Wicus Luwes. Vreeslose Vrydag

Ek staan in ‘n ry in die middel van ‘n saal. Die man voor my het nou net ingedruk. Hy dink ek het maar net hier gestaan vir die lekkerte daarvan. Ek staan miskien te ver van die persoon voor my af, maar ek haat dit as mense so naby aan my staan in rye en het dit uit respek vir die mense rondom my gedoen. Hy volg my buitendien al die hele dag deur die een gang na die volgende – ons pad loop deur soliedehout lessenaars en -stoele met embleme uit vorige eras daarop uitgekerf. ‘n Batenommer is duidelik sigbaar op die stoel waarvan die een hoek se plastiek oopbeur en uitpeul. Die batenommer is A666A. Die saal en gebou dateer uit die Art Deco-styl en die lang lyne maak lang skaduwees tussen die strale van die laatmiddagson. Ek is bang. Vrees pak my beet en laat my asem jaag. Dis vreesaanjaend om laatmiddag in ‘n regeringsgebou in ‘n ry  te staan, want jy weet nie watter toonbank gaan sluit nie en miskien het ek die verkeerde vorm ingevul.
Ronald Reagan se woorde draai in my gedagtes rond:
“The most terrifying words in the English language are: I’m from the government and I’m here to help.”

Vrees manifesteer op die snaakste plekke en om die tyd in die ry meer draaglik te maak, begin ek op my selfoon lees oor Halloween. Ek klik verby boodskappe wat waarsku dat dit duiwels is en dat ‘n ware Christen nie Halloween gedenk nie.

Ek dink weer terug aan die Standerd 7-kunsfees waar ek A.G. Visser se Ruiter van Skimmelperdpan voorgedra het:
“Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!”

Die internet op my selfoon lei my na prente van pampoene met gesigte daarop uitgekerf, maar ek besef dat ek niks het om te vrees nie. Versindaba het my geleer dat prente van pampoene ‘n teken is van ‘n interessante storie of gedig.

Ek lees dat daar in party lande teruggedink word aan afgestorwenes tydens ‘All Hallows’ Eve’. Dit is die dag voor ‘All Hallows’ Day’ net soos ‘Christmas Eve’ die aand voor Kersdag is. Dit word gebruik om helde, Heiliges (‘Saints’) en martelaars te gedenk en om die simboliese krag wat die dood oor die lewe het, te konfronteer. Dit is ‘n snaakse konsep vir my en die naaste waaraan ek kon dink om dit te verstaan, is die rol van die Profeet Elia in die Joodse geloof. Elia het ‘n simboliese stoel by besnydenisse en ander Joodse
gebruike. Niemand sit op die stoel nie, maar Elia word as getuie geroep by die geleentheid waar daar vir hom ‘n stoel oopgehou word. Dit skep ‘n band tussen die moderne Joodse gelowige en die Jode van ouds. Deur die Heiliges op ‘All Hallows’ Day / All Saints’ Day’ te onthou, skep ‘n mens miskien daardie band tussen ‘n gelowige wat as voorbeeld uitstaan en die moderne gelowige. Ter selfde tyd word daar ‘n soort Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? – 1 Kor. 15:55 konfrontasie ingewerk om die dooie konsep ‘n bietjie kleur te gee. Ek begin selfs te wonder of dit nie dalk ‘n goeie idee is om die geloofshelde van jou dorp te herdenk nie – want hoe gaan die stories van ‘n omgewing in elk geval voortleef. Historici is egter verdeeld oor die oorsprong van Halloween en party sit hul geld eerder op Germaanse heidense oesfeeste as oorsprong van die fees.

In digterskringe word die Lykdig ingespan om ‘n verband met die afgestorwenes te trek. Vroeër hierdie jaar het die Lykdig-kompetisie ‘n mens laat dink aan die oop stoel wat gelaat word deur bekende digters. Hul is as getuies geroep om hul koppe instemmend te knik en baie huidige digters het as medium opgetree tussen die leser en die onderwerp van die Lykdig.

