De Waal Venter. Dans van die ou man

Dans van die ou man

 

Wolke in wit klere

laat die sonlig met ‘n glimlag verbygaan;

dit moet die gras gaan ontmoet,

die bome, sodat hulle

daardie polsende groen

van hulle aan my oë

kan voorstel.

 

Dag, jy is jonk,

ek is ouer,

maar ons deel,

ons deel die vreugde

dat ons hier is.

 

My hand raak aan die ooste,

my hand raak aan die weste;

ek draai en voel die noorde

tussen my vingers,

die suide kielie my palm.

Ek buig, ek kom regop,

ek beweeg my voete

oor die warm aarde,

die lewende, woelende grond;

my voete lig en land

om die sand te streel,

die leem te voel,

die swetende modder te ontmoet.

 

My voete is gemaak van klei.

 

(c) De Waal Venter / November 2014

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Dans van die ou man”

  1. De Waal, dis pragtig. Woorde gerol teen Ver-hemelte, maar aards.
    Hoe ouer ek word, hoe jonger word ek. Daarom is kleivoete vir my kleutergemoed so goed; kleivoete … wat ‘n mens kan bry … tot vlerke, dalk?

  2. Interessante poëtiese kommentaar, Myra. Baie dankie!