Marlies Taljard: Homeros se afdrukke in Afrikaans

 

“Every great work of literature is either the Iliad or the Odyssey” – Raymond Queneau.

Met hierdie aanhaling begin Cas Vos die inleidende deel van sy nuwe bundel Fragmente uit die ‘Ilias’. En indien dit so is, dan het die hedendaagse leser waarskynlik ʼn agterstand betreffende kennis van dié twee groot eposse. Aangesien Grieks, Hebreeus en Latyn deesdae skaars meer op skool geneem kan word, kan bitter min lesers dus die oorspronklike tekste van byvoorbeeld die Ilias, die Odusseia of selfs Vergilius se Aeneïde lees, en die beeld- en klankskoonheid van die oorspronklike werke geniet. In Afrikaans bestaan daar een grondige vertaling van die Ilias, naamlik dié van J.P.J. van Rensburg. In sy voorwoord tot dié vertaling verduidelik Van Rensburg waarom hy ʼn teks wat oorspronklik in poësie geskryf is, in prosa vertaal. Ek haal hom aan:

Die versmaat van die oorspronklike heet die Daktiliese Heksameter, d.w.s. ʼn vers wat uit ses voete bestaan, wat of daktiele (soos die Afrikaanse woord “hiernatoe”) of spondees (soos “twee-twee”) is. Daktiele, in Afrikaans en ander moderne tale, is maklik te vinde, egtes en gemaaktes, maar spondees is nogal skaars. Buitendien praat ons in die moderne tale van beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe, terwyl dit in die ou tale om lang en kort lettergrepe gaan. Dié twee feite verklaar waarom die pogings om die daktiliese heksameter in moderne tale na te boots, meesal volslae mislukkings is.

In sy Fragmente uit die ‘Ilias’ het Cas Vos dele van die Ilias van Homeros in poësie vertaal – eintlik moet ek sê “omgedig”, want ʼn woordelikse vertaling is dit nie. Op p.37-39 van die teks verskyn notas waarin die digter besin oor sy vertaaltegniek. Hy verduidelik dat hy wel die kultuurhistoriese konteks van die Griekse bronteks in ag geneem het, maar dat hy hom ook laat beïnvloed het deur die klankrykheid van die Grieks en dat hy dié emotiewe impak probeer vertaal het. Tog moet ek sê dat die digter/vertaler besonder naby aan die oorspronklike teks beweeg en dit nie na die moderne konteks probeer oorplaas nie. Hy behou die belangrikste stylkenmerke van die Homeriese epos in sy vertaling – wat ek hieronder kortliks probeer opsom.

Waarskynlik dié mees uitstaande stilistiese kenmerk van die Ilias en die Odusseia is die gebruik van die gewoontebepaling of epiteton (Eng. epithet), bv. “… Die krygslustige Menelaos en Alexandros, deur wie / die twis ontstaan het, moet alleen veg vir die kroon, die skone Helena / en al die besittings.” Volgens baie teksinterpreteerders is gebruik van formule-agtige taal ʼn kenmerk van die orale digstyl – ons moet onthou dat die Ilias (of dele daarvan) waarskynlik lank voordat dit neergeskryf is reeds deur sangers aan die howe van regeerders voorgedra of gesing is. Milman Perry omskryf gewoontebepalings as formules “… which are made up of a noun and one or more fixed epithets … created to help the poet set the heroic tale to hexameters. The noun has a metrical value which allows little change, but by adding to it an ornamental epithet one can make a phrase of the needed length which, since the epithet has no bearing on the idea of the sentence, can be used [freely].” Hierdie  bepalings was daar vir die gebruik van alle sangers of digters en hulle het vryelik van die gewoontebepalings wat in ander werke voorkom, in hulle eie werk gebruik gemaak. Dit is ook nie ongewoon dat ʼn digter soos Homeros dieselfde gewoontebepalings verskeie kere in die Ilias en die Odusseia gebruik nie. Die bepaling “die vlugvoet-Achilles” kom byvoorbeeld by herhaling in die Ilias voor. Wanneer ek verwys na Homeros moet in gedagte gehou word dat daar nie sekerheid is of ons hier van een digter of van verskeie digters praat nie – die debat woed vandag steeds voort!

