Gisela Ullyatt. “In ’n niemandsland het ek verdwaal”: Johannes Kerkorrel (27 Maart 1960-12 Nov. 2002)

November 2002. Ons is op pad Suid-kus toe. Ek kry ’n SMS-boodskap van ’n ou vriendin. “Johannes Kerkorrel dood”.

Die hele karrit daarnatoe en terug luister ons na Kerkorrel-kassette. By Van Reenenspas begin Eet Kreef uitrafel; die kassetspeler spu bruin lint uit. Onherroeplik beskadig. Ek koop ’n plaasvervangende CD in Look ’n Listen Pavilion se piepklein Afrikaanse afdeling. My kop loop draaie wanneer ek op die strand is:

 

Hier kom die somer die son

hier kom die somer die son

dae soos heuning warm en lou

 

My kop rewind tyd soos ek ander kassette in die karradio terugspeel: 1991. Pas in die hoërskool, te jonk om by die 1989 Voëlvry-konsert te kon wees, stig ek en my beste pel, E, ons eie alternatiewe groep. Ons koop Eet Kreef en luister ook na Koos Kombuis. By sokkies blêr die nuutste Roxette se Joy ride, maar ons, ons luister na Kerkorrel. Ons is alternatief. Ons maak vir ons alternatiewe name op. Ons wens Houtstok het nog bestaan. ’n Jaar later koop ek Bloudruk met karige sakgeld wat ek vir maande spaar.  Later kom Cyanide in die beefcake; sommige van Kerkorrel se mees aangrypende lirieke. Daarna verval hy in die rave-kultuur met lirieke wat steeds aangryp soos “my ewige ontwykende beminde” en “sirkusdier”, maar helaas, die musiek het net nie meer die impak van byvoorbeeld Bloudruk nie. Dis ’n natuurlike fenomeen onder sangers en hulle volgelinge: die eerste generasie luisteraars en aanhangers identifiseer bloot meer met die eerste albums van die kunstenaar. Dink maar hoe Bob Dylan uitgejou is veral tydens ’n toer in Engeland toe hy van folk hero in elektriese hero ontpop het. Die wêreld gaan aan.

Forward: 2003. Kerkorrel. ’n jaar later … in die staatsteater, ’n mooi rymende titel van die DVD van die konsert wat vir Kerkorrel gehou is, ‘n jaar na sy selfdood naby Kleinmond. Talle van sy songs word gesing; Karen Zoid, toe nog die jong-opkomende-zoid, ontroer veral met haar song “Foto teen die muur” wat sy vir hom geskryf het. Haar woede oor sy selfdood is sigbaar. Haar weergawes van sy “Sit dit af” en “Ek ry ’n BMW” is rouer as rou. Die skok, steeds immer aanwesig. Stef Bos se weergawe van “Hillbrow” ontroer geweldig met sy Nederlandse aanslag. Valiant Swart (wat deur Kerkorrel as die opvolger of fakkeldraer van die post-Voëlvrybeweging beskou is) se “Kleinmond goodbye” is sag, is seer. Maar Amanda Strydom se weergawe van “Hoe ek voel” laat ’n mens voel asof hy iewers in die omstreke was. Strydom se rou pyn word veral saamgevat wanneer sy die woorde van hierdie song verander na ‘ons’ in plaas van die oorspronklike ‘ek’:

 

Sou jy weet, jy sou weet

as jy teen die tyd nog vergeet

hoe ons voel, hoe ons voel

oor jou

 

Strydom se lirieke wat sy ter herinnering geskryf het, ontruk nie die alter ego Kerkorrel aan die vergetelheid nie, maar wel Ralph Rabie, vriend en vertroueling. Die volgende lirieke (eerste drie verse) is in Kaalvoet (2004:53) gepubliseer:

 

Ek het gedroom (vir Ralph)

 

Ek het gedroom jy het opgestaan

uit jou dood

en aan my deur kom klop soos

altyd met blomme

wyn en brood

Jy sê: “Ek moes net vinnig

wegkom,” en jy maak die

bottel oop

“Ek is jammer oor die drama,

maar dis die pad wat ek

moes loop…”

 

En jy gaan sit op die rusbank

Jy glimlag verleë

My mond is droog, my hande

Beef as ek die glase vir jou gee

“Het jy enige idéé hoe ons gevoel

het met jou dood?

