Onderhoud met Antjie Krog (Mede-wete)

“Die verweerde liggaam vertaal haar ontologie.”

Antjie Krog gesels met Louis Esterhuizen oor haar nuutste bundel, Mede-wete

*

LE: Antjie, van harte geluk met die publikasie van “Mede-wete”, ʼn bundel waarna met goeie reg deur soveel liefhebbers van die digkuns uitgesien is, want dit is wel so dat jou bundels oor ʼn veel langer rakleeftyd beskik as die meeste ander. Maar agt jaar?! Is daar ʼn rede waarom jy so lang gewag het sedert “Verweerskrif” wat in 2006 verskyn het.

AK: Sedert “Verweerskrif” het drie Engelse boeke verskyn: Begging to be Black (nie-fiksie); There was this Goat (ʼn akademiese ontleding saam met twee kollegas Nosisi Zantsi en prof Kopano Ratele van ʼn WVK getuienis) en “Conditional Tense: Memory and Vocabulary after the South African Truth and Reconciliation Commission (akademiese essays) wat dui op ʼn radikale wegbeweeg van Afrikaans poësie. Die rede is eenvoudig: ek het gewoon nie meer geweet hoe om hierdie ingewikkelde, ongekende land te benader of uit te sê anders as in noukeurig nagevorsde prosaïs akademiese Engels nie. Onderliggend besef ʼn mens natuurlik dat jy met ’n probleem sit: as hierdie dinge nie in poësie tot taal kan kom nie, is daar fundamenteel iets onegs aan wat jy te sê het. Maar om tot taal te kom het mens besef: gaan ʼn moerse stryd wees.

Die ander sy van die stilte is natuurlik dat mens nie ʼn bestaan kan maak deur voltyds gedigte te skryf nie. Jy moet dus ʼn “regte” werk doen, dus spook mens maar voortdurend om al die verbrokkelde selwe bymekaar te hou: Samuel by Krog, digter by filosoof, akademikus by storieverteller en joernalis, prosa by poësie, Afrikaans by Engels. Hierdie bundel is dus vir my ʼn uiteindelike bymekaarbring van my poëtiese lyn by die filosofiese denke – die verweerde liggaam vertaal haar ontologie.

Die titel, “Mede-wete”, vind ek besonder treffend. In welke mate beskou jy dit as ‘sleutel’ tot die bundel?”

Omslag

Dit is inderdaad ʼn wonderlike woord met die konsep van “mede” daarby. Dit was so ongelooflik om agter te kom dat daar nie werklik ʼn Engelse ekwivalent daarvoor is nie. Engels het nie iets woordvormend soos mede-mens, mede-deelsaam, mede-doë ens nie. Dit laat my dink aan ʼn paneelbespreking oor “Kleur kom nooit alleen nie” onder leiding van Michaël Zeeman op Nederlandse televisie. Een van die persone het die woord “medemenslik” bevraagteken en sê dat so ʼn woord werklik nie meer in die Nederlandse poësie gebruik kan word nie. Aanvanklik het ek by myself gedink: dalk behoort ʼn taal sigself in kruisverhoor te neem as so ʼn woord betekenisloos geword het. Maar uiteindelik moes ek self worstel van hoe om belangrike betekenisdraende woorde te overhaul, hulle hoorbaar en betekenisgloeiend te maak. Die Engelse vertaling heet “Synapse” en ek het toe gedink die Afrikaanse titel moet dan ook Sinaps heet, maar Alida Potgieter het op haar wonderlike taktvolle manier my laat verstaan: Mede-wete is reg.

Antjie, in 2008 was jy op uitnodiging vir ’n jaar in Berlyn waar jy genooi was om die Wissenschaftskolleg zu Berlin, ’n sentrum vir gevorderde studie en navorsing, te besoek. Daar het jy jou onder andere daarop toegelê om gedigte van Paul Celan te vertaal. Watter invloed het hierdie blootstelling gehad op die gedigte in “Mede-wete”?