Nog ʼn stylkenmerk van die Ilias is die Homeriese vergelyking wat uit 3 duidelik herkenbare dele bestaan, naamlik (1) konstatering van ʼn eenvoudige vergelyking (“die manne is soos bye”); (2) beskrywing van die ding/saak waarmee die eerste ding/saak vergelyk word (hoe bye hulle gedra) en (3) terugkeer na die oorspronklike saak (“manne”). Die volgende voorbeeld kom uit Van Rensburg se vertaling, Boek II, reëls 88-93:

En die manne het saamgedrom. Soos swerms bedrywige bye wat gedurig in nuwe aflosspanne uit die uitgeholde rots uitkom en na die lenteblomme toe vlieg, soos druiwetrosse; in digte menigtes vlieg party hierheen, ander daarheen: so het hulle in baie skares in gelid van hulle skepe en hutte af al langs die breë strand in hulle afdelings na die vergadering toe gekom.

Omdat Cas Vos in sy vertaling/omdigting so ver as moontlik die Homeriese styleienskappe probeer behou, mag dit dalk vir diegene wat nie met die teks van die Ilias vertroud is nie, geforseerd klink. Vir my is dit beslis ʼn bate van Vos se werk dat hy nie so vry omdig dat Homeros totaal verraai word nie. Ek haal – ter illustrasie van die Homeriese vergelyking – Thetis se weeklag uit Boek I uit Vos se werk aan:

Thetis huil skaamteloos. “O, my kind, my kind, waarom

het ek lewe aan jou geskenk? As jy maar traanloos sonder

droefheid langs jou skepe gesit het. Jou lewe vliet

soos ʼn skoenlapper sʼn verby. Jy fladder in die wind

en dan is alles opgeskryf in die boek van vergetelheid.”

 Wat betref die daktiliese heksameters, is dit duidelik dat Vos teen die gebruik van hierdie versmaat besluit het. Hoewel sy verse meesal min of meer dieselfde aantal lettergrepe het en hy redelik getrou by jambes en daktiele hou, is daar niks geforseerd in die versmaat nie en het dit nie die tipiese slagritme wat die daktiliese heksameters soms het wanneer dit na Europese tale oorgedra word nie. Vos se teks is besonder klankryk en het ʼn bekoorlike, voortstuwende ritme wat besonder geslaagd voorgedra kan word. Ek haal hier graag een van my gunstelingdele uit die bundel aan. Dit is die stryd tussen die Trojane en die Achajers uit Boek XI:

Moedige Trojane glip soos skadu’s langs die strydlustige en slim

Odusseus. Maar die dapper held beweeg blitssnel en weer

die aanslag met sy spies af. Aias skuif al hoe nader en beskerm

hom. Die Trojane spat in alle rigtings. Hy spring tussen die Trojane in

en gooi Priamos se buite-egtelike seun, Doruklos, op ʼn doodsbed neer.

Aias jaag oor die vlakte soos ʼn rivier wat na die leegte stroom

en talle eikestompe en dennebome meesleur; op die bruisende

water dryf opdrifsels soos dooie hande. Hy ontsien geen perd

of man nie. Hektor veg om lewe en dood op die walle

van die Skamandosrivier. Die een kop na die ander waai.

Hy pleeg angswekkende dade.

 Ek vind hierdie oor die algemeen ʼn geslaagde vertaalprojek, veral ook weens die konteks wat deur die inleidende deel geskep word. Die eerste helfte van die boek word bestee aan ʼn uitvoerige agtergrond oor die Ilias, oor Homeros, asook die invloed van Homeros en sy werk op die wêreldletterkunde en die Afrikaanse poësie. Die digter gee deeglik rekenskap van sy vertaalstrategie.

Die Ilias is – soos ek reeds hierbo gesê het – vandag ʼn redelik onbekende werk, en daarom beskou ek dié gedeelte waarin die 24 boeke van die Ilias kortliks opgesom word om die verloop van die verhaal duidelik uit die verf te laat kom, as ʼn besonder belangrike afdeling. Hierdie afdeling dien ook die doel om die 24 poëtiese fragmente wat in die hoofdeel van die bundel staan, te kontekstualiseer. Ook die illustrasies in die boek, maar veral die verruklike omslag, verplaas die leser onmiddellik na die sfeer van die antieke teks. Dit is werklik ʼn besonder goed versorgde boek waarvoor Protea Boekhuis die hoogste lof verdien en ook die digter/vertaler ʼn pluimpie in sy hoed kan steek.

