Gisela Ullyatt. ‘Wintermuil’: Die gedig as gestig.

 

Foto: Christopher Payne

’n Ruk terug delf ek diep in oer-uitgawes van De Kat en Insig (dié wat genadelose seleksie oorleef het deur die jare). Onthou die ou De Kat? Die De Kat van hope resensies, kortverhaalwedstryde (waarvan Koos Prinsloo byvoorbeeld die eerste prys aan toegeken is vir Die wond) en literêre onderhoude? Let wel: onderhoudende onderhoude. Waar sou ’n mens deesdae tog sulke onderhoude in die gedrukte media aantref? Met wonderbaarlike droë humor wat deursypel in vrae aan skrywers soos Ingrid Winterbach (toe nog Lettie Viljoen). Selfs haar lang stiltes op sommige vrae word tussendeur gedokumenteer. Ongelukkig sou meer as die helfte van so ’n onderhoud se spasie deesdae kortgeknip en aan ene Madame L’Oreal afgestaan moes word.

Onthou Insig? Die kortstondige Boeke-Insig? Albei ook lankal tot vergetelheid gekis deur ‘n populistiese mark wat eerder nuwe selfone en duur viertrekvoertuie verkies. Die enigste merkers van hulle bestaan is artikels soos “Vloek van die muse” deur Linette Retief waarin sy die verband tussen kunstenaarskap, skrywerskap (veral digterskap), gemoedsversteuring en selfdood ondersoek. Ter illustrasie verwys sy na Barrie Hough, Ingrid Jonker en Johannes Kerkorrel. Daar is ook foto’s van Sylvia Plath en Ernest Hemingway.

’n Aanhaling uit hierdie artikel wat steeds na al die jare by my bly spook is, lui as volg: “’n Jaar voor sy selfmoord het Johannes Kerkorrel vir sy hartsvriendin Amanda Strydom gesê: ‘Miss Mandy, die dokter sê ek kan vir ewig lewe, maar hoe lank moet ons nog so aankarring?’” (2004:37). Self het Amanda natuurlik ook die bitterste heuning van die lewe as bipolêr-lyer leer proe. Deesdae word daar natuurlik eerder van ‘vegters’ as ‘lyers’ gepraat. Die catch-22 van depressie is egter dat die individu daarteen wil ‘veg’ maar vir lang tye nie oor die broodnodige emosionele en fisiese krag besit nie, maar steeds ongenadiglik deur kennisse en familie gepols word om hulleself spoedig reg te ruk. Stapel die verlies aan kreatiwiteit op saam met werksdruk asook enorme druk tot ‘normale’ sosiale verkeer en dit word ’n resep vir selfdood vir die kreatiewe ‘lyer’ wat aanhoudend moet ‘veg’ maar nie meer kan nie. Word daar soveel onsimpatieke reaksies op ‘normale’ siekte (byvoorbeeld kanker) gegenereer? Word pasiënte aanhoudend gemaan om nie ‘lui’ te wees nie? Word hulle tot verantwoording geroep vir hul eie siekte? Dit sou tog verregaande wees.

In haar Insig-artikel som Retief ook navorsing op (helaas nou al tien jaar oud, maar steeds aangrypend) wat suggereer dat die kreatiewe groep wat die ergste onder selfdood en gemoedsversteuring gebuk gaan, digters is.

Bestaan daar dus ’n direkte verband tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood? Indringende navorsing word steeds benodig, maar dalk lê die ironie juis in die moontlikheid dat die vraag nooit opgelos behoort te word nie, omdat die digkuns juis armer sal wees aan briljante gedigte wat hieroor handel en ’n blik aan die oningeligte leser verskaf. Miskien is die titaniese Jakob-en-die-engel rofstoei met depressie juis wat gedigte laat ontknoop? Ek dink die vraag is uiters debatteerbaar, maar ongelukkig is die oplosbaarheid daarvan meer op die vlak van ’n Zen koan.

Ter illustrasie haal ek haal ’n paar Afrikaanse digters aan wat spesifiek oor ervarings in psigiatriese eenhede gedig het, veral in staatshospitale.

