Resensie: in a burning sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation. An anthology

in a burning sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation. An anthology. Edited and collected by Marlise Joubert, with an introduction and selection by André Brink.  (Protea Book House, 2014, ISBN: 978-1-4853-0107-3, Formaat: Sagteband, 352 p.)

Resensie deur Amanda Lourens

Omslag

Sonder die praktyk van vertaling sou dit moeilik wees om hoegenaamd van ’n wêreldletterkunde te praat. Sonder vertaling sou die grootste werke uit byvoorbeeld die Russiese of Franse tradisie hoogstens “gerugte” moes bly, omdat ons as lesers nooit die voorreg sou hê om self daarmee om te gaan nie. Kortom, dit is deur vertaling ons toegang tot ’n rykdom van letterkundes verkry en die geleentheid het om dit deel van ons verwysingsraamwerk te maak.

Die Afrikaanse poësie het ongelukkig tot onlangs nog redelik onbekend op die wêreldtoneel gebly. Die verskyning van die bloemlesing in a burning sea, onder die bedrewe redakteurshand van Marlise Joubert, is daarom ’n heuglike en ’n betekenisvolle gebeurtenis. Nie net wil dit die werk van ’n dertigtal gevestigde eietydse Afrikaanse digters aan ’n internasionale publiek bekendstel nie, maar ook word die belangrike rol van vertaling as ’n agent vir kontak tussen sisteme op die voorgrond gestel deur die subtitel “contemporary Afrikaans poetry in translation”.

 Vir my is daar twee belangrike temas wanneer die impak van ’n boemlesing soos in a burning sea beskou word: In die eerste plek gaan dit oor die blik op die landskap van die Afrikaanse poësie wat aan die buitestander gebied word, en in die tweede plek gaan dit oor die vertaalaanbod self.

Joubert vertel in die voorwoord hoe daar te werk gegaan is om digters en gedigte vir insluiting te kies – sy het Afrikaanse digters genader wat tussen 2005 en 2011 reeds ’n tweede bundel gepubliseer het, en vervolgens het die digters na vore getree en gedigte voorgelê. Die wins van hierdie werkswyse is dat dit gevestigde digters is wie se stemme hier gehoor word, en dat hulle stemme dan ook spesifiek kontemporêr is. Daarmee saam, soos Louis Esterhuizen in ’n gesprek noem, was daar nie ’n waardebepalende redakteurshand wat telkens die “beste” gedigte uit ’n betrokke oeuvre gekies het nie. Die digters het elk kon kies watter van hulle gedigte hulle graag wou voorlê. Die resultaat is ’n merkwaardige samekoms van uiteenlopende digterstemme, en met die landskap van die eietydse Afrikaanse digkuns wat sodoende gekarteer word, is daar werklik geen fout te vind nie.  Alhoewel ek later in die bespreking na spesifieke gedigte verwys ten einde sekere vertaalprosesse of -beginsels te probeer illustreer, is dit reeds hier nodig om daarop te wys dat die bloemlesing as ’n eenheid funksioneer, en dat die verskeidenheid van die aanbod spesifiek tot die sukses van die geheel bydra. Om sekere digters se bydraes as “beter” as ander uit te sonder, sal dus ook die doel van die resensie ondermyn.

André Brink (wat ook vir die finale seleksieproses verantwoordelik was) se inleidende oorsig slaag veral daarin om die belangrikste aspekte van elk van die ingeslote digters se werk te skets, sonder dat dit ’n poging tot kanonisering word wat die werklike doel van die bloemlesing mag vertroebel.

Die verskeidenheid en gevolglike rykheid van die aanbod val dan ook op. Die bundel bevat van die heel jong digters soos Ronelda Kamfer, Carina Stander en Loftus Marais tot by diegene wie se name al onlosmaaklik deel geword het van die Afrikaanse poësiesisteem, waaronder Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Wilma Stockenström. Daar is die ouer digters soos T.T. Cloete en die onderskatte Dolf van Niekerk van wie onlangse verse opgeneem is; van Lina Spies is daar verse wat reeds klassieke status verwerf het en van M.M. Walters is daar gedigte wat sy bekende ironiese aanslag, wars van alle voorgee, uitstekend verteenwoordig.

Ander sterk en invloedryke stemme is daar ook: Van Marlene van Niekerk is daar ongepubliseerde verse naas bydraes uit Kaar en Versindaba 2005, terwyl Johann de Lange, Daniel Hugo, Gilbert Gibson, Louis Esterhuizen, Marius Crous, Joan Hambidge en Marlise Joubert se digterstemme, onder andere, ook sekuur deur die gekose gedigte verteenwoordig word. Onder die nuwe geslag tref onder andere Ronelda Kamfer en Danie Marais se gedigte met hulle nou reeds bekende invalshoeke – Kamfer se soms skrynend eerlike blik op sosiale werklikhede en Marais se gemaklike vertellings met die snykant altyd vlak onder die oppervlak.