ʼn Mede-Wikoganter, kunshistorikus en digter Michael Fried, het my gevra om saam met hom privaatonderrig oor die werk van Paul Celan by Prof Reinhart Meyer-Kalkus by te woon. Dit was intens en takserend. Fried het my gevra om die Duits in direkte Engels te vertaal, sillabe vir sillabe. Ek het dit dus eers in Afrikaans gesê en dan stuk-stuk in Engels en na ʼn ruk begin agterkom hoe anders my Afrikaans begin klink. Asof gimnastiek gedoen word om verharde, verkalkte of selfs nie-bestaande spiere en senings te strek deur middel van ʼn diepgekwelde poëtiese taal wat begin vorm aanneem op my tong. ʼn Paar voorbeelde van Celan se styltegnieke is (en hiermee sê ek nie dit is nuut in Afrikaans of dat niemand dit nog ooit gedoen het nie, ek sê bloot dat Celan, te midde van sy woede en liefde vir Duits, sekere tegnieke aangewend het om die taal stukkend te breek in die hoop om iets medemensliks raak te myn waarbinne hy kon leef):

Die mees opvallende is sy innoverende neologismes wat die moontlikheid open om ou gefossileerde en geraste woorde meedoënloos met ander konsepte tot iets nuuts te knak. Sulke neologismes veroorsaak ook ʼn woordkno(o)p en as Celan dit lees klink dit byna soos ʼn verwurging. Jou aandag word tot stilstand gedwing, jy moet die verskillende komponente kleinkry, iets nuuts begin vorm voordat jy verder kan vloei. Ek onderskei dan drie soorte neologismes wat nuttig was vir my.

ʼn Verdere strukturele tegniek was Celan se morfologiese afwykinge wat ek kortweg begin noem het: die inboor in ʼn sillabe. Met die verandering van een letter word ʼn hele woord omgeruk: ‘Mach den Ort aus, machs Wort aus”. Deur middel van die enkele letter “w” word “plek/oord” “woord”; “Gedicht” word “Genicht”.  Foutiewe voor- en agtervoegsels word gebruik, grammatika foute word bygesleep, verbuigings word aan getorring wat lei daartoe dat die woord sy asem behou maar tog skielik opvallend en nuut voor jou staan; oorbekende of besmette woorde word oop gebreek, gedestabiliseer sodat die stagnante ou gasse kan ontsnap en skoon lug instroom. “Poetry is . . . breath-infused (atemdurchwachsene) language in time” Deur sy werk bevreemd jy jouself dieper. Sy latere werke bestaan in hulle eie universums van taal, met hul eie hermeneutiese egtheid. Om Celan te lees, so word gesê, is om aanhoudend te vertaal. Mens vertaal sy Duits die hele tyd in Duits terwyl jy hom lees.

Translation emerges as an extension and radicalization of conditions inherent in his (Celan’s) act of writing, as also in the act of reading him.  …  nativity is itself alien to Celan.  His work never resides fully or comfortably in any native tongue.

Daarom is opnuut na vertalings van sy werk gekyk: hy klink ongewoon in Duits, daarom MOET hy ongewoon in Engels, Nederlands ens klink. En hy klink ongewoon omdat hy tegnieke gebruik wat hom in staat stel om te sny deur en in die taal tot vermensliking. So sal hy bv. die woord ‘Menschen’ hanteer: mit den Men, mit den Schen, mit den Menschen, ja das / mit dem Gestrüpp und mit / dem Augenpaar (186).

Celan sluit nou aan by Levinas waarin die oë van die ander die mensheid van die self na vore roep: Ich suchte dein Aug, als du’s aufschlugst und niemand dich ansah; also in Du schlugst die Augen auf – ich sehe mein Dunkel leben. Maar dit is op hierdie punt wat die navorsing in Afrika filosofie dit duidelik maak hoe verskil ons van Europese denke. Die “jy” is veelvuldig, so ook die “ek”.

Op hierdie manier kon ek langsamerhand my estetiek (diep geleë in Afrikaans) laat sny deur ʼn etiek in hoe Afrikaans teenoor die ander sou kon klink.

Iets wat die leser reeds met die eerste lees tref, is die verskeidenheid van aanbod in dié bundel: sowel tematies as verstegnies. En tog is daar die oorweldigende gevoel van samehang, asof elke vers présies korrek volg op die voorafgaande en daardeur reeds weer die daaropvolgende in afwagting plaas … Hoe het jy te werk gegaan om dié bundel struktureel so netjies te laat sluit?

Dit is wat so ʼn fellowship moontlik maak. Ek kon vir die eerste keer sedert Lady Anne elke gedig tot in sy fynste besonderhede oordink en afrond. Daar was hierdie ongerepte stilte waarin jou gedagtes die hele tyd besig is met die gedig. Dan maak die rekenaar dit ook moontlik om verskeie rangskikkings uit te probeer. Johann de Lange was my keurder by Human & Rousseau en het van ʼn hele paar dinge nie gehou nie. Dit was ʼn besonder waardevolle oomblik, want ek moes toe veg vir hulle wat gelei het tot ʼn radikale herdink en  herrangskikking. Die laaste rangskikking is absoluut visueel: hoeveel wit is daar, is hierdie blaai te vol, mens wil nie omblaai vir een of twee strofes nie, lyk alles te lank reëlmatig.

