Vat vyf, Marlise Joubert: Samesteller van “in a burning sea – Contemporary Afrikaans poetry in Translation”

“in a burning sea”. Vyf vrae aan Marlise Joubert.

*

Marlise, “in a burning sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation” is ʼn magtige publikasie. Nie net beslaan die bloemlesing meer as 350 bladsye nie, maar dit betrek ook gedigte van 30 teenswoordige Afrikaanse digters; met die teks in sowel Afrikaans as Engels. Waarom het jy dit nodig geag om dié enorme projek aan te pak?

Louis, ek het nooit voorheen behoorlik nagedink hieroor nie, maar ek onthou goed dat ek in 2006 op ʼn besoek oorsee was en ʼn week lank in Boedapest saam met my dogter spandeer het. Ek het die allerwonderlikste boekwinkels daar ontdek en teruggekom met ʼn swaar tas vol digbundels, almal natuurlik vertalings van Hongaarse digters, asook vele ander digters uit verskillende Europese lande. Dit het vir my gevoel asof daar haas geen land is wat nie sy vertalings na Engels het van hulle digters het nie. Digters waarmee ons hier nooit voorheen in aanraking sou kom, as dit nie was vir hierdie vertalings is nie. Ek kon ook agterkom dat die vertaalkunde ʼn uiters belangrike posisie beklee oorsee en natuurlik as voltydse beroepe bedryf word. ʼn Klein kultuur op sy eie dus. Daar was byvoorbeeld in een van die boekwinkels ʼn pasverskene roman van JM Coetzee, wat in Engels sowel as Hongaars terselfdertyd beskikbaar was op die rakke. So gebeur dit ook in Nederland en sekerlik baie ander lande. Dis hier waar ek skielik besef het, dat ons eie vertalings van die Afrikaanse digkuns veral, omtrent geen bestaanreg of sigbaarheid het nie! Niemand weet dus van ons fenomenale omvattende digkuns nie, behalwe by monde van enkele vertalings van ons heel bekendste digters soos Breytenbach en Antjie Krog, wat tereg baie goed is en die blootstelling absoluut verdien, maar wat van al die ander en die verskeidenheid wat daar is?

Omdat ons ook ʼn groot aantal oorsese besoeke op die webblad ontvang, het ek later weer daaraan gedink dat daar nie werklik ’n behoorlike bloemlesing met vertalings is wat spesifiek ons kontemporêre digters insluit nie.  Nie in Engels of Nederlands nie. Nie oorsee of plaaslik nie. Ons het dit dikwels bespreek. Tog is daar oor jare heen ’n baie groter belangstelling in Afrika, Suid-Afrika en Afrikaanse studies – byvoorbeeld dinamiese Afrikaanse departemente by universiteite in Poland, Wene en Moskou, asook enkeles in Nederland en België. Dus het ek gedink dat dit ’n goeie investering sal wees om so bloemlesing op die been te bring, juis vanweë die uniekheid en hoë kwaliteit van ons Afrikaanse digkuns tans, wat net so goed vergelyk as baie ander lande. Daar was wel ’n artikel wat ’n volledige oorsig oor ons digkuns gee deur prof Louise Viljoen wat ’n hoofstuk vorm in SA Lit – Beyond 2000, saamgestel deur Michael Chapman  (uitgegee deur University of KwaZulu-Natal Press, 2011). ’n Langer essay is hieroor gepubliseer in 2012 en op ons webblad geplaas: http://versindaba.co.za/2012/01/30/louise-viljoen-of-chisels-and-jackhammers-afrikaans-poetry-2000-2009/

Ek dink dat sedert demokratisering ons Afrikaanse digkuns goed gevestig geraak het as een van die mees gerekendes in die Suid-Afrikaanse letterkunde en multi-linguale samelewing, tot so ʼn mate dat digters soos Krog, Breytenbach, Naudé, van Niekerk, Kamfer en enkele ander gereeld uitgenooi word om by internasionale feeste op te tree.  Maar watter ander digters buiten hierdie is bekend aan die oorsese poësieliefhebber? Die noodsaaklikheid om ʼn groter verskeidenheid van ons digters oorsee en ter plaatse aan Engelstalige lesers bekend te stel, lê dan juis daarin om so ʼn versameling van vertalings byeen te bring. Dit kan ook help dat individuele digters later ʼn volledige eie bundel in vertaling kan publiseer.

