Resensie: Leiboom (Eunice Basson)

Leiboom deur Eunice Basson. (Queillerie, 2014; 96 pp; Formaat : Sagteband; ISBN-13 : 978-0-7958-0089-4; e-ISBN : 978-0-7958-0090-0 )

Resensent: Heilna du Plooy, Potchefstroom

Omslag

Leiboom is Eunice Basson se debuut. Die titel van die bundel roep by my verskillende assosiasies op. Dit kan verwys na ’n boom wat “gelei” of “opgelei” word om ’n bepaalde vorm te vertoon, maar dit kan ook verwys na ’n boom wat groei omdat dit natgelei word. Die twee dele van die woord bly egter ook elkeen op sigself belangrik. Daarom bly die idee van “leiding” in die agterkop, asook van die boom as ’n teken van krag en stabiliteit. Met die lees van die bundel het al hierdie assosiasies vir my voortgaande bly eggo: ’n liefde vir die natuur, vir plante en die versorging van plante en tuine wat aansluit by die bewerking en snoei van gedigte,  asook die afkoms en verbintenis aan ouers, veral ’n vader wat as ’n krag in die digter se persoonlike “stamboom” gelees kan word.

Die buitebladontwerp is baie mooi en dit is te verwagte aangesien Basson as ’n kunshistorikus met sorg ’n keuse sou maak daarvoor.

Die bundel val uiteen in drie afdelings. In die eerste afdeling handel die gedigte hoofsaaklik oor natuurverskynsels – streke, storms, die wind, maar ook plante en diere. Die gang van tyd word in die eerste vers aan die orde gestel en dit word in later gedigte herhaal in ander vorms. Die gedig sien die sandlopertjie as ’n miniatuurwoestyn, as die vergestalting van tydloosheid, van skynbare onaantasbaarheid. Tog eindig die gedig met die frase “ook jy sal mettertyd verweer/ en uitloop op jouself” waardeur die beskrywing van die sandloper wyer betekenis verkry: alles gaan uiteindelik verby, niks is absoluut gevrywaar van die gang van tyd nie. Die isolasie wat in die uurglas heers kan, gesien as ’n soort onttrekking en ’n situasie wat afgeskuil is van die werklikheid, ook op die gedig self slaan. Die gedig en die poëtiese aktiwiteit is nie aan tyd gebonde nie, maar sal uiteindelik wel “uitloop” op homself.

Die natuurgedigte wat hierna volg is almal fynsinnige beskrywings van óf ’n landskap óf ’n aspek van die natuur. Hierdie gedigte getuig van fyn waarneming en inlewing, soos ook in die gedigte oor plante en diere waarmee die afdeling afsluit. Die slotgedig is treffend in die beskrywing van die ontstaan van ’n trofee. Interessant genoeg word die verloop van gebeure hier omgedraai; daar word eers beskryf hoe die dier (die koedoe?) se kop gedissekteer word en daarna word die doodskoot beskryf wat van die lieflike lewende bok ’n trofee met albasteroë maak.

Al is van die gedigte nogal impressionisties daarin dat hulle in hoofsaak ’n sensitiewe waarneming en ervaring, ’n indruk, beskryf en dalk effens poëties is, val dit tog goed op die oor:

Sonnestilstand

21 Junie 2009

Die son loop uit sy warmte die winter in
om teen die einde van sy spoor te luier
in die langste nag vol bruin stiltes en houtluise
wat in muf en swartryp dwaal:
die son markeer die pas
voor hy koers kry na die suide
en die sakwurm fluister uit sy kokon,
die hadida in ’n newel krys
dat plantsap nou in stamme styg.

Afdeling twee in die bundel bevat ’n verskeidenheid gedigte wat indirek wel duidelik bymekaar aansluit. Die eerste gedig gaan oor die nuusleser wat slegte nuus moet aflees en dan tog gewoon moet verder lewe en “afdraai” vir ’n koppie koffie. Hierdie gedig werk dan vooruitskouend op die oorlogsgedigte wat verderaan in die afdeling volg. Daar is verskeie gedigte oor die Tweede Wêreldoorlog, maar terwyl “Biografie”, met die subtitel “Maj NV Basson” wat waarskynlik ’n familieverbintenis aandui, oor oorlewing handel, gaan “Lugkastele” oor die dood wat toekomsdrome vernietig as ’n jong man sneuwel.