In die tagtigerjare het Koos Kombuis opgang as digter gemaak onder die naam André le Roux du Toit (hy beklemtoon dat hy die naam gekies het om die literêre establishment se pretensie uit te wys en dat die letters daarvan eintlik bedoel was om ‘toilet’ te spel.) In Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier (2000) beskryf Kombuis sy tyd in die ‘malhuis’ (Weskoppies) as skisofreen. Dit blyk dat hy aspris die vorms verkeerd ingevul het en dat hy nooit werklik stemme in sy kop gehoor het nie. Hy is wel opgeneem en het skokbehandeling (in die Astrid-kliniek) ontvang gedurende 1977 (104-105):

Skokbehandeling is ’n redelike uitgediende vorm van sielkundige behandeling. In die ou tyd is dit sonder narkose toegedien, en was dit volgens oorlewering nogal pynlik. Daar is ’n baie bekende scene in die fliek One Flew Over The Cuckoo’s Nest, waar skokbehandeling toegedien word op ’n pasiënt, gespeel deur Jack Nicolson, en waarná hy ’n zombie uitdraai. Ek moet erken dat daardie toneel is ietwat buite verband geruk. ’n Mens moet ’n geweldige oordosis skokbehandeling kry voor jy ’n zombie word […] In my geval is ek tien skokke toegedien, die een na die ander op agtereenvolgende dae. Ook weliswaar ’n oordosis, maar nie genoeg van ’n oordosis om my ’n zombie te maak nie.

Nota bene: Ongelukkig pleeg Koos hier ’n feite-fout: In One Flew Over The Cuckoo’s Nest, ontvang die protagonis Randle McMurphy skokbehandeling. Net daarna gee hy voor dat hy ’n zombie is (weliswaar vir ’n baie kort rukkie), tot die ontsteltenis van almal. Dit is egter nie die skokbehandeling wat hom katatonies gemaak het nie. Wat Kombuis eintlik na verwys is die eindtoneel: McMurphy word ‘gestraf’ deur die psigiatriese establishment omdat hy daarteen gerebelleer en dus homself as ‘moeilikheidmaker’ gevestig het (veral omdat hy Big Nurse se onleefbare roetines omverwerp). Sy ‘straf’ en ‘regstelling’ word in die vorm van ’n lobotomie uitgevoer: die konneksies tussen die pre-frontale korteks en die talamus word permanent afgesny en dus verbreek. Ken Kesey, die skrywer van die gelyknamige boek, lewer dus uitstekende sosiale kommentaar oor die lobotomie via die McMurphy-karakter, ’n uiters omstrede asook wreedaardige metode wat deur Dr. Walter Jackson Freeman ‘vervolmaak’ is: binne vier dekades het hy meer as drieduisend lobotomies uitgevoer, meeste van hulle met ’n yspik. Wat ek uiters ontstellend en skrikwekkend vind is dat hy (en ander) geglo het dat pasiënte se lewens daadwerklik daardeur verbeter is. Ongelukkig is meeste in afgestomptheid gedompel of selfs, soos McMurphy, in hulpelose katatone omskep.

Terug na Kombuis aka Le Roux du Toit: hy  debuteer in Brekfis met vier (1980) en sy gedig “Ek Dood” (7) verhaal sy ‘skisofreniese’ ervaring lank voor sy memoires:

ek dood

ek kom by die hemelse poorte

ek klop aan relings

ek sien petrus vroetel met bos sleutels

ek vra

meneer god tuis?

petrus mompel

ek geloofsoortuigings?

invul op pienk vorm drievoud […]

 

ek na weskoppies

ek skisofreen

ek roomskatoliek anglikaan […]

Kombuis se taal is weliswaar nie dié van ’n hebefreniese skisofreen nie (dit sou meestal net ’n onherkenbare gebrabbel wees; onleesbaar dus); maar die feit dat hy grammatikaal die gedig manipuleer deur sommige werkwoorde uit te haal en op ’n strukturele vlak daarmee  te speel, dra by tot die gevoel van skisofrenies taalgebruik. In Black Sun. Depression and Melancholia (1989), beskryf Julia Kristeva Marguerite Duras se werk as ‘An Aesthetic of Awkwardness’ (225): “[…] the distorted speech sounds strange, unexpected, and above all painful”. Miskien is hierdie ”awkwardness” ook op toepassing van hierdie gedig?