Ons het vir dekades lank so in isolasie geleef, dit is tyd dat ons digkuns in ander tale ʼn groter ruimte moet vind en meer bekend word.  Wat romans betref kom ek agter dat dit wel al hoe meer gebeur. ʼn Roman verskyn nou soms in Engels en Afrikaans op dieselfde tyd. Hoewel hierdie bloemlesing ook ʼn waardevolle bron sal wees vir akademici en taalnavorsers, was die hoofdoel tog maar om meer poësielesers hier en veral in ander lande te werf vir ons digters en wat ʼn groter deelname hopelik sal bewerkstellig aan oorsese belangstelling.

Uiteraard sou dit ʼn onbegonne taak wees om al die digters wat tans in Afrikaans skryf, te betrek. Volgens watter kriteria het jy besluit wie om in te sluit en wie nie?

My posisie as webmeester by Versindaba en kontak met digters het dit eintlik ideaal gemaak om hierdie projek aan te pak. Dis ʼn baie duur projek en ek moes borge vind hiervoor in die eerste plek voordat ek die bal aan die rol sou kry. Ek is oneindig dankbaar dus vir die borgskappe van Fonds Neerlandistiek (wat elke jaar ons Versindaba webblad finansieel ondersteun), en bykomende fondse wat later bewillig is deur Pirogue en ATKV.

Ja, natuurlik kon mens nie alle digters betrek het nie. Ek moes sekere riglyne opstel. Eerstens wou ek beslis nie ʼn versameling hê waarin 100 of meer digters in opgeneem word nie, want dan moet mens outomaties afskaal met die gedigte per digter. Geen uitgewer sal so lywige bloemlesing wil uitgee nie. Om net een gedig dan van elkeen te kies, sou ook geensins verteenwoordigend wees van ʼn spesifieke digter se werk en styl nie. Ek het dus besluit op 10 gedigte in Engelse vertalings, waaruit André P. Brink dan later die beste vertalings volgens sy goeie oordeel kan kies sodat daar minstens ʼn groepie gedigte per digter kan verskyn in die versameling. Hierdie keuse het nie berus op ʼn waardeoordeel nie of die aantal bladsye wat ʼn digter dan kwansuis sou verdien nie. Dit gaan hier om ʼn groep vertalings bekend te stel van elke digter. ʼn Kort gedig is ook nie noodwendig minder belangrik of swakker as ʼn lang gedig nie. Langer gedigte sal ook  uiteraard meer bladsye beslaan as ʼn korter gedig.  Aangesien ek ʼn totale leek is op die gebied van beoordeling van Engelse vertalings, het ek ʼn kundige gevra om die seleksie te doen.

Op sy beste is hierdie bloemlesing ʼn projek wat gesien moet word om bekendstelling van Afrikaanse digters aan ʼn leserspubliek te gee wat nie vantevore van hulle kennis kon neem nie. Met inbegrip dat geen bloemlesing ooit werklik die geheel van enige digter se oeuvre kan reflekteer nie. Individuele vertalings van ʼn hele bundel  seker wel.

Destyds was hierdie vertalings ook gekies met die oog op ʼn internasionale mark en dus met die hoop dat ʼn uitgewer oorsee gevind sou word.

Die ander riglyn was dat dit almal kontemporêre digters sal wees wat dan in ʼn bepaalde tydperk minstens 2 tot meer bundels die lig laat sien het as publiserende digter. Ek het debute en selfpublikasies buite rekening gelaat. Die tydperk was dus 2005 tot 2011. Ek het rondom 2009/2010 begin daarmee en geweet dat ek einde van 2011 nog digters sou byvoeg. Op die ou end het dit uitgewerk op 30 digters. Elkeen kon 10 gedigte van ʼn eie keuse lewer om vertaal te word.

ʼn Verdere riglyn was dat die vertaler en digter ten nouste moes saamwerk tydens die vertaalproses. Vertalers kon kies watter digters hulle wil vertaal. As die digter nie tevrede was met die vertaler nie, sou ek iemand anders voorstel. Sommige vertalers het natuurlik meer tyd tot hulle beskikking gehad en kon meer digters akkommodeer, terwyl ander net vir ʼn paar kans gesien het.  Aangesien die digters self besluit het watter gedigte hulle wil voorlê vir die projek, is enige moontlike konflik oor keuses uitgesluit, as wat ʼn buitestaander moes kies. Die digter moes absoluut tevrede gewees het met die vertalings en daarom het vertaler en digter saamgewerk. Daar was natuurlik ander digters wat hulle eie gedigte kon vertaal, of reeds oor vertalings beskik het. Andre P Brink het die Inleiding vir hierdie publikasie geskryf en ook die keuse gemaak van watter vertalings gebruik sou word. Hy moes dus deur meer as 300 vertaalde tekste werk. ‘n Massiewe werk. Die gedigte wat oorgebly het, het natuurlik ook intussen ʼn plek gevind en is in ons vertaalkamers op Versindaba gepubliseer.