Waar hierdie gedigte aansluit by die oorlogstema in verse soos “Die Blinde Astronoom IV”, met die verwysing na Cuito Cuanavale,  en “Tuiskoms in Halabja, Irak”, bevat hierdie afdeling ook gedigte oor aspekte van die gewone Suid-Afrikaanse lewe. Ervaringe van veral swart vroue word met groot deernis beskryf soos in “Miena: ’n herinnering”, “om ’n huis te kan bou”, “Bidsnoer” en “Vroegoggend op straat”. Maar die deernis met die mensdom en insig in die menslike aard gaan wyer en word, soos ek dit lees, in vooruitsig gestel en bevestig deur die ekfrastiese gedig “Butcher boys”. Jane Alexander se beeldegroep met hierdie titel is in 1986 vir die eerste keer uitgestal en was haar kommentaar op die noodtoestand in die land. Die groteske vermenging van menslikheid en dierlikheid is ’n baie sterk metafoor en myns insiens transendeer dit selfs die historiese moment waarop die beelde aanvanklik vertoon is. Die dierlikheid in die mens lê vlak onder die skedel, dit “glip” in die kop in en dan word jy een van die een wat net kyk en kyk om vrees in ander in te boesem. Dit is die vrees wat die mens uiteindelik afrem en vernietig:

Roedes platgestryk, monde gesnoer,
maar ons oë volg jou waar jy gaan:
in jou vrees
vind die eintlike slagting plaas.

Die mensdom is dus aan homself uitgelewer en dit word in ’n gedig soos “Besetting” met verwysing na ’n aantal ontmenslikende ervarings van vroue uitgewerk. Die vigspandemie, moorde soos dié op Chanelle Henning, die werk van ’n nagwag, en selfs die gedigte in die laaste afdeling wat subtiel verwys na vrouemishandeling, sluit hierby aan.

Die bundel eindig met gedigte van ’n meer persoonlike aard waarin herinnering ’n belangrike rol speel. Flitse van ’n jeug vorm die kern van verse soos “1958” en “Moerbeiboom”, met die skokkende beeld van ’n selfmoord wat kinders toevallig vanuit die boom moet aanskou. Daar is ook ander gedigte met soortgelyke onverwagte wendinge soos “Sterrewag” waarin vertel word hoe die swak babatjie uiteindelik ’n slim mens word, “Haar oë het jy nooit gesien nie” wat kennelik handel oor die afstaan van ’n baba by geboorte, met die soekende moeder wat onvermydelik die kind nooit sal kan aflê nie, maar ook “Ma se kind” wat gaan oor die ma wat haar kind na aan haar hou en grootmaak sodat sy uiteindelik in die kind se glorie kan deel, sonder om daarop ag te slaan dat sy die kind se lewenskrag van die begin af verhoed om te ontwaak.

Hierdie afdeling bevat onder meer mooi gedigte oor ouers, oor hulle lewe en hulle dood, en oor ander figure wat die digter om een of ander rede aangryp. Die   slotgedeelte van die bundel staan wel deeglik in die teken van afskeid, die dood van ouers, die sloping van die ouerhuis en die opruim van die ouers se lewens.

Stootskrapers tree aan
om die huis en tuin
voor twaalfuur te vermorsel,

[…]

Sonder skroom bie onbekendees
en ’n handvol bure
op die oorskot van ’n droom.

As geheel maak hierdie bundel die indruk van ’n versameling helder, deurdagte en direkte verse. Daar is ’n sterk beskrywende toonaard in die meeste gedigte en die digter maak haar nie skuldig daaraan om die gedigte te oorlaai met allerlei kunsmatige verwysings nie. Daarom bly die gedigte konkreet en oortuigend.  Daar is deurgaans ’n goeie aanvoeling vir ritme en struktuur sodat die gedigte vooruitbeweeg en die leser meeneem.

Dit is wel so dat die sterk beskrywende en soms narratiewe aard verhoed dat die skopus van die gedigte werklik wyer uitsprei en dat ’n groter wêreld in die gedagtes van die leser ontwaak. Dit gaan nie net daaroor om verhale van ander wêrelde en ander geskiedenisse te vertel nie, maar om die skopus van die nadenke daaroor. Nogtans verkies ek hierdie helder konkrete styl bo swaarwigtig gelade gedigte wat doelbewus alles wil betrek en byna onder hulle eie lading beswyk. En daar is in hierdie bundel genoeg tematiese ondermyning en bevraagtekening om die gladde gang te besweer.

Die helderheid van die gedigte het ook ’n stilistiese aspek en mens kan die afgerondheid verstaan as jy in aanmerking neem dat die verse (deels of in geheel) in ’n skryfkursus hanteer is. Die wakende oog van ’n goeie redakteur of ’n kursusleier behoort te sorg dat verse afgerond is. Daar is wel plekke waar die goeie metaforiek en raak segging  nie sterk genoeg is om die meer prosaïese versreëls te dra nie. Dit gebeur onder meer in verse soos “Bruin appels”, “Werkende vrou” en selfs in die titelgedig “Leiboom: Pa”. Dit is asof die digter nog nie al die tegniese middele tot haar beskikking ontdek het en optimaal ontgin nie, maar ek gebruik met opset die woord “nog” hier, want ek glo dat hierdie bundel met sy  onopgesmukte en oortuigende styl en goeie taalaanvoeling weldeeglik die basis kan vorm vir nog baie meer gedigte.

Bookmark and Share

Comments are closed.