Resensie: “Fragmente uit die Ilias van Homeros”, vertaal deur Cas Vos

Fragmente uit die Ilias – Homeros – vertaal deur Cas Vos
Resensent: Gerhard Swart (dosent in Grieks in die Departement Antieke Tale, UP)

Cas Vos praat in dié digbundel nie oor homself nie – nie oor sy lewe nie, nie oor sy loopbaan as digter, as teoloog, as akademikus, as voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria nie – ook nie oor persoonlike terugslae, soos ’n byna persklaar digbundel wat in een rampspoedige nag sowat twee jaar gelede vergaan het nie – en ook nie oor sy onblusbare ywer, om maar net weer opnuut te begin en sy kreatiewe energie in nuwe rigtings te stuur nie. Nee, hierdie bundel praat nie selfbewustelik oor Cas Vos nie; en tog hoor ek hierin ’n getuigskrif (kan seker maar sê “hoor” – het mos ook by geleentheid gesê ek “sien” hier hoe glansend en digterlik Homeros Afrikaans praat) ’n getuigskrif oor Cas Vos, die wetenskaplike en woordmeester – Vos die navorser en Cas die kunstenaar. Hierdie bundel fragmente is die werk van iemand wat by uitstek taalmens is – hartstogtelik lief vir taal; lief vir tale; vir sy (ons) taal, maar ook vir alle tale.

Kyk maar na die balans in dié bundel. Dit beslaan bykans 160 bladsye – 80 oor die Ilias, 80 uit die Ilias. Die “vooraf”-materiaal hanteer die invloed van Homeros se werke, van die antieke Griekse en Romeinse beskawings, deur die Middeleeue, die Renaissance, tot vandag toe. Vos praat ingelig en onderhoudend maar tog bondig, oor Alexander die Grote, oor Vergilius, oor die filosowe Plato en Aristoteles, oor beeldende kustenaars deur die eeue heen; oor Dante, Poliziano, Diderot; oor Chaucer, Shakespeare; oor verhaalskrywers van James Joyce tot Madeline Miller. Dit is eintlik verkeerd om te sê Vos praat oor hierdie figure – nee, hy praat met en deur hulle oor Homeros en oor die inspirasie wat vanuit die Ilias en die Odusseia ons denk-, voorstellings- en uitdrukkingswyses tot vandag toe steeds skeppend beïnvloed.

’n Kort maar insiggewende bespreking van die formeel-poëtiese kenmerke van die Homeriese eposse en hoe dit poësie in veral die 20ste eeu beïnvloed het, bring ons by Vos se eerste digterlike bydraes in hierdie bundel, waaronder een veral uitstaan: sy diep ontroerende vertaling van Konstantinos Kavafis se treurlied oor Patroklos se dood:

Patroklos se perde het begin huil
toe hulle sien hy het gesneuwel,
hy was so dapper en sterk en jonk;
hulle onsterflike natuur was gekwets,
getuies van die dood se slagting.
Hulle skud hul koppe, hul maanhare kroes,
stamp hulle hoewe op die grond, en rou
oor Patroklos, hy was sielloos – afgetakel –
sy vlees van geen waarde – sy gees verlore –
magteloos – asemloos –
het hy van hier na die groot Niks teruggekeer.
Zeus het die onsterflike perde se trane gesien
en hom oor hulle ontferm. Hy het gesê, “Ek moes
nie so onwys by Peleus se troue opgetree het nie;
as ons julle liewer nie weggegee het nie,
nie met ongeluk opgesaal het nie! Wat doen julle
by veragte mense, noodlot se speelgoed.
Nóg die dood nóg grys jare kan julle agtervolg,
nietemin teister vlietende rampe julle.
Mense sleep julle by hulle lyding in.”
Maar trane van edel diere was ’n vloed
teen die dood se eindelose rampspoed.

