Loftus Marais. Shakespeare, sonnet #1

Shakespeare, sonnet #1

 

Lus is lus vir meer. Die roos wat ooptrek moet bly

ooptrek. Homself te kenne gee, weer en weer.

’n Bondeltjie heeltyd, tuiterig. ’n Ewige ta-daa!

Maar: Verlep is plain verlep. Ons soek ’n opvolger.

So luister nou, meneer, jy met jouself behep, wat oë

stadig toemaak, soos net ’n fokkenfrisverwaande

boerseun kan: Mooi wil mooier wees as net een man.

Maar jy hou dit ín in regop skouers, versamel vinnig

wrede one night stands nes koue ornamente. Posterboy

van hierdie nuwe rowwe lente. Jy bly jouself so knoop

in suinigheid. Jou mond. En jou ontspanne vuis.

Jou hele lyf, dit vra, o ja, vir nageslag, om iets ook so

aan tyd te kan bewys. ’n Iets wat jou uit pronkery

kan haal, jou oop en doerkant van die dood vertaal.

 

© Loftus Marais / 2014



Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Loftus Marais. Shakespeare, sonnet #1”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘n Robuuste, vleeslike vers. A, die kaperjolle van ‘n jongman! Ek wonder net ‘n bietjie oor ‘plain’: hoekom nie ‘plein’ nie? (Aan die ander kant is dit waar dat die woord sy yk kry deur latere aanwending van Engelse uitdrukkings.)

    Die strekking herinner my aan Jean Genet se siening – ek het onlangs weer van sy briewe aan Sartre gelees – van hierdie besittingsdaad as morbied in die sin dat dit ‘n intensifisering van die doodsgedagte (of doodsdrang) sou beteken, waarskynlik gekoppel daaraan dat dit nie voortplanting kan behels (omhels?) nie. Genet neem selfs die gedagte verder wanneer hy hoop dat die jong minnaar in sy plek kinders sal verwek. Is hierdie gedagtegang ook in Shakespeare ‘n gegewe?