Marlies Taljard: ʼn Bottel wyn, ʼn brood en jy

Met Daniel Hugo se vertaling van 50 kwatryne uit die Roebaijat van Omar Khajjam (2014, Protea Boekhuis), het daar opnuut belangstelling in dié 900-jaar oue kwatryne ontstaan. In sy Inleiding tot die vertaling noem Hugo ʼn aantal interessante feite, onder andere dat die Roebaijat (wat kwatryne beteken) in Afrikaans vertaal is nog voor die Bybel. C.J. Langenhoven het naamlik al in 1923 (10 jaar voor die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans) die eerste vertaling van die Roebaijat gemaak. Diegene wat dit al onder oë gehad het, sal weet dat dit ʼn besonder goeie vertaling is, maar tans effens gedateerd. Daarbenewens het daar al 5 ander vertalings in Afrikaans verskyn – een daarvan ʼn vertaling van 16 kwatryne deur C. Louis Leipoldt onder die titel “Verse van die tentmaker, Omar, die Persiese digter” wat nadoods in sy bundel Geseënde skaduwees (1949) verskyn – die naam Khajjam beteken “tentmaker”.

Waarom bly die hedonistiese verse wat in antieke tye deur Omar Khajjam – ten tye van sy lewe ʼn bekende sterrekundige, wiskundige en filosoof – geskryf is, tot in ons eie tyd so gewild dat dit slegs sedert 1929 ongeveer ʼn duisend maal vertaal is? In ʼn bibliografie van Khajjam wat in 2002 gepubliseer is, word 3767 akademiese verwysings na die Roebaijat aangeteken.

Die rede vir die ongekende gewildheid van die kwatryne is waarskynlik omdat mense uit alle agtergronde en kulture hulleself kan vereenselwig met die wêreldbeskouing wat daaruit spreek. Hoewel daar ongeveer 1400 kwatryne aan Khajjam toegedig word, is dit beslis nie alles sy eie werk nie. Dit beteken dat skeptisisme en hedonisme (vergestalt deur die begeerte om wyn te drink saam met die geliefde) reeds ten tye van Khajjam se lewe ʼn aanvaarbare lewensingesteldheid was en by ʼn intellektuele gehoor inslag gevind het tot so ʼn mate dat ander in dieselfde tradisie voortgedig het. Die uitstaande kenmerk van die kwatryne (wat ook Persiese kwatryne genoem word) is die aaba-rymskema waarin die rymende verse altyd 10 of 12 lettergrepe het. Uit Daniel Hugo se vertaling kan die volgende kwatryn as voorbeeld aangehaal word:

Met ʼn verseboek in die skaduwee,

ʼn bottel wyn en brood en jy daarmee

saam om vir my te sing in die woestyn –

en woestyn word ʼn paradys vir twee.

In die Persiese Middeleeuse letterkunde word die aarde altyd op negatiewe wyse voorgestel omdat dit die laagste plek in die sferiese struktuur van die planete inneem. Dit word dikwels as ʼn plek van duisternis beskryf waaruit die mens homself moet bevry. Die mens se doel op aarde is om, deur gehoorsaamheid aan die tradisie van Mohammed, homself los te maak uit hierdie tranedal. Wat tydens sy lewe op aarde gebeur, is egter die mens se lot waaroor hyself geen beheer het nie. Verlossing kom eers nadoods. In die Islamitiese mistiek word die mens dikwels metafories as kleibeker beskryf, terwyl die siel die lewe-gewende wyn is. Khajjam verdraai hierdie metafoor deur te vra vir wie se plesier God die beker maak en waarom hy dit so haat dat hy dit weer en weer breek. Daar is dikwels sprake van ʼn bitterheid omdat God die mens hulpeloos aan sy lot uitlewer, terwyl hy veronderstel is om ʼn God van liefde te wees. Iets van hierdie lewensingesteldheid spreek uit die volgende kwatryn (Hugo se kwatryn 15):

Daar is dié wat slegs lewe vir vandag

terwyl ander hoopvol op môre wag.

ʼn Donker man roep uit die minaret:

“Vergeefs dat jul na ʼn beloning smag.”

Benewens die hemelse konstellasies wat die mens se lot bepaal, is tyd ʼn verdere agent wat aangestel is om die mens te vernietig. Die volgende kwatryn uit Edward FitzGerald se vertaling (die beroemdste vertaling van alle tye) stel dit so:

Come, fill the Cup and in the Fire of Spring

The Winter Garment of Repentance fling:

The Bird of Time has but little way

To fly – and Lo! the Bird is on the Wing.

