Resensie: Floriskoop (Nicolette van der Walt)

Floriskoop – Nicolette van der Walt. Cordis Trust, ISBN 978-0-9922057-0-6

Resensent: Joan Hambidge

I

omslag

Floriskoop is ‘n lywige debuut wat sopas by Cordis Trust verskyn het. Dit beslaan 80 bladsye. Die verskillende afdelings heet “Blomkyker”, “Vaaslewe”, “Tussen diepblou bome” en “Blomblare”.

Die indruk wat hierdie bundel by die leser laat, is een van ‘n persoon wat belese is.

Daar is verwysings na bekende digters soos Octavio Paz, Pablo Neruda, Breytenbach, Johann Lodewyk Marais, Freda Plekker, en wie nog almal, maar die bundel verval dikwels in mooiskrywery.

Ons verneem – as voorbeeld – dat die vers “Aan ‘n kind gerig” inspeel op Sylvia Plath se “Child”.

 

 

 

Aan ’n kind gerig

(Na Sylvia Plath)

 

Die kring van jou lag is die mooiste mooi.

 

Ek wil dit vol maak met papegaai en lied,

die sirkus van uitbundiges

wie se geskater jy droom –

tamboeryn, sjimpansee,

klein

 

fluit van ’n riet,

blomkelk waarin musiek

groots en helder moet klink.

 

Nie hierdie winterslippe

van ontmoediging, hierdie

gebroke sirkel sonder stem.  (61)

 

*

 

Child

by Sylvia Plath

 

Your clear eye is the one absolutely beautiful thing.

I want to fill it with color and ducks,

The zoo of the new

 

Whose names you meditate —

April snowdrop, Indian pipe,

Little

 

Stalk without wrinkle,

Pool in which images

Should be grand and classical

 

Not this troublous

Wringing of hands, this dark

Ceiling without a star.

Die twee gedigte langs mekaar, wys hoe die aanslag van die Afrikaanse digter verskil van Plath se spaars, gekonsentreerde en skerper beelde. Dieselfde geld ‘n gesprek met Ernst van Heerden waar die digter sterk afsteek by Van Heerden se besondere beeldvermoë, veral in sy operasie-verse (“Maak die tuinhek saggies toe”, 42). Dieselfde beswaar geld wanneer sy in gesprek tree met Yehuda Amichai (“Méthóde champenoise”, 47). “Woordwyn” (51) illustreer dalk ten beste my besware:

 

Woordwyn

 

Miskien sal ek die wingerd prys:

variëteite van woord en wyn

is vooraf, reeds vanaf eerste

steggiedag, aan ’n kultuur van

alliterasie toegewys.

Uit die landgoed van lettere

sal ek woordtrosse oes, korrel

vir korrel elke lettergreep

ontstingel vir veroudering.

Ek sal dit spesery met klank

en muskaat waar berge blou op

klipvoete slaap en wynmakers

net dit wat die natuur begin

het in vate vervolgverhaal.

Vir die fynproewer, vir jou wat

in strofes drink, sal’k die hooglied

van die druif uit my keel ontkurk:

so is die aand dan volgeskink.

*

Sal’k?

Kultuur van alliterasie?

 

Soms word gedigte amper onbedoeld parodies in aanslag:

Bloeiwyse

 

Ek wil vir jou sê die bloeiwyse

van poësie moet wild en sag wees

waar woorde deels blaar

deels blom is

en die klank wat die leë reëls

vol maak net die wind se stem is

getrek deur jou ledemate

soos ’n lied.

(…)  (52)

 

Hierdie werkswyse roep uiteraard vergelykings op waarin hierdie digter telkemale die tweede plek inneem.

Intertekstualiteit moet iets bysit, dit moet verander of verwring – en dis dikwels in die toon van die gedig geleë, soos ons weet uit die beroemde gesprek tussen Anthony Hecht (“Dover Bitch”) en Matthew Arnold se “Dover Beach”, waarin die oorspronklike vers sarkasties verminder én ondermyn word.

