Onderhoud met Eunice Basson (Leiboom)

 Eunice Basson wie se debuutbundel, Leiboom,

pas verskyn het gesels met Gisela Ullyatt

 

Gisela: Eunice, hartlik geluk met jou debuut.

Die titel van jou bundel, Leiboom, herroep ’n bepaalde beeld van ’n boom wat teruggesnoei word sodat die takke horisontaal kan groei. Die struktuur van so ’n boom herinner ook aan vertakkings van ’n stamboom. Hoe het jy op die titel besluit en watter assosiasies het jy met die begrip “leiboom” in gedagte gehad?

Eunice: Baie dankie, Gisela, vir die geleentheid om ’n onderhoud met jou te voer. Jy het reeds verder aan in een van die vrae verwys na die twee motto’s waarin herinnering as sentrale uitgangspunt dien. In die bundel word sterk outobiografiese momente aangespreek soos byvoorbeeld die titelgedig Leiboom: Pa wat handel oor die belangrike invloed wat my pa op my lewe gehad het. Hierdie soort herinneringe het vir my ’n metafoor van daardie vormende jare geword.

Die bundel word in drie afdelings afgebaken: Afdeling 1 is grootliks in ekologiese tematiek gesetel; Afdeling 2 sluit onder andere ekfrastiese gedigte in; verse oor bestemmings soos Irak wat deur oorlog verwoes is asook Noord-Afrika gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Afdeling 3 het ’n sterk verhalende neerslag wat veral staatmaak op verlies en die dood met gepaardgaande of voorafgaande isolasie van die individu. Kan jy ons meer vertel oor die proses van hoe gedigte in hierdie volgorde geplaas is en of jy nuwe verse moes skryf om die afdelings uit te brei? Kon jy dus, terwyl jy aan die manuskrip gewerk het hierdie tematiese kinkels voorsien?  

Ek het wel met verskeie temas gewerk soos wat jy dit uiteensit maar dit was ’n buitekeurder wat ’n meer pertinente afbakening of groepering van gedigte voorgestel het. Die plasing van die gedigte is aan my en na gesprekvoering met my uitgewer gedoen. Dit was egter vir my ’n moeilike proses aangesien heel party van die gedigte ewe goed in twee, selfs al drie afdelings geplaas kon gewees het. Nee, daar is geen nuwe verse bygeskryf om die afdelings uit te brei nie. Ek kon wel vroeg reeds in die ontwikkeling van die manuskrip sekere temas en verbande sien manifesteer wat deur die voorgestelde afbakening in ’n (groot) mate byeen gebring kon word.

Jy het twee motto’s ter inleiding van jou bundel: in die eerste haal jy Flannery O’Connor aan wat die pertinente invloed van kinderjare op die menslike gemoed benadruk. In die tweede haal jy Louis Buñuel aan wat die verlies van geheue aanspreek. Laasgenoemde motto is reeds sigbaar in die program-gedig, genaamd “Sandloper”. Die sentrale metafoor, die uurglas, word gekoppel aan ’n woestynlandskap en verwering wat met verloopte tyd verband hou:

 

klein metronoom van die ewigheid,

ook jy sal mettertyd verweer

en uitloop op jouself.

 

Veral treffend is die “uitloop op jouself”. Beskou jy tyd en chronologiese ouderdom as twee begrippe wat altyd saam onder die loep geneem moet word? Is die “uitloop op jouself” dus ’n keuse wat bewustelik deur ’n individu uitgeoefen kan word of is dit meer onbewustelik? Sou jy sê dat daar ’n keuse is wat geheue aan betref, dat die individu dus besluit wanneer om te onthou of te vergeet soos die jare aanstap?