Bookmark and Share

23 Kommentare op “Marlies Taljard: Homeros se afdrukke in Afrikaans”

  1. Louis Pienaar :

    Ek’s in die bevoorregte posisie om Cas Vos se Ilias onder hande te kon neem. Dis ‘n merkwaardige letterkundige werk. Dit sit nie in enige man se broek om so ‘n taak aan te pak nie, veral aangesien dit nie ‘n vertaling van die oerteks is nie, maar wel ‘n omdigting. Dis meesterlik gedoen.

  2. cas vos :

    Marlies, baie dankie vir jou insiggewende blog. En Louis, ek waardeer jou opmerkings.

  3. Marlies Taljard :

    Louis, ek stem volmondig met jou saam. Die gedigte is in eie reg kunswerke, maar gee ook die ruimte van die Ilias op so ‘n wyse weer dat dit die oorspronklike werk teenwoordig stel.

  4. Jock Silberstein :

    In 2012 het Johann Lodewyk Marais die SALA-prys ontvang vir Afrikaanse digkuns.

    http://versindaba.co.za/2012/11/10/johann-lodewyk-marais-ontvang-sala-toekenning-vir-diorama/

    Op die flapteks van Cas Vos se vertaling, Fragmente uit die Ilias, staan daar dat hy dit gewen het vir Weerloos lewe. (2012. Wenner van Afrikaanse afdeling van SALA-prys. 2012).

    Ek meen dit was vir die vertaling van Leon de Kock.

    Of is ek nou op Welgevonden?

  5. cas vos :

    Jock, jy is inderdaad reg. My bundel, Weerloos lewe, was in 2011 die wenner van die Afrikaanse SALA prys en Leon de Kock se vertaling was in 2011 die wenner van die vertalingsprys. In 2011 het die Afrikaanse en die Engelse bundel nog teen mekaar meegeding. Die algehele wenner was in 2011 die Engelse bundel. Die 2012 moet dus met 2011 vervang word. In 2012 was daar vir die Afrikaanse en Engelse afdelings wenners. Dankie vir jou regstellende opmerking.

  6. Johann Lodewyk Marais :

    Dankie vir die regstelling, Jock.

  7. Jock Silberstein :

    Ek sopas met die Slank Mrs Silberstein gepraat en sy is van mening dat die SALA-toekenning net vir die vertaling was. Miskien onthou sy verkeerd. Sy word myns insiens nou ‘n regte ou Desperate housewife.

    http://versindaba.co.za/2011/11/23/vat-vyf-leon-de-kock-wenner-van-die-sala-toekenning-vir-vertaling/

  8. cas vos :

    Jock, jou informant is verkeerd. Raadpleeg eerder die notule van SALA. Die Afrikaanse bundel waarna jy verwys, het in 2011 onder die Afrikaanse voorleggings eerste gekom, maar die Engelse bundel was toe die algehele wenner. Dankie dat jy verstaan.

  9. Henry se meisie :

    Mrs Silberstein is reg. Daar was geen prys vir Afrikaans poësie toegeken in 2011 nie. Slegs vir Vertalings.
    6. Literary Translators Award -English
    Leon de Kock
    Intimately absent

    (Original in Afrikaans: Intieme Afwesige by Cas Vos)

    7. Poetry Award – English
    Phillippa Yaa de Villiers
    The Everyday Wife

  10. Jock Silberstein :

    Dankie Salome. Jy bly die grootste intieme-afwesige. Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir jou, my ding.

  11. cas vos :

    Jock en Salome, lees asb my vorige kommentaar noukeurig. Dis duidelik genoeg. Eerste of wenner van die Afrikaanse afdeling beteken tog nie wenner van die prys nie. Die eer het die Engelse bundel te beurt geval en ek stem met die finale beoordeling saam.

  12. Liesbeth van die Kaap :

    Miskien moet Cas Vos liewer aanmeld vir ‘n skemerkelkie op Welgevonden…dan kan hul sake rustig debatteer oor ‘n pienk jenewer, terwyl die son sak in weste…

  13. Jock Silberstein :

    Op Welgevonden beteken eerste die wenner. Hierdie semantiese toutrekkery klink nie goed nie. U skryf:”Die Afrikaanse bundel waarna jy verwys, het in 2011 onder die Afrikaanse voorleggings eerste gekom, maar die Engelse bundel was toe die algehele wenner.”

