Resensie: Woorde roes in die water (Clinton du Plessis)

Woorde roes in die water – Clinton V. du Plessis. Ama-coloured Slowguns (Posbus 547, Cradock 5880; amacolouredslowguns@gmail.com). ISBN 978-0-620-61892-2. 206 bladsye. Sagteband.    

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

Omslag

Woorde roes in die water is Clinton V. du Plessis se tweede “omvangryke bundel” (soos die digter self op die agterplat verklaar) in netsoveel jaar. Rangeer uit 2013 het 142 bladsye beslaan – in teenstelling tot die bundel “twitter-gedigte” uit 2012, Flitse, se 34 bladsye.

Die publikasie van lywige solobundels blyk tans ’n opvallende verskynsel in die Afrikaanse poësiewêreld te wees. In hierdie verband bevind Du Plessis hom, wat poëtiese gehalte betref, in gewigtige geselskap: T.T. Cloete, Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk, Charl-Pierre Naudé, ensovoorts. Telkens word ’n omvangryke tematiese worp nagestreef, soms ook wat stilistiese en verstegniese verskeidenheid betref.

Blykens die titel van Du Plessis se bundel word die (digterlike) woord vooropgestel. Ook die titels van al tien die bundelafdelings stel talige uiting of bemiddeling as gegewe in die sentrum: “Geloofsbriewe”, “Memoranda”, “Aantekeninge”, “Notas”, ensovoorts. Telkens gaan so ’n titel vergesel van ’n aanhaling uit een van die gedigte in daardie afdeling, naamlik as motto om die betrokke tematiese fokus nader te omskryf.

Die eerste afdeling (die vermelde “Geloofsbriewe”) bevat byvoorbeeld hoofsaaklik liefdesgedigte – ook soos gemanifesteer in gesinsverband, of betreffende verhoudingverbrokkelings, of die gemis aan ’n geliefde. Ook ’n aantal verse waarin ’n verganklikheidsbewustheid oorheers, kom egter voor. “Tel saam met my ons laaste onvas treë / voordat die tyd ons, soos blare, kom wegvee” is die aanhaling-as-motto wat beide tematiese velde moet aandui.

Tog is die verbande tussen veral die liefdesverse aan die losser kant; die leser word byvoorbeeld onseker gelaat oor die identiteite van die “ek” en “jy” in die verskillende gedigte. In “Truspieël” val die liefde- en sterflikheidsgegewens egter saam; dis ’n gedig oor ’n tesame-oud-geworde paar, gereduseer tot ’n “in-en-uit-die-padbestaan” (sic). Die gedig mond uit in die volgende onthoubare slot:

Ons is nou nietig:

voetnote in fynskrif,

slordige setfoute in die kabaretteks van die lewe.

In “Memoranda”, die tweede afdeling, met “Hierdie stad word nimmer donker / selfoontorings skakel seine deur ruite aanmekaar” (sic) as motto, is dit ’n maatskaplike gevoeligheid – oor misbruiktes, randfigure en verskoptes van die stad – wat onder woorde gebring word. ’n “Praatvers”-kwaliteit, wat reeds in ’n onderhoud deur Alfred Schaffer met Du Plessis na aanleiding van die verskyning van Rangeer te berde gebring is, kenmerk op opvallende wyse die dikwels skets- of anekdote-agtige gedigte in hierdie afdeling. Vergelyk die volgende gedeelte uit die gedig “Insomnia” (waaruit die aangehaalde afdelingmotto geneem is):

In woonstelle slenter vroue met pantoffels

na die kombuis,

maak ’n yskas oop,

peusel, onnadenkend:

’n korrel druif,

’n snysel kaas, wag op mans

met afsprake

en vol dagboeke

en humeure,

slof dan na die kamer,

loer na kinders

wat onrustig slaap,

blaai deur ’n tydskrif,

dieselfde stories oor en oor en oor,

oor Oscar en Reeva,

Joost en Amor, en

skakel weer die lig af.

Hierdie stad word nimmer donker

selfoontorings skakel seine deur ruite aanmekaar[,]

teen mure maak die desperate handsakke

van vroue op nagskof groteske skaduwees,

in die klubs pols ligte, bly almal wakker.

Hierdie stad rol op sy rug rond,

gespanne op agterpote,

soos ’n gekettingde hond.

As die slaap maar net,

katvoet soos ’n dief,

deur my venster wil kruip.

Daar is ’n mededelende trant, relatief arm aan beelding, woord- en klankspel en dergelike poëtiese middele. Waar beelding wel voorkom, is dit ietwat troebel en geyk. ’n Mens sou kon redeneer dat styl en die uitgebeelde werklikheid sodoende by mekaar uitkom. Swaarder weeg egter die indruk dat die getekende situasie of aktualiteit self nie verbygestreef word tot iets meer wesenliks nie; dat die verwoording nie tot woordkuns omgestook word nie.

Ongelukkig is laasgenoemde waar van baie gedigte in ook die ander bundelafdelings.

Soms kry Du Plessis dit egter reg dat so ’n skets of anekdote algaande aan suggestiewe krag en betekenisimplikasie wen. ’n Voorbeeld is die gedig “Morning live”, wat die leser tref – moontlike beskrywingsoordaad, punktuasie-inkonsekwenthede en bevraagtekenbare voorsetselgebruik hier en daar ten spyt. Dis ’n gedig uit die afdeling “Fragmente”. Die afdelingtitel wys reeds heen na die versplinterdheid van die werklikhede wat daaronder verwoord staan.