‘n Boodskap uit die dode van Peter Blum
deur Marlene van Niekerk

U vra na die taak van die digter
in tweeduisenddertien? Die wins
van wat hy doen? In Afrikaans?
Moet my wragtig nie tempteer nie.
Dis oorskulpe kerf oor orgideë
vir die adders van Eden, dis tonge inent
teen die swermery van Shofar,
dis ‘n pensklavier rig teen die kreasionis
in sy Kondratieffsiklus van stompsin
en narsisme, dis jil met jong stoppelholle
wat postkoloniale teorie en sulke vervelige
kak in gedigte druk soos aartappelskyfie-
masjiene en dink dis moeders oulik
wat anderkant uitkom, dis die koevoet
insteek onder die vyfluik verhale in die volksargief:
1. Die Lig van die Suide
2. Die trek na die Noorde
3. Rykdom deur Sanlam
4. Grens toe met Christus
5. Mandaryns op Stellenbosch
Dis boggom en voertsek op ‘n bekfluitjie blaas
as die kudde losfok, die boednate agter De la Rey aan,
die dweile agter Siener van Rensburg,
dis by dwaallig vis navermoedbaarhede
en met die bros pik van ‘n vuurhoutjie
afdaal in katakombes om die satyn
van Apollo te skeur, die museum
te poets, die akkerboulyste, die skrynwerkersboek,
die konkoksies te gedenk van die laaste magistrale bereider

Dis die vos opsaal om die saal te vertoon
in die komende Troje, dis onsin laat klink soos riksdaalders
in die drolvanger van die leksikograaf.

Een ding is duidelik, hy’s getroef julle poëet
as die lemma nagpouoog in die Pharos ontbreek,
kyk hoe hy om middernag die ontkende vlinder
hier naby in die poorte soek, ai die geween
die gekners die ontstuimige lantern,
die gatafvee met disselblomme, met die betrokke bladsy
uit die Dikke van Dale – dis dunner as Bybelpapier,
terwyl dié skepsel so inheems is soos mopaniewurms,
Gonimbrasia belina, ‘n spandrel vir chiffres.

God, ek is bly ek is weg van daardie dorp
van musiekdose, jocks, beraders en Shoprite
Die baas van Nasionale Weervoorspelling
is in elk geval ‘n boekminagtende barbaar
wat sy vingerpunte wegslyt op iPads uit Indië.

Party nagmerries is ook nie beperk tot Halloween nie. Daar is tans ‘n groot probleem in Frankryk met mense wat hulself as narre aantrek en dan mense aanval. Dit het ‘n hele kettingreaksie tot gevolg, want daar het nou ook anti-nar groepe ontstaan wat die narre regsien. Dit regverdig miskien die vrees wat kinders (en baie volwassenes) vir narre koester.

Baie dinge het ‘n donker kant en dit is moeilik om te besluit watter deel van die donker jy aan jou kinders wil wys. Party vrese is daar ter beskerming, maar ander vrese hou ‘n mens net terug in die lewe. ‘n Mens kan die kinders ook nie vir altyd weghou van die donder wêreld nie en soos Neil Gaiman dit stel, is dit belangrik dat kinders besef dat dit moontlik is dat die lig die donker kan verslaan.
If you are protected from dark things then you have no protection of, knowledge of, or understanding of dark things when they show up. – Neil Gaiman
Dit wil amper lyk asof ‘n mens die kleingoed ‘n tipe van inenting teen die donker kant van die lewe moet gee – ‘n bietjie van die donker sodat hul teenliggame op kan bou vir die toekoms.

Ek dink ek het dit al voorheen genoem, maar ek het ‘n teorie of eerder ‘n suggestie van ‘n teorie waarom ons ontmoeting met ander dimensies ons nekhare laat rys en ‘n tydelike koue gevoel tot gevolg het. Sekere geeste gebruik energie rondom ons om te kommunikeer en te funksioneer in die dimensie waar ons as mens ons bevind. Hulle onttrek dus die energie of hitte en laat ons koud, amper soos ‘n yskas die hitte onttrek en na die agterkant kanaliseer:

Koelkas
deur Andries Bezuidenhout

volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie

Volgens http://www.selfhelpcollective.com/most-common-fears.html is daar ‘n paar dinge waarvoor mense bang is en dit is altyd interessant om jou eie vrese daarin raak te sien:
1. Die vrees vir vlieg
2. Die vrees om in die openbaar te praat
3. Die vrees vir hoogtes
4. Die vrees vir die donker
5. Die vrees vir intimiteit
6. Die vrees vir dood en om dood te gaan
7. Die vrees om te misluk
8. Die vrees om verwerp te word
9. Die vrees vir spinnekoppe
10. Die vrees om jouself tot iets te verbind
(Die vrees vir narre is nommer 22.)