Nee, tyd en chronologiese ouderdom hoef nie noodwendig saam onder die loep geneem te word nie. Wat ek in hierdie gedig in gedagte gehad het is die altyd teenwoordige sikliese van alle bestaan. Selfs die uurglas wat in sy samestelling van sand op ’n aantal minute gekalibreer is, is aan die sikliese en uiteindelike verganklikheid onderworpe. Wat Buñuel se aanhaling betref: gaan hy in dieselfde aanhaling selfs verder en sê: ‘…Life without memory is no life at all…our memory is our coherence, our reason, our feeling, even our action’. Ek glo wel dat die mens oor die vermoë beskik om selektief te kan onthou…of te kan vergeet, behalwe wanneer daar ’n daadwerklike fisiologiese verbrokkeling van die menslike verstand sou plaasvind. Die twee motto’s is vir my bevestigend van die belang wat herinnering (memory) in die skeppingsproses speel. Alle skeppende werk is in ’n (groot) mate outobiografies van aard omdat die bron (herinnering/memory) waaruit die skeppende individu idees tot stand bring, heel dikwels ook daardie vlietende momente, fragmente en ervarings van ’n kindertyd opsoek.

Om terug te keer na die O’Connor-aanhaling: sou jy saamstem dat ’n digter se kinderjare die grootste opwekker van kreatiewe energie en dus die skryf van gedigte is? Dink jy daar bestaan ’n verband tussen die neiging tot gemoedsversteuring en selfdood onder veral digters omdat daar bepaalde oomblikke in hulle kinderjare was wat hulle selfs nie deur skryf kon verwerk nie? Dink jy die proses van dig is ’n beswering en oorlewing van die kinderjare?

Ek het in die vorige punt verwys na die belang van blywende indrukke uit die (skeppende) mens se kinderjare waar positiewe of negatiewe ervarings as eerste lewenservaringe beleef word en later dikwels as deurlopende en blywende Leitmotiv  deur ’n skeppende lewe verweef word. Ek wil nie net die digter hier uitsonder nie maar eerder verwys na die skeppende individu hetsy die beeldende kunstenaar, komponis, dramaturg, akteur wat in sy of haar gekose vertolkingsmedia kreatiewe uiting vind teen moontlike gemoedsversteuring. Dit is nog altyd die kreatiewe, (sensitiewe) mens wat in ’n gekose medium probeer oorleef en sin maak van die daaglikse kompleksiteite en waansin in en om ons.

In “Reën in die Wildtuin” (16) dig jy oor “Stapelwolke oor die Lebombo’s” wat “’n Pierneef-stasiepaneel [word]”. Ook in gedigte soos “Het jy al die wind gesien” (17), “bondel” die “wolke soos wasgoed” en in “Stam” (18) “hits die wind/’n grysgrou wolkbank aan”. Is daar ’n spesifieke betekenis in wolke opgesluit wat jy met ons kan deel? Behalwe Pierneef, is daar kunswerke of foto’s wat die wolk-tematiek ontsluit het? Is hier dalk ’n raakpunt tussen die ekologies en kuns-gebaseerde tematiek wat in jou verse voorkom?

Daar is bepaald raakpunte tussen onder meer die ekologies en kuns-gebaseerde tematiek en ek skryf/dig dit toe aan my dagtaak as kunshistorikus waar ek heeltyds visueel met die beeldende kunswerk gemoeid is. Daar lê nie vir my ’n spesifieke betekenis in wolke opgesluit nie behalwe dat ek heeltyd bewus is van my onmiddellike Umwelt omdat ek ook tuinwerker is en soos enige tuinentoesias wolke toe kyk vir daardie bui reën. Binne die Suid-Afrikaanse Kunsgeskiedenis, spesifiek in die uitbeelding van die landskap is daar ’n legio voorbeelde waar wolke/wolkformasies ’n belangrike bindende komposisionele element uitmaak van die ikonografie. Ek dink hier aan die werk van Walter Meyer, Hermann Niebuhr, Maggie Laubser, Volschenk, Estelle Marais, MJ Lourens, Roworth, Domsaitisen soveel ander skilders maar dit is net ’n Pierneef wat die opstapeling van cumulus wolke oor ’n bosveldlandskap kon vaslê.