Eweneens is daar talle voorbeeld van (ongewone) tipografiese benutting in van hierdie verse; ʼn tegniek wat jy wel al vantevore met groot sukses gebruik het. Maar vorm hierdie ook deel van ʼn “vervreemdingspel” of gevoel van “onthegting” wat jy by die leser wil tuisbring?

Michiel Botha se ontwerp het vanself ander idees losgemaak. Ek het die frase reeds gehad: dialoë wat opwel uit toevallige skeure, maar het gedink skeure gaan te maklik vaginas word, maar hy was meesterlik daarin. In die geheue-siklus skep dit ʼn soort atmosfeer van hoe kollektief of nie, geheue is, hoe verbrokkel, hoe vernietigd. Mens moet die gevoel kry dat stemme waarvan jy niks weet, geen begin het, geen einde nie, geen netjies afgeslotenheid nie om jou gaande is, iets sê, iets weet, iets onthou maar aanhoudend onderbreek word en tot niks verval. In Duitsland en ook vroeër met Nederlandse digters se werk was ek gefassineer deur die doelbewus ‘gewone’ taal wat hulle gebruik, die manier waarop versreël een niks te make het met versreël twee en dit weer niks te make het met versreël drie ens. Al wat die reëls in gemeen het, is dat hulle in dieselfde gedig staan. Omdat daar genoeg tyd was kon ek eksperimenteer om te kyk tot watter mate ek kon terugkeer na ʼn poëtiese skryfstyl “sonder fancy leestekens / sonder woorde wat rym” asook haplografie en dit hernu.

Nog ʼn opvallende kenmerk van jou nuwe bundel is die meerstemmigheid daarvan; asof jy op ʼn heel direkte manier stem wil gee aan soveel ‘stemloses’. Eweneens iets wat jy al vantevore gedoen het, maar kan jy dalk daarop uitbrei soos jy dit hier aanbied, asseblief Antjie?

Ek bevraagteken in die bundel ons erns omtrent mede-wete en mededoë, ons verbintenis aan mekaar, ons onvermoë om groot ruimtes van ons land te verstaan nevermaaind verwoord (sien Bankrotskap). Terselfdertyd is dit natuurlik die uitdaging. Iemand in Duitsland het vir my gesê: oral waar ek kom het mense die een of ander tyd altyd ʼn gesprek gehad oor hulle huishulp. Dit het in my agterkop bly steek – hierdie Suid-Afrikaanse daaglikse ding. “Bediendepraatjies” is nie juis daarop uit om aan die stemlose stem te gee nie, maar om te sê: ons is midde-in daardie gesprekke, ons WEET ons weet nie waaroor gepraat word nie; die fragiele en frenetiese pogings om siel en liggaam aan mekaar te hou vermoed ons meestal foutief. Ons dink: charity, uitdeel. Maar ons verstaan niks.  Anders as Coetzee se “Diary of a Bad Year” het die drie dele niks met mekaar te doen nie, selfs die vertaling is hoogs twyfelagtig.

ʼn Belangrike sleutelvers in die bundel, “in gebreke bly binne-aars” waar die volgende treffende reëls, wat myns insiens net sowel as motto tot die hele bundel kon dien, gevind word: “die aarde het ek in my mond geneem, ʼn verhewigde land / probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie” […] Hierdie onvermoë tot herstel vind egter ʼn teenkantigheid met die groot aantal kinder- en familieverse, is dit nie?

Vyf en neëntig present van die verse val in die afdeling: Werf. Die werf, geopen en afgesluit met die dood van twee liefdevolle patriarge, is vol kinders en diere, geweld en liefde, verminkte herinneringe en bediendes, voëls en sterre, dit wemel van kontradiksie en hopeloosheid, geloof, ongeloof en wangeloof, van verbind wees en verbrokkeld, sot, stom. Die binne-aarse vers kom uit die taal-afdeling waarin gesoek word na herstelling.