Ná ’n bespreking van die Ilias se afdrukke in die Afrikaanse poësie en ’n kort besinning oor die taak en uitdagings waarvoor ’n vertaler te staan kom, volg ’n ietwat meer uitgebreide maar tog bondige oorsig oor die storielyn van die Ilias – ’n oorsig oor die inhoud van elk van die 24 “boeke” waaruit dié lang epiese gedig bestaan. Hierdie oorsig is heel gepas getiteld “Konteks”: Vos skets hier met behendige lyne die agtergrond waarteen sy vertaalde fragmente – ’n keur van tonele of insidente uit die ontsaglike skatkis wat die Ilias is – duidelik verstaanbaar afgeëts staan.

Dié deel van die bundel was nie nodig, in die sin dat dit nodig kon wees om te verduidelik waarom ’n digter soos Vos ’n vertaling van die Ilias sou onderneem nie. Dit is egter nodig en nuttig vir ’n geslag wat waarskynlik nog iets soos “epos” onthou, maar dit hoeka al verruil het vir meer opwindende vorme van kommunikasie soos Facebook en Twitter – en moontlik ’n paar ander waarvan hierdie resensent nog nie eens weet nie … Dit is ook nuttig vir dié onder ons wat al baie van die fyner besonderhede wat ons bevoorreg was om in ons jonger dae oor die antieke wêreld te leer, vergeet het.

Maar dan – as ek met die haas en ongeduld eie aan ons eeu eenvoudig hierdie bundel in die middel oopslaan, kom die seegodin Thetis onmiddellik aan die woord. Nou tree Cas Vos heeltemal op die agtergrond, sodat die Homeriese karakters – gode met menslike eienskappe en mense byna goddelik in hul durf en daadkrag – die leser se aandag direk en dwingend kom opeis. Nou is Homeros aan die woord – en ek juig om hom glansend en digterlik Afrikaans te hoor praat!

In ’n poging om die leser ’n kykie in die vertaler se werkswinkel te gee, het ek ’n toneel aan die einde van boek VII gekies – ’n kort stukkie teks (reëls 476-482) wat die opponerende magte weerskante van die stadsmuur (die Grieke buite en die Trojane binne) rustig feesvierend teken teen die dreigende agtergrond van ’n voortslepende oorlog; en hoog – so hoog soos berg Olimpus – bokant hierdie toneel is die dondergod bose planne aan’t smee dat die vonke spat. Hier volg die Afrikaanse prosavertaling deur J.P.J. van Rensburg (1952:112):

Dwarsdeur die nag het dielanghaar-Achajers toe feesgevier, en ook die Trojane in die stad, enhulle bondgenote. Maar dwarsdeur die nag het die alwyse Zeus vir hullerampe bedink, en skrikwekkend gedonder. En ’n bleek vrees het hulleoorval. Hulle het wyn uit hulle bekers op die grond uitgegiet; ja, niemandhet dit gewaag om te drink alvorens hy nie aan Kronos se oppermagtigeSeun ’n plengoffer uitgestort het nie. Daarna het hulle mos gaan lê endie gawe van slaap aanvaar.

Van Rensburg waarsku sy lesers in ’n voorwoord dat pogings om die versmaat van die oorspronklike Griekse teks “in moderne tale na te boots, meesal volslae mislukkings is” (1952:i) en hy vervolg, byna verskonend-beskeie: “Daarom het ek maar in prosa probeer vertaal”. Die epiese versmaat waarna hy verwys, is natuurlik die daktiliese heksameter – in sy eie woorde, ’n “versreël bestaande uit ses voete, wat daktiele (soos ‘hiernatoe’) of spondees (soos ‘twee-twee’) is” (Van Rensburg 1952:i). As die inhoud maar niksseggend of onsinnig mag wees, is dit redelik maklik om só ’n versreël in Afrikaans te skep – iets soos: Ja, julle weet mos, die álwyse Dis is ’n god van die Grieke.

Só klink Ilias, boek VII, reëls 476-482, wanneer dit in daktiliese heksameters in Nederlands vertaal word (Van Zuydewijn, 1980:115):

Ze richtten een feestelijk maal aan;
heel de nacht aten en dronken de ‘t haar lang dragende Grieken,
en in de stad de Trojanen en bondgenoten van Troje.
Maar de verstandige Zeus bezon zich die nacht op hun onheil;
roffelend liet hij de donder weerklinken en vaalgroen van doodsangst
goten zij wijn uit hun bekers over de grond uit en niemand
durfde te drinken, aleer hij de grote Kronide geplengd had.
Toen ging een ieder naar bed en genoot het geschenk van de nachtrust.