‘n Idee in Van der Walt se bundel word bederf deur oorwoekerende beelde, deur ‘n soet aanslag en dikwels prosa-tegnieke. Beelde word verduidelik. Die digter verkies ook die “klingelklank van feëklokkies” (19) in plaas van om die Venesië-beeld (en verwysings na ander digters, soos onder andere Sheila Cussons) uit te werk. In die afdeling Woordverklarings & erkennings word toespelings verduidelik na bekende gedigte en digters. Die erkennings aan ander digters en vertalings, dikwels vry, word eweneens vermeld.

In die volgende liefdesgedig word die verwysing in die teks ingedra:

 

Tot in lengte van soen

Zaluzianskya capensis

 

Ons twee ingebed

in ’n kamer tussen berg en baai,

’n kaggel wat nog smeul

as ’n verfblommetjiegeur deur gordyne waai

en Neruda se Cien Sonetos de Amor oopgelaat

by I will die kissing your crazy old mouth

wat sonder mooiskrywery demonstreer

dat die Kaap en Arkardia met mekaar allitereer.  (6)

 

Ook die titel word vir die leser verklaar, naamlik dat Floriskoop ‘n  blomkyker beteken. Die optiese instrument waarmee blomme geïnspekteer word, is hier helaas nie afstandelik genoeg hanteer nie. Die digter se instrument is taal, is ironie – en afstand.

Die inligting oor blomme is wel wetenswaardig, maar die leser is nie altyd oortuig dat dit van waarde is vir die “oopmaak” van die gedig nie.

Daar is gedigte oor kindermolestering en verkragting (soos oor Flora Jessop). Daar is ook liefdesverse. Die natuur is egter die belangrikste tema van hierdie bundel waarin die digter verskillende blomme besing en lewenswaarhede probeer aflei uit die aard van ‘n bepaalde blom.

Byvoorbeeld: in “Mariposa” (13) word melancholie so beskryf:

 

Ek weet wel

dat verlange die langste winter is.

 

Die spreker weet egter dat sy nie daarop kan aanspraak maak om die “drome van bolplante / te kan uitlê nie”. Die spreker besef dus dat sy telkens iets projekteer op ‘n bepaalde plant.

 

Die soet geur slaan egter te dikwels vir my op.

Dit is dan ‘n eenheidsbundel en nou onlangs het Karen de Wet by die ALV-kongres in Pretoria gewys op die tendens by jonger digters om weer eenheidsbundels te skryf – soos Hennie Nortjé wat ‘n bundel rondom bome skryf (In die skadu van soveel bome).

 

II

 

 

Daar is te veel uitsegging en oordrewenheid soos:

 

wil ek die kleur van my naam ontbloot, die oerkreet

van die natuur in die rooiste tong van taal uitdruk. (9)

 

Blomkoninkryk

 

As ek sê Karoonag sal jy die straatligte

van die ewigheid kan sien,

die hand van God

wat die gordyn van skemer oopskuif

en in die kalligrafie van komete

ook jou naam in die kosmos skryf?  (16)

 

‘n Redakteur sou kon verbeter of voorstel:

 

As ek sê Karoonag, sal jy die straatligte

van die ewigheid kan sien:

die hand van God skuif

 

‘n skemergordyn oop.

In die kalligrafie van komete

ook jou naam in die kosmos geskryf?

*

 

“Gordyn van skemer” verraai dus alreeds ‘n prosa-aanslag.

 

Mooi momente is daar:

 

Township flowers

 

Die wind het dit goedgedink

om al langs die lemmetjiesdraad

plastieksakke aan te plant.   (24)

 

Black dahlia

(Vir Elizabeth Short)

 

’n Blombed was daar nie: net die blare

van jou hare wat rafel in die wind

en op die sypaadjie

die geknakte steel van jou lyf;

niks aan jou was meer heel nie.