Morning live

Vanoggend was die radio nie aan nie,

daar was nie nuus op RSG nie,

sy het die lig aangeskakel, opgestaan

en na die ketel in die kombuis gegaan,

om vir hulle koffie te maak,

die gordyne in die voorkamer

effe oopgetrek, toe teruggeskuifel slaapkamer

toe, dit was vir haar snaaks, dat hy nie

die radio aangeskakel het nie,

RSG, elke oggend, klokslag halfses

sy het saggies aan sy arm gevat,

maar hy het net só bly lê.

Hy, met sy frokkie

in die somer op die stoep,

soms, agter die stuur van hul ou karretjie,

hy wat die toere so kon opjaag

asof sy voet vassit aan die pedaal,

die ratte wat hy so kon laat knars

soms lank in eerste rat gery,

vergeet om oor te skakel.

Teen die hemel het ’n halfgevrete maan gehang,

sy het in die oop deur gestaan

die helder ligte agter haar

die grys hare netjies gekam,

gestut op die kierie,

die man het die wa in trurat in die oprit ingery

die agterflap oopgemaak.

In die kombuis het die ketel, vergete,

gekook, en afgeskakel.

Die slotstrofe van bostaande gedig dien dan ook as motto van die betrokke afdeling.

Du Plessis se deernis met die wat ’n randbestaan voer, iets wat dikwels kenmerkend van die sterkste gedigte uit sy oeuvre is, spreek onder meer uit “Morning live”. Soos dit in die (nadruklik eindrymende) slot van die gedig “Verwysingsraamwerke” lui:

’n Gedig gebou op die wankelende (sic) rand

van bestaan

staan

my veel meer aan[.]

Laasgenoemde gedig kom uit die afdeling “Witskrifte”, die voorlaaste van die bundel en een waarin die poësie self, en aspekte van digterskap, oorheers wat die tematiek betref. As groep is die gedigte in “Witskrifte” (“Fix my met ’n vers / red my met die woord”, lui die motto) myns insiens die sterkste en die boeiendste in die bundel. Veral die groter vindingrykheid wat betref beelding, ’n poëtiese skeppingsmiddel wat Du Plessis ook in van sy vorige bundels treffend benut het, is instrumenteel om die trefkrag van hierdie verse te versterk – al kan dit soms in troebelheid vasval, soos in die openingstrofe van “Skakels”:

Die woorde kom sit op my,

swawels op telefoondrade

langs karkasse

van agterpaaie vol slaggate[.]

Dit het my trouens meer as een maal tydens die lees van die bundel opgeval dat sterker verse byna onmiddellik gevolg word deur verse wat lomp of troebel aandoen. Direk na die hierbo aangehaalde “Morning live” volg “Countdown”, ’n gedig wat dit eers het oor ’n “hul” wat “130 kanale” bied, sodat die leser kan/moet aanvaar dat “hul” na ’n televisiesendersgroep verwys. In die volgende twee strofes word egter gewag gemaak van ’n “haar”, ’n “hul” en “hul 12-jarige seun”, sodat die leser moet aflei dat dit eerder gaan oor ’n bepaalde gesin en hul preokkupasies. In die vierde strofe duik ook nog ’n “6-jarige” én ’n “stil, swygende sussie” (van onvermelde ouderdom) op – maar dan fokus die res van dié strofe en die slotstrofe van die gedig op die onderwyseres van die laasgenoemde sussie. Waaroor, en oor wie, gáán “Countdown”, moet die leser ten slotte wonder.

In die slot van ’n ander gedig uit die poësie-oor-die-poësie-afdeling “Witskrif”, naamlik “My verweer teen die woord”, verklaar die spreker: “Oor die Afrikaanse poësie / kan jy hoogstens, net, onaf gedigte skryf.” As leser aanvaar ek dat, gegewe die bepaalde uitspraak én die afwykende gebruik van die kommas in die slotreël, die dubbelsinnigheid wat rondom “net” ontstaan, bedoeld is.

Sintaktiese, punktuasie-, beeldgebruik- en selfs vertelperspektief-lomphede of -troebelhede, ook spel- en tikfoute, kom egter so dikwels in Woorde roes in die water voordat ’n mens kwalik anders kan as om ten minste te twyfel dat ’n dubbelsinnigheid soos hierbo intensioneel is – juis omdat van sy vorige bundels ook mank gegaan het aan sulke redigeringsleemtes. Selfs al word die bundeltitel gesien as ’n moontlike vooruitwysing, as sinjaal van (ook) die talige en verstegniese “verval” wat in die gedigte manifesteer, bly ’n mens derhalwe twyfel oor die intensionaliteit daarvan.

’n Jammerte is dit. Want die bundel bevat ’n tematiese rykdom met treffende momente. Naas die afdelingstematiek wat reeds vermeld is, kom ook groepe gedigte voor oor belewenisse van verganklikheid en aftakeling (“Aantekeninge”), oor nuusgebeure en -behepthede (“Vlugskrifte”), kommersiële en sosiale vervlakking (“Notas”), reise en plekke (“Inskrywings”) en die haglikhede van besit (“Transportaktes”). Die slotafdeling, “Grafskrifte”, behels huldigings en herinneringe aan gestorwenes (dikwels medekunstenaars).

Vanweë die redigeringsgebreke beduiwel Du Plessis egter die geleentheid om hom as ’n werklik gerekende stem in die eietydse Afrikaanse poësiesisteem te vestig – ’n sisteem wat hy, blykens talle verwysings na en herkenbare toespelings op ander literêre werke en figure, deeglik ken. Derhalwe in geïnteresseerd blyk te wees.

Ook mee identifiseer?

Al spreek hy sy afkerigheid daaraan uit in die genoemde “My verweer teen die woord” – soos hy herhaaldelik in die verlede al gedoen het?

Bookmark and Share

Comments are closed.