Doodloopstraat

deesdae is die dood en lewe
so ver as die ooste van die weste
en nie meer kop en stert
van dieselfde muntstuk nie

daar was dae toe
jy sonde kon vereffen
met silwer op die sterfling se oë
en wandaad en weldaad
na mekaar kon kyk in n spieël

daar was tye toe afdraaipaaie
die einde van die pad sou beteken
maar sonder ‘n brug of ‘n oorgang
loop alle paaie parallel aan mekaar

miskien is daar geen kruisings
geen lig aan die einde van tonnels
geen smal en breë paaie
geen eenrigtingstrate

net toegee en glyweë
om almal deur te laat
en sirkels aan die einde
van elke doodloopstraat

My selfoon se battery het genoeg gehad en ‘n vrees om sonder my selfoon te wees, oortuig my om die selfoon vir ‘n wyle te bêre. Ek besef meteens dat alhoewel ek die heeldag saam met die man in verskillende rye gestaan het, ek nog nie sy gesig gesien het nie. Ek wonder ook hoekom net ek gekla het toe hy voor my ingedruk het in die ry. Het niemand anders dit dan gesien nie? Ek besluit ook dat dit beter is as ek net slapende honde laat begaan, aangesien ek op hierdie stadium al naby die voorkant van die ry is. Met my aankoms by die toonbank sien ek die dame met die kougom wat my verveeld aanstaar. Sy het alles al gesien wat die toonbank kan bied en skrik nie vir koue pampoen of snaakse kwinkslae wat narre soos ek naby aan toemaaktyd vir haar toesnou nie. Toe ek by die deur uitstap, sien ek ‘n man wat ‘n kennisgewing teen die deur opplak – ‘n 46664 konsert ter ere van Madiba. (Skielik twyfel ek of die batenommer op die stoel nie dalk dieselfde gelyk het as die embleem op die kennisgewing nie. Ek dink terug aan Martin Luther wat sy 95 stellings op 31 Oktober teen die kerk in Wittenberg vasgespyker het en die daaropvolgende kerkskeuring wat dit tot gevolg gehad het. Die vrees vir verandering is nommer 24 op die lys van vrese wat ek voorheen raakgelees het.

Party vrese beskerm jou en party vrese hou jou terug. Ek sien nie die vrees om dieselfde persoon te bly op enige van die lyste nie en ek besef dat verskillende mense se lyste van mekaar verskil.
Elke dag dieselfde pad,
dieselfde ry
en skielik daal daar
‘n onverklaarbare vrees oor my.

Bronne
1. Bezuidenhout, A. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014
2. http://en.wikipedia.org/wiki/Halloween
3. Van Niekerk, M. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013

Foto’s
1. andrewhoffmann.wordpress.com
2. http://assets.vice.com/content-images/contentimage/195830/11clowns.jpg

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Wicus Luwes. Vreeslose Vrydag”

  1. Marlise :

    Telkens as ek ‘n nuwe blog van jou lees Wicus, dan word my vrees dat jy gaan ophou blog darem weer vir so rukkie besweer. Het dit baie geniet om te lees! En die gedigte tref. Hier kom glo ‘n paar donker dae vir ons aan via Eisjkom. Sal sorg dat die selfoon goed gelaai word…

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Skitterende blog en sterk gedigte! Goed om ook weer Marlene van Niekerk se aan-die-kaak-stel te lees (met die kakemmer-omkeer op die Voorspeller wat sy aandele sit en tel). Dis interessant hoe ‘n goeie gedig altyd weer nuut vorendag kom al dink mens jy is al bekend daarmee, soos die een hier van Andries Bezuidenhout. Anders as die narre-mondering van die Franse ‘kloen’ (soos die uitspraak lui) waar die hanswors hom vermom om dieselfde te mag bly.

  3. Wicus Luwes :

    Dankie julle. Ja, die verskillende vlakke van digters soos Van Niekerk en Bezuidenhout se werk maak dit lekker om oor en oor te lees. Dit vertel jou elke keer iets nuuts.

  4. Nico Luwes :

    More sou graag wou kennins maak met Wicus Luwes. dalk familie?