Fanie Olivier. Huldeblyk: Charles Fryer (1946 – 2014)

oor charles – ’n skitterende kind van die wind

(vir lorreine, wat sal onthou)

 

daar is soveel mense wie se paaie joune kruis.

maar met hoeveel paaie ry jy saam, wil ek maar vra:

swaar dra al aan die eenkant; ligweg sommer

veld-in met sy tuisgemaakte rooiwielwa.

 

hoeveel piekniekplekke vir die hart [“kom-kommer”

had hy dit genoem] se taal; hoeveel werwe uitgewaai;

hoeveel klinkers uitgevat; hoeveel konsonante

saamgenooi na die agterland, vir hessie-se-draai.

 

strompelend begin mens lees. dis waar ook lees

ek vir die tweede keer vir praat; ek kan maar raai

oor skryf, skryf dié wat weet. maar stil se baie kante

kom skielik vanself, maklik soos ’n ongeluk kan wees.

 

op ’n dag raak jy moeg, alleen. pak uit; pak op. kom tuis.

 

 

Net ’n paar van ons het hom geken as Adam Kadmon, die reus van die Wilcocksgebou op Stellenbosch. Vir ander was hy mnr. Fryer, in die dae van assistente en vier professore, dasse en gestrykte broeke,  die jaloerse bewaker van Dirk-der-Duisende. Bedeesde vriende het hom Charles genoem, maar net Loreinne kon hom om haar vinger draai.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Dis ’n koue Poolse donkeraand as ek by ons wooneenheid [hoe goed sosialisties klink dit nie?] opdaag en hoor dat Charles Fryer dood is. So, net so, sonder dat ek ooit weer kans gekry het om te gaan groet doer onner innie Kaap in.

“Gaan groet” is nie ’n Charles-ding nie: by hom in sy studentekamer, by hulle aan huis, op sy netjiese uitgewerskantoor was dit altyd “kom” groet. “Gul” – dis nou die soort woord wat hom kon omvat.

Ek onthou hom as die skrywer van “Die vampier”, grotesk heerlik opgevoer in die Libertas-teater [was dit] met kollega, woordvriend Etienne Boris Britz ’n flappende mantel deur die saal, teaterbloed stromend uit die mond.

Later sou hy, sou ek, al die destydse opslagboompies, veel meer weet oor bloed. Wanneer dit kruip waar dit nie moes loop nie, oor dooiemansdeur se drumpel. As die sensman kom rondkap in ons bos.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Daar was soveel ligte somersmiddae, onbesonne en onbesonge. En aande rondom gedigte wat uitgroei oor die wyn. Die geboorte van penseel en later die geboorte van ’n eerste kind. En daarna.

In Goodwood was ek bevoorreg om baie oorslaapkuiers te kon maak, maar die gesprekke was stiller, die land aan die brand.

Ek onthou hoe hy ver kon kyk saam met Nat King Cole se “The sweet bird of youth”, wat ek vir jare daarna tevergeefs gesoek het op elke nuwe versameling ou dinge. Maar as iemand wil weet, gaan soek hartseertroos op You Tube.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Baie het hom geken as die reus by Tafelberg, die re-write man wie se naam nooit in ’n boek sou verskyn nie, maar sonder wie daar baie skrywers nie eers ’n naam sou gehad het nie. Hulle sal weet wie hulle is en hopelik onthou dat sy skraal plekkie op die rak daaraan toe te skryf is dat hy vir hulle ’n staning gemaak het.

En, ja, besef ek nou: daar is ’n hele geslag of twee se digters wat nie eers weet wie en wat Charles Fryer was nie. En studente in die oorvol Stellenbosch.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

In die buitestreke van die binneland, in die binnestreke van die buiteland, sterf mens die Kaap af. Word dit gewoon net nog iets ver, soos die Hantam. Jy moet op besoek gaan om daar te kom.

Ek is jammer, ou maat, Lorreine en die kleintydkinders, dat ek so sleg en so alleen gereis het.

Ek haal my hoed af, seur:  The sweet bird of you can’t fly away.

 

© Fanie Olivier / 15 November 1014

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Fanie Olivier. Huldeblyk: Charles Fryer (1946 – 2014)”

  1. Heilna du Plooy :

    ‘n Baie mooi en waardige huldeblyk. Dankie Fanie. As mens en as uitgewer het Charles respek en waardering en toegeneentheid afgedwing.

  2. Joan Hambidge :

    En hierdie een van Petra staan op Litnet:

    http://www.litnet.co.za/Author/6269/Petra%20Müller

    Dankie Fanie

  3. Danie Janse van Vuuen :

    Dit het my geraak!

  4. Ponnie van der Merwe :

    Dankie Fanie, dis roerend om al dié mooi dinge te hoor uit die pen van ‘n man wat altyd sy woorde reg kon inspan. Maar wat weet almal van Charles Fryer van Kriekbult voor 1964? Nou-die-dag ry ek, met ons 50jaar reünie, daar verby en verwonder my aan al die talent wat vanuit daardie wortels so half ongewaardeerd in ons midde gesluimer het. Maar Charles se toneel-kreasie oor die bul moet wyer gedeel word. Die storie, in Ingels nogal, was van twee cowboys wat op ‘n “collision course” êrens heen op pad was in ‘n saga wat in ‘n stiergeveg sou kulmineer. Dit was so ‘n baster “musical” van beperkte talent en ek en Charles was die cowboys. Ek het Hasta Luego pure Slim Whitman uitegekerm en ek sien Charles nog so agteroor sit en “strum” met sy rendisie van Dark Moon. Dit was seker ook die eerste keer waar Charles die wrede brak van sensuur aan hom voel knibbel het, want Ta’ Jossie, ons Engels-onderwyseres was glad nie geneë met selfs sy in-frekwente gebruik van “bloody” nie. Ons het sensuur vrygespring toe sy darem later verstaan het dat ‘n cowboy sonder “bloody” net sowel perdloos sou kon wees. Die hoogtepunt, onbeplan deur ons talentvolle outeur, was die drama gedurende die stiergeveg. Carel Anthonissen, ons matador, moes teen ‘n bul veg, wat bestaan het uit Willem Carstens voor en Japie Nel agter, onder ‘n laken met horings. Toe die bul trustaan om te storm, trap sy agterpote van die verhoog af en Japie tuimel gat-oor-kop vloer toe met net ‘n wit onderbroek en grys skoolsokkies aan. Die bul se voorpote wankel armswaaiend op die verhoog se rand en al wat die matador kan skreeu is:”Bring me another bull!” Die skrywer se literêre talent het versuip in die fiasko van ‘n losgetorringde Afrikanerbul, maar die warme herinneringe aan die aand van die kruppel bul sal ons Calvinianers wat daar was altyd bybly. Verdere sensuur teen “geweld en naaktheid” het hy genadiglik ook vrygespring. Ons groet jou Charles. Ook jou jong dae was vir ons mooi. Johannesburg. 17 November.

  5. Anton Dockel :

    Na ons dekades lank uit kontak geraak get, het ek Lorreine gebel om te simpatiseer en sy het my vertel wat sedert 2002 gebeur het.
    Beroerte
    (vir Lorreine Fryer)
    Sy lewe kom terug
    hartklop
    en asemhaal
    en oë wat wys: hy sien,
    maar woorde is weg

    Ek bou die spraak
    wys die tong hoe
    om die gedagte na te maak,
    die terapie leer my.

    Toe na maande hoor ek hom sê
    ek het jou lief
    ek wonder, bedoel hy dit?
    ek weet hy moes
    so baie my stem hoor