Met goeie rede is jy na alle waarskynlikheid een van ons mees bekroonde digters. So is die Proteaprys vir poësie in 2007 aan Verweerskrif toegeken en in jou dankwoord het jy die volgende opmerking gemaak: “’n Digter skryf vandag in Afrikaans in die volle wete dat dit geen werklike statuur het nie. Jy skryf omdat jy móét en jy weet dat selfs ’n Afrikaanse rock band waarskynlik ’n groter omset as jy het. Dit is daarom dat ’n prys soos dié soos jasmyn in die voortuin is vroeg September … ’n Taal word as taal erken as hy die poëtiese kan uitdruk. ’n Taal begin taal wees in die stemme van digters. ’n Taal sonder digters is ’n sterwende taal: daarom is die bevordering, koestering, instandhouding en erkenning van poësie in Suid-Afrika en in Afrikaans belangrik.” Wil jy ten slotte dalk iets sê oor literêre bekronings in die algemeen en dan meer spesifiek die handeklap vir digkuns binne die konteks van bejubeling?

Ek is inderdaad baie, baie bevoorreg, maar dit bly verstommend Louis, dat daar hierdie REUSE bedrae vir prosa op gala geleenthede oorhandig word en absoluut geen gedagte eers aan poësie nie. (In Engels is dit nog meer beroerd: as dit nie vir die Ingrid Jonkerprys was wat elke tweede jaar vir Engels gaan nie, dan is daar GEEN bekroning vir ʼn bundel Engelse gedigte nie.) Waar is die tyd van die Louis Luyt-prys, die Reina Prinsen-Geerligsprys? Het ryk mense bang geword vir digters? Maar dit het natuurlik praktiese implikasies ook: afgesien van die feit dat digters nou nooit geld ontvang om ‘tyd te koop’ vir skryf nie, is die uitnodiging van ʼn ander land die enigste opsie. Maar ander lande kyk na jou “prestasie” as digter en as jy nooit enige toekenning gekry het nie, is dit moeilik vir hulle om jou te oordeel. En hoekom sal hulle jou nooi as jou eie taal nie dink jy is ʼn prys werd nie. Dat jou moedertaal poësie nie beprys nie, sal hulle waarskynlik nie kan glo nie. Die bevoorregting van om te geskryf het toe Afrikaans gewemel het van die pryse, duur dus nou nog voort.

Antjie, een van die verbluffendste verse vir my in dié bundel is “die laning” (p.76). Met jou toestemming sou ek dit graag hieronder as lusmaker wil plaas. Maar kan jy dalk eers vir ons iets meer omtrent dié vers vertel? Wanneer het jy dit geskryf, byvoorbeeld?

Dis geskryf, weer eens gedurende ʼn residensie. Ons was ʼn hele groep skrywers en ek was oorweldig deur die natuurlike bevoorregting van die skrywers uit Europese lande en Amerika, later ook die bevoorregting van Europa as sulks. Dit is die eerste vlak, die vanselfsprekendheid van bevoorregting, hoe jy die taal, die geskiedenis maak en hermaak, die geweld en die skoonheid daarvan, die ondeurdringbaarheid daarvan – altyd ten gunste van diegene wat loop in die laan en altyd die onbereikbare smagting van die daarbuite. Op ʼn volgende vlak voel ʼn mens bekoor deur die wonderskone elemente van die laan, selfs die geweld is mooi. As die blik dan wyer word sit jy ontbloot in jou bevoorregting. Dit titel was aanvanklik ont-tuis / ontheem (afgelei van unheimlich), maar dit het die aksent op die laan self verswak. Dink ek…

Dankie vir hierdie geleentheid om oor jou bundel te gesels, Antjie. Hierdie is myns insiens ‘n dawerslag van ‘n publikasie en ‘n uiters belangrike toevoeging tot jou oeuvre. Nogmaals geluk daarmee.

*

die laning

 

die laning is ’n ruggraat

die laning rig homself teen die heuwel op

die laning geur diep in panele terpentyn en denne, honderoos, moerbei

in digte potblou seders

van ver af dink sy

o, hoe blou is die groen

hoe olyf die pers

hoe roerloos die sipresse

en dig hulle mantels as die donderweer rammel

en die aarde antwoord soos iets vrygelaat en diep ontroer

 

die laning is ’n kasteel

die laning herlei alles na die kasteel

die laning verinnig homself in panele soet kastaiing, in syige amandelwilg

                                                             en brame

hoe grinterig die donker

hoe bloederig die grendel

hoe roeserig die vlerkpunte van swaels teen die sonlig

hoe kil sing die peer in ’n piering op die marmertafel

wanneer die kasteel met koel asemtogte gevul

versink in knetterende gasvlamme van bome

 