Van jou gedigte vang ’n byna Hoppereske atmosfeer vas; ’n tipe “poetry of solitude”, om die titel van Gail Levin se The poetry of solitude. A tribute to Edward Hopper, te steel. Een van die gedigte wat aan ’n Hopper-skildery herinner, is “Storm”:

en ’n vrou die luike digtrek

in ’n kamer waar ’n man

halfblind en sonder taal

al veertien jaar haar oog wil vang

 

Soos dikwels gevind in Hopper se kuns is hier ’n toespeling op die spel tussen skadu en lig asook die isolasie tussen man en vrou wat ruimtelik verbonde is aan mekaar maar wat die emosionele grense nie kan of mag oortree nie. Isolering van die individu en stommiteite van die menslike aard word dus ook blootgelê. Jou kunshistoriese agtergrond in ag genome, het Hopper ’n effek op jou gedigte gehad of is daar ander meer spesifieke kunstenaars wat dalk iets te make gehad het met die stemming van jou verse?

Ek is natuurlik bewus van Hopper se werk (ook die ongemaklike stil ruimtes van De Chirico) maar binne Suid-Afrikaanse kunshistoriese verband is dit die werk van John Clarke wat tot insig en inspirasie dien veral in die wyse hoe hy na die natuur/landskap kyk. Alhoewel die menslike figuur in sy werk afwesig is, is dit die oorblyfsels van mensgemaakte strukture in die landskap wat sy aandag hou. Oorblyfsels soos ruïnes, takkrale, die opstapeling van vuurmaakhout, bakens ensovoorts word subtiel in die landskap geplaas as rigtingwysers van die nie-sigbare teenwoordigheid van menslike aktiwiteit. Mettertyd het die landskap vir hom ’n mantra geword, ’n meditasie van sy herinneringe aan sy jeugjare in Barberton en daarom verwys ek eerder na sy huidige werk as ‘die landskap as stillewe’. Die toeskouer is dus deurentyd bewus van menslike aktiwiteit binne ’n gestroopte, stil ruimte soos wat Hopper dit ook so goed oordra. Simon Schama is vir my ’n verdere inspirerende skrywer  veral sy werk getiteld Landscape and Memory. Dit is ook Schama wat elders gesê het: ‘Before it can ever be the repose for the senses, landscape is the work of the mind. Its scenery is built up as much from strata of memory as from layers of rock’. Hierdie gedagte benadruk elemente van die outobiografiese in gedigte soos “Verkenning”, “Tuinfragment”, “Palimpses”, ensovoorts.

Kan “Laokoön van die Bosveld” (19) as ’n moontlike toespeling gelees word op die marmerstandbeeld wat in die Vatikaan gevind kan word? En terselfdertyd dalk Gotthold Lessing se essay, geskryf oor die beperkings wat die skilderkuns en digkuns inhou?  Verwys die “groot slang” byvoorbeeld na die seeslang in Vergilius? Indien ja, hoe het jy die Bosveld en die klassieke mitologie in verband gebring?

In my geestesoog het ek bepaald die Laokoön in die Vatikaan baie duidelik gevisualiseer maar hierdie gedig het sy ontstaan deur my tuinier, Piet Moshidi, na wie ek in die gedig verwys, se vertelling een oggend van die hewige geveg en slagting van  die luislang. Verslagdoening oor die gebeure is dus hier aan die orde van dag. Waar ons deur ’n Eurosentriese oog en verwysingsraamwerk na die Laokoön in die Vatikaan kyk (Lessing, Vergilius ens.), is ek in die vertelling van Piet Moshidi blootgestel aan ’n ander soort worsteling waar hulpmiddels soos pangas en knopkieries ingespan is om te seëvier en dan ook die uiteindelike finansiële gewin wat hierdie onverwagse vonds vir sy oom ingehou het. Daar moes eenvoudig iets tot stand kom in hierdie skreiende kontras.

Die leeumier, mier, en vlieënde mier, soos wolke, is ekologiese beelde wat deurlopend in jou werk neerslag vind. In “Vlieënde mier” (21) kom die verganklikheidstema veral sterk deur wat berus op die fisiese botsing (“knak”) van die vlieënde mier teen die mensgemaakte “voorruit en reënveër”. Het jy die ondergrondse labirint van Knossos van Koning Minos in gedagte gehad met hierdie versreëls:

 

Maande, jare selfs, wag jy

in doolgange van die ondergrond.

 

Indien nie, waaruit het jy jou inspirasie en metaforiek geput vir hierdie gedig?

