Marlies Taljard: Die tentmaker van die Roebaijat

Omar Khajjam se kwatryne (roebaijat) (wat ongeveer 900 jaar gelede in Persies geskryf is), is in die tweede helfte van die negentiende eeu deur Edward FitzGerald in poëtiese vorm vry na Engels vertaal is. FitzGerald het altesaam net oor die honderd kwatryne, hoofsaaklik in jambiese pentameter, met ʼn rymskema aaba die lig laat sien. Die oorspronklike versameling Persiese kwatryne wat aan Khajjam toegedig word, bevat ongeveer 1 000 kwatryne wat redelik ongeorden opgeteken is. FitzGerald het dié kwatryne wat hy uitgesoek en vertaal het, in ʼn bepaalde volgorde gerangskik in die onderskeie uitgawes van sy Rubáiyát of Omar Khayyam. Dit veronderstel dat daar ʼn bepaalde onderliggende struktuur in sy Roebaijat teenwoordig is. Tog beweer kritici soms dat daar, veral met betrekking tot die vertellersfunskie in die lang gedig, ernstige inkonsekwensies voorkom. Die verteller, volgens Khajjam ʼn tentmaker, weerspreek homself dikwels, die standpunt wat hy inneem, is wisselvallig en soms lyk dit asof die verskillende kwatryne geen onderlinge verbande met mekaar vertoon nie. In ʼn artikel wat in Desember1967 in ELH verskyn, stel William Cadbury ʼn insiggewende hipotese aan die orde wat poog om die onderliggende struktuur van FitzGerald se vertaling van Omar Khajjam te verklaar. Ek sal dié hipotese kortliks probeer verduidelik.

Cadbury se sentrale argument is: Let us assume that the reward we garner [by reading the Rubáiyát] is not of a fully rendered attitude to experience, but of a comprehension and internalization of a rendered character who may have a variety of attitudes which have in common only that he can hold them (…) No part of the poem can be made to square with any other, no part presents an attitude by which the poet or the poem can be made to stick, but each part leads to the next for modification. Hy stel voor dat ons die vertelstem nie as sentrale karakter beskou nie, maar slegs as ʼn verteller, want [t]his character by whom we make sense of the bewildering array of attitudes can only be called a narrator, since he has no existence in the surface of the poem, but only as an inferred and abstracted presentor. Tog is dit so dat die verteller aan die einde van die lang gedig ʼn bepaalde verandering ondergaan het en ʼn bepaalde insig bereik het. Volgens Cadbury is die rede daarvoor: The issues, for all their shiftiness,are the ground from which emerges the figure of the changing character caused by the interplay of attitudes. We take the poem as ‘a man being changed,’ rather than as ‘a complex attitude being manifested.’

Op die oog af lyk FitzGerald se Rubáiyát na die onsamehangende gedagtes van ʼn hedonis wat al hoe meer wyn drink, algaande al hoe dronker en meer sinies word en teen die einde weer redelik nugter voorkom. Die hedonistiese “oplossing” word telkens ondermyn omdat die insig deurbreek dat daar geen oplossing in wyn en dronkenskap is nie. Tog keer die sprekende “ek” telkens weer terug na die drink van wyn en gepaardgaande godslastering, maar no matter how many times he takes the pose of hedonistic satisfaction to praise wine, he is always aware that it is a feeble substitute. Al sy pogings om die wêreld op een of ander wyse te transendeer, loop op niks uit nie. Sy aanvoeling dat daar iewers ʼn beter bedeling op die mens wag, word teleurgestel: daar is geen manier waarop die mens toegang kan verkry tot dieper waarhede en blywende geluksaligheid nie. FitzGerald se Rubáiyát is in sy wese ʼn verkenning van verskillende verhoudinge tussen die mens op aarde en sekere spirituele aspekte wat met sy aardse bestaan mag verband hou. Die drie belangrikste aspekte wat die mens hier benede beïnvloed, ooreenkomstig die wêreldbeskouing wat algemeen in Khajjam se tye gegeld het, word in die volgende kwatryn uiteengesit:

With me along the strip of Herbage strown

That just divides the desert from the sown,

Where name of Slave and Sultán is forgot –

And Peace to Mahmúd on his golden Throne!

