Digstring: Jannie Malan. Watermerk

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 *

Watermerk

 

ek trek jou na

in 4B-potlood en grafiet

met die wegpak van die sketsboek

vee my palm per ongeluk ‘n skaduvlek deur jou

 

in my New Yorkse hotelbadkamer trek ek jou na

met ‘n vingerpunt in ‘n toegestoomde spieël

los druppers konvegeer en loop

‘n traan deur jou

 

ek trek jou na

teen ‘n wasemvlek in ‘n grou Schiphol-terminaal

oor lae lande styg ‘n vliegtuig wolkwaart deur jou op

 

met oë op skrefies trek ek jou na

langs my kar op ‘n bult net buite Moorreesburg

wuiwende groen koring word jou hare

roomvuil varkore beset jou oë

 

ek trek jou na

om ‘n vrou met ‘n latte in ‘n kafeetjie in Milaan

wat opstaan, in my rigting frons

en deur jou buitelyn weggaan

 

ek trek jou na

in die kantlyn van ‘n bundel

in jou wange is die woorde

“dis altyd jy, net altyd jy”

getatoeëer

 

ek trek jou nader

want jy is slegs die wysiging van ‘n invalshoek

‘n geduldige watermerk wat wag

net

op die reglê van die lig

 

(c) Jannie Malan (Uit: In ligte laaie, 2014: Protea Boekhuis)

 

*

Jannie, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

As ek reg onthou het ek die vers iewers in die eerste helfte van 2012 geskryf. In hierdie jaar moes ek heelwat oorsee reis vir my werk en was ek oppad na Italië. Ek moes op Schipol ‘n lang ruk op die lughawe deurbring terwyl ek op ‘n konnekterende vlug gewag het. Met die heen en weer stap om die tyd om te kry, het ek in een van die glastonnels wat die opstappunte verbind gaan staan en die aktiwiteite buite die terminaal dopgehou. Dit was toe dat ek die glas opgewasem het en onwillekeurig ‘n gesig met my vingerpunt in die wasem getrek het. ‘n Vliegtuig het op daardie presiese oomblik, bloot toevallig, van ‘n aanloopbaan opgestyg en deur die middel van die skets gevlieg. Dit was die vonk vir die skep van die gedig.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Toe die eerste, oorsprongstrofe (wat verwys na die Schipol-terminaal), eers op papier was, het dit onmiddelik die patroon bewerkstellig. Ek kon byna die hele gedig voltooi tydens die daaropvolgende vlug na my eindbestemming. Dit was egter eers ‘n losse versameling van oomblike, wat toe byeengebring moes word as ‘n volwaardige vers. Die ontknoping veral was problematies.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Soos vroeër vermeld het die vers na my toe gekom in een van daardie stadig-bewegende oomblikke, waarin jy besig is met ‘n doodgewone handeling om die tyd te verdryf – met ‘n vingerpunt ‘n patroon te trek in die wasem op die koue lughawe-venster terwyl jy staar na grondpersoneel wat bagasie karwy, betonstroke, ‘n aanloopbaan, ‘n vliegtuig wat tydsaam opstyg teen die grou streep van die Nederlandse lae landskap daaragter. En dan die skielike gewaarwording dat jy in hierdie oomblik iemand geweldig mis. Die gedagte of gewaarwording het hom dus so aan my geopenbaar, maar van daar was dit kopwerk om aan soortgelyke oomblikke te dink, en dit oplaas te omskryf tot volwaardige vers.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die vers het sy eie vorm voorgehou: Die enumerasie van verskeie insidente en ‘n enkele strofe in konklusie, asook die deurlopende repetisie van die sleutel “ek trek jou na”. Daar is geen doelbewuste chronologie aan die insidente nie – om te eggo hoe hierdie oomblikke hulle op enige tydstip mag voordoen. Die strofes is dus geplaas soos dit vir my ‘reg’ gevoel het.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het, toe ek ‘n eerste voltooide weergawe van die vers gereed gehad het, dit met enkele mense gedeel vir insae en terugvoer. Waar moontlik deel ek my verse met my vrou en met ‘n paar geselekteerde vriende – die wat ek voel darem effe in voeling is met taal en poësie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Hierdie betrokke vers het vir die eerste keer in my debuutbundel In Ligte Laaie verskyn. Dit was deel van ‘n manuskrip wat ek in 2013 aan enkele uitgewers voorgehou het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