die laning skitter soos ’n held

die laning klim glanssilwerend die heuwel uit

die laning behou homself in panele van iep, van eik, bokdoring en berk

hoe timmer die merel

hoe glip die uil se beitelklankies

hoe snipper die vinkies soggens geluide van koelte en dou

hoe ritsel koringgeel oortjies hoe geur die besembos

hoe blom melkdistels en sigorei blou skoelappers van hulle stingels los

hoe gly van hand tot hand die ysblou skouer van die kruis

terwyl die onbestaandes as fresko’s dof uit hulle oë bloei

 

die laning verdig om die woord heers

die laning sorg dat die self slegs deur panele van die self gevorm word

die laning weet dat geslagte erfgename fronsend die klipgange af luister

na wie in die gruispad afknars

agter die laning lê die buitekant en daaragter die volgende agter

alles geteken in die fel waas van hitte, sonbesies en gulsig sugtende vye

kyk hoe lê die beendere soos wapens rond

kyk hoe storm honde woedend aan agter die roomstertsmeer van ’n haas

kyk hoe bars ’n koeël die wirrende knoop van ’n fisant

kyk hoe gloei die blonde rowe van pasgemaaide koring tussen die

                                                 olyfskadu’s deur

die laning verduur die son

die laning neem in hom op al wat water en sap en krag is

die laning wil oorleef – ook dit wat hom wil oorleef

kyk, die sipres roer sy silwer knope

kyk, die muggies bons verby splete in die enorme klippoorte

 

van ver af dink sy

o, die laning is ondeurdringbaar van skoonheid

maar die groep wat nou die pad af stap –

wanneer hulle na mekaar toe leun met hulle uitgeputte harte:

onder hulle bestaan sy nie

in die konsepte wat hulle bespreek gooi sy nie eens ’n skadu nie

sy wat onderneem het om nooit hartseer te wees in hierdie wêreld nie

weet dat agter hierdie anderkant nog ’n anderkant is en daaragter nog een

en agter dit, altyd, en altyd stralend:

die laning

 

(c) Antjie Krog (Uit: Mede-wete, 2014: Human & Rousseau)

 

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Onderhoud met Antjie Krog (Mede-wete)”

  1. Marlise :

    Dankie Antjie Krog vir hierdie insiggewende onderhoud uit die werk- en dinkkamers. Die laning is een van daardie onvergeetlike en oorbluffendste gedigte wat ek enorm baie geniet het. Asook gedigte oor familie en kinders en kleinkinders. En ja, die prys-kwessie. Sommiges het verdwyn en ander het bygekom (merendeels vir prosa,) maar die digkuns suig nog steeds aan die agterspeen.

  2. Waldemar Gouws :

    Die omslagkunswerk se twee toutrekmarionette, met die groot landkaartlappe aarde aan die tou waarvoor daar gewedywer word, herinner my aan ‘n Celanbeeld uit sy “The Meridian”-toespraak (1960). Hy sê een siening van kuns is dat dit soos ‘n marionetvertoning is: “Noting but art and mechanics, nothing but cardboard and springs.”

    Maar daardie manipulerende toutjie kan geknip word deur ‘n bepaalde benadering tot taal: “… a word against the grain, the word which cuts the string, which does not bow to the ‘bystanders and old warhorses of history.’It is an act of freedom. It is a step.”

    Gee Antjie Krog ‘n vrye tree met “Mede-wete” of trek die metaforiese figuur genaamd “ons Afrikanergewete” (p.10) die toutjies?

    Of het ek die kat aan sy gewetenlose stert beet?