Volgens hierdie insig bestaan die wêreld uit 3 sfere: die besaaide veld, ʼn strook natuur (dikwels ook as tuin voorgestel) en die woestyn. Die besaaide veld word geassosieer met die dinge van die sultan (veral kennis en mag), terwyl die woestyn geassosieer word met die dinge van die slaaf (veral sonde en nederigheid). Die middelstrook, wat ʼn bevredigende onordelikheid vertoon in teenstelling tot die saailand wat eenvormig met dieselfde plante beplant is en die woestyn wat eenvormig met sand bedek is, is verteenwoordigend van die wêreld wat deur die mens bewoon word. Hierdie wêreldbeeld kan sowel ruimtelik as temporeel verklaar word.

Ruimtelik slaan die drie aspekte op die hemel (die besaaide land), die aardryk (die tuin) en die doderyk (die woestyn). Die verteller probeer ʼn bevredigende verhouding uitwerk tussen aardelinge en hemelinge, tussen aardelinge en voorvaders/afgestorwenes, asook tussen die hoë en die lae sfere.

Temporeel kan die gedig gelees word as die soeke na ʼn bevredigende verhouding tussen hede, verlede en toekoms, maar ook: The poem as we experience it is the progression of the narrator’s feeling as he is led from one to another of the issues by the pressure of his own thought. And our explanation must do justice to the abstract pattern of this progression of attitudes, as well as to the pattern of issues. (…) The attempt at rest is continually subverted by flaws in the state in which rest is attempted, and these flaws push the poem along as they impel modifications in attitude by the narrator.

Deurgaans is die drink van wyn ʼn ordenende simbool. Die verteller is daarvan bewus dat wyn ekstase kan verskaf (dit wat, volgens sy insig, is wat God aan die mens behoort te gee), maar hy bly ook deurgaans bewus van die feit dat wyn ʼn swak substituut is vir ware ekstase.

In sy voorwoord tot die eerste uitgawe van sy Rubáiyát of Omar Khayyam skryf FitzGerald oor die verteller: [my] old Tentmaker, who, after vainly endeavouring to unshackle his steps from Destiny, and to catch some authentic Glimpse of to-morrow, fell back upon to-day (which has outlasted so many to-morrows!) as the only Ground he had got to stand upon, however momentarily slipping from under his Feet. Cadbury kom tot die gevolgtrekking dat die betekenis van die gedig geleë is in die verteller se aanvaarding van homself as ʼn man wat ʼn bepaalde aspek van die lewe deeglik deurdink het en tot die slotsom gekom het dat ons as aardelinge daartoe in staat is om ʼn goeie wêreld te bedink, maar dat dié geloof in die goeie nooit die grondliggende vyandigheid van die wêreld kan verander nie. Ons is alleen op aarde; geen hulp sal van enige oord kom nie – nie van die hemelse sfere of van die afgestorwenes in die onderste sfere nie. Soos alle ironieë beweeg die Roebaijat vanaf illusie na realiteit op ʼn wyse wat eerder bind as bevry. Hierdie insigte word deels verwoord in die kwatryne wat hieronder aangehaal word (uit Daniel Hugo se vertaling van die Roebaijat, Protea Boekhuis, 2014):

Ag, my lief, kon ek en jy met die lot saamsweer

om die krom bestel van sake te korrigeer,

hoe sou ons dit nie aan skerwe slaan

en dan boetseer – nader aan wat die hart begeer.

(Kwatryn 48)

 

O, maan van my plesier wat nooit sal kwyn –

kyk, die hemelse maan het weer verskyn.

Hoe dikwels sal sy vergeefs na my kom soek, hier

in die tuin? Want ek sal vir goed verdwyn.

(Kwatryn 49).

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Marlies Taljard: Die tentmaker van die Roebaijat”

  1. Heilna du Plooy :

    Dis ‘n baie insiggewende bespreking. Dankie Marlies.