Géén van die 10 vertalings het dus  verlore gegaan nie!  Die idee hieragter is dat ʼn bepaalde leser wat vir die eerste keer via die bloemlesing van ʼn sekere digter kennis neem, nog verdere verse van die betrokke digter op Versindaba sal vind. Dit word ook so genoem in my voorwoord tot die bloemlesing. Alle vertalings van elke digter is dus wel gepubliseer, hetsy in boekvorm of op die internet.  Hier kan die res van vertalings gelees word: http://versindaba.co.za/translations/

Waarom het jy juis ten gunste van André Brink besluit om nie net die oorsigartikel (Inleiding) te skryf nie, maar ook die finale keuring te behartig?

Op daardie stadium was die hele idee om ʼn oorsese uitgewer te vind, en omdat André reeds ʼn gewaardeerde en bekende status oorsee handhaaf, asook self ʼn letterkundige is, het my keuse op hom geval. Hy het ook die nodige ervaring om seleksies van gedigte te maak, as ons dink aan die enorme taak wat hy verrig het met die Groot Verseboek en ander tekste soos die van Ingrid Jonker in vertaling. Ek is  ʼn totale leek as dit kom by die beoordeling van Engelse vertalings. Ek het ander letterkundiges en digters ook oorweeg, maar ek wou veral ook nie ʼn deelnemende digter by die projek betrek om ’n seleksie te maak nie. Brink was vir my die ideale persoon vir hierdie enorme taak.

Hoe lank het jy aan dié projek gewerk? En vertel sommer ʼn ietsie van die stampe en stote wat die projek in dié tyd moes verduur?

Drie jaar. Miskien byna vier jaar? Ek kan nou nie meer so goed onthou nie. Daar was ʼn paar stampe en stote.  Dit was regtig harde werk. Hoewel, ek dink die hele proses het meestal seepglad verloop. Slakkepos is byvoorbeeld gebruik waar digters geen rekenaars besit nie. Ek moes soms handgeskrewe tekste oortik. Soms was ʼn digter ontevrede oor die werk in wording en moes ek inderhaas ʼn ander vertaler kry. Soms moes ek tot ʼn dispuut toetree wat ook weer nie maklik vir my was nie. Gedigte wat aanvanklik as ongepubliseerd ingedien en later in ‘n bundel verskyn het, moes ek aanpas omdat dit veranderinge ondergaan het. Maar meestal het alles skitterend verloop en op die ou end was almal tevrede met hulle vertalings.

Na meer as ʼn jaar lank se aanhoudende probeerslae om oorsee ʼn uitgewer te vind, het ek helaas skepties geword. Moedeloos. Jy het self ook uitgehelp as ek opgegee het, en massiewe korrespondensies gevoer met oorsese uitgewers en agente, onthou ek. Waarvoor ek dankbaar is. Baie redes is aangevoer, waarvan die negatiewe ekonomiese klimaat herhaaldelik genoem is en seker tereg ook. Hier is enkele uittreksels uit die terugvoering van uitgewers en agente in die buiteland (Engeland en Amerika):

“The publishers take a much longer time to consider each new offering now with the economic situation deteriorating week by week. “

 

“I see that this is an important anthology  […] But in the end, we decided this wasn’t a project to take on, so I’m sorry to report we can’t make you an offer for publication. As I said before, we take on anthologies rarely, due to their project size, editorial needs, and associated reprint fees and expenses.”

 

“The latter thought the work was exciting but due to the market situation, they have decided to concentrate on American poetry only for the moment.”

 

“The situation is as grim over here but please don’t despair.”

