Carina van der Walt. ‘n Besondere Trilogie

 

 

Onlangs het die derde bundel van ’n besondere trilogie in die Nederlandse poësiewêreld verskyn. Dit is Verzoenen (2014) van Emma Crebolder by Nieuw Amsterdam Uitgevers. Twee jaar eerder is Crebolder se Vallen (2012) gepubliseer en nog twee jaar daarvoor haar Vergeten (2010). Saam vorm hierdie digbundels ’n ode aan die vol en ryk lewe wat bejaardes beleef, ondanks die ouderdomsprobleme waarmee hulle gekonfronteer word. In die spesifieke geval van Crebolder gaan dit eerstens oor vergeetagtigheid in die vorm van woorde wat haar bly ontwyk, vervolgens oor  ’n spesifieke angs naamlik die angs om te val en ten slotte oor die proses van versoening met hierdie tipe verskynsels. Uit die Afrikaanse digerswêreld het Heilna du Plooy en Charl-Pierre Naudé onlangs Crebolder se werk ontdek. Albei het hulle hand aan vertaling gewaag.

Die reëlmaat waarmee Vergeten, Vallen en ten slotte Verzoenen verskyn het, getuig van ’n vaste en begeesterde digtershand. ’n Ouderwets betroubare uitgewer het by gekom, Crebolder se sterk konsep omhels én vanaf punt A tot Z oor ’n tydperk van ses jaar volledig ondersteun. Elke bundel in hierdie trilogie bestaan uit net vyf-en-twintig gedigte. Vir ’n Afrikaanse leser klink dit miskien min, maar genadiglik is al vyf-en-sewentig gedigte nie in één bundel geprop nie. Wat Crebolder so flambojant uitgewerk het, sou dan in ’n groot mate skade gely het. Gedigte het ruimte en tyd nodig en Lucebert se woorde “alles van waarde is weerloos” is ook op hierdie werk van toepassing. Crebolder se titellose gedigte is vormlik opvallend, want hulle bestaan uit net tien reëls. Die bundels se tienrelige gedigte verskil met betrekking tot strofe-indelings. In Vergeten lyk die gedigte soos kompakte bou-of geheueblokkies. In Vallen bestaan alle gedigte uit vyf koeplette om Crebolder se valangs mee te besweer. Die reëltjies moet mekaar vashou. In Verzoenen bestaan alle gedigte nog steeds uit tien reëls, maar hulle is dan in verskillende kombinasies van twee strofes verdeel.

Elke gedig as geheueblokkie in Vergeten demonstreer hoe ’n mens omgaan met ’n woord wat jy vergeet het: jy omskryf die woord, tot in die fynste detail, maar jy kan dit nie benoem nie. Dis weg! Natuurlik het Crebolder presies geweet oor watter woord sy telkens gedig het, maar as leser bly die woord onidentifiseerbaar en dus onbenoembaar. Bureau Beck, die grafiese ontwerpersburo wat al drie haar bundels saam met haar ontwerp het, het in Vergeten probeer om by elke gedig ’n leidraad vir die leser gee. Die leidraad is ’n aantal puntjies tussen blokhakies wat die lettergrepe van die verdwene woord aangee. Dit geld ook vir die drie lettergrepige titel op die buiteblad, maar hier staan darem Ver-ge-ten by.

Du Plooy het verlede jaar ’n gedig uit Vergeten vertaal. Juis die verdwene woord in die betrokke gedig was haar se grootste vertaalprobleem, want wat is ’n “Schorrevaar” in Afrikaans? Crebolder het “Schorrevaar” se geheim gelukkig aan Du Plooy weggegee, maar dit het ongelukkig nie gehelp nie. Die woord verwys na ’n aalscholver (Phalacrocorax carbo) wat net in die noordelike halfrond voorkom. Dit is so ’n tipiese vertalingsprobleem tussen noord-suid. Die naaste wat Du Plooy daaraan kon kom, was die Afrikaanse kormorant. Foto’s van beide aalscholver en kormorant vertoon ’n swart watervoël wat met uitgestrekte vlerke sy vere droogmaak. Maar die woord kormorant wou nie klink nie. Du Plooy en Crebolder het lank hieroor gekorrespondeer. Uiteindelik is besluit op “waterraaf”. Hier volg die Afrikaanse vertaling van Ons vruchtbaarste verleden lag met daaronder ‘n foto waarop Du Plooy haar vertaling voorgelees het:

Ons vrugbaarste verlede is op papier
en langs riviere vasgelê, op die keie
of klippe langs die Schelde of die Waal.
Die stroming het ons meegevoer.
Ons moes na die verhale soek.
Waterraaf het agtergebly. Sy flap
haar vlerke soos ’n boek wyd oop.
Sy omhels die meeu en gooi haar
trots hoog op in die lug en wys,
kyk daar: die vriendin van waterraaf.