‘n Afrikaanse digter wat die institusionele ervaring uiters geslaagd satiriseer, maar ook op ‘n roerende wyse karteer, is Jeanne Goosen.  Skreiende ironie slaan deur in  ‘gedigte vir die mond’ (’n Uil vlieg weg:35) waarin Goosen die psigiatriese hospitaal voorstel soos die Suid-Afrika gedurende apartheidsjare:

i

in hierdie saal haal die mense asem soos groente

die verpleegster buig hulle lywe reguit lit vir lit

elke ras ruik anders

die malles na muwwe voëls, soos ’n nasie op hulle eie

ek ontrafel soos ’n ou wasrok

[…]

Ook konformering en onderwerping van die individu deur middel van institusionele regulasies word in haar verse geëggo; die self word as’t ware geoblitereer (‘Brief’:35):

In die gestig gaan die lewe sy gewone gang

en word elke malle toegelaat

om normaalweg voort te gaan

Dis buite waar die dae versplinter lê

en die son in sy eie strale verstrik.

Hier is die water koud

en daar is geen seep nie

ek het my onderklere verbrand …

(U weet tog self ek het nie ’n strik vir my hare nie.)

Die suster is wit en internasionaal

soos ’n teepot

Sy klee ons eenders

In hierdie jurk

is dit maklik om jou enigiets te verbeel

Die laaste versreël van hierdie gedig reïtereer die idee dat gesondwording siklies van aard is soos die ironiese teenoormekaarstelling van “afstomp” en “herstel”: “Geleidelik sal ek afstomp tot algehele herstel”. Afstomping en vervlakking is sekerlik die grootste vrees vir enige digter; hier is die vrees wesentlik as gevolg van die psigiatriese ervaring wat stimulasie uitsluit veral as medikasie ter sprake is.

In “Ontslag uit die gestig” (36) (Orrelpunte:1975) wys Goosen die leser op die ervaring van die ontslaande psigiatriese pasiënt. Meestal aanvaar die gemeenskap dat die persoon nou wonderbaarlik genees is, maar meestal is dit maar net die beginpunt van die herstel-en-regressie siklus:

[…]

Die bediende vryf die vloere

en ek ruik nie meer dat ek weg was nie

Sy was die skottelgoed

en ek hoor ek is terug

Sy was die reuk van die malhuis uit my trui.

[…]

In die derde deel van hierdie gedig (36) word die verraderlikheid van so ’n  herstelproses selfs verder beklemtoon deur die skryfproses in te sluit. Let op na  ongewone metafore soos ‘my tikmasjien is ’n wintermuil’:

iii

die vetplante verdof, winter is hier

die kaktus se dagsêkwas slaap in skubbe

alles is ingekeer onder wol, sonder sap

ek leer die droefheid ken soos vreugde

oplaas is daar versoening

tussen die mond en die breinspons, maar tydelik

tydelik en verradelik

my tikmasjien is ’n wintermuil

dit trek my deur die triestigheid van leë planete

ek word neergeskryf – passief en sonder mond

atonaal: hierdie is nie ’n gedig nie

hierdie is ’n vlugtige dood

Deel twee van hierdie blog stel die leser aan verdere Afrikaanse digters bekend wat die verband tussen gemoedsversteuring, kreatiwiteit, selfdood en die institusionele ervaring oopskryf. Hou dus Versindaba dop.

 

Bibliografie

 

Brekfis met vier. 2005. Kaapstad: Human & Rousseau.

Goosen, J. 1971. ’n Uil vlieg weg. Kaapstad: Tafelberg.

Goosen, J. 1975. Orrelpunte. Johannesburg: Perskor.

Kombuis, A.K. 2000. Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier. Kaapstad: Human & Rousseau.  

Bookmark and Share

21 Kommentare op “Gisela Ullyatt. ‘Wintermuil’: Die gedig as gestig.”

  1. Joan Hambidge :

    Dis goed dat jy Jeanne Goosen se aangrypende gedigte aan die vergetelheid ontruk. Kyk ook na Elders aan diens (Genugtig, 2007).