Die vertaalaanbod self is ook van kardinale belang in ’n bundel soos hierdie een.  Binne die veld van literêre vertaling word dit aanvaar dat ’n goeie vertaling van ’n gedig ook self ’n goeie gedig sal wees. En ’n goeie vertaling is des te meer belangrik in ’n publikasie vir die internasionale mark, omdat ’n groot persentasie van die lesers nie op die bronteks sal kan steun nie – die vertaling is die beeld wat internasionaal van die betrokke digter voorgehou word.

Vir die volle waardering van ’n versameling soos in a burning sea dink ek dat dit belangrik is om enkele gedagtes oor die vertaling van poësie aan te stip, en kortliks stil te staan by die vraag na wat ’n goeie vertaling van ’n gedig is (alhoewel daar nie eens eenparigheid bestaan oor selfs die beginsel van poësievertaling nie).

Roman Jakobson verklaar dat die vertaling van poësie in beginsel onmoontlik is, en Nabokov is dit met hom eens. Maar, as dit dan móét, reken Nabokov, kan ’n volkome letterlike vertaling wel ’n opsie wees. Ander sienings behels onder meer dat poësievertaling in wese ’n soort literêre kritiek is, oftewel, die mees intieme vorm van lees; ook word dit gesien as ’n soort hermeneutiek waar die vertaler die “essensie” van die gedig ekstraheer en in die doeltaal weergee. Uiteindelik is ’n praktiese, bruikbare siening egter dat die vertaalde gedig, soos reeds genoem, op eie bene as gedig moet kan staan. Soos Gallagher (in Connolly 1998) dit stel oor gedigte wat in Engels vertaal word: “What an English-only reader wants is a good poem in English”.  Nog ’n bruikbare siening is dat ’n vertaling die “gees” van die gedig, die “energie” daarvan, moet vasvang.  En alhoewel die meeste bedrewe poësielesers sal beaam dat hulle presies weet wat met die “gees” van ’n gedig bedoel word, sal hulle waarskynlik aarsel indien hulle hierdie konsep konkreet moet omskryf.

Verdonk (in Boase-Beier 2009) sien styl as die konkrete vergestalting van die “gees” van die gedig. Deur die styl (die vorm, die oorspronklike aanwending van taal, die klank- en vormlike patrone, die voortdurende moontlikheid tot verskillende interpretasies) noukeurig te analiseer, kan die leser-vertaler keuses maak wat iets van die wese van die oorspronklike sal vasvang. Dít is presies wat Johann de Lange in sy vertaling van sy eie gedig “My woorde is klippe” (“My words are rocks”) (pp. 78-79) vermag – die gestroopte styl, gekenmerk deur ’n deurdagte struktuur en veelseggende woordkeuses, word uiters effektief in die vertaling vasgevang:

My woorde is klippe

My woorde is klippe: party glad

wat rol van die tong, ander plat

of met skerp kante. Implemente.

My woorde berg diamante,

diertjies & plante, my woorde

bewaar die stadige aanwas

van kontinente. Kloof een

& ’n ammoniet varing

oop, ’n gesternte, ’n taal.

My woorde bestaan al

van voor die geboorte

van die melkweg,

in die sterstof van die oerknal.

 *

My words are rocks

My words are rocks: some smooth

rolling off the tongue, others coarse

or with sharp edges. Implements.

My words conceal diamonds,

tiny animals & plants, my words

preserve the slow progress

of continents. Split one

& an ammonite unfurls,

a constellation, a tongue.

My words existed long before

the birth of the milky way,

in the stardust of the big bang.

Dieselfde behoud van die gees van die gedig is duidelik sigbaar in Marlene van Niekerk se vertalings van haar eie werk. Die ongepubliseerde gedig “Hamba kakuhle, Madiba” (pp. 298-301) is aangrypend in die oorspronklike Afrikaans, en die vertaling daarvan het dieselfde meesleurende effek op die leser. Dit is net jammer dat die drukkersduiwel op p. 299 twee Afrikaanse reëls in die Engelse teks laat beland het.