Ook die geloof in ʼn opstanding uit die dood word in verskeie kwatryne geïroniseer, onder andere in nommer 89 uit FitzGerald se vertaling:

It is said that those who perform pious Acts

Will rise in the Form in which they die.

This is why I am always with my Beloved and Wine

So that I may rise in this Manner on the Resurrection Day.

Die tradisie van ongeloof, hedonisme en wanhoop wat die sentrale tema van Omar Khajjam se Roebaijat vorm, is ʼn kenmerkende eienskap van die menslike kondisie as sodanig. Daarom spreek hierdie versugtinge van ʼn eerlike ongelowige nie slegs tot ander ongelowiges nie, maar stem dit heel waarskynlik baie gelowiges tot onrus (soos Langenhoven dit trouens in die inleiding tot sy vertaling stel). Daniel Hugo bespreek in sy Inleiding ook die interessante Afrikaanse vertaling van D.B. van Soelen wat die kwatryne vertaal as ʼn Christelike antwoord op die oorspronklike. Hy noem sy vertaling Antwoord aan Omar Khayyám.

Soos met alle groot poësie, is die rede waarom dit bekoor en aangryp, nie altyd in woorde formuleerbaar nie. Eerlike soeke na dieper waarhede sal altyd die mens aangryp omdat ons almal worstel met die onsienlike en onkenbare:

Toe ek jonk was, het ek graag gaan luister

hoe doktor en dominee oor duister

dinge redeneer. Nou is ek grys

en die ware weg nog altyd byster.

(Daniel Hugo, Kwatryn 17).

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Marlies Taljard: ʼn Bottel wyn, ʼn brood en jy”

  1. Goeie dag
    Ek was nog altyd betower deur die gedig, veral nadat Fitzgerald die een strofe (na my mening) verewig het:

    Stanza 71
    The Moving Finger writes; and, having writ,
    Moves on; nor all your Piety nor Wit
    Shall lure it back to cancel half a Line,
    Nor all your Tears wash out a Word of it.

    Ek het die eerste 18 strofes in 9 verse “opgesom” en die gedig, When the Final Bell Tolls”, is op die blog op my webwerf, Suzette: Poet, te lees. Dis in Engels geskryf en ek het vanaf die onderstaande vertaling van die manuskrip gewerk.

    [You may view the original script (in Farsi), the literal translation, the meaning, as well as the corresponding verses written by Fitzgerald, at the following link:
    © Shahriar Shahriari
    http://www.okonlife.com/poems/page1.htm ]

    Groete
    Suzette Richards

  2. Joan Hambidge :

    Marlies, jy ken sekerlik Harold Bloom se The breaking of the vessels? Lekker stuk.

  3. @Joan: Ja, Bloom se Joodse invalshoek is interessant en natuurlik ook hoe hy die Kabbalistiek betrek. Ek kan gerus weer die stuk gaan lees!
    @Suzette: Die bewegende vingers van die tyd, die onafwendbaarheid van ‘n naderende einde en die finaliteit van wat was vat in die kwatryn wat jy aanhaal die essensie van die Roebaijat pragtig vas.

  4. Dis ‘n mooi stuk, Marlies. Ek wonder net oor die vertaling van die kwatryn (89) wat jy aan FitzGerald toeskryf. Ek ken dit nie en dit klink ook nie na FitzGerald nie – sy kwatryne het mos almal gerym.

  5. Hallo Daniel! Baie dankie vir jou baie tersaaklike vraag – ek dink jou afleiding is reg. Ek het terstond my bron gaan kontroleer -‘n proefskrif wat onlangs in Leiden verskyn het. Die skrywer dui nie aan waar elke spesifieke aanhaling vandaan kom nie, maar aan die begin van die hoofstuk lyk dit asof FitzGerald die bron is. Dit mag moontlik ‘n woordelikse vertaling van die volgende bron wees: Rubæ yæt-i Khayyæm, ed. M. <A. Furýghñ & Q. Ghanñ, with an introduction by B.D. Khurramshæhñ, Tehran: Næhñd, 1994. Jy is natuurlik reg dat FitzGerald se kwatryne almal rym! Groete.