  2. Fransi :

    Aangrypend geskryf, baie insiggewend.

  3. Marlise :

    Dankie Gisela, dis insiggewend. Ek dink in alle kunsgenres is daar tragiese gevalle van selfdood.Dis altyd so yswekkend vir my as ek van so geval verneem. En vra ek maar net, waarom, waarom, waarom.

  4. Franco Colin :

    Dankie vir hierdie stuk! As psigiater kan ek vir jou sê dat die interaksie tussen kreatiwiteit en gemoedsversteurings ‘n baie komplekse een is. In die maniese fase van bipolêre versteuring is kreatiwiteit dikwels super hoog, maar ook ongekontroleerd, en dikwels chaoties. In die ligter depressiewe fases is die dryfkrag dikwels nog redelik goed en kan die donker gemoed groot kunswerke inspireer. Egter in die dieper fases van depressie is die dryfkrag en kreatiwiteit so erg aangetas dat skepping van kuns dikwels stop / onmoontlik is.

    Die interaksie van skisofrenie en kreatiwteit is nog meer kompleks. Groot kunstenaars soos Picasso en robert Rauschenberg het familiegeskiedenis van skisofrenie gehad. Kyk gerus na die navorsing van Prog Nancy Andreasen oor kreatiwiteit en skisofrenie! Sy het ‘n PhD in Letterkunde oor John Donne geskryf, maar ook een van die voorste neurowetenskaplikes geword.

  5. Franco Colin :

    N. J. C. Andreasen & A. Canter (March–April 1974). “The creative writer: psychiatric symptoms and family history”. Comprehensive Psychiatry 15 (2): 123–121.

  6. Heilna du Plooy :

    ‘n Komplekse en steeds onderontginde onderwerp. Die voorbeelde is insiggewend ( ek dink ook aan die geval van Sylvia Plath).

  7. Leon Retief :

    Wonderlike inskrywing Gisela, baie dankie! Ek sien uit na die volgende aflewering. Vergun my enkele opmerkings asseblief. Elektrokonvulsiewe behandeling (oftewel “skokbehandeling”) is nie ‘n uitgediende metode nie. Aanvanklik is dit te rojaal toegepas maar met die tyd saam het meer insig gekom, dit word steeds gebruik en met groot sukses.
    Dit is beslis so dat prefrontale lobotomie nou nie juis een van die mees glorieryke episodes in die geskiedenis van medisyne is nie maar die gebruik van ‘n yspik is nie so ontstellend soos dit mag voorkom nie. Ek weet jy het dit nie so bedoel nie maar mens kry so half die indruk dat die psigiater, yspik in die hand, verwoed op die arme slagoffer afgestorm het en kadwaf! ‘n moewiese gat in sy skedel geslaan het. Die yspik was bloot toevallig maar net ‘n instrument waarvan die morfologie hom goed geleen het vir hierdie gebruik, prefrontale lobotomies is onder goed gekontroleerde chirurgiese toestande uitgevoer. Ek het jare en jare gelede gesels met ‘n neurochirurg wat ‘n paar sulke prosedures uitgevoer het. In werklikheid is daar sommer baie chirurgiese instrumente wat aansienlik meer wreedaardig lyk as ‘n yspik.
    Dan moet mens ook wonder wat die verband is tussen kreatiwiteit en ‘n neiging tot selfdood. Is dit die kreatiwiteit op sig self wat mense soms na so iets dryf (dit wil sê tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n oorsaaklike verband) of het mense wat kreatief is uit die staanspoor ‘n neiging om hulself later om die lewe te bring of is dit ‘n kombinasie van die twee? Ek sou raai laasgenoemde, veral as ek kyk na die insidensie van selfmoord onder verskillende spesialiteite in die mediese professie.

