer belangrik, as om die meesters in jou eie taal te lees.

(LE): Ten slotte, vrae van ’n meer algemene aard. Jy is ʼn digter wat voortdurend besig is met vertalings. Beskou jy vertaling as ʼn belangrike (voorbereidende) aktiwiteit vir die ernstige digter, en watter digters verkies jy om te vertaal? Waarom juis dié digters?

(CPN): Vertalings kan baie help met voorbereiding, ja! As ek vertaal kies ek juis nie altyd gunstelinge nie. Om ’n “ongunsteling” te vertaal kan soms meer waardevol wees, jy leer meer van wat jy nie weet nie. Die vertaalkuns is uiters belangrik, en ek sal graag ’n reeks wil sien gebeur waarin goeie Afrikaanse digters hul vertalings publiseer, miskien so drie digter-vertalers per bundel, en ’n reeksie van so sewe bundels van 100 bladsye elk. Dit moet onder strenge toesig gekeur word, en die produkte kan veel, veel doen om opkomende digters in hul kweking van hulself, veral as lesers, te help.

(LE): Jy tree gereeld op by internasionale poësiefeeste waar jy in kontak kom met die vernaamste digters wêreldwyd. Hoe vergelyk die Afrikaanse digkuns – volgens jou – met dít wat jy tans internasionaal ervaar?

(CPN): Afrikaans het heelparty digters van internasionale statuur. Maar hulle kom omtrent almal uit ’n konteks van taalkohesie en relatiewe literêre bewustheid wat vinnig besig is om verby te gaan. En dalk reeds verby is. En dis ’n ongemaklike gedagte. Maar oorkant my vierdeverdiepingwoonstel in Charlottenburg is ’n speelparkie. Ek word vertel dat onder daardie speelparkie op die Stuttgarter-Platz is ’n massabegraafplaas van oorlogsdooies. Hulle is van ander dele van Berlyn hierheen gebring en in een groot gat begrawe.

Dan raak my gedagtetjie sommer minder ongemaklik.

(LE): Ek verstaan nie heeltemal wat jy bedoel met “taalkohesie” en “relatiewe literêre bewustheid” nie, Charl-Pierre?   

(CPN): Bewustheid verwys na wat in die poësie (as globale stelsel) gebeur, van die moontlikhede daarvan vir jouself in jou eie taal. Dit was beter twee dekades gelede as nou. Natuurlik sal dit interessant wees om na speur waarom dit so is, en boonop ondanks die groter beskikbaarheid van boeke, die internet, globalisasie tans. Met “taalkohesie” bedoel ek die samehang van die taal as betekenisstelsel. Vir Afrikaans is dit besig om radikaal uitmekaar te val en ek vermoed dat geen behoorlike poësie in die toekoms kan uit so ’n toestand te hale sal wees nie, veral as dit verder verswak.

(LE): Is daar ʼn bepaalde gedig, of gedeelte uit ʼn gedig, wat jy graag by wyse van groet hieronder sou wou plaas?

(CPN): Baie dankie, Louis. As ek nou die gedig hieronder lees, lees ek iets raak oor die ander “tale”, die onverbales, wat ons omring in hul verskynsels, en wat ons nie verstaan nie maar wat deur ons soos deur ’n magneet aangetrek word. Miskien is die gedig ook een van die narratiewes met ’n filosofiese strekking waarna jy verwys?

Java

Die menskarweierding

het stadig aan die bopunt

van die opstygbaan ingedraai

vir sy blinde nagvlug oor die oseaan;

ʼn katmasker oor die neus.

Die stuurkajuit se omkringde oë

soos dié van ’n hoëpriester,

het koudbloedig en Oosters opgewimper.

Terwyl ons opwiek van die grond

(in erkenning aan die oudste begeerte),

dink ek na oor rituele:

die perke, en perkeloosheid daarvan:

Die skitterende snydokterspan,

wat wit blaak agter hul maskers

met net die oë wat wys,

soos kalkbedekte heidene wat ’n menseoffer bring.

En ná wat voel soos  ʼn vorige leeftyd,

hoor ek toe messegoed klingel

in ’n baie nou paadjie, op ’n soort slee –

bewus van hoe ek wag op ʼn baie hoë hoogte

en beswaard afkyk op die laer lug.