Heilna du Plooy: Literaire Salon in’t Wevershuisje 2013

In Vallen (waarvan die lettertipe verskil van die eerste en laaste bundels om die drieluik ook só tipografies tot ’n eenheid af te rond) het Crebolder haar vermoë om neologismes te skep ruimskoots gedemonstreer. Woorde soos “valluik, valwind” en “valreep” is bekend, maar onbekend (hoewel semanties verstaanbaar) is onder andere “valgat, valappels, valtijd, valneiging” en “valincidenten”. Weer ’n keer het die grafiese ontwerpersburo bygedra tot die artistieke ervaring van die bundel. Die titel ‘val’ in meerdere of mindere mate skuins oor die donker bladsy teenoor elke gedig. Wat neologismes verder betref, is die woord “spookacrobaten” vir eekhorings treffend. Die gedig met die eekhorings of “spookacrobaten” verteenwoordig ’n baie bekoorlike tema in Crebolder se werk, naamlik ’n vrypostige, speelse erotiek. Crebolder vrees ’n “valpartij”, maar is intens bewus van liggaamlike begeertes: sinnelik en jonk. Sy beskik oor ’n kinderlik verwonderde blik, byvoorbeeld in Misschien kom ik je toch nog halen op p.25:

Misschien kom ik jou toch nog halen.

Mijn voeten liggen hier voor me.

 

        Jij herkent vast de wegen niet meer.

       Er zijn kraters ontstaan. De eekhoorns

 

blijven tsj tsj in de aanvalshouding,

daarna zwieren ze van varenbos

 

       naar twijg en terug. Ik heb

       de spookacrobaten nooit zien paren.

 

En zo voeg ik voor ons een pauze in.

Alleen, met mijn benen samen.

Met die titel Verzoenen het Crebolder aanvanklik ’n probleem gehad. Dit was ’n voorstel van haar uitgewer, “maar ik ben niet zo van verzoenen”, het sy beswaar gemaak. Totdat haar vriendin voorgestel het dat sy anders daaroor moet dink. “Denk aan vér zoenen. Dan blijft het toch ook een beetje erotisch!” Sodoende is die knoop vir die titel deurgehaak. Hierdie bundel is doelbewus met taal as tema gekonstureer rondom die voorvoegsel “ver-”. Dieselfde voorvoegsel word in die grafiese ontwerp op die buiteblad en op elke bladsy teenoor elke gedig bevestig. In die “ver-” woorde is “ver-” altyd swart, terwyl die res van die woord se letters al ligter word, asof dit verdwyn. Gemaklikheidshalwe verwys ek daarna as gidswoorde, want volgens die inhoudsopgawe agterin die bundel is dit nie die titels nie. Die gedigte word met die eerste reëls aangedui. Dat Crebolder die inherente tekortkominge van taal onder die gidswoord verzoenen oopskryf en die lyf se gebaretaal as oplossing aanbied vir waar taal ophou, het Du Plooy dadelik bekoor. Crebolder begin hierdie gedig met die eerste vyfrelige stofe in die oerbos tussen slingerape en lemure, maar beweeg vinnig oor na die teerpad toe en eindig in die tweede vyfrelige strofe op p. 15 by taal:

Prijsdier Taal, je wordt zo vaak
misvat. Laat ons liever toch
gebaren. Een opgestoken hand
ontwapent hoe graag een mens ook
het brullen na zou willen apen.

In Afrikaans is die aanklag en ontnugtering des te groter:

Skoudier Taal, jy word gereeld
verkeerd verstaan. Dan maar liewer
gebare gebruik. ‘n Uitgestrekte hand
ontwapen ook al sou ’n mens
graag ’n gebrul wou na-aap.