  8. Gisela Ullyatt :

    Dankie vir jou kommentaar, Leon, dis goed om ook ‘n psigiatriese blik op my blog te he. Ek dink ek het die yspik as instrument beklemtoon omdat ek wou uitwys dat Koos Kombuis die fliekweergawe van Cuckoo’s Nest verkeerdelik geinterpreteer het (die episode wat ek aanhaal). Ek wou juis klem le op die feit dat dit nie die skokterapie was wat McMurphy katanonies gelaat het soos Koos beweer nie, maar wel die lobotomie. Dus beweer ek nie skokterapie is oudmodies of uitgedien nie, maar wel ‘n lobotomie. Ek is seker dat meeste operasies ‘n erge ‘grossness’ faktor het. En dat die instrumente ook nie juis enigeen van ons sal aanmoedig om ‘n operasie te ondergaan nie. Maar ‘n yspik? Ek weet darem nie. Dit klink half soos iets uit Bride of Chucky. Ek dink ook my blog beklemtoon die vraag of daar ‘n positiewe korrelasie tussen selfdood en kreatiwiteit, veral digterlike kreatiwiteit bestaan, omdat Versindaba mos in digkuns spesialiseer. Maar dit sluit natuurlik nie selfdood onder ander kreatiewe groepe uit (of enige ander groep soos die mediese beroep) nie. Dit sal natuurlik baie interessant wees om ‘n blog te lees oor ‘n ander blik op selfdood. Dit sal ‘n bietjie rondsoek verg om gedigte vir dit uit te soek, maar ek glo niks is onmoontlik nie!

  9. Gisela Ullyatt :

    Franco, dankie ook vir jou waardevolle kommentaar, veral omdat dit vanuit psigiatriese geledere kom. Ek het nie geweet Picasso het ‘n familiegeskiedenis van skisofrenie gehad nie, wat natuurlik my nou van vooraf na sy kuns sal laat kyk. Dankie ook vir die Andreasen en Canter; ek gaan beslis na hierdie interessante navorsing kyk. Joan, ek het sommer alreeds ‘n gedig uit ”elders op diens” opgespoor. Hou dus dop vir blog nommer twee. Dankie Heilna, Marlise en Fransi vir julle kommentare ook.

  10. Leon Retief :

    Gisela Askies ja, ek moes seker daarop gewys het dat dit Koos Kombuis was en nie jy nie wat beweer het dat elektrokonvulsiewe behandeling uitgedien is.

  11. Marie Bredenkamp :

    ‘n Knap en insiggewende blog, Gisela – en gooi my ook weer op ‘n spoor om dieper te delf beide in bestaande literatuur en wetenskaplike begronding. Ek stem saam dat jy ‘n brawe poging hier te woord gemaak het!

  12. Melanie Grobler :

    Baie dankie Gisela!

  13. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Marie. Ja, die suiwer wetenskaplike en psigofarmakologiese gedeelte sal ek maar oorlaat aan die spesialiste. Dit is egter interessant om te sien dat kreatiewe geeste (soos veral dan gesien in gedigte) nie juis ‘rave’ oor medikasie of opname nie. Ek weet nie of dit meestal verband hou met kreatiwiteit wat onderdruk word nie: mense kla hulle voel afgestomp terwyl hulle dit moet neem. Ek weet ook nie of ‘n allesomvattende studie hieroor moontlik is nie; digters is mos maar meestal baie privaat. Vir my is die genuanseerdheid van die digterlike beskrywing amper meer belangrik: met ‘n omsigtige analise van elke gedig kan ‘n mens ook agterkom hoe digters psigiatriese hospitale ervaar het. Sover is dit nie ‘n positiewe ervaring nie.

  14. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Melanie, vir jou kommentaar ook.

  15. Hilda Smits :

    Interessante blog, Gisela. Ek het aanlyn op hierdie artikel afgekom oor die konneksie tussen kreatiwiteit en gemoedsversteuring. Ook sprake van die brein se rol in kreatiwiteit.

    http://blogs.scientificamerican.com/beautiful-minds/2013/10/03/the-real-link-between-creativity-and-mental-illness/

    Interessant hierdie: “It seems that the key to creative cognition is opening up the flood gates and letting in as much information as possible. Because you never know: sometimes the most bizarre associations can turn into the most productively creative ideas. Indeed, Shelley Carson and her colleagues found that the most eminent creative achievers among a sample of Harvard undergrads were seven times more likely to have reduced latent inhibition. In other research, they found that students with reduced latent inhibition scored higher in openness to experience, and in my own research I’ve found that reduced latent inhibition is associated with a faith in intuition”.