Om so primitief te moes poseer

in bloot die snyerskleed van die dood

en jou mond breër in grynslag

as jou bene gevlek;

niks aan jou was meer privaat nie.

Die paparazzi wat soos spookmotte

om jou zoem, het jou uiteindelik

na die blom van die dale vernoem:

ook jy was leeggebloei.

Daar waar jy ontdek is

met jou arms geminotaur

bokant jou kop en ’n sakhorlosie

wat soos Dali s’n die bloudruk

van ’n surrealistiese tableau aftik

en stop,

is jou lewe soos jou naam

geometries verkort.    (38)

 

 

Purperwinde

Ipomoea purpurea

 

Ek kan nie my dors les aan jou

bietjies-bietjies kelkies dou;

 

onder jou blou trompettergeskal

het Jerigo se heinings platgeval.

 

Ek durf my nie aan jou voete gooi

vir momente van eendagmooi,

 

maar hoe sal ek jou ooit uitroei

as jy soos purperwinde oor my groei?  (40)

 

 

 

III

 

 

Die opdrag sê of verklap alreeds wie die teikenlesers is:

 

Vir mý mense

omdat julle die oë is

waardeur ek die blom

van die lewe al mooier, al dieper binnekyk.

 

Daar is moontlikhede in hierdie bundel, maar die soet aanslag bederf dikwels die gang van hierdie eenheidsbundel. Daar is te veel mooiskrywery en met die raad van ‘n strenger redakteurshand kon die verse beslis sterker geword het.

Helaas, helaas net te veel passieblomme van uitroepe. Geplaas langs onlangse uitstekende debute – Loftus Marais, Fourie Botha, Martina Klopper, om enkele name uit te sonder – is hierdie bundel beslis nie sterk genoeg nie.

 

Wat ‘n jammerte.

 

Joan Hambidge

 

Endnote:

 

 

The Dover Bitch (Poem)

The Dover Bitch: A Criticism Of Life

So there stood Matthew Arnold and this girl

With the cliffs of England crumbling away behind them,

And he said to her, ‘Try to be true to me,

And I’ll do the same for you, for things are bad

All over, etc., etc.’

Well now, I knew this girl. It’s true she had read

Sophocles in a fairly good translation

And caught that bitter allusion to the sea,

But all the time he was talking she had in mind

the notion of what his whiskers would feel like

On the back of her neck. She told me later on

That after a while she got to looking out

At the lights across the channel, and really felt sad,

http://anthonyhechtpoem.blogspot.com/2013/01/the-dover-bitch.html Afgetrek 2 November 2014

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Floriskoop (Nicolette van der Walt)”

  1. Alhoewel hierdie (re)sens(ie) priem, is daar duidelike riglyne vir almal wat veel dieper wil speur as blote skopie.

    Floriskoop van Nicolette van der Walt is veelvlakkig en toeganklik vir ‘n wye spektrum van lesers.

    Ek merk dat die resensent self, soos aangedui, kataliserend kosbare florine uit die flora getap het:

    “In die kalligrafie van komete
    ook jou naam in die kosmos geskryf” (sonder vraagteken)

    Laat alles dien as aansporing om alles te sien.

    Skryf, Nicolette, skryf!

    KREATIV-groete
    Myra

  2. Stefani de Villiers-Serfontein :

    Een van die vreugdes van poësie lê juis in die soetheid van ons taal.
    Nicolette, ons geniet elke soet woord wat uit jou kleurryke en kreatiewe pen of toetse vloei, en die passie waarmee jy met woorde omgaan, raak elke sensitiewe leser wat saam jou blomwoorde geniet. Die geur van jou blomverse sal baie jare nog in ons mooi taal voortleef.
    Nie alle poësie hoef kras, of sku of skraal te wees, om nalatenskap te regverdig nie.

    Ons kyk opgewonde uit na jou volgende publikasie.

    Doet zoo voort!

    Stefani de Villiers-Serfontein