Die baie effektiewe oordrag van die haas surrealistiese, maar ook soms gefragmenteerde aard van Gilbert Gibson se verse word waarskynlik ook ondersteun deur hierdie soort stilistiese replikasieproses. Vergelyk gerus Marcelle Olivier se vertaling van “as my naam sheamus was” (“if my name was sheamus”) (pp. 98-99):

as my naam sheamus was

as my naam sheamus was

het woorde soos varings onverwags

van my vingers gespruit

en donker metafore van

aartappellande en

mosbegroeide kerke oor my

wange gestoppel. ek sou ’n

kruis op my regter-bo-arm laat

tatoeëer, en ’n spesiale

band met maria magdalena

koester kyk sy fluister verse

soos lower

teen die heliks van

my oor sy fluister ook my

naam sheamus sê sy

sheamus

*

if my name was sheamus

if my name was sheamus

words would sprout like ferns unexpectedly

from my fingers

and dark metaphors about

potato fields and

moss-covered churches would stubble

across my cheeks. i would

tattoo a cross

on to my upper right arm, and cherish

a charmed bond with mary magdalen

look she whispers verse

like verdure

against the helix of

my ear she also whispers my

name sheamus she says

sheamus

Vir vertaling is daar egter geen formule nie, en enige gedig kan ’n oneindige aantal vertalings hê. Dit is dan juis die voortdurende aanspraak van verskillende keusemoontlikhede wat die vertaler se taak kan kompliseer. Nietemin kan ’n bewustheid van die verskillende strategieë tot die vertaler se beskikking die leser ook heelwat help om begrip vir die geweldige kompleksiteit van die redigeertaak te ontwikkel, en daarmee saam ook groter insig in die uiteindelike vertaalproduk as die resultaat van verskillende keuses.

Vier basiese vertaalstrategieë word deur Holmes (1969) beskryf. Daar is die mimetiese strategie, waar die oorspronklike vorm die vertaling rig; die analoë, waar daar gesoek word na ’n vorm wat die oorspronklike vorm se funksie in die doeltaal kan vervul; die organiese, waar die inhoud van die oorspronklike gedig die vertaling rig sodat die vertaalde gedig ’n unieke vorm aanneem soos die vertaling groei; asook die afwykende (“deviant”) strategie waar die vertaling as’t ware op vormlike en inhoudelike vlak uit die bronteks gegroei het, maar nie die ekwivalent daarvan is nie – dus eerder ’n omdigting.

Die vertaling van die gedigte vir in a burning sea is deels deur van die digters self (byvoorbeeld Breyten Breytenbach, Johann de Lange en Marlene van Niekerk) onderneem. Verder het verskeie bedrewe vertalers aan die projek meegewerk – Michiel Heyns, Leon de Kock, Marcelle Olivier, Johann de Lange, Tony en Gisela Ullyatt, Heilna du Plooy en Charl J.F. Cilliers.  Soms het ’n digter enkele vertalings self onderneem, en is die res deur ’n vertaler vertaal, soos in die geval van Petra Müller wat twee vertalings self behartig het, terwyl haar vyf ander bydraes deur Marcelle Olivier vertaal is.

Vir die tweetalige leser is dit baie verrykend om die vertalings langs die oorspronklike tekste te lees en kennis te neem van die vertaalstrategie wat gevolg is.  Soms het so ’n vergelykende lesing ook tot gevolg dat die leser se begrip van die teks verdiep, omdat die vertaling soms sekere betekenismoontlikhede verder ondersoek of sekere aspekte van nader belig. In die geval van ’n gedig soos “Nico” (pp. 198-199) van Petra Müller, een van dié wat sy self vertaal het, is dit interessant om te sien hoe die Engelse gedig nie streng mimeties op die patroon van die bronteks geskoei is nie. Trouens, die digter laat die versreëls in die vertaling op nuwe maniere ontwikkel, soos met ’n eerste oogopslag te sien is in die strofebou van die doelteks wat van dié van die bronteks verskil. Soms word woorde en selfs beelde gewysig; die sintaksis word soms opnuut in die ritmes van die doeltaal geskik, sodat daar sprake is van die sogenaamde organiese benadering. Die laaste twee strofes van die Afrikaanse bronteks word saamgevoeg in die laaste strofe van die Engelse doelteks; ook word bepaalde inhoudelike verskuiwings gesien, alhoewel dit duidelik is dat die eiesoortige toonaard van die gedig behoue gebly het. Sogenaamde pragmatiese ekwivalensie word opgelet, oftewel, waar die doelteks dieselfde effek op die leser het as die bronteks:

[…]

Die wintergras word wit

en om die heuwels loop die paaie

na alle verre oorde aan.

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.

Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

*

[…]

The winter grass is whitening. Around the hills

the stony pursues its way.

I keep your name within my mouth

and sometimes shape it silently. How

would I, otherwise, protect it from its

anonimity?