Hier moet ek verwys na ’n baie eenvoudige verklaring naamlik dat ek in my motor op pad huis toe was. Dit het vir ’n paar dae sag gereën, genoeg om die vlieënde miere (termiete) tot aksie te dwing. Voor my oë by ’n rooi verkeerslig, het ek binne sekondes die skrikwekkende kortstondigheid van so ’n termiet beleef toe die mier teen my reënveër vasvlieg en dit binne ’n oomblik weggevee is. Dit was daardie ‘oomblik’ wat ek probeer verwoord het. Nee, ek het nie na Koning Minos uitgereik nie maar eerder na Eugène Marais en gaan lees hoedat termiete vir jare ondergronds funksioneer om op ’n gegewe moment, dikwels na langdurige reën, hul verskyning in vlug te maak.

Een van jou ekfrastiese gedigte, “Butcher Boys” (42), verwys na die omstrede beeldhouwerk deur Jane Alexander waar daar drie naakte Minotaurus-agtige figure op ’n bankie sit. Die laaste strofe lees as volg:

 

Roedes platgestryk, monde gesnoer,

maar ons oë volg jou waar jy gaan:

in jou vrees

vind die eintlike slagting plaas.

 

Hierdie gedig herberg veral wat R.D. Laing “ontologiese onsekerheid” (ontological insecurity) sou noem (gebaseer op sleutel-gebeure en -faktore in die kinderjare); dat dit die individu se eie persepsie van gebeure is wat ontologiese sekerheid afbreek. Vrees ontstaan dus uit chroniese ontologiese onsekerheid wat dan ’n ketting van patologie vorm en aan die volgende geslag oorgedra word (“transgenerational transference of neuroses“) Sou jy sê dat daar ’n sterk verband bestaan tussen die bundelmotto van O’Connor en hoe vrees in die individu gegenereer en selfs opgesweep word?

Dit kan moontlik so gelees word maar dit hang natuurlik af van die individu se ervaringswêreld uit sy/haar kinderjare. Vir my is hierdie kunswerk een van die visueel sterkste werke wat in onlangse jare in ons land geskep is. Vanuit die kunshistoriese hoek val dit vir my noodwendig op hoe elke toeskouer hierdie brute, stil uitbeelding van geweld (noem dit ook vrees) sal ervaar aangesien elke toeskouer voor hierdie beeldhougroep kom staan met sy/haar eie verwysingsraamwerk van moontlike ‘ontologiese onsekerheid’.

Ter aansluiting by die leitmotiewe van “vrees” en “slagting”‘, val jou gedig “Nuusleser” (33) my op (wat aan die destydse SABC 2-nuusleser, Suzaan Steyn, opgedra is). Hier word vrees ’n globale, nie net ’n lokale fenomeen nie:

 

Tereg waarsku jy die sensitiewe nuuskyker:

dat ’n kindertuin in Gaza getref is,

die lyk van ’n bekende vrou langs die N1 gevind is

(die polisie wil haar man ondervra),

dat daar nóg ’n plaasmoord was (’n TV word vermis),

motorverkope gedaal het

en ’n stormsterk wind woed aan die Kaap.

 

Dink jy Suid-Afrikaners het ’n groter rede tot vrees en dat dit meer uiting vind in byvoorbeeld ons digkuns as lande waar inwoners nie soveel te kampe het met geweld op ’n daaglikse basis nie? Of is dit hoe die individu met die daaglikse “belofte” of dreiging van geweld omgaan?

Nee, ek dink nie dat Suid-Afrikaners noodwendig ’n groter rede tot vrees het nie. Ek dink die Suid-Afrikaanse samelewing is verteenwoordigend van die universeel menslike gesteldheid, die sogenaamde ‘human condition’. Mens kan maar net op daaglikse basis enige koerant of nuuskanaal opsoek. Ek glo wel dat fasette van vrees (wat meervlakkig beleef word), in mindere of meerder mate in die digkuns in lande neerslag sal vind waar konflik heers.  Hierdie gedig het eenvoudig tot stand gekom na aanleiding van die daaglikse verslagdoening van gewelddadige nuus.