’n Vertaler wat só te werk gaan, weerspieël wel iets van die poëties-tegniese eienskappe van die oorspronklike teks, maar mens wonder tog of die verlies aan vryheid wat hierdie ietwat gedwonge patroonmatigheid inhou, nie groter is as die winste nie.

Om poësie te vertaal, is geen maklike taak nie. Die eise van inhoudelike getrouheid (wat dikwels as woord-vir-woord-getrouheid verstaan word) enersyds, en vormlike getrouheid andersyds, weeg soms swaar om die enkels van ’n vertaler. In Fragmente uit die Ilias wikkel Vos hom los uit die knelgreep van beide dié boeie. Die resultaat wat hy sodoende verkry, is pragtige, beeldryke, boeiende, epiese Afrikaans (Vos 2014:103):

Die Achajers vier dwarsdeur die nag fees. Ook die Trojane
en hulle bondgenote laat feesvure vlam. In die voue van die nag
bedink Zeus egter rampe vir hulle. Oral flits blitse terwyl donder
dreun. Bleek vrees oorval hulle. Hulle gooi die wyn in hulle bekers
op die grond. Daarna gaan lê hulle. Slaap slaan haar arms om hulle.

Op byna dieselfde wyse gaan Vos te werk met elk van die 24 boeke van die Ilias.

’n Kunstenaar wat sy kunsvorm goed beoefen, verdien applous; ontvang applous; erken applous. Cas Vos rond sy bundel Iliasfragmente gepas af met ’n dubbele toegif. Ná sy digterlike vertaling van boek XXIV volg ’n epiloog: Die begrafnis van Sarpedon, ’n gedig van Konstantinos Kavafis, met ’n besliste sinspeling op tonele uit boek XVI, gevoelvol uit Grieks vertaal deur Vos self. Daarop volg nog ’n eie skepping: Helena, ’n peinsende monoloog gerig aan die skim van die vrou – só ’n vrou – vir wie soveel bloed en trane gevloei het.

Op ’n sekere manier is 2014, die jaar waarin ons die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 herdenk, net die regte oomblik vir die verskyning van die vertalerdigter en digtervertaler Cas Vos se Fragmente uit die Ilias. Hiervoor verdien Protea Boekhuis beslis ook ’n pluimpie.

Bronnelys

Van Rensburg, J.P.J. 1952. Homerus: Die Ilias – uit die oorsronklike Grieks vertaal deur J.P.J. van Rensburg. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery.

Van Zuydewijn, H.J. de R. 1980. Homerus: Ilias: De wrok van Achilles. ‘s-Gravenhage: Martinus Nijhoff.

Vos, C. 2014. Fragmente uit die Ilias – Homeros. Vertaal deur Cas Vos. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Resensie: “Fragmente uit die Ilias van Homeros”, vertaal deur Cas Vos”

  1. Louis Pienaar :

    Die resensent weet duidelik waarvan hy praat. Cas Vos se vertaling van Kavafy se gedig bevat ‘n belangrike element van oorlog. Die perd is die belangrikste dier in oorlog. Verder is die resensent se vergelyking van die drie vertalings voortreflik. Hy kies teks waarin Achajers, Trojane en Zeus, die hoofgod voorkom. Dit wys hy ken die Griekse teks. Baie goeie resensie van ‘n uitstekende omdigting.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Die omdigting van die perdegedig is werklik pragtig.

  3. cas vos :

    Charl-Pierre en Louis, dankie vir julle insiggewende opmerkings. Met sulke woorde kan ek en Homeros ver kom. In die Odusseia, weer, speel die hond ‘n sentrale rol. Die wagtende, waaksame hond.

  4. Charl-Pierre Naude :

    ja nee, Homeros ry maar nog altyd op ander digters se rue … 🙂 Tipies ruiter.