’n Organiese benadering is ook sigbaar in Michiel Heyns se vertalings van Zandra Bezuidenhout se gedigte waar hy merendeels die vorm van die oorspronklike behou, maar tog nie skroom om wysigings aan te bring wanneer ’n sekere stylfiguur in die doelteks nie ewe funksioneel as in die bronteks sal wees nie. In die vertaling van “Falliese vrou” (“Phallic female”) (pp. 28-29) word gesien dat die gebruik van “ketting” as werkwoord in die bronteks nie in die doelteks behou word nie, maar dat daar eerder vir ’n uitbreiding op die gedagte gekies word. Terselfdertyd behels die vertaling ’n spesifieke interpretasie van die slotreël, maar dan is dit een wat die leser ook help om die gedig tot sluiting te bring:

Die slym lek uit haar bek,

ketting in die sand

verhale van demone

wat met die volmaan loop.

Sy hardloop voor:

Sy is getoor tot vrou met fallus,

die een wat jag

en tussen wolwe woon.

*

Slime dribbles from her snout,

chain-like motifs slobber in the sand

as she writes the tales of demons

roaming the moonlit plains.

She revels in the hunt:

She’s been magicked to phallic female,

the wild one now becoming

the leader of the pack.

In ander gevalle het die vertaler nader aan die bronteks gebly en die vorm daarvan probeer handhaaf, maar met ewe goeie gevolge. Hier kan ’n mens verwys na Tony en Gisela Ullyatt se  vertalings van Marius Crous se verse waarin die digter se sintuiglik ervarende stem onmiskenbaar klink.  Vergelyk gerus die vertaling van “Om jou te eet” (“To eat you”, pp. 72-75):

Om jou te eet

Using a knife and fork [during sex] is considered bad manners

– Appleby

om jou te eet

geen mes of vurk

begin by die oë

uit-pop en afsuig

die perlemoen van jou taai oorskulpe

die sagte vleisies van jou lippe

knaagplek soek in jou nek

jy wil hê

ek moet jou tepels knibbel

maag oopskeur en binnegoed uitruk

en afsluk met ’n glasie cabernet

ek moet jou penis

vir poeding hou

die baby batter van jou balle

op beskuitjies smeer

moet ek dikgevreet indommel

teen jou lyf

jou sappe en souse nog blink om my bek

sê net wanneer!

*

To eat you

Using a knife and fork [during sex] is considered bad manners

– Appleby

to eat you

no knife or fork

start with the eyes

pop them out and suck

the abalone of your tough earlobes

the soft flesh of your lips

searching your neck for a place to gnaw

you want

me to nibble your nipples

tear open your belly wrench out your innards

and swill them down with a glass of cabernet

I must save your penis

for pudding

spread the baby batter of your balls

on crackers

I must doze off gorged

against your body

your juices and sauces still glistening on my chops

just say when!

Dit is duidelik dat die huis van vertaling baie wonings het, maar uiteindelik hang sukses af van die gepastheid van die strategie vir die bepaalde gedig. in a burning sea, met sy titel ontleen aan die vertaling van Breyten Breytenbach se gedig “[hoe vaak was ons hier]” (pp. 52-53) kry dit reg om deur die keuse van gedigte vir insluiting, sowel as deur die vertalings self, te sorg dat die Afrikaanse poësie na die brandpunt van die internasionale poësietoneel kan beweeg.

Bronne

Boase-Beier, J. 2009. Poetry. In: Baker, M. en Saldanha, G. (reds.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. 2de uitgawe. Londen en New York: Routledge.

Connolly, D. 1998. Poetry translation. In: Baker, M. en Malmkjær, K. (reds.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. Londen en New York: Routledge.

De Vries, Willem. 2014. Afrikaanse bloemlesing met Engelse vertalings tref wêreldwyd. Netwerk 24. Beskikbaar: http://www.netwerk24.com/vermaak/2014-10-30-afrikaanse-bloemlesing-met-engelse-vertalings-tref-wreldwyd. (2014, 31 Oktober).

Holmes. J.S. 1969. Forms of verse translation and the translation of verse form. Babel 15:195-201.

Swart, Marius. 2014.  Lesing oor poësievertaling. 28 Oktober. Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch.

Versindaba. 2014. Vat vyf, Marlise Joubert: Samesteller van “in a burning sea – contemporary Afrikaans poetry in translation”. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2014/10/20/vat-vyf-marlise-joubert-samesteller-van-in-a-burning-sea-contemporary-afrikaans-poetry-in-translation/ . (2014, 28 November).

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: in a burning sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation. An anthology”

  1. Joan Hambidge :
  2. Marlise Joubert :