“Vroegoggend op straat” (53) handel oor ’n swart egpaar van wie die man aan ’n rolstoel gekluister is vanweë taxi-geweld: “Lucas wat die mandjie vashou,/die dom hand roerloos in sy skoot,/met bril en selfoon om die nek”.

Hierdie gedig het sekere raakpunte met Antjie Krog se gedig, “Klein vrede”. Ek plaas “Klein vrede” en dan “Vroegoggend op straat” hier ter wille van lesers ten einde vergelyking te vergemaklik:

 

“Klein vrede”

 

Vanmiddag wag sy vir hom in ’n klein

hoëmuurhuisie

half toe-oog ingekruip agter ’n

straatstoepie

 

5.12 hang hy sy hoed aan die haak

trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater

deur die koffiesak

 

vee haar hande aan die geblomde

voorskoot en wag darem

dat hy haar eers teen hom vasdruk, so

skuinserig met die een arm

 

voor sy hom die dag se nusies vertel

die gat in die heining, die hond, Anna-

jannie het gebel

 

Na ete haal sy die Bybel uit die boonste

laai

en hy lees vir hulle van Israel se afgode

teen die berg Sinaï

 

bokant die dak

sy was skottelgoed met lifebuoy en ’n

omgesoomde meelsak

 

hy luister nuus op die treetjie by die

agterdeur

oor dinge wat met ander mense in die

wêreld gebeur

 

Later as die luggie begint trek

die windpomp klap-klap in die dam in lek

 

sit hy die sproeier af, maak die

hoenderhokke toe

sit die kat uit en kom langsaam kamer toe

toe.

In die na-nag as die wind uit die noorde

begin

skuif die maan oor hul bed dieper die

kamer in

 

tot op die woorde geraam in krulle:

My vrede gee Ek julle.

 

 *

 

“Vroegoggend op straat”

 

Vroegoggend se koerantplakkate

gaan aan haar verby;

sy dink aan die kooksel boontjies,

reg vir die aand se pluk;

Lucas wat die mandjie vashou,

die dom hand roerloos in sy skoot,

met bril en selfoon om die nek;

Lucas wat die in die groentetuin

steekvlieë en kewers afmaak

tussen voorvinger en duim;

 

sy dink hoe sy vandag sal stryk en stofsuig

om brood te win vir haar en Lucas,

in ’n rolstoel ná taxi-geweld;

getroos dat die versekering betaal vir paadjies

om hul huis, dat hy onder die bruinvy

en lukwartboom kan sit.

 

Wanneer hy vanaand haar hande

in sy slim hand toemaak,

vir haar en vir die wêreld bid,

is sy dankbaar vir die lewe

 

met ’n man en ’n kat  –

vir die vrede.

 

Wanneer vergelykenderwyse te werk gegaan word is dit duidelik dat daar dan ook ’n hele paar verskille voorkom. Tóg is daar is aansluitings: eerstens handel beide gedigte oor ’n egpaar; “Klein vrede” word egter vanuit ’n wit werkersklas-perspektief aangebied. Beide vroue verrig tradisionele rolle; Krog beskryf byvoorbeeld hoe die vrou skottelgoed was. In “Vroegoggend” dink die vrou “aan die kooksel boontjies”. Beide huishouding het toevallig ook ’n kat. Daar is egter ook diepgaande verskille: die swart vrou se huishoudelike take verdubbel omdat sy as huishulp werk; sy is dus die enigste broodwinner: “sy dink hoe sy vandag sal stryk en stofsuig/om brood te win vir haar en Lucas”. Daar is nog verskille en ooreenkomste wat tussen dié twee gedigte getref kan word, maar wat buite die beperkte bestek van die onderhoud val.

 

Die strofe wat my egter uit beide gedigte die meeste opgeval het waar die twee afsonderlike egpare saambid:

 

(“Klein vrede”)

 

Haar hande vou ’n stopskulp in syne as

sy bid:

Onse Vader wat hoog bo die aarde in die

hemel sit …

 

(“Vroegoggend op straat”)

 

wanneer hy vanaand haar hande

in sy slim hand toemaak,

vir haar en vir die wêreld bid,

is sy dankbaar vir die lewe

 

met ’n man en ’n kat –

vir die vrede.