Jy was selfsugtig, jy was wreed.”

Jy sê: “Miss Mandy, sny die brood.”

 

En so hard soos ek probeer, kan

ek nie uit hierdie droom ontsnap

En ek sê vir God: “Meester

hierdie droom is ’n siek grap.”

Maar hier sit ons op die rusbank

en jy kyk my in die oë

en jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

 

Daar is verbasend min Afrikaanse gedigte geskryf in die twaalf jaar sedert JK se dood, maar die leser vind wel ’n roerende lykdig in Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014:98):

 

Die ander kant

Vir Ralph

Jou laaste songs het somber ondertone

van ’n finale kleedrepetisie:

in “Die ander kant” sing jy in sober swart

ontwapen voor jou demone

in ’n naamlose bos, in & uit

fokus met oë wat ontroosbaar pleit.

sommiges onder ons weet

voortydig van ons dood.

 

Jy het jou aan ’n wattelboom

vasgemaak, van alles losgemaak

& jou woorde geword,

& ’n naam op ’n dossier. Ook hiér

in die bos van die verbeelding

het die middag botstil geraak.

 

Vir sommige was hy Johnny K, vir ander die ewige ontwykende Kerkorrel van die laaste doodsrukke en -snikke van apartheid; die vergestalting van die weermag-generasie wat jong seuns soos Ralph Rabie ingestuur het en ironies genoeg apartheidsrebelle soos Johannes Kerkorrel ontketen en teruggestuur het. Vir ander was hy Ralph, die introverte joernalis, met die skerp brein en foutlose Afrikaans. Hoe dit ook al sy, hy was nie net ’n popster nie; sy lirieke was soms meer soos gedigte.

Ons het ’n nuwe protes-generasie nodig, een wat nie verswelg in sy eie plesierige vette nie. Is dit hoegenaamd moontlik? Of koes hulle vir hul BMW’s, goue plate en vintage kitaar-altare in hierdie deurmekaar en Eskom-bedonderde niemandsland? Ek gee die laaste woord aan Ralph/Johannes:

 

Derde Wêreld (Bloudruk)

Lente in die ou Transvaal

môredou en oggendlig

eerste son op sink en staal

en kolle nat groen gras

klavier se note hou my vas

gisteraand weer donderweer

 

in niemandsland het ek verdwaal

sal ons ooit weer die daglig haal

die toergids gee die reisplan aan

sê totsiens Azanië

ek groet my vriende een vir een

versigtig elke tree

en ek stap deur die spieël se raam

die derde wêreld in

 

Van die allerlaaste beeldmateriaal van Kerkorrel

is te sien op http://www.youtube.com/watch?v=cGTiynJ8pqA deur Tiny Laubscher

 

Bibliografie

 

De Lange, J. 2014. stil punt van die aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Strydom, A. 2004. Kaalvoet. Liriektekste. Parklands: Genugtig!

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Gisela Ullyatt. “In ’n niemandsland het ek verdwaal”: Johannes Kerkorrel (27 Maart 1960-12 Nov. 2002)”

  1. Marlise :

    Dankie Gisela vir ou herinneringe wat jy hier weer oopmaak en jou eie ervarings wat jy so goed verwoord. Ek sit in lieflike Groenpunt, net langs Drieankerbaai (om vir enkele dage na kleinseun om te sien) en het toe sommer my Simfy aangeskakel en luister nou heerlik na “Halala Afrika” en “Al lê die berge nog so blou”, ens. Ek onthou my seun as tiener wat aanmekaar “Sit dit af” gespeel het in sy kamer…toe koop ek maar later vir hom kopfone. Kerkorrel het pragtige lirieke nagelaat!

  2. Gisela Ullyatt :

    Marlise, ek sit nou self hier op ‘n wonderlike grou Vrystaatoggend en luister na Bloudruk. JK het ‘n groot leemte gelaat in ons Afr.musiek ‘scene’. Een wat volgens my opinie nie sommer gou weer gevul sal kan word nie. Dankie vir die kommentaar en lekker luister (sonder oorfone).