    Ek hou van die idee van “intuïsie” as ‘n net wat deur die hande van die brein gespan word om allerhande visse of assosiasies vas te vang. Interessant om in hierdie geval te dink aan die brein as ‘n ontspoorde trein wat nuwe landskappe verken. Hierdie gesprek laat ‘n mens ook dink aan selfs net wat ons (en in ‘n Westerse samelewing) as normaal of abnormaal definieer. Die idee van ‘n ontspoorde trein kan nie sonder die idee van treinspore, van dit was as “normaal” gesien word, bestaan nie.

  16. Gisela Ullyatt :

    Ek hou van die ontspoorde trein-metafoor, Hilda. Dankie vir die wonderlike skakel. Wat jy in jou kommentaar noem, laat my dink aan David Cooper se definisie van sanity en normality. En hoe belangrik dit is om “sane” eerder as “normaal” te wees. Die kommentaarspasie sal te kort wees om hier op in te gaan, maar ‘n boek om te lees is “Psychiatry and anti-psychiatry” deur David Cooper.

  17. maria snyman :

    Baie mooi blog Gisela – Jeanne se gedigte is en bly groot!

    Een van my gunsteling “gekke digters” is dan ook Dambudzo Marechera (Zimbabwe). Hier is sy “Hooked A-Gallop”:

    Hooked A-Gallop

    Translate the shocking pain
    Into words brain rains.
    Translate the vein of terror
    Into mainland tribal error.

    The clock standing still
    Or the bed dreams kill
    Chimes the cruel hour
    Into painful recesses of power.

    The sapphire fish in the Suffolk basket
    Plead fiery attire, pledge Prufrock’s musket.
    Were Eliot African and mermaids dusky grasses
    Would the verse weaken and our flesh respond to
    irresponsible passes?

    Ek hou ook van “The Bar-Stool Edible Worm”:

    The Bar-Stool Edible Worm

    I am against everything
    Against war and those against
    War.
    Against whatever diminishes
    Th’individual’s blind impulse.

    Shake the peaches down from
    The summer poem, Rake in ripe
    Luminosity; dust; taste. Lunchtime
    News – pass the Castor Oil, Alice.

    Bron: Cemetery of Mind. Collected Poems of Dambudzo Marechera. (1992). Compiled by Flora Veit-Wild. Harare: Baobab Books.

  18. maria snyman :

    Vergelyk die volgende artikel waarin juis ook gesê word: “Marechera described his writing as a form of “literary shock treatment”” wat sy werk inderdaad ook goed beskryf: http://www.theguardian.com/books/booksblog/2014/jan/07/survey-short-story-dambudzo-marechera.

    Die artikel eindig soos volg:

    “As Marechera’s alter ego in The Black Insider states, “To write as though only one kind of reality subsists in the world is to act out a mentally retarded mime, for a mentally deficient audience”. This uncompromising stance is a cogent challenge to conventional narrative styles, a declaration that the most convincing versions of reality might not be smooth or fluent, but chaotic and fractured.”

  19. Gisela Ullyatt :

    Maria, nou het jy my ook aan ‘n skrywer bekend gestel waarvan ek nie geweet het nie. ‘n Mooi gedig en dankie ook vir die skakel.

  20. Ilisna Nel :

    Ek het nie hoë woorde om vanaand hier rond te gooi nie. Maar ek kan sê dat jy, Gisela, jouself oortref het met hierdie blog. Ek is self ‘n depressie lyer en geseën (soms gestraf) met die gepaardgaande kreatiwiteit. Daarom het die blog met my hart gepraat en ek sê dankie Gisela dat jy die ‘guts’ gehad het om dit aan te pak!

  21. Gisela Ullyatt :

    Ilisna, dankie vir jou kommentaar. Ek waardeer die feit dat jy bereid was om kommentaar te lewer, omdat dit belangrik is om terugvoer te kry van individue wat depressie persoonlik ervaar. Ek is bly die blog kon iets vir jou beteken.