In hierdie spesifieke gedig is die oorgrote meerderheid van die gegewens op feite gebaseer – alhoewel dit nie noodwendig die geval in al my digwerk is nie. Ek kon ‘n gelyke oomblik van verlange, soos in elk van die strofes voorkom, uit my verlede gaan oproep; of in die gebeure in dae wat gevolg het op die moment in Schipol se terminaal – herken. Die strofe wat verwys na die bundel waarin die woorde “dis altyd jy, net altyd jy” in die wange van die geliefde getatoeëer is, is die enigste fiktiewe toevoeging – en dan ook net daarin dat ek spesifiek die frase gaan kies het omdat ek N.P. van Wyk Louw se Winterbome as interteks wou betrek, omdat ek gevoel het dit ‘n gelykmatige gevoel as my eie ge-eggo het.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Hierdie, eintlik eenvoudige vers, handel bloot daaroor dat ons, in ons alledaagse handel en wandel nie die gedagte aan, of verlange vir ‘n geliefde kan ontsnap nie. Wanneer jy iemand lief het, of veral ook verlief is, is dit asof die wêreld saamspan om konstant die beeld van die beminde aan jou voor te hou. Jy kan as’t ware nie van die gedagte aan die geliefde ontsnap nie, selfs al wil jy. Hulle watermerk skuil in alles, en word konstant belig. Herinnering sit in die mees alledaagse van handelinge en is onwillekeurig en konstant.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Alhoewel hierdie gedig uit ‘n persoonlike oomblik van gewaarwording gebore is, sou ek kon aanvoer dat my spesifieke ervaring van die afwesige geliefde – hoe uniek dit ookal op daardie stadium mag voel – ‘n volkome universele belewenis is. Ander digters dig hieroor, skrywers skryf daaroor, rolprente gebruik dit as stof tot inspirasie en musikante sing daaroor. Wanneer ek skryf beur daar onwillekeurig in my agterkop ‘n klankbaan na vore, sodat ek geredelik agter die gedig en die ervaring liedjies soos Your Ghost – Kirstin Hersh, The Blower’s Daughter – Damien Rice, en Vermiste Mense – Koos du Plessis kan hoor speel. Meer omdat dit, net die gedig, ‘n bepaalde stemming probeer emuleer.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nie bewustelik nie, maar as ek dit ontleed, skryf ek moontlik in sommige gevalle wel vir ‘n spesifieke leser. Ek het na die publikasie van my bundel vanuit die terugvoer van lesers ervaar dat elke leser sy of haar eie voorkeure en interpretasie het. Ek skryf dus primêr vir myself as potensiële leser – indien ek die gedig teruglees en dit raak my, voel ek dat ek op die regte spoor is. Ek is definitief ook my eie grootste kritikus. Die vrees om ‘n swak vers te skep is konstant teenwoordig. Tog, as ek meer na die romantiese kant toe buig, het ek seker ‘n verbeelde “ideale” leser van my gedigte in gedagte – sy staan vroegoggend teen haar deurkosyn in ‘n oorgroot trui, en loer deur haar lang donker hare oor ‘n koppie koffie na die branders wat op die rotse breek, voor sy my bundel opknak in haar hand, om nog ‘n vers te lees – en wonder watter tipe mens die digter is, en of hy werklik is soos sy hom vanuit die wit spasies tussen sy versreëls ervaar.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Nie veel nie. Nie in die vrye vorm of in inhoud nie. Soos baie van my ander verse put ek uit die alledaagse as voertuig vir dieper emosie. Nes baie van my ander verse is daar ‘n versugting, die herken van ‘n leemte, die gewaarwording van ‘n gemis. Die liefde.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die vers is nie spesifiek Suid-Afrikaans nie. Heimwee of ‘suadade’ is ‘n universele ervaring. Die beeld wat besigtig word vanaf die bult net buite Moreesburg is natuurlik eg Suid-Afrikaans – asook die werk van Van Wyk Louw, waarna ek verwys.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek kan nie onthou wie dit gesê het nie, maar iemand het aangevoer dat gedigte nooit voltooi word nie, maar bloot op ‘n gegewe oomblik deur die skrywer “abandon” word. Ek voel so oor hierdie vers. Alhoewel ek uiteindelik gelukkig was met die insidente (en daar was veel meer wat ek tydens redigering verwyder het) is ek steeds nie oortuig dat die finale strofe so sterk is as wat dit kan wees nie. Ek het dit herhaaldelik herskryf, maar ek voel steeds dat die gewaarwording dat die herinnering aan die geliefde intiem in die alledaagse doen en late verweef is, nog beter verwoord kan word. Dis egter selde dat ek op ‘n punt kom waar ek voel “aan die gedig kan daar nie geskaaf word nie, hy is nou perfek”. As digter moet jy leer om weg te stap van ‘n gedig en dit aan iemand anders – meermale ‘n redakteur – oor te laat om met voorstelle te kom.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja. Verskeie lesers het dit aan my genoem dat dit vir hulle ‘n besonderse vers is. Dat dit hulle geraak het. Dit is ‘n groot kompliment vir ‘n digter.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek moes baie jonk gewees het, kort na ek leer skryf het want in my geestesoog kan ek nog die onhandige letters onthou waarin ek my eerste gedig geskryf het. Dit het iets met ‘n byeenkoms van voëls te make gehad en was getiteld: “raaf laaf”. As ek reg onthou het dit sterk van paarrym gebruik gemaak. Waarom die raaf gelaaf moes word kan ek egter nie herroep nie… en dit is dalk beter so.

Baie dankie vir jou deelname, Jannie. Ons wens jou alle voorspoed toe met hierdie stewige debuut; mag daar sommer nog vele verruklike verse uit jou belewenisse tot stand kom.

(c) Versindaba / November 2014

Bookmark and Share

Comments are closed.