  3. Desmond :

    Op my sestiende verjaardag het ek en vriende na hom gaan luister in Kaapstad: net Kerkorrel en sy klavier, en bas en klarinet nou en dan. Hy’t ‘n hele paar liedjies gesing wat sover ek weet nooit opgeneem is nie. Dit was voor Bloudruk in my matriekjaar uitgereik is. In die middel- of laat-90’s het ek eenkeer ‘n effe futlose vertoning deur hom by die KKNK gesien, en so bietjie kontak verloor met sy musiek (ek het die laaste paar albums eers na sy dood gekoop). 12 November 2002 was egter steeds ‘n geweldige skok. Vir my en my vriende, pas in die hoërskool toe Voëlvry gebeur het, was hy ‘n onbeskryflik belangrike figuur. Ons het kitare gekoop en lirieke in Afrikaans begin skryf; ons het ons Senior Verseboek skielik met nuwe oë benader. Hy was, eenvoudig gestel, ons Dylan. Ek dink daar was voor en selfs na hom liedjieskrywers in Afrikaans wat net so goed en selfs beter was/is (David Kramer, vanselfsprekend), maar niemand was BELANGRIKER nie. Mens mis hierdie belangrikheid, die estetiese en politieke gravitas van die man, soveel te meer in ‘n tyd waar mens die heeltyd met die vulgariteit en siniese opportunisme van ‘n Steve Hofmeyr gebombardeer word.

  4. Gislea Ullyatt :

    Desmond, ek het daardie einste optrede in Bloem van hom gemis met die klavier, bas, klarinet (op 13 het my ouers gedink ek was te jonk om ‘n JK-konsert by te woon, al was dit dan maar net hy en ‘n klavier). Hy het nooit weer in Bloem opgetree nie, of sover ek weet nie. Daaroor was ek baie spyt. Hy was inderdaad die Dylan van ons generasie. Jammer dat die enigste vorm van ‘protes’ nou in Steve se manewales bestaan. Ons het ‘n jong generasie nodig wat ‘n bietjie stof opskop met oorspronklike musiek, nie musiek uit die lou-oond nie. Dankie vir jou “reminiscence”, Desmond.

  5. Wicus Luwes :

    Dankie vir die pragtige blog! Dit tower herinneringe by elkeen van ons op. Ek het weer teruggedink aan een van sy konserte wat ek bygewoon het in ‘n skoolsaal in Kimberley: Net hy en ‘n simbaal en ‘n paar backtracks. Toe die backtracks klaar was, het hy agter die skool se klavier ingeskuif en ander kunstenaars se liedjies gesing. Toe die mense die tweede keer nie ophou handeklap het nie, het hy gelag en gesê: ‘Julle is ook niks gewoond hier in Kimberley nie.’ Daarna het hy verder gespeel. Meer onlangs het ‘n paar van ons ‘n nuwe weergawe van ‘Sit dit af’ by ons kerk se basaarkonsert gesing. Ons het PW met Malema vervang. Was sommer baie pret.

  6. Louis Esterhuizen :

    In die laat 1980s het ek ‘n ongelooflike naweek beleef. Ek was toe nog onderwyser op Bethlehem en het soms vir ‘n naweek weggeloop Hillbrow toe. So het ek binne die bestek van enkele ure “The Unbearable Lightness of Being” gesien en na die Gereformeerde Blues Band gaan luister in The Black Sun-teater. Onvergeetlik gewees.

  7. Gisela Ullyatt :

    Wicus, Louis, julle kommentare laat my net weer besef hoeveel ons verloor het op 12 November 2002.

  8. Leon Retief :

    Dankie Gisela. Wicus ek wonder of ons nie dalk dieselfde uitvoering bygewoon het nie. My skoonsus-hulle het destyds in Kimberley gewoon en toe ons een keer vir hulle gaan kuier was die Groot Gariep Kunstefees (as ek die naam reg onthou) aan die gang. Kerkorrel se uitvoering onthou ek nog want dit was die enigste keer dat ons hom sien optree het. En dan was daar ‘n grusame vertolking van Brel se liedjies deur ‘n sangeres wie se naam ek gelukkig vergeet het.