Iets anders het Charl-Pierre Naudé onder die gidswoord verlangen in dieselfde bundel bekoor en tot ’n vertaling oorgehaal. Miskien is dit die kontras tussen stad en natuur; tussen savanne en see? Of die doodsverlange, wat sukkel om swaar op die krop van die leser se maag te gaan lê? In elk geval verteenwoordig hierdie gedig op p.23 die tema dood en in hierdie spesifieke geval doodsverlange in kombinasie met see- en waterbeelde. Die gedig eindig met:

Zo’n zeeverlangen bereikte mij ooit

tijdens waaidagen in de savanne waar

het warm woei en ik dacht dat

het de moesson was. – Het strand

ligt uitgerold, ik kan de zee in gaan.  

Dit sluit byvoorbeeld aan by die gedig onder die gidswoord vervluchtigen op. p.49:

Definitief de zee in lopen

en vervluchtigen in de geliefde.

Per strandkoets zoals

baadsters vroeger, onttrokken

aan het zicht. Mijn uitvaart

stel ik me zo voor.

 

Charl-Pierre Naudé: Literaire Salon in’t Wevershuisje 2014

Terug by die gedig onder die gidswoord verlange (p.23). Die dringendheid van die gedig het bymekaargekom in die vaste uitdrukking: “sta al op mijn pedalen.”  Dit voel soos ‘n vaste uitdrukking. So iets is meestal onvertaalbaar. As vertaler moes Naudé ’n alternatiewe uitdrukking in Afrikaans soek wat ook dadelik herkenbaar is. Hy het dit gekry in die woorde “om vet te gee”. Hier volg die volledige gedig soos Naudé dit in Afrikaans vertaal het:

Soms tussen heuwels en woonstelblokke

vaar ʼn boodskap van die Noordsee binne.

Gehoorsaam aan die ingewing gee ek vet op my pedale.

Op pad piets die watertaal van takke

rondom my lank voordat ek die seefront haal.

 

So ʼn seeverlange het my dikwels bereik

op winderige dae in die savanne waar

die hitte so aanwaai dat ek sal dink

dis die moeson. – Uitgestrek

was die strand, ek kon die see ingaan.

Tog eindig die trilogie nie op Crebolder wat soos Jonker vanouds die see ingestap het nie. Sy bevind haar in die slotgedig weliswaar op die strand, maar met die woord “schrijven” as openingswoord vir die dag van more. Crebolder beskou hierdie drie digbundels as ’n hoogtepunt. Hulle is nommers vyftien, sestien en seventien in haar oeuvre vanaf 1979. Sy beleef tans ’n welverdiende asemskeptyd. Hierdie drie keurig versorgde, nougeset saamgestelde en intens poëties geskrewe digbundels is ’n veertjie in die hoed van die Nederlandse letterkunde. Eintlik mag niemand dit mis nie.

 Emma Crebolder

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. ‘n Besondere Trilogie”

  1. René Bohnen :

    Dankie, Carina – die blog én die verse het my belangstelling geprikkel en ek gaan bietjie meer probeer lees.

  2. Theo Rikken :

    Carina,
    Met veel plezier je “recensie’, je commentaar gelezen. Zuid-Afrikaans en Nederlands: allebei erg mooie talen!

  3. carina van der walt :

    Theo, ja! Misschien is het niet een volwaardige ‘recensie’, maar eerder een introductie. Zonder de vertalingen van Du Plooy en Naudé heb ik dit artikel nooit voor versindaba geschreven, hoewel ik het eens ben met recensent Stefan van den Bossche die schreef: “Sinds 2010 … is Emma Crebolder echter helemaal terug waar ze thuishoort: op de eerste rij van de Nederlandstalige po-ezie.” Met dit artikel wou ik drie dingen laten zien: 1) de Nederlandse po-ezie is nog steeds een bodemloze bron van inspiratie voor lezers én mededichters; 2) het is niet onmogelijke om deze bron te ontsluiten met een eenvoudige instrument zoals een kleinschalige literaire salon; 3) hoe goed ook al je gedichten, een sterk onderbouwde concept draagt bij tot de unieke waarde van een bundel of serie bundels.

  4. Heilna du Plooy :

    Dankie vir ‘n mooi klein essay oor Emma Crebolder. Vir haar gedigte kan ‘n mens net groot waardering hê, en hierdie uiteensetting toon aan waarom. Vir my was dit suiwer vreugde, maar wel ‘n groot uitdaging om van haar werk te vertaal.