Mettertyd het ek wel geheel en al moed opgegee. Ek was so hartseer om die deelnemende digters teleur te stel. Ek het toe die hele manuskrip op ons webblad gepubliseer sodat daar darem wel bekendstelling is. Plaaslik kon ek ook nie ʼn uitgewer vind nie. Nadat dit verskyn het op Versindaba, het ʼn klein Britse uitgewer aangebied om die manuskrip uit te gee. Ek moes egter die hele manuskrip verwyder van Versindaba af. ʼn Magdom van ure se werk weereens verlore.

Ek was aanvanklik baie opgewonde oor hierdie buitelandse uitgewer, maar na ʼn jaar van onderhandelinge en gedurig met die hoed in die hand moes staan en smeek, wat nêrens heen gelei het nie, en waar die uitgewer telkens met nuwe voorwaardes vorendag gekom het, soos ʼn Britse letterkundige om die Inleiding te skryf, vermindering van deelnemende digters en boonop ekstra finansiële ondersteuning vir oordrukregte van Afrikaanse tekste sowel as hulle onkostes vir die redigering-, uitleg- en drukwerk, het ek die manuskrip onttrek. Dis toe dat ek by ʼn plaaslike uitgewer aangeklop het en terselfdertyd ʼn borgskap van Pirogue gekry het om o.a. ook die oordrukregte te dek vir die eerste oplaag. Synde ʼn projek wat ons borge gesteun het, ontvang ek self geen tantieme uit die verkope van hierdie bloemlesing nie en wil ek dit ook nie hê nie. As die oplaag kan uitverkoop, is die doel bereik. Miskien is daar later selfs ʼn herdruk vir die uitgewer.

Jy het al by geleentheid verwys na die buitengewone welwillendheid wat dié projek uit soveel oorde geniet het. Wil jy dalk ten slotte daarop uitbrei?

Ja, ek kan onomwonde bevestig dat ek verstom was oor die welwillendheid wat ek teëgekom het. Die deelnemende digters was geweldig positief en waarderend. Die vertalers was entoesiasties en dan was daar onvoorwaardelike ondersteuning van borge en betrokke uitgewers gewees. Daarsonder sou hierdie boek nie die lig gesien het nie.

Ek hoop dat hierdie maar net die begin sal wees en dat ander later so ʼn bloemlesing as projek kan uitbrei en meer digters kan toevoeg. Die vertalings hierin was  nie bedoel as ʼn waardeoordeel nie, of bydraend tot die kanonisering van die Afrikaanse digter nie, maar slegs as die bekendstelling van goeie Engelse vertalings van digters wat aktief skryf. So behoort dit gesien te word. So hoop ek.

En intussen het daar reeds ander stemme na vore getree met ʼn tweede of verdere bundels en ek hoop van harte dat hulle ook later ʼn plek sal vind in Engelse vertalings. Mag daar ook iewers ʼn nuwe projekleier na vore tree wat veel jonger en ervare as ek is om die hiate te vul en wat meer hare op die tande het as wat ek gehad het!

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Vat vyf, Marlise Joubert: Samesteller van “in a burning sea – Contemporary Afrikaans poetry in Translation””

  1. Zandra Bezuidenhout :

    Wat ‘n heerlike onderhoud, Marlise en Louis;’n ware lusmaker! En dankie vir die enorme bydrae met die samestelling van ‘n baanbrekende en gevarieerde Afr/Eng poësiebloemlesing. Die beste kersgeskenk ooit!

  2. Nogmaals ‘n duisend dankies, liewe Marlise, vir wat jy alles deurgemaak het om hierdie bundel die lig te laat sien. Jy verdien ‘n staande applous vir jou leeuin-werk. Mag die lesers hierdie somer in hulle binnekamers en op die moltreine, in vliegtuie en onder die strandsambrele van hoendervel oortrek wees oor al die wonderlike woorde.

  3. Baie dankie vir die reuse-bydrae wat julle albei lewer! Die waardering daarvoor is geweldig.

  4. Joan Hambidge :

    Vertalings is belangrik. Ek skryf oor Johann de Lange se vertaling en herdigting van Auden.
    ‘n Goeie vertaler is baie belangrik in enige taal.

    Hoe sou ons anders Russiese of Poolse digters kon lees?

    http://joanhambidge.blogspot.com/2014/10/studie-auden-en-de-lange-n-platoniese.html

  5. Nicolette van der Walt :

    Baie geluk met hierdie projek, Marlise. Vertalings is beslis belangrik want dit sluit soveel deure oop – beide vir die skrywer en die leser. Die bundel is beslis my kersgeskenk aan myself!