 

Die fisiese verskil in die “handevat” van die twee egpare word dan ook metafories van hulle verskeie situasies: in “Klein vrede” word ’n “stopskulp” uit hulle hande gevorm, wat die man as broodwinner en beskermer uitbeeld. In “Vroegoggend op straat” kan Lucas slegs sy vrou se hande in sy een “slim hand” toevou. Hy kan dus fisies nie as broodwinner optree nie maar eerder as spirituele beskermheer deur sy gebede.

Vertel ons meer van die agtergrond van jou gedig. Wou jy bewustelik in gesprek tree met Krog se gedig of is die raakpunte lukraak?

Ongelukkig ken ek nie hierdie gedig van Antjie Krog nie en die raakpunte is heel toevallig. My gedig het tot stand gekom na aanleiding van ’n gesprek met my huishulp en haar vertelling dat haar bure iemand gekry het om paadjies om hulle HOP-huis te kom lê sodat die man, wat daagliks in die tweekamerhuis gekluister was, nou met sy rystoel na buite kon beweeg. ’n Uitbetaling deur die Pad Ongelukke Fonds het dit bewerkstellig. ’n Tweede aspek wat as grondstof vir die gedig gedien het is die menigte huiswerkers wat ek op ’n vroegoggend stap in my woonbuurt teëkom en met wie ek kortliks in gesprek is en vinnige ditjies en datjies uitruil. ’n Bron van klein en groot geskiedenisse.

Oorsigtelik beskou, bind Afdeling 3 verskeie temas saam: buitestanderskap (“Sterrewag” (62); “Bibliotekaresse” (67) en “Opgaarder” (71)); selfdood (“Moerbeiboom” (63)); elegiese verse oor ’n moeder en vader (“Hoe skryf jy oor jou ma (64); “Leiboom: Pa (82) en “Inventaris” (87)); verlies deur die verlies van ’n baba (“Haar oë het jy nooit gesien nie” (65)); gaywees (“Ma se kind” (66) en “Ou Queen” (69)); verlies wat die ouderdom meebring (“Salon” (69); “Aftelrympie” (81) en “Aftreeoord” (86)) asook geweld teenoor vroue (“Ter aarde” (72)).

Watter temas is jy ten nouste mee verbonde en dig jy lankal oor hierdie temas? Hoe word die motto’s van Leiboom hier gekodeer of gedekodeer? Het jy met die seleksie van gedigte wat binne hierdie afdeling val meer outobiografies te werk gegaan?

Hierdie Afdeling is juis die Afdeling waarin sekere gedigte gegroepeer is wat net so gemaklik in, sê nou maar Afdeling 2, en selfs in Afdeling 1 staanplek kon vind. Ek wil weer eens beklemtoon dat die plasing van gedigte vir my werklik ’n moeilike proses was. Uiteraard wou ek sekere outobiografiese materiaal byeen bring en daaroor skryf, soos verlies aan ouers, die sloping van ’n ouerhuis en ou tuin, spesifieke jeugherinneringe ensovoorts. Die motto’s onderskraag/begelei hierdie versameling gedigte, maar dan is daar ook die bloot ‘alledaagse’, gewone waarnemings wat hier neerslag gevind het.

Is daar ‘n spesifieke gedig wat jy as lusmaker met Versindaba-lesers wil deel?

 

Stillewe

In ’n houer kyk onsiende albasteroë

in alle windrigtings;

ontleedmesse sal elke sening

lossny uit die kop en vel

waar rooibekrenostervoëls

eenmaal luise losgesnawel het.

Statig soos ’n wapenskild was hy

verskans tussen die nuwe groen

toe ’n visier sy blad gekruis het

om hom van niets af aan

volgens sy aard te hermonteer,

sy lewe aan te bied as ’n trofee.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Eunice Basson (Leiboom)”

  1. Francis :

    Hartlik geluk met jou debuut, Eunice. Interessante onderhoud.

  2. Elsa :

    Hierdie voorgereg klink goed, kan nie wag om Leiboom aan te skaf nie! Veels geluk Eunice met hierdie debuutbundel.

  3. Johann Lodewyk Marais :

    Eunice Basson, jou gedigte is keurig versorg en die bundel maak ‘n stewige indruk.