    Ja?

    En die flapteks lees:”Wenner van die Afrikaanse afdeling van die SALA-prys …”

    Miskien die saal-en-toom-prys.

    Leon de Kock was die wenner. Jock, Henry, ‘n dubbelskots, asseblief!

  14. Liesbeth van die Kaap :

    Gesondheid in die rondheid! ons drink op die saal-en-toom-prys vir die oom…Nog ‘n dop!

  15. Jock Silberstein :

    Ja-nee, Sewe dae by die silwerprys. Jy sal hom nog ontmoet … glo my vry. Saam met ‘n desperate huisvroutjie …

  16. Brutus die Bul :

    Helena van True Love: wat maak u hiervan? Flapteks of flopteks?

  17. Dr Johns :

    Ja inderdaad Jock: partykeer is dit meer wond as litteken; ander kere meer litteken as wond …

    Ons onthou mos daar – sonder toestemming – ‘n aanprysing van Cloete en De Lange gebruik is op ‘n nuwe bundel.

    Net gisteraand het Demosthenes H. de Goede se wyse woorde weer na vore gekom: hoe mense soos visse in ‘n visbak is.

    Onbewus van hul deursigtigheid.

    Hier op Welgevonden beteken wenner : jy staan op die rostrum en jy is nie Adam Kadmon nie.

  18. Susanna van Saldanha :

    As narcissisme alkoholies was, was julle klomp mede-skouerkloppers nou al almal stormdronk.

  19. Miesies Stoffeles :

    Die kwessie van ‘n prys wen is tog so eenvoudig soos dit: jy wen ‘n prys, of jy wen dit nie; daar is nie ‘n grys area nie, daar is nie eerste plekke teenoor wenners nie. Cas Vos het nog nooit ‘n SALA-toekenning gewen nie – volg gerus die volgende skakel en kyk wie gelys word as wenners in 2011 en 2012:http://www.sala.org.za/2011.html

    Die stelling op die flapteks van Fragmente uit die Ilias dat Cas Vos se “Weerloos lewe (2012. Wenner van die Afrikaanse afdeling van SALA-prys in 2012)” [was], is dus ‘n blatante leuen en wanvoorstelling.

  20. Marlies Taljard :

    “You may plainly perceive the sneaker through his mask; he is well-known everywhere in his true colors …” (Molière)

    Kollegas, wat die geval ook al mag wees, moet asseblief nie my blog misbruik om julle lafhartige veldtog te voer nie. Ek het nie gedink dat mense van julle statuur so laag sou daal nie. Indien julle ‘n aksie teen die skrywer wil inbring, doen dit asseblief elders en openlik. As julle ‘n geldige punt beethet, hoekom kruip julle agter anonimiteit weg? Tog interessant tot welke vlak die mens sal daal solank hy dink dat hy anoniem is …

  21. Marlies Taljard :

    Die aangewese plek waar kommentaar wat nie oor die inhoud van die blog handel nie geplaas kan word, is
    http://versindaba.co.za/2014/10/15/nuwe-publikasie-fragmente-uit-die-ilias-cas-vos/

  22. Webmeester :

    Ek stem ten volle saam, Marlies. Ons sluit dus die gesprek hieromtrent; veral omrede die gewaande mistasting uitgewys is en die skrywer daarop reageer het. Verdere kommentaar is oorbodig en sal dus verwyder word. Beswaardes kan gerus die uitgewer hieromtrent nader indien hulle so sterk voel oor die aangeleentheid. Dat hierdie teks ‘n besonder belangrike toevoeging tot ons letterkunde is, staan myns insiens bo alle verdenking.

  23. Buiteblaf Breytenbach :

    Bravo, Webmeester! (En dankie vir die emmer gesonde verstand wat Marlies Taljard oor hierdie lafaards se koppe – of is dit net één persoon? – omgekeer het.) Op die web word sulke mense glo ‘trolle’ genoem. Ek veronderstel die ‘d’ is foutiewelik met ‘n ‘t’ vervang?