Blykbaar was ek daar om te skerm met skynsels

van die skerpste uitspansel.

Ek het gewonder

of bestekke en lewens

onbesproke of swyend herhaal word

in ánder materiale, dimensies en vorms.

Gebare wat momenteel soos druppels

aan vingers of van lippe hang

kan van tienduisend jaar die hologramme wees:

wesens sigself, in hulself opgesluit

net soos sade of gedagtes,

en so tydloos swewend soos die djins.

 

In daardie modderige, rioolbemeste somersland

het ek voortdurend iets bo my kop voel hang –

soos ’n kunslong, ’n ballon met tou

in my hand – deel van my, maar ook nié.

Die bus het waansinnig oor die eiland gekris-

kras deur die malende, getooide lewende

hawe op koordsmal paaie, en in pylvakke

gebewe soos ’n skaatskoen:

rysvelde alkant, tempelkoepels, stalletjies

en flets waterkomme; ’n beblomde koei

wat kop op die arms agter ’n rietskerm rus.

Uit ʼn middernagtelike piesangbos dein die koplig

van ’n bromfiets-met-paartjie nader,

sy slaap soos ’n apie aan sy rug vasgebind.

Saamgetroste, verbyligtende verblywe

met hoë, smal dorpshekke. Ver linte verkeer. Ons klim uit

by ’n padkuip sodat die digters kan pie.

Reg langsaan ’n soortgelyke

geelbleek Shell-nessie genaamd Fez

(toe ons met ’n ander pad langs ry),

het die laaste kopergesang van ’n muezzin

met ’n hoer se blouwit gesnak versny.

Deur ’n vlek-met-huise ry ons

en die enigste lig

kom uit die leë madressa:

’n bitterklein dogtertjie in windsels doek

staan wakker soos ’n peul, en kry ekstra les.

Ons kom te laat aan in die koel binneruim

van ’n moskee, om voor te lees aan ’n kudde

wat geeneen van ons tale verstaan nie.

Die gehoor het intussen besluit

om in afwagting te slaap –

skoene op ’n hoop voor die groot voordeur

asof dit Jode is wat binnekant vergas word;

soos één mens sluimerend

tref ons hulle aan

van muur tot muur op die algegroen tapyt

onder die sag ruisende elektriese waaiers –

dooie Thomas Mertons.

Bergop. Sentraal-Java. Minder suurstof.

Woud; reën; plantasies teen die hange.

Gewigloos, dit alles, soos taal.

Klein liggame, verál, loop dié gevaar:

Kindertjies op besems

swiep in en uit die plaaslike oorlewerings

soos fabelagtige swaels.

Die morele hoë grond is ’n swewende mat hier.

Iets in die weerpatrone stik alles aan mekaar –

van mense ook,

en ek praat nie van diegene

wat naai, of van die grootskaalse

produksie van priesterlike klede nie;

nee, van mense-psiges:

maar dié kruin was vir my

nog versteek in die mis.

Toe kom hy, die voordanser,

en bring ’n plengoffer aan die wingerd.

Daarna het gevolg die vermaledyde ritueel –

die dorpenaars slinger verby agter maskers

gemonteer op pale, eenders, bot en strak

wat groots dui maar niks verklap nie.

Die digters was modern; ons het gegrinnik by die geskenk.

(Ons beste prestasies is tog hoogs indiwidueel?)

Maskers

wat ander maskers op ʼn ry gedenk;

soos die opaak patryspoorte van ’n vliegtuig wat wag.

Ek het my hand uitgesteek

– ’n blinde

wat aan die lug vat –

en die skubbe van die draak aangeraak.

(Uit: Al die lieflike dade, 2014)

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Charl-Pierre Naudé (Al die lieflike dade)”

  1. René Bohnen :

    Wonderlik en insiggewend, dankie, Charl-Pierre. Baie geluk met die nuwe bundel – myne is bestel en betaal, ek kan nie wag om te begin lees nie.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Dankie vir die kennisname, Rene.

  3. Desmond :

    Hierdie bundel is ‘n woordbom. Gaan lees maar bloot God se Klippe op bl. 59 om ‘n meester in aksie te ervaar.