Joan Hambidge. Charles Fryer (1946 – 2014)

Charles Fryer (1946 – 2014)

 

 

Ek knip my naels so eksie-perfeksie

vir my indertydse uitgewer

vir die man met die groot-groot lag

vir hóm met die bont-bont das

in wie se netjiese hart

soveel onrustige digters kon pas.

 

Sonder horlosie op die arm

potlood in die hand

stip hy nougeset

in die kantlyn vrae aan

oor ‘n rymdwang, slot

of onsoepele toespel.

 

Nou is die sirkel voltooi

en die o-klanke

van mý klein rooiwielwa

sou hom beslis nie ontgaan.

Heengaan, weggaan, trustaan?

Gaandeweg verlaat ons tog dié spel.

 

In die omtes van jou groot-groot hart,

vergeef tog dié ongebreidelde smart:

“van julle sal ek niks meer vra,

ek gaan saam met die rooiwielwa.”

Dit prik, dit vlym, dit skryn

hierdie afskeid aan die Hantam-man.

 

 

 

© Joan Hambidge /2014

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Joan Hambidge. Charles Fryer (1946 – 2014)”

  1. Ai! Dis ‘n man wat ek altyd graag wou ontmoet. Dit was my nie beskore nie. Maar deur hierdie woorde en dié van ander leer ek hom beter ken. En ek treur oor iemand wat ek nooit geken het nie. Soos om na vreemde foto’s te kyk, en om klein grepies wat vir jou ook waar is, daaruit te neem.

  2. Elza Lorenz :

    Ek salueer jou, Joan, vir hierdie egte hulde aan hom.

  3. Evette Weyers :

    Joan jou poësie is vir my so veelkantig, vol weerklanke en intiem soos asem. Baie dankie.