  3. Waldemar Gouws :

    ‘n Leesreaksie op Antjie Krog se grensopheffingsdoel met haar missie, kan ‘n besef van magteloosheid, selfs van absurditeit wees, soos in my gelykenis hieronder:
    By die doupunt ȇrens het ‘n geel boek gelȇ. Ek moes dit onthou, het ek besef.
    Anders as buite; binne die saal was dit vol. Almal het rondgestaan, behalwe ‘n paar ouer vroue wat op ‘n stywe kort bankie gesit het. Hulle dik jasse was toegeknoop tot die heel boonste een asof dit baie koud was.
    Ek het my kruiwa onder ‘n tafel teen die muur ingestoot.
    In die beperkende gedrang, of was die energie in die lug en die mense vasgevang, het ek die gesig van die jong man gesien wat so sleg bestuur dat hy my kort tevore byna met sy bruin bakkie van die pad af gery het. Hy lyk soos Sol Plaatje van Kimberley, het ek gedink. Ek wou hom sommer dadelik bykom, maar kon nie iets aan die digte afstand tussen ons doen nie. Om my opgekropte gevoelens jeens hom uit te druk teenoor die mense rondom my, was ‘n flou opsie, maar ek het onvoorsiens moeite selfs daarmee gehad.
    My stuwende gemompel het een van die vrouens op die oorvol bankie haar direk na my kant laat draai. Die dunheid van haar nek, nou effens gewring, net bokant die rand van haar jaskraag, het my opgeval, terwyl sy haar oё verskuif om myne beet te kry. Haar skerp oё het my beskou met ‘n ongelowige taksering of ‘n bietjie begrip en verwondering. “Was u al op Rysmier?” het sy gevra. Haar afwagting was gewigtig en dringend. Die kort plooitjies op haar bolip en aan weerskant van haar mond (ek is net daar aan ‘n toetreksakkie vir iets waardevols herinner) het die nie meer vlugtige patroon van ‘n fyn skaduspoor gevorm. “Ja, ek was al daar deur,” het ek geantwoord en weggedraai voordat ek my kon keer.
    Ek is toe met ‘n gebeur na buite. In die blote sonlig het ‘n mossie, ‘n vrugtige formelebors mannetjie, op die platysterboog, romaans, bokant die verbinding met die straat gesit. Hy het reguit na my gekyk, my ook op en af betrag, soos wanneer sy soort iets oorweeg of soek.
    Ek het dit besef, dit heeltyd geweet dat ek in die skande gesteek was.
    (Gelukkig) het ek van die geel boek onthou.

  4. Francis :

    Baie dankie vir hierdie waardevolle gesprek wat sleutels tot die bundel bied.

  5. Waldemar Gouws :

    Dankie, Francis. Dit lyk my die medelesers, medeweters en medewetendes is so stil soos ‘n witdood in Valsbaai.

  6. Buiteblaf Breytenbach :

    As ek ‘n snoet al snuffelend bo die diep rivier o donker stroom mag waag, Waldemar Gouws. Jou relaas herinner my aan ‘n insident baie jare gelede toe Joe Slovo nog Politieke Kommissaris van MK was. Dit was in ‘n kamp in Zimbabwe en Joe moes die manne moed en rigting gee. Veral die korrekte rgting. Hy het sy spiets gecomrade en toe dit alles oor was het ‘n grysbaard in die agterste gelid opgestaan. “I have only one question, white man: what are you doing in our war?”

  7. Waldemar Gouws :

    Die vraag wat u oordra is presies in die kern van die donkerte van die stroom waarin ons ons bevind. Was Slovo nie so geborge in sy teorie en die simboliese nie, sou die vraag hom ook seker verleë gelaat het. Maar Krog, daarenteen, haal asem met die konkrete. Slovo sou nie soos ‘n kleinkind van Lady Macbeth sy hande gewring het en die bloedvlekke op die Freedom Charter raakgesien het nie.

    Maar ek sal nooit ‘n naturel kan wees nie: “van eie bodem” lees mens by “native” in Boerneef se tweetalige woordeboek (ook “plaaslike oester” en “landseun”). Sartre (1961, in sy voorwoord tot Fanon) kon nog vanuit ‘n Franse perspektief sê: “… for us to become entirely natives, our soil would have to be occupied by the people of the former colonies …” En soos Antjie Krog weet, het ons as afstammelinge (afgestamel) nie die grond nie – en is ons dus paradoksaal eintlik onbesetbaar. Is ons dus t.o.v. ‘n sekere bestaansdimensie heeltemal leeg, vakant?

    Die “kolonoskopie” (p.87, “Mede-wete”) wat Krog byhaal, lyk vir my oog na ‘n oproep om onsself te ondersoek vir spore en sprake van kolonialisme (“kolon” is die Frans vir ons “kolonis”). Soos Sartre skryf in ‘n samevatting van ‘n Fanonbetoog: “… it is better to be a native at the lowest point of poverty, rather than a former colonialist.”

  8. Waldemar Gouws :

    Ek het vergeet om te sê: hieraan kan die politiek van die sugtige Zuma van Zoeloeland, Helena Houtperd van die Kaap, en die eff-ing Malema-en-